Wednesday, November 12, 2014

Realiteit en Drome

Iemand vertel vir my hierdie oulike storie van die man wat vreeslik depressief was. So sit hy die aand weer buite op 'n tuinstoel en huil en kry homself jammer. Sy vrou stap na hom toe en se: "Aai, my man, dit kan tog nie so erg wees nie, daar is soveel dinge om voor dankbaar te wees in ons lewens". Hy antwoord haar: "Nee daar is nie". Sy se: "Ag nee my man, kyk net hoe mooi kom die maan daar oor die bome op". En hy antwoord: "Ja sien jy, nou kom die maan ook nog op".


Ek vind dit vreeslik insiggewend hoe ons as mense nie glo in dinge soos die Law of Attraction nie. Miskien het dit te doen met die feit dat ons een groot fout maak in ons denkproses. Kyk na die storie hier bo, die realiteit van die man se gemoedstoestand, is so oorweldigend dat hy gladnie die mooi kan raaksien van die maan nie. Wat ons doen, en dit is hoekom ons lewens in sulke haglike toestande soms is, is dat ons onderskeid maak tussen die "realiteit" (gewoonlik die negatiewe dinge) en die "droomwereld" (gewoonlik die positiewe). Ek toets mense baie en ek kom agter dat ons glo dat die positiewe, die lekker van die lewe, net 'n droom en ideaal is. Hulle sal jou altyd terugbring na die "realiteit" van wat werklik is, soos pyn, lyding, hartseer, drama en baklei.


Vanoggend praat iemand met my oor die foon, en so sien ek dit presies weer. Dit is 'n reenerige dag in Pretoria, en sy reaksie is: "Wat 'n mistroostige, depresiewe dag". Natuurlik skyn die son nie vandag nie, en ja, jy gaan erens natreen, en natuurlik op sulke dae word dinge uitgestel by skole wat kinders na uitgesien het. Maar is dit 'n mistroostige dag? Vir iemand anders kan dit 'n wonderlike dag wees, want nou kan hulle lekker pannekoek eet, of erens 'n heerlike glasie rooiwyn. Erens is dit dalk vir iemand 'n kans om saam met 'n geliefde heerlik knus onder 'n duvet te sit en 'n lekker film te kyk. Ek glo dat alles in die lewe wel hierdie "realiteit" inhou van die reen, maar dit is alles net 'n persepsie van hoe ek dit hanteer en uitleef. In elke deel van my bestaan het ek die keuse van hoe ek dit wil hanteer.


Toe ek so 6 jaar oud was, het my ouers in die A Capella koor gesing, en ons was op 'n reis Europa toe. Die een vlug het ons van Switzerland geneem na Amsterdam, maar dit het so gesneeu dat ons vir 'n ruk lank gestrand was om te wag om op te styg. Twee dinge het my opgeval, die een is dat die hele koor onmiddelik die "vervelige" tyd opgemaak het, en net daar in die lughawe vir die ander passasiers konsert gehou het. Almal kon natuurlik daar gesit en hulleself jammer gekry het, maar 'n "realistiese" en negatiewe insident in iets wonderliks verander. Die tweede les wat ek geleer het, was net nadat ons uiteindelik opstyg en deur die grou swaar wolke gebreek het, het die son heerlik van bo op die wolkemassa geskyn. Dit het my as 'n klein kindjie opgeval dat, alhoewel daar wolke "voor" die son is, en ons die son nie kan sien nie, die son steeds daar is. Dit is net so realisties en bewysbaar as die wolke wat jou dag mistroostig maak.


Wanneer ek negatief en depressief is, wat baie gebeur, kom ek vinnig agter dat ek my vasstaar in die wolkmassa voor my, en dan dink jy soms dit gaan nooit weggaan nie. Jy vergeet soms dat daar 'n son is wat jy net nie kan sien nie. Dit is natuurlik ook die fout wat die realiste maak is om dan skielik vir jou te verwyt dat jy nie die wolke raaksien nie. Dit is gladnie waar nie, ek is geheel en al bewus van die wolke, en ek ry maar my sambreeltjie saam en stop maar op 'n plek waar ek nie nat gaan reen nie.


Dalk is dit net ek wat in 'n wereld leef, wat gevul is met klomp "realiste" en klomp "dromers". Ek dink die probleem van die law of attraction en hoekom mense nie kan funksioneer nie, want nie een van die twee groepe "leef" nie, is omdat hulle absoluut of in die een of in die ander leef. 'n Mens sal doodgaan van depressie as jy elke dag net in die realiteit van die sleg, die pyn en lyding van die lewe leef. Net so sal jy doodgaan van die honger wanneer jy net in die droomwereld leef en dink dat dinge sommer net gaan verdwyn of uit die lug gaan val vir jou.


Dit is ons "absolute" denke wat die probleem veroorsaak. 'n Vriend van my se altyd: "Bid asof werk nie gaan help nie, en werk asof gebed nie gaan help nie". Ek dink dit vat dit baie mooi saam, want die kritiek wat die twee groepe teenoor mekaar het is juis omdat hulle nie die ander kant insien en balans kan vind in hulle lewens nie. Dit is weer die konsep van En-En, teenoor OF-OF. Ek is die laaste persoon wat dit regkry in my lewe, so ek weet hoe moeilik dit is. Dit is natuurlik wat die Bybel ook bedoel met dat daar 'n tyd vir alles in die lewe is.


Dit is vir ons baie inspirerend om Biografiee te lees van mense wat 'n "onmoontlike" droom gehad het wat stand gevind het in die realiteit. Dit is se, en daar stem ek saam met die groep realiste, en dit is dat as jou droom nie in die realiteit getoets kan word nie, dan is dit net 'n wolkie wat erens in die lug rondsweef. Net so verstaan ek ook dat geen werklike verandering in ons wereld sou plaasgevind het, sonder dat iemand eers 'n droom gehad het nie. Werklike suksesvolle mense, is daardie mense wat "beheer" oor beide "dimensies" van droom en realiteite in hulle lewens het.


