Tuesday, May 20, 2014

Proe die lewe

Die ou boer sit op die stoep saam met sy seun terwyl dit heerlik reen. Die seun se 'sjoe pa, dit reen darem lekker'. Die pa sien dasr in die verte n stukkie blou lug wat uitsteek en se: 'ja, maar kyk daar kom die droogte'!

Gisteraand maak ek my Bybel oop en lees groot dele van die boek Prediker. Niemand kan met sekerheid se wie die skrywer van die boek is en wie hierdie wysheidsleraar was nie, alhoewel in baie kringe gedink word dat dit Salomo was. Belangrik is egter die filosofie van die boek wat handel oor die vraag na die sin van die lewe.

Wanneer jy die boek lees, kom jy tot die slotsom dat die skrywer se idee baie dieselfde as die van die ou boer is, en dit kom soms voor asof hy pessimisties is en die balans van die lewe raaksien. En dit is juis waar die pessimisme inkom, nl die feit dat die lewe eerstens balans het. Vir hom beteken dit dat jy bymekaarmaak, net om weer alles te verloor of oor te gee vir iemand anders wat dit nie verdien nie, of dit versmaai. Jy doen moeite om lewe beter te maak, net om meer spanning vir jouself te skep.  Die mens met baie plaas homself op risiko om iets te he om te verloor, en daardie spanning neem die sin van die lewe weg volgens hom.

Tweedens, wat die sin wegneem is ons verganklikheid. Hy vergelyk ons met diere wat ook dieselfde pad stap, geboorte en dood, en dat ons eintlik nie so belangrik hoef te voel en ook mag voel nie. Ons is dus nie so belangrik dat ons soms dink ons verdien iets beter nie. Ons is maar net, soos diere en ons is verganklik. Die idee kan mens soms laat voel om eerder niks te doen nie.

Interresant vind ek sy analise van iemand wat doodgebore is, wat wel nie leef nie, maar wat nooit blootgestel word aan dinge van die lewe nie. Dit klink weer pessimisties, maar in essensie wys hy weer dat ons nie sin vind nie, want ons self en die samelewing skep sekere verwagtinge, soos die prediker dit stel, drome waarteen ons die lewe meet. Sin en geluk word dus gemeet aan die vervulling van ons drome en verwagtinge van wereld rondom ons.

Die prediker vat hierdie idee verder en se dat die wyse en dwase wel verskil, terwyl die dwaas egter rustiger is en heerliker slaap. Hy vra daarom weereens wat die punt is van sy droom om wys te wees, dag en nag te moet dink. Wat ek interresant vind is sy kyk na binne, eerder anders na wereld kyk, meer oordelend oor dit wat ons almal najaag, rykdom, geluk en wysheid. En die uiteinde aan die einde van sy lewe dat dit hom niks in die sak bring nie. So snaaks dat ons dit almal weet, maar steeds volhou om dit na te jaag. 

Maar wat bring geluk en sin. Prediker maak n interresante observasie. Kos, maak nie saak wat dit is nie, gaan op dieselfde manier die liggaam in, en op dieselfde manier uit. Wat prediker se is, geluk le in die proe van die kos, die tussenin. So, sin le om die lewe te smaak, die soet en smaakvol te geniet. 

Soveel mense leef elke dag, jaag na wind, eet uit selfverdediging, vinnig om ons mae vol te kry. Ons soek "kitskos", oplossings in die eenvoudige dinge wat ons dink sin maak. 

Amper soos die spreekwoord se: "stop en ruik die rose". In alles wat die wyse leraar gesien het, weet hy om te stop en die Godgegewe genot in elke dag te sien en te proe. 

Lyk my sin van lewe is om wat God jou gee elke dag te proe in dankbaarheid. Geniet die reuk en wonder van reen wat val, en moenie soek en die wonder laat verdwyn deur reg te maak vir droogte nie!


Sent from my iPhone

Friday, April 25, 2014

Dreig, baklei, bose se verlei

Op universiteit het ons in sielkunde geleer dat om jou gevoelens te ventileer die antwoord tot psigiese gesondheid is.

Na soveel ondervinding in die lewe glo ek nogal oor karma, daardie verskynsel waar ons met ons woorde en denke wel ons wereld kan beinvloed. Miskien nie altyd direk nie, maar woorde is soms skerper as swaarde. Mense verstaan nie altyd hoe hulle woorde pyn kan veroorsaak nie. Miskien is Heidegger reg toe hy gese het dat die probleem van ons beperkende intellek die woord is. Woorde is beperkend, en ons woorde word soms misverstaan.

