Thursday, October 9, 2014

Werklike Sonde

Ek onthou nog toe ek in die kerk grootgeword het, jare gelede, hoe 'n ongelooflike klem daar op "sonde" en die Tien gebooie geval het.  So onthou ek ook dat 'n ou dominee, voor my eerste preek vir my die raad gegee het oor wat 'n suksesvolle diens of preek is.  Hy het gese:  "Uit die geskiedenis van die reformate (Luther en Calvyn), leer ons dat die kern van ons Christelike geloof, Sonde en skuld by mense is.  'n Suksesvolle preek is dus wanneer jy mense hulle foute laat raaksien, want dan alleen kan hulle die verlossing verstaan en aanvaar". 


Jy kan net dink hoe ongelooflike skok daar in my sisteem ontstaan het, want werklik, dit het vir my gevoel asof dit nie heeltemal in lyn is met my idee van godsdiens nie, en ek was ook effens ongemaklik, want dit is nie hoekom ek gaan Teologie studeer het nie.  Maar, hoe dit ookal sy, dit is so 'n goeie voorbeeld van die geloof waarmee baie van ons in die kerk grootgeword het.


Mense vra my baie keer uit oor my idees oor die Bybel, en alhoewel hierdie blog nie daarop gerig is om 'n Teologiese analise te wees nie, vind ek tog dat ek soms my idees hieroor moet weergee.  Ek sal vandag fokus op sonde en die idee van wat sonde is.


Ons idee van sonde is sommer daar heel aan die begin van die Bybel gesetel, in Genesis en die "sondeval".  Ons word eers vertel van God se skepping en van hoe wonderlik alles was.  Dan word die verhaal vertel van die boom van kennis van goed en kwaad en hoe die slang vir Eva en Adam verlei om daarvan te eet.  Daarna word hulle skaam teenoor God, hulleself en sommer totale menswees, om net daar en dan ook uit die wonder en die gemak van die paradys verban te word.


Dit is belangrik om 'n paar dinge uit die verhaal te haal.  Eerstens besef ons dat die prentjie van balans vir ons geskep word, in die vorm van goed en sleg en twee pole van bestaan word vir ons geteken.  Ons kry sommer vroeg te doen met die muntstuk, waarop elke idee van ons lewens gebasseer kan word, van goed en sleg, en natuurlik ook die idee dat daar 'n God is wat goed voorstaan en 'n karakter wat sleg voorstaan, die satan.  Elke keuse wat ons maak in die lewe, is asof ons voor die boom van goed en kwaad staan, wanneer ons die kwaad kies, is dit sonde en weg van God, en wanneer ons die goed kies, dan leef ons in die wil van God en sal ons lewens 'n paradys wees. 


Hieruit vloei natuurlik 'n universele gevoel van "vrees", en ek onthou dat ek as 'n klein seuntjie nie in die nag aan die slaap kon raak nie, maar aanhou bid het vir vergiffenis, want ek is skuldig.  Ek was so bang ek sterf in die nag, en dat ek dan hel toe sou gaan, want daar was dalk een of ander sonde wat ek nie voor vergiffenis gevra het nie.  Hieruit leer jy ongelooflik baie van wie ek is, en hoe my teologie se basis is, want op 'n stadium het ek totaal en al 'n aversie begin kry in hierdie idee van sonde wat ek in die kerk geleer het.  Om die situasie te vererger, leef ons toe ook in 'n skoolsisteem, en in 'n gemeenskap waar daar net wit en swart (letterlik en figuurlik) was.  Jy is nie toegelaat om jou eie idees te vorm, uit te leef, uit te spreek of te dink nie, daar was nie iets soos "grys" nie, net 'n keuse tussen swart of wit.  Eintlik was daar nie 'n keuse nie, jy is net voorgeskryf wat, waar en hoe jy moet dink.