Een ding wat ek wel in my lewe besef het, is dat 'n mens se persoonlikheid ook 'n rol speel, saam met jou agtergrond en jou opvoeding. Ek is dalk meer van 'n dromer, aangesien ek meer tussen mense leef wat realiste is. Ek het lank gedink dat die realiste die dromers "aftrek", maar in werklikheid is drome nie "bo" realiteit nie, maar saam met realiteit is drome die ander kant van die muntstuk. Goud word getoets in die smeltkroes van die realiteit, so ook word drome getoets in die realiteit van elke dag.


Een ding wat ons soms vergeet, en dit is waar geloof inkom, is dat daar 'n God is wat oneindig groter is as al ons drome en realiteite. Geen probleem wat jy het is onoorkombaar nie, maar as ek nie die geloof het nie, gaan ek in die modder van my lewe ook bly bestaan. As ek nie my drome aan God toevertrou nie, dan is daar ook geen moontlikheid dat dit ooit sal plaasvind nie. In geloof, word my pyn en lyding minder, en in geloof word die "onmoontlike", moontlik. Dit is natuurlik deur die eeue mense se probleem met geloof, en dit is dalk waar die woorde van in "sonde ontvang en gebore" verstaanbaar word. Maar dit is dalk presies wat God van ons verwag, is om te midde van die wolke oor en om ons, tog altyd te weet en te glo dat die son van Sy genade oor ons skyn, al is dit nie sigbaar nie. Om in jou slegste oomblik te verstaan dat al kan jy dinge nie sien nie, en God dalk ook nie, Hy steeds daar is om oor jou te waak en vir jou uitkoms te gee.


Wanneer jou drome waar word, dan se mense gewoonlik dat jy 'n hero is, maar wanneer dit nie in die realiteit grond vat nie, dan is jy werklik net 'n dromer. As jy net in jou realiteit leef en net jou ogies hou op die riooldam waarin jy is, sal die reuk in jou neus altyd walglik wees, en sal jy nooit die blommetjies gaan ruik nie. In dieselfde sin, is wanneer jy net droom, beland jy ook in die rioolput, so wees maar versigtig om een bo die ander te kies.


Miskien is vandag die dag wat jy moet leer om te balansseer, tussen jou drome en die realiteit, en verstaan dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie. Al skyn die son bo die wolke, vat maar 'n sambreel saam.

Monday, November 3, 2014

Hardekwas raad

Een van die grootste probleme van menswees, is dat ons so graag erkenning soek vir wie en wat ons is.  Om hierdie rede, hou ons gladnie van verskillende opinies, of van mense wat verskillend dink as ons nie.  Ons hou nie van dit nie, want ons dink om een of ander rede dat "andersheid", 'n refleksie is op ons, en meer nog kritiek is op en oor ons manier van leef. 

Toe ek dominee was en mense in my studeerkamer gekonsulteer het oor hulle probleme, het ek baie vinnig geleer dat wat hulle ons in sielkunde geleer het waar is.  Jy moet luister, want mense wil HULLE storie vertel, en jy gee nie raad nie, want as iemand nie self by die antwoord uitkom nie, sal al die raad in die lewe hulle nie help nie.  Ek het dit soveel keer getoets, en gesien mense slaan toe as jy net iets se wat nie skroom met hulle idees nie. 

My oom kuier hier uit Holland, en daar is tussen hom en my ma en myself die hele tyd redenasies.  In die eerste week het dit my baie ontstel, tot ek besef het hoe gelukkig ek is om groot te geword het, baie sal se ek moet nog grootword, in 'n huis waar niemand niks vir soetkoek opgevreet het nie.  Daar was altyd miljoene standpunte en nuwe idees, oor God, die huwelik, menswees en selfwees.  Vir ander lyk dit asof ons permanent in rusie is, terwyl ons eintlik leef soos mense moet leef.  Verstaan mooi, ons gooi mekaar nou nie met goed nie, en terwyl ons oor mekaar praat en mekaar in die rede val, hoor ons tog altyd dat daar 'n nuwe en ander manier is om oor iets te dink.  Wat dit lekker maak is die dinamika van denke, want dit is tog nie lekker om daagliks dieselfde ou stories te hoor nie.

Een ding wat ek weer geleer het, is dat mense nie hou daarvan wanneer hulle appelkar omgekeer word nie.  So baie mense sit in haglike omstandighede, maar hulle sal eerder daar bly en stories opmaak, want die sekerheid, al is dit hoe haglik, is vir hulle beter as die onsekerheid.  Ek het baie vriende in my lewe verloor, want ek was blatant eerlik met hulle oor my opinie.

'n Vriendin kontak so 'n paar weke gelede na 'n klompie jare.  Sy was 'n universiteitsvriendin van my eks vrou.  Sy ontmoet toe 'n man, en hulle vra my om hulle te trou.  Oppad na die troue wat ek toe behartig, sit my eks-vrou en haar vriendin in die motor en praat van hoe 'n groot fout hierdie huwelik is.  Nie een van hulle twee, of ek, het die moed om dit vir haar te vertel nie.  Ons gaan toe maar deur met die troue.  So amper 2 weke later daag sy oukersaand met 'n tassie voor ons huis op, en vertel hou ongelukkig sy is, lang storie oor wat gebeur het.  Toe vertel ons vir haar dat ons so gevoel het, en sy was ongelukkig met ons dat ons stilgebly het.  So was dit ook die einde van ons vriendskap met haar, omdat ons nie haar gevoelens wou seermaak nie, het ons ook nie die regte ding gedoen en ons monde oopgemaak nie.

Ek verstaan dat sy dalk op daardie oomblik nie ons raad sou gevolg het nie, maar sy het nodig gehad om ons te hoor.  Raad gee is nie altyd wat mens wil hoor nie, want ons kan maklik dink iemand vind ons simpel of stupid, maar dit is tog belangrik.  Ek het daardie dag besef dat ek wel, al lei dit tot hartseer, eerlik met ander moet wees, want as iemand nie my omgee reeds verstaan nie, is daar elkgeval nie 'n verhouding nie.  Ek het ook verstaan dat mense uitpraat, juis wanneer hulle op 'n laagtepunt in hulle lewens is, en dit is natuurlik ook die laaste oomblik dat hulle raad van enige aard wil hoor.  Dan soek hulle eintlik net 'n sagte drukkie en 'n gevoel dat hulle OK is.  En om hulle te beskerm, dan se ons maar wat hulle wil hoor.  Maar ek het na die trouinsident besef dat 'n mens wel dan jou se moet se, en as iemand jou oor jou opinie wil aanvat, nou ja, dan moet hulle maar. 

Verder het ek besef dat in traumatiese tye, hulle lewens nie sin maak nie, omdat wat hulle dink en doen op daardie oomblik, juis die oorsaak van hulle ongelukkigheid is.  Hulle vertel jou van wat hulle gese en gedoen het, en het nie altyd die insig om te verstaan dat as hulle dit oor en oor gaan doen, die uitkoms dieselfde gaan wees nie.  Ek het verlede week 'n blog geskryf waarin ek mense in my lewe om verskoning gevra het, want ek maak baie mense om my seer.  Maar ek het skielik besef dat hulle my in 'n nuwe rigting wou stoot, omdat hulle omgegee het, maar ek was te hardkoppig om te luister.  Ek het so swaargekry in myself dat ek net erens vashouplek gesoek het, al was dit aan my krom idees.  Vandag verstaan ek dat ek baie van hulle weggejaag het, omdat ek beter wou weet.  Al het ek in my hart geweet hulle is reg, kon ek nooit hulle die respek toon om te luister en te verstaan  en te skuif nie.

Die Bybel leer ons dat jy yster met yster slyp.  Ek hoor in dit dat hoe meer "hardegat" ek is en hoe meer rigied ek nie wil skuif nie, hoe harder moet die yster wees om my te skuif na waar God wil he ek moet leef.  Dit is maklik om in goeie tye te kan skuif, maar dit is juis dan wat jy dit nie nodig het nie.  Dit is wanneer die alarms afgaan dat jy moet wakker skrik, en dan is daar die tyd vir jammer kry en ag-shamepies drukkies nie.  Ek het nie geluister nie, ek wou nie hoor nie, en ek het hulle wat raad gegee het, nie net hulle raad verontagsaam nie, maar hulle ook sommer weggestoot.  Maar ek het, genadiglik die laaste week besef dat die wat daar is met harde klinkharde ysterraad wat seermaak, werklik omgee.  Die wat nie omgee nie het lankal moed opgegee en geskuif, want niemand kan aanhou en aanhou as jy nie wil luister nie.

Ek het besef dat EK moet luister, na soveel as moontlik mense, veral die wat daar is in my donkerste uur.  Of hulle nou reg of verkeerd is is nie belangrik nie, maar dat hulle daar is beteken dat ek ten minste wat hulle se ter harte moet neem.  Logies maak dit tog sin.  As ek so slim was en al die mag en pag besit het en volmaak was, sou ek tog nie in die gat beland het nie.  En daar is ander mense wat dalk al by Sun City was en die pad daarheen ken, hoekom sal ek nou, soos meeste mans, nie vra vir aanwysings nie?  As ek verdwaal, vra ek vir rigting.  En hoe onlogies sal dit dan wees om skielik dan eerder om die N1 Kaapstad pad te bly, as my bestemming Sun City is?  En dan wonder ons, met groot verbasing hoekom ons nooit daar uitkom nie. 

As daar een persoon is wat verstaan hoe dit voel om te verdwaal, is dit ek.  En ek vra om verskoning weereens aan al die mense wat my probeer help het, en steeds doen, dat ek so hardegat is.  Maar een ding besef ek, dalk draai ek by Beaufort-Wes, kan ek enige tyd begin vra vir raad, luister na aanwysings, want ek gaan bietjie laat aankom by Sun City, ek het dalk tyd en petrol en moeite gemors, maar ek kan by my bestemming uitkom.

Albert Einstein het gese dat die toppunt van "stupidity" is om dieselfde ding oor en oor te doen en 'n ander uitkoms te verwag.  Soms is die groewe van aangeleerde gedrag so diep in ons, dat ons sukkel om uit dit te kom, maar die eerste stappie is om te weet dit is nie die enigste manier van dink en doen nie.  Om te dink dat jy reg is, is goed, maar om te dink dat jy die enigste een is wat reg is, dit is waar die probleem inkom.  Ek is besig om reuse spronge in my kop te maak die laaste week.  Ek besef so goed dat dit manier hoe ek dinge doen nie my gaan uitbring by waar ek wil wees nie.  Ek besef ook dat ek nie maar net die kar se neus in dieselfde rigting kan hou nie, want ek gaan net verder en verder weg van my bestemming.  Draai die neus om, luister na die raad, volg die raad en sorg ten minste dat jy in die rigting van die bestemming ry.  Geen meer mooi storietjies praat of skryf of vertel nie, want niemand glo dit meer nie, selfs ook nie meer jy nie.  En 'n nuwe storie maak, help niks, dit verwar net almal wat vir jou by Sun City wag.  Hulle speel al lekker gholf en swem in die see, terwyl jy nog karring met die hitte van die karoo en kindertjies wat vra:  "Hoe ver nog?"

Verstaan dit werk nie, wees bewus dat dit nie werk nie, want Sun City lĂȘ nie op die N1 Suid nie!