Vir lank het ek met hierdie situasie geworstel, en vandag nog steeds.  Ek dink, vanuit my perspektief dat God totaal anders funksioneer as dit.  Ek verstaan dat die oermense nie werklik die vermoe besit het om so te funksioneer nie, en dalk is dit ook hoekom die moderne mense so sukkel met hulle idees oor God, en soms die baba met die badwater uitgooi.  Ek het ook op 'n stadium, toe dinge wat ek geleer het nie meer sin gemaak het nie, ophou soek na God.  Toe besef ek een belangrike ding oor God, en van daar my stille protes teenoor "georganiseerde" godsdiens soos gemeentes en kerkgroepe.  Ek het begin verstaan dat die Bybel 'n plek het, vir elke mens, in sy/haar individualiteit.  Die paniek wat ek ervaar het as kind is 'n gevoel wat deur 'n teologie op my afgedruk is deur vrees vir die duiwel, eerder as 'n liefde en 'n verhouding met God.


Die oomblik toe ek dit verstaan, ek is natuurlik nog besig daarmee, het my lewe en denke totaal verander.  Dit maak jou funksionering natuurlik nie makliker nie, inteendeel, jy leef in 'n gemeenskap waar mense jou daagliks kasty omdat jy "anders" is en "vreemd" is.  Mense sien my ook as 'n groot sondaar, en hulle wys my elke dag op my sondigheid.  Jy sien, die wereld is elke dag in hierdie "oordeel" vasgevang, tussen die reg en verkeerd.  Ek dink juis dat my lewe soveel beter is, vandat ek die individuele verhouding met God ontdek het en daagliks daaraan bou en groei.  Ek het begin besef dat ek nie meer onder die oordeel van mense of 'n kerk wil leef, waar ander mense vir my besluit nie. 


Een van die grootste probleme met die "ou denke" (verskoon tog, ek het nie 'n beter term nie), is dat geloof oorspoel na jou daaglikse lewe en funksionering.  Ek het begin insien dat die oordeel waarmee mense my oordeel, sprekend is van hulle eie oordeel oor hulleself en hulle beeld van God.  Ek het ingesien dat as ek my lewe wil verander, daar waar ek in die vrede van God by die waterstroom wil vrugte dra, en my beeld van God moet leef en uitdra.  So het ek stelselmatig begin groei saam met God, omdat ek God wou ontdek, en nie soos die ou dominee se raad, my slegtigheid en my sondigheid nie.  Ek het begin besef dat dit ook God is wat my geskep, en elke dag laat groei, met 'n doel.  Daardie doel is nie meer vir my die "oordeel" of "beterweterigheid" van blinde mense wat my in my blindheid wil lei nie.  Ek het besef dat as ek wil groei en wil stap in die donkerte of blindheid, dit eerder aan die arm van God is wat die lig is, as saam met blinde voetgangers oor 'n besige straat.


Maar, wat doen 'n mens nou rondom jou lewe, want ek dink ook nie dat ons net kan leef soos ons wil nie, want daar is tog 'n balans in alles.  Ek ondervind die laaste klompie jare die "hel" in my lewe, hier en nou, so ek verstaan konsekwensies van my dade, maar ek verstaan ook dat alles nie net feetjies en sprokies is nie.  Dit is natuurlik die grootste uitdaging vir mense, want daar is iets in ons wat altyd beter wil wees.  Nog 'n groter uitdaging is om in jou individualiteit te leef en te mag leef.  Ek het besef dat God my gemaak het soos ek is, met my drome, idees en doelwitte in die lewe.  Ek was altyd vreeslik bang om te dink wat ek dink en te doen wat ek wil doen, want ek het oordeel rondom my elke oomblik.  


Ons kan ons nie losmaak van ander mense nie, ons kan ook nie ons idees van die lewe ontsnap nie.  Ons is soos 'n leeu in die dieretuin wat in 'n hok is ons hele lewe, en wanneer God die deur kom oopsluit, het ons vergeet hoe om te jag en te lewe, en sit ons liewers elke dag vasgevang.  Ons weier om die stappies te neem, want die bekende is makliker vir ons as die onbekende.  Miskien is dit "sonde", wanneer ons onsself laat vang en laat vasketting aan ou idees, want dit is bekend. 