Wednesday, October 29, 2014

Ek vra om verskoning

Vandag wil ek nie probeer om slim te klink nie. Ek skryf baie, maar baie mense kritiseer my daaroor, want my lewe kom nie uit by my woorde nie. En vandag, sonder om myself te verantwoord, wil ek bieg en om verskoning vra.

Dit is so maklik om te preek, en nog makliker om vir die wereld te skryf en te vertel hoe hulle moet wees. Dis maklik om te blammeer en die wereld om jou te beskuldig en nooit self na binne te kyk nie. Dit kan maklik word om te verwag van ander en verskonings te maak, want dit word n mooi bossie waaragter jy kan wegkruip. Jy verantwoord jouself, maar jy leer nooit die lesse wat jy moet leer nie. Jy verwag ander moet by jou leer, terwyl jy nooit luister en by hulle leer nie. Soms verwag jy van die wereld om jou te hoor, jou te aanvaar, maar jy doen dit nooit met hulle nie. Jy wil skree van frustrasie, maar sien nooit die frustrasie in hulle harte raak nie. Jy word kwaad as jy voel hulle vertrap jou, maar kyk nooit af om al die lyke onder jou eie voete te sien nie.

Die lewe gaan nie oor jou en jou alleen nie. Ons vergeet Jesus se boodskap in die wye sin. Jesus het Sy lewe vir ander gegee, te midde van die kritiek. Jesus het ons geroep om mekaar te dien, nie onsself nie. 

Ek kyk vandag diep in myself in en vra om verskoning. En ons moet besef dit is nie n martellaars vergiffenis nie, maar een van harde werklikheid en realiteit. Ek staan eensaam en alleen, bakhand voor almal altyd, maar my hart is nie oop nie. 

Ek onthou dat ek jare terug n kursus bygewoon het, en ek onthou die woorde: "verstaan eers en luister, voordat jy self verstaan en gehoor kan word". Ek weet dit eintlik, maar op hierdie dag verstaan ek dit eers. Ek verstaan vandag, en daarom vra ek om verskoning.

Jy sien, vandag verstaan ek dat my houding en denke my situasie veroorsaak het. Vandag preek ek nie vir iemand nie, net vir myself. 

Ons dink ons vermag die lewe as ons druk, en almal wat ons kritiseer is veral verkeerd, want hulle verstaan nie. Vandag is die beginpunt waar ek gaan luister, hoor en verstaan. 

En miskien word hierdie dag ook die dag wat jy die foon optel en vrede vir ander gee. Dalk is en was dit nog altyd die boodskap van die liefde van God wat ons misgekyk het. Wel, almal van ons het.

In die voorbeeld van Jesus, jou lewe vir ander gee, en niks terug verwag nie. En selfs wanneer hulle jou aan die kruis vasspyker, nog steeds vergewe uit liefde.

Deon Lewis
+27847970181
+27760464422

Tuesday, October 28, 2014

Sieledood

The day the music died

Ons het almal sekere oomblikke en insidente wat ons lewens ingrypend verander. Mense onthou waar hulle was met 911, met Oscar se vonnis, en as jy ouer is toe Verwoerd vermoor is. In jou eie lewe is daar net sulke insidente, wat jou lewe geruk en verander het.

Hierdie indidente word onthou agv die impak op jou lewe. Sommiges daarvan laat jou hart bokspring en dan is daar daardie wat jou stukkies van jou siel laat doodgaan

Ek gaan nie baie ingaan op die positiewe insidente nie, maar wat doen jy wanneer jou siel sterf en jou hart uit jou binneste geruk word?

Ek ken dit so goed in my eie lewe, en alhoewel ek siel-dood voel, probeer ek tog dinge om myself lewendig te kry.

1.  Besef dat die lewe vol insidente en realiteite is. Jy kan probeer nes jy wil, jy is elke dag blootgestel daaraan. As jy weet en verstaan dat miljoene mense deur die eeue ook dieselfde as jy deurgemaak het, maak dit dit makliker. Dit laat jou verstaan ook dat wat gebeur het nie persoonlik is nie, die lewe het nie n vendetta teen JOU nie. 

Selfs die mense wat jou hart uitruk, ja soms is dit persoonlik veral in n verhouding, maar meeste kere nie met opset nie. Jesus se aan die kruis: "vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie. Dit is seker die moeilikste ding om so daaraan te dink. Maar vir JOU herstel moet jy so dink. Ek vat niks weg van die feit dat daar mense tussen ons rondloop met erge afwykings nie, dit is so. Maar oor die algemeen probeer mense maar net leef en bestaan.

2. n Saak het nooit net een kant as oorsaak nie. Hierdie is baie moeilik vir ons almal om te besef en te aanvaar. Ons hou daarvan om die sondebokke en oorsake te soek. Dit is menslik, maar goddelike liefde wat ons help besef dat niks buite konteks gebeur nie.

Daar is 2 probleme wat opduik met sondebok soek. Die eerste is dat ons geen blaam vir situasies deel nie. n Huwelik wat opbreek is tog n spel tussen mense. As een rugbyspeler n fout maak, ja, dan was dit dalk die oorsaak van die verloor, wat uitgewys kan word, maar die hele span was tog op die veld. Almal het n rol te speel, en so is dit met die lewe ook.

Die tweede is dat ek myself die res van my lewe kasty oor die keuses wat ek gemaak het. Ons hou so daarvan, en besef nie hoe dit die res van my lewe vorentoe beinvloed nie.

Alles gaan oor liefde, of die tekort daaraan. Wees altyd bewus en gee jouself ruimte om te weet dat alles in lewe n knippie sout nodig het. Gee jouself ruimte om te vergewe, ander en jouself.

Die spreekwoord lei tog dat mense in glashuise nie klippe moet gooi nie, maar dalk is ons probleem dat ons dink dat ons nie in glashuise woon nie. As ek my foute en psigiese staat en denke verstaan, besef ek dat ek nooit kan of mag oordeel nie.

3.  Kom oor dit. Ons dink dat as ons aanhou om "dood" te voel en te leef, daar een of ander prys van erens sal kom. Sukses kom nie deur alles op n skinkbord te kry of om nooit probleme en krisisse te ondervind nie. Sukses is om ten spyte van terugslae op te staan en te leef. 

Hou op om vasgeval te bly in jou gevoelens, en dit is n besluit. Ek het baie dae nie krag om op te staan nie, maar staan op, gaan doen iets, al was jy net skottelgoed.

Doen elke dag iets by, en kort voor lank het jy die lewe wat jy verwag. Om oor jou dood te kom, is stelselmatig en in hanteerbare bytstukkies. Dit bly n bewuste besluit, want sonder die besluit sal niks tog gebeur nie.

As jy ook nie uit dit kom nie, gee jy die persoon of situasie van hartseer die mag om dit oor en oor aan jou te doen.

4. Is dit werklik so erg?

Soms maak ons ook ons hartseer en pyn n groter drama. Misery loves company, en ek kry soms die idee dat ons hou van die pyn van n situasie. Ons wil graag n sad storie he om te vertel.

Ek besef self hoe erg n situasie in my lewe is, maar dalk maak ek dit groter. Op universiteit het jy nooit genoeg tyd nie en die werk is baie. As jy al 12 boeke wat jy more moet ken op die lessenaar sit, gaan jy vinnig moed verloor. Sit net een op n slag neer en fokus net daarop, en dan sal jy vorder.

Ons kan ons brein programmeer nes ons wil, so ook oor jou probleme kan jy kies. 

5. Aanvaarding

Een van my dominee kollegas het sy seun verloor aan selfmoord.  Een dag vra ek vir hom of dit moontlik is om so n enorme pynvolle situasie te verwerk. Hy antwoord dat daar sekere dinge is wat soos rotse voor mens le wat jy nie kan oorkom nie, jy aanvaar dit net en leef daarmee saam.

Soms is ons trauma so enorm, en om eerlik te wees, onoorkombaar. Jy kan nie teruggaan en gaan verander nie, en soms moet jy net aanvaar en jou lewe leef.


Deon Lewis
+27847970181
+27760464422

Monday, October 20, 2014

Onderskeid en Afstand

Ek kuier so lekker met my oom wat uit Holland hier by ons kuier. Dit is heerlik om met iemand te gesels wat in 'n ander land bly, en ander tipe blootstelling het as wat ons baie keer het. Ek besef gister weer dat een van die belangrikste aanlegte wat jy kan aanleer in jou lewe, die vermoe is om te kan "onderskei". Dit is altyd moeilik wanneer jy sulke woorde gebruik, want nie almal verstaan dit op dieselfde manier nie.


My definisie daarvan is dat dit die vermoe is om jouself in die eerste plek uit te haal uit 'n situasie, en van daar objektief en van 'n afstand na 'n situasie te kyk. Wanneer ek kyk na al die interpersoonlike konflikte wat ons beleef, asook die innerlike stryd wat ons elke dag voer, besef ek meer en meer hoe moeilik dit vir mense is om hulleself los te maak van hulle denke en emosies. Ons praat baie keer van fundamentalistiese denke, waarin mense "vasgevang" is en voel aan wat hulle in glo, sonder om ooit ander mense en idees die voordeel van die twyfel te gee. Ons was almal al vasgevang in sulke situasies, waar jy voel dat wat jy ookal se of doen nie "gehoor" word nie.


Ons verstrengel onsself daagliks in hierdie omstandighede waarin ons so voel, en ons raak so "betrokke" by ons emosies en denke, dat ons nie helder kan dink nie. Hoeveel keer in jou lewe het jy al oorreageer in 'n situasie, net om na 'n tyd te besef hoe jy dit anders sou hanteer het as jy die tyd gehad het? Wanneer ek dus tyd of afstand van 'n situasie kry, kry ek gewoonlik perspektief, en dan kan ek skielik onderskei oor wat 'n "beter" of "ander" manier die situasie beter sou gemaak het.


Ek vergelyk die vermoe baie keer met 'n skaakspel, want daar is 2 dimensies, jy kan of een van die skaakstukke wees, of jy kan die speler wees wat met visie jou spel makliker kan speel. Dit is natuurlik nie so maklik nie, want die lewe het plekke waar ons so verstrengel is, soos byvoorbeeld verhoudings met mense om ons. In baie gevalle, wanneer ons nie hierdie onderskeidingsvermoe het nie, dan vind ons dat ons "oermens" oorneem. Dit is daardie deel van jou brein wat of wil veg of wil vlug. Jy voel bedreig deur mense en kommentaar, dat dit jou die pad wil laat vat, of jy veg terug met jou tong en jou woorde.


Dit laat my dink aan die woorde van Romeine: "Moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan ONDERSKEI wat die wil van God is". Dit is so waar, want die pad van die "wereld" is om te baklei en te veg vir jou plek van bestaan. En dit is heel moontlik hoekom die wereld in geheel, lande, huwelike, verhoudings ens in so 'n verskriklike toestand is. Daagliks word mense uitmekaargeskeur, en al wat rondom ons te siene is, is net hierdie massagraf van gebreekte mense.


Hierdie onderskeidingsvermoe, is eintlik waaroor die woord "genade" in die Bybel handel. Genade beteken dat almal moet besef dat jy nie volmaak is nie, en dat die persoon rondom jou nie volmaak is nie. Wanneer jy besef dat jy 'n balk in jou oog het, sien jy ander se tekortkominge op 'n ander manier en dit is dat mense net mense is. Nie een van ons is perfek nie, en almal probeer maar net die lewe leef. Niemand het "noodwendig" hulle mes in vir jou en maak jou opsetlik seer nie, want elkeen van ons kom met emosies, voorgestelde idees en agtergronde wat ons aksies, idees en denke beinvloed.