Ons leer op verskeie plekke in die Bybel, nie net deur die wet nie, maar deur praktiese verhale in die Bybel dat sonde nie noodwendig NET is wat jy DOEN nie, maar ook wat jy NIE doen nie.  Die verhale wat Jesus vertel oor die maagde wat hulle lampe onder die maatemmer wegsteek, of die talente, of die verhaal van die muntstuk waar die een slaaf gewoeker het, en die ander een die muntstuk net hou, wys vir ons hierdie punt.  Ek het vir lank die idee gekoester dat ek "alleen" of "vreemd" is.  Die dinge waarmee ek besig is en probeer het mense skepties aangekyk, en hulle doen dit steeds.  Ek besef elke dag hoeveel mense daar is wat nooit werklik "GLO" of vertrou nie.  God skep vir my en jou 'n paradys van 'n lewe, maar ons kies om eerder in ons hokkies te bly leef, en van daar af die ander diere met grondboontjies te gooi.  Die grootste sonde is om NIE te leef nie.


Natuurlik is daar konsekwensies en vrese vir die onbekende, maar dit is werklik nie onbekend nie.  Die wereld rondom jou is geskep deur jou Vader God, wat vir jou die geskenk van die lewe gegee het.  Kyk bietjie na mense om jou wat kanker het, of reeds op hulle sterfbed le.  Op daardie oomblik wens almal dat hulle hulle drome nageleef het, eerder as om in hulle hokke vasgevang te wees.  Dit is 'n groter klap in die Gesig van God wanneer jy nie leef nie, nie gaan soek na die moontlikhede nie. 


Mense sterf waneer hulle niks meer het om voor te leef nie.  As jy nie die oggend 'n doel het waarvoor jy opstaan nie, wat sal jou motiveer om dit te doen?  Wat word dan van geloof wat ons leer dat ons berge kan versit as ons geloof en kennis van God net so groot soos 'n mosterdsaadjie is?  Is ons nie ons eie grootste vyand nie?  Is die "bose" of die "satan" of die "sonde" nie dalk eerder vrees nie?  Ek het 'n verhaal van my ouma se blou Datsun geskryf waar sy elke uur opgestaan het om te gaan seker maak dat die motor nie gesteel is nie, totdat sy op 'n uur opstaan en sien dat dit weg is.  


As God bestaan, is God groter as enige iets wat jy jouself kan indink, en dit is daardie God wat vir jou die heelal geskep het om te geniet en te leef.  Ek dink dit is hoekom ons, wanneer ons bid tot God, opkyk boontoe, want God leer ons om ons kop uit die afvoerpype te haal en te gaan leef.


As ek dus na sonde kyk, dink ek so daaroor.  Wanneer ek God en God se krag en mag en vermoens in my lewe miskyk, dit is sonde.  Wanneer ek God se krag en mag "beperk" in my denke, dit is sonde.  Wanneer ek nie die "onmoontlike" (in mense se oe) aanpak en probeer nie, dan glo ek mos nie dat God so groot is nie.  


Vir my is die verhaal van die sondeval in die paradys juis dit, wanneer ons God se goddelikheid probeer ontneem, en ons self besluit wat God se beperkings is.  Dit is toe Adam en Eva begin probeer het om self God te speel, en nie God toegelaat het om God te wees nie, gaan jy natuurlik nooit die mooi om jou kan sien nie, en gaan jou lewe natuurlik 'n woestynbestaan wees.


Sonde, volgens my, is dus om nie God te "gun" of toe te laat om so groot te wees soos ek glo Hy/Sy is nie.  En die natuurlike uitvloeisel daarvan is dat as jy nie meer glo dat alles, wat jy aan kan dink of nie aan kan dink nie, vir JOU moontlik is nie.  Tel vandag jou kop op, laat God toe om God te wees, want alles is vir God moontlik, en gaan leef jou geskenk van die lewe!

No comments:

Post a Comment