Om hierdie onderskeid te vind in jou lewe, beteken nie dat jy superieur is aan ander mense is nie. Verder beteken dit ook nie dat jy skielik al die antwoorde vir die lewe het nie. Wat dit wel beteken is dat jy dinge sien uit 'n ander perspektief, en jy is nie so intens betrokke dat jy slegs op 'n dierlike instinktiewe manier dink en doen nie. Deur afstand te kry, ondervind jy die vryheid daarvan dat jy dinge in konteks kan sien, kan analiseer, wat dalk nie vroeer moontlik was nie, omdat jy te intens dierlik betrokke was.


Vat vandag bietjie afstand van jouself en jou situasie. Beoordeel so effens jou besluite en aksies, want deur dit te doen, gaan jou besluite nie noodwendig reg uitloop nie, maar gee dalk vir jou 'n beter basis van waar jy jou besluite kan neem. Deur net 'n asemteug of twee tussen besluite te neem, gee jou brein die kans om anders te dink. Dalk is dit miskien net die verskil tussen verwoesting van jou lewe, en 'n gemakliker stresslose lewe.


Ek hoop dat hierdie vir jou week iets gaan beteken, sodat jy dalk meer in beheer voel van jou lewe, selfs wanneer jy voel dat ander jou lewe beheer. Kom weg van intuitiewe aksies, en deurdink, onderskei en haal asem voordat jy aksie neem. Dit gee dalk vir jou daardie breekdeel van 'n sekonde om te besef dat jy dalk nie altyd reg is nie, krities te wees oor jou eie standpunte, en deernis te vind met die mense om jou se aksies, denke en besluite.


Stel jouself voor wat die wereld sal wees indien alle mense dit kan regkry? Maar een persoon se aksies kan die wereld om ons verander. Miskien moet jy net terugstaan en na jou bediende kyk en verstaan dat sy 3 uur vanoggend al haar eerste bus gevang het om vanoggend in tyd by jou huis te wees, so wat maak dit nou werklik saak as sy een dingetjie verkeerd doen. Miskien verstaan jy dat jou kind vandag stress en bang is vir 'n toets of 'n klas, en as hy sy broodjies by die huis vergeet, dit nie opsetlik is nie. Dalk verstaan jy dat die raad wat jy van 'n geliefde kry nie daar is om jou te vertel hoe sleg jy is nie, maar omdat hulle vanuit hulle perspektief jou wil help. En so kring jou lewe uit tot 'n wonderlike week waar jy nie die septer swaai nie, maar waar jy in Jesus se voorbeeld mense dien en hulle vergewe omdat hulle die beste doen wat hulle kan!

Thursday, October 16, 2014

Krom stokke, reguit houe

Ek het gisteraand die nuwe film Noah gesien.  Die verhaal van Noag word op n totaal nuwe manier vertel. Wat my egter aangegryp het, is n herhaling van n tema wat dwarsdeur die Bybel in meeste verhale gesien kan word. Die Bybel se verhale handel gewoonlik oor gewone mense. God bereik soveel dinge deur mense wat nie altyd aansien het of reeds suksesvol is nie.

Dit lyk vir my dat daar n skaal is, want waar mense nederig en soms minderwaardig is, is waar die regte beeld van mens en God mekaar ontmoet. Wanneer ons swak en nederig is, dan besef ons ons afhanklikheid van God. Dit is juis wanneer mens klein is, wanneer hy die grootheid van God raaksien. Ek voel soms dat hoe minder ek in die blokkie is, hoe meer plek het God om Sy wil in my lewe te doen.

Ons werk elke dag so hard aan ons eie beeld, omdat ons dink dit bring sukses. Ons voel ongemaklik wanneer ons minderwaardig is, of onsuksevol voel in die lewe. Elke dag oortuig die media ons dat ons lelik of vet is. Mense om my herinner my deurgans van my tekortkomings en mislukkings. Mense gooi jou weg omdat jy nie aan standaarde voldoen wat hulle stel nie. Mense beskinner en spot jou, soos ook met oa Noag.

Jou visie en idees lyk vir hulle gek, mal en onredelik. Jy vul jouself met twyfel en depressie. Jy meet jouself aan hulle idees. Soms gooi die idees jou saam met Josef in die put. Jy twyfel in jou vermoens soos Moses en Aaron. 

Wanneer jy so voel, dan neem jou twyfel so beheer van jou lewe, dat daar ook nie vir God plek is in jou lewe nie. Dit kan meer gevaarlik wees as hoogmoedigheid. 

Genadiglik werk God anders. God het net geloof en vertroue van ons nodig. Die verhale in die Bybel wys dat God reguit houe slaan met krom stokke, want wanneer ons swak is, dan sien ons God se krag in ons lewens. Wanneer ek min is, staan ek in verwondering oor wat God vermag in ons en deur ons.

Jesus kon natuurlik belangrike mense gekies het as Sy dissipels, maar kies vissermanne. Dit was nodig vir Dawid om gesalf te word, opgetel te word, voordat hy die reus kon oorwin. Paulus moes afstand doen van sy status om sy doel te bereik.

God se pad is duister vir ons, maar wanneer ons hoogmoedig of depressief is, is die pad nog meer duister. Eers wanneer jy besef dat God alles goed laat afloop vir die wat in Hom glo met alles, sal alles wat jou toekom jou toeval. 

Maak plek vir God in jou lewe, skuif op en laat God toe om God te wees.  Jou krom stok sal jou krom houe laat slaan as jy op jou eie staan. Net deur God kan jy in verbasing toekyk hoe God die bal se vlug verander.

Die engelse spreekwoord lei: "let go, let God".  Vandag is die dag wat God vir jou gemaak het, kom oor jouself en jou stryd teen jouself of om te dink dat jy nie waardig is nie. Gee toe en gee jou bestaan oor aan God en Sy wil vir jou lewe. 



Thursday, October 9, 2014

Werklike Sonde

Ek onthou nog toe ek in die kerk grootgeword het, jare gelede, hoe 'n ongelooflike klem daar op "sonde" en die Tien gebooie geval het.  So onthou ek ook dat 'n ou dominee, voor my eerste preek vir my die raad gegee het oor wat 'n suksesvolle diens of preek is.  Hy het gese:  "Uit die geskiedenis van die reformate (Luther en Calvyn), leer ons dat die kern van ons Christelike geloof, Sonde en skuld by mense is.  'n Suksesvolle preek is dus wanneer jy mense hulle foute laat raaksien, want dan alleen kan hulle die verlossing verstaan en aanvaar". 


Jy kan net dink hoe ongelooflike skok daar in my sisteem ontstaan het, want werklik, dit het vir my gevoel asof dit nie heeltemal in lyn is met my idee van godsdiens nie, en ek was ook effens ongemaklik, want dit is nie hoekom ek gaan Teologie studeer het nie.  Maar, hoe dit ookal sy, dit is so 'n goeie voorbeeld van die geloof waarmee baie van ons in die kerk grootgeword het.


Mense vra my baie keer uit oor my idees oor die Bybel, en alhoewel hierdie blog nie daarop gerig is om 'n Teologiese analise te wees nie, vind ek tog dat ek soms my idees hieroor moet weergee.  Ek sal vandag fokus op sonde en die idee van wat sonde is.


Ons idee van sonde is sommer daar heel aan die begin van die Bybel gesetel, in Genesis en die "sondeval".  Ons word eers vertel van God se skepping en van hoe wonderlik alles was.  Dan word die verhaal vertel van die boom van kennis van goed en kwaad en hoe die slang vir Eva en Adam verlei om daarvan te eet.  Daarna word hulle skaam teenoor God, hulleself en sommer totale menswees, om net daar en dan ook uit die wonder en die gemak van die paradys verban te word.


Dit is belangrik om 'n paar dinge uit die verhaal te haal.  Eerstens besef ons dat die prentjie van balans vir ons geskep word, in die vorm van goed en sleg en twee pole van bestaan word vir ons geteken.  Ons kry sommer vroeg te doen met die muntstuk, waarop elke idee van ons lewens gebasseer kan word, van goed en sleg, en natuurlik ook die idee dat daar 'n God is wat goed voorstaan en 'n karakter wat sleg voorstaan, die satan.  Elke keuse wat ons maak in die lewe, is asof ons voor die boom van goed en kwaad staan, wanneer ons die kwaad kies, is dit sonde en weg van God, en wanneer ons die goed kies, dan leef ons in die wil van God en sal ons lewens 'n paradys wees. 


Hieruit vloei natuurlik 'n universele gevoel van "vrees", en ek onthou dat ek as 'n klein seuntjie nie in die nag aan die slaap kon raak nie, maar aanhou bid het vir vergiffenis, want ek is skuldig.  Ek was so bang ek sterf in die nag, en dat ek dan hel toe sou gaan, want daar was dalk een of ander sonde wat ek nie voor vergiffenis gevra het nie.  Hieruit leer jy ongelooflik baie van wie ek is, en hoe my teologie se basis is, want op 'n stadium het ek totaal en al 'n aversie begin kry in hierdie idee van sonde wat ek in die kerk geleer het.  Om die situasie te vererger, leef ons toe ook in 'n skoolsisteem, en in 'n gemeenskap waar daar net wit en swart (letterlik en figuurlik) was.  Jy is nie toegelaat om jou eie idees te vorm, uit te leef, uit te spreek of te dink nie, daar was nie iets soos "grys" nie, net 'n keuse tussen swart of wit.  Eintlik was daar nie 'n keuse nie, jy is net voorgeskryf wat, waar en hoe jy moet dink.


Vir lank het ek met hierdie situasie geworstel, en vandag nog steeds.  Ek dink, vanuit my perspektief dat God totaal anders funksioneer as dit.  Ek verstaan dat die oermense nie werklik die vermoe besit het om so te funksioneer nie, en dalk is dit ook hoekom die moderne mense so sukkel met hulle idees oor God, en soms die baba met die badwater uitgooi.  Ek het ook op 'n stadium, toe dinge wat ek geleer het nie meer sin gemaak het nie, ophou soek na God.  Toe besef ek een belangrike ding oor God, en van daar my stille protes teenoor "georganiseerde" godsdiens soos gemeentes en kerkgroepe.  Ek het begin verstaan dat die Bybel 'n plek het, vir elke mens, in sy/haar individualiteit.  Die paniek wat ek ervaar het as kind is 'n gevoel wat deur 'n teologie op my afgedruk is deur vrees vir die duiwel, eerder as 'n liefde en 'n verhouding met God.


Die oomblik toe ek dit verstaan, ek is natuurlik nog besig daarmee, het my lewe en denke totaal verander.  Dit maak jou funksionering natuurlik nie makliker nie, inteendeel, jy leef in 'n gemeenskap waar mense jou daagliks kasty omdat jy "anders" is en "vreemd" is.  Mense sien my ook as 'n groot sondaar, en hulle wys my elke dag op my sondigheid.  Jy sien, die wereld is elke dag in hierdie "oordeel" vasgevang, tussen die reg en verkeerd.  Ek dink juis dat my lewe soveel beter is, vandat ek die individuele verhouding met God ontdek het en daagliks daaraan bou en groei.  Ek het begin besef dat ek nie meer onder die oordeel van mense of 'n kerk wil leef, waar ander mense vir my besluit nie. 


Een van die grootste probleme met die "ou denke" (verskoon tog, ek het nie 'n beter term nie), is dat geloof oorspoel na jou daaglikse lewe en funksionering.  Ek het begin insien dat die oordeel waarmee mense my oordeel, sprekend is van hulle eie oordeel oor hulleself en hulle beeld van God.  Ek het ingesien dat as ek my lewe wil verander, daar waar ek in die vrede van God by die waterstroom wil vrugte dra, en my beeld van God moet leef en uitdra.  So het ek stelselmatig begin groei saam met God, omdat ek God wou ontdek, en nie soos die ou dominee se raad, my slegtigheid en my sondigheid nie.  Ek het begin besef dat dit ook God is wat my geskep, en elke dag laat groei, met 'n doel.  Daardie doel is nie meer vir my die "oordeel" of "beterweterigheid" van blinde mense wat my in my blindheid wil lei nie.  Ek het besef dat as ek wil groei en wil stap in die donkerte of blindheid, dit eerder aan die arm van God is wat die lig is, as saam met blinde voetgangers oor 'n besige straat.


Maar, wat doen 'n mens nou rondom jou lewe, want ek dink ook nie dat ons net kan leef soos ons wil nie, want daar is tog 'n balans in alles.  Ek ondervind die laaste klompie jare die "hel" in my lewe, hier en nou, so ek verstaan konsekwensies van my dade, maar ek verstaan ook dat alles nie net feetjies en sprokies is nie.  Dit is natuurlik die grootste uitdaging vir mense, want daar is iets in ons wat altyd beter wil wees.  Nog 'n groter uitdaging is om in jou individualiteit te leef en te mag leef.  Ek het besef dat God my gemaak het soos ek is, met my drome, idees en doelwitte in die lewe.  Ek was altyd vreeslik bang om te dink wat ek dink en te doen wat ek wil doen, want ek het oordeel rondom my elke oomblik.  


Ons kan ons nie losmaak van ander mense nie, ons kan ook nie ons idees van die lewe ontsnap nie.  Ons is soos 'n leeu in die dieretuin wat in 'n hok is ons hele lewe, en wanneer God die deur kom oopsluit, het ons vergeet hoe om te jag en te lewe, en sit ons liewers elke dag vasgevang.  Ons weier om die stappies te neem, want die bekende is makliker vir ons as die onbekende.  Miskien is dit "sonde", wanneer ons onsself laat vang en laat vasketting aan ou idees, want dit is bekend. 


Ons leer op verskeie plekke in die Bybel, nie net deur die wet nie, maar deur praktiese verhale in die Bybel dat sonde nie noodwendig NET is wat jy DOEN nie, maar ook wat jy NIE doen nie.  Die verhale wat Jesus vertel oor die maagde wat hulle lampe onder die maatemmer wegsteek, of die talente, of die verhaal van die muntstuk waar die een slaaf gewoeker het, en die ander een die muntstuk net hou, wys vir ons hierdie punt.  Ek het vir lank die idee gekoester dat ek "alleen" of "vreemd" is.  Die dinge waarmee ek besig is en probeer het mense skepties aangekyk, en hulle doen dit steeds.  Ek besef elke dag hoeveel mense daar is wat nooit werklik "GLO" of vertrou nie.  God skep vir my en jou 'n paradys van 'n lewe, maar ons kies om eerder in ons hokkies te bly leef, en van daar af die ander diere met grondboontjies te gooi.  Die grootste sonde is om NIE te leef nie.


Natuurlik is daar konsekwensies en vrese vir die onbekende, maar dit is werklik nie onbekend nie.  Die wereld rondom jou is geskep deur jou Vader God, wat vir jou die geskenk van die lewe gegee het.  Kyk bietjie na mense om jou wat kanker het, of reeds op hulle sterfbed le.  Op daardie oomblik wens almal dat hulle hulle drome nageleef het, eerder as om in hulle hokke vasgevang te wees.  Dit is 'n groter klap in die Gesig van God wanneer jy nie leef nie, nie gaan soek na die moontlikhede nie. 


Mense sterf waneer hulle niks meer het om voor te leef nie.  As jy nie die oggend 'n doel het waarvoor jy opstaan nie, wat sal jou motiveer om dit te doen?  Wat word dan van geloof wat ons leer dat ons berge kan versit as ons geloof en kennis van God net so groot soos 'n mosterdsaadjie is?  Is ons nie ons eie grootste vyand nie?  Is die "bose" of die "satan" of die "sonde" nie dalk eerder vrees nie?  Ek het 'n verhaal van my ouma se blou Datsun geskryf waar sy elke uur opgestaan het om te gaan seker maak dat die motor nie gesteel is nie, totdat sy op 'n uur opstaan en sien dat dit weg is.  


As God bestaan, is God groter as enige iets wat jy jouself kan indink, en dit is daardie God wat vir jou die heelal geskep het om te geniet en te leef.  Ek dink dit is hoekom ons, wanneer ons bid tot God, opkyk boontoe, want God leer ons om ons kop uit die afvoerpype te haal en te gaan leef.


As ek dus na sonde kyk, dink ek so daaroor.  Wanneer ek God en God se krag en mag en vermoens in my lewe miskyk, dit is sonde.  Wanneer ek God se krag en mag "beperk" in my denke, dit is sonde.  Wanneer ek nie die "onmoontlike" (in mense se oe) aanpak en probeer nie, dan glo ek mos nie dat God so groot is nie.  


Vir my is die verhaal van die sondeval in die paradys juis dit, wanneer ons God se goddelikheid probeer ontneem, en ons self besluit wat God se beperkings is.  Dit is toe Adam en Eva begin probeer het om self God te speel, en nie God toegelaat het om God te wees nie, gaan jy natuurlik nooit die mooi om jou kan sien nie, en gaan jou lewe natuurlik 'n woestynbestaan wees.


Sonde, volgens my, is dus om nie God te "gun" of toe te laat om so groot te wees soos ek glo Hy/Sy is nie.  En die natuurlike uitvloeisel daarvan is dat as jy nie meer glo dat alles, wat jy aan kan dink of nie aan kan dink nie, vir JOU moontlik is nie.  Tel vandag jou kop op, laat God toe om God te wees, want alles is vir God moontlik, en gaan leef jou geskenk van die lewe!