Ek verwys ook na ons nuwe lewe van sms en whatsapp, waar ons nie werklik kan kommunikeer nie, wel in woord, maar nie in emosie nie. Waar ons dan met mense saamleef, besef ons dat soveel verlore gaan in interpretasie. Ons sukkel om ons altyd perfek uit te druk. Dink maar aan daardie liefdesbriewe wat jy aan jou eerste liefde op skool geskryf het, daar was nie genoeg papier nie. Salomo het mos gese mens kan nie weet hoe liefde tussen mense werk nie. Sekere dinge kan mens nie verwoord nie, en daarom moet jy, vir daardie n wag voor jou mond sit.

Onthou ook altyd een ding, jy kan nooit die woorde wat jy gespreek het terugkry nie. En baie keer is dit vloeke wat jy oor ander mense uitspreek. Veral wanneer ons baklei. Soms wonder ek wat die persentasie woordewisseling wat ooit positiewe uiteindes het. Ons vermergel en vermorsel mekaar, wat is die doel. Meeste gevalle gaan dit oor ego en jou eie onsekerhede. Wanneer jy in rustige tye terugkyk na die ventilasie-sessie, besef jy dat dit nie die moeite werd was nie. Mense reageer nie positief op kritiek nie. Een goeie oplossing, want mens kan nie deur die lewe gaan sonder praat nie, is om slegs jou opinie te gee wanneer dit gevra word.

In onderhandelingsvaardighede praat hulle van druk en trek aksies. Wanneer jy mense druk, maak mense toe. Wanneer jy trek maak mense oop teenoor jou. Dit is dus waar dat die Bybel ons leer dat die sagte woord die grimmigheid afkeer. My oupa Frans was n wonderlike mens, nooit sy stem verhef of baklei nie. Hy het hom nooit oor ander uitgespreek nie. Hy was so geliefd, en sy sagspraak was die oorsaak daarvan.

Dit laat my dink aan die idee dat as jy niks goed te se het nie, bly eerder stil.

Verder moet ons verstaan dat ons verskil van mekaar. Dit wat mense met ons en oor ons se is slegs hulle opinie. Verder, as jy jouself ken, verstaan dat jy ook nie perfek is nie. Jy het nie die mag en pag oor ander nie. Meeste baklei en rusie kom van onsekerhede in onsself. Baie keer is wat ons in ander sien n refleksie van onsself. So leer ons ook uit die Bybel dat jy eers die balk uit jou eie oog moet haal, voordat jy die splinter uit iemand anders se oog kan haal. So, eintlik is jou eie onvolmaaktheis die rede hoekom jy dalk eerder moet stil bly, voor jy praat.

Al gewonder hoekom n baklei uitloop op n tenniswedstryd. Heen en weer, jy dit, jy dat. Ons leer om onsself te verdedig om iemand anders te probeer herinner aan die ander se onvolmaaktheid. Dit voel dus amper asof ons in ons menswees ingebore het dat ons nie mag oordeel nie.

Wees dus versigtig vir dreig en baklei, dit word n bose verlei. Dit word n bose kringloop in ons lewens. Ons is tog nie diere wat vlug of veg nie, jy het tog n verstand met fantastiese moontlikhede. Elke mens kan verander, elke verhouding kan werk, maar in sagtheid, liefde en aanvaarding alleen.


Sent from my iPhone

Wednesday, April 23, 2014

Buig voor God

Ek lees vanoggend n stuk uit die Bybel wat my weer laat dink oor die manier hoe ons as mense, as ek so mag se, oor God dink.

Die stuk handel oor nederigheid en aanbidding voor God. Soms wonder ek of al ons new age praatjies en denke oor God nie dalk ons ondergang in die lewe is nie. Ons dink mos deesdae dat ons die middelpunt van die lewe is, en ons verantwoordelik is vir ons eie toekoms. Maandag ry ek verby n kerktoring en herinner myself aan die oorsprong daarvan en om die hoogste gebou in die dorp te wees. Vandag sien ons n wereld wat inmekaar tuimel in verhoudings en die val van die groot kapitalistiese stelsels en banke. Daardie ouens wat sulke torings bou wat groter is as enige kerk in die dorp.

Ek wil nie nou die kerk verdedig nie, maar eerder dit as metafoor gebruik vir ons lewens en spiritualeit. Dalk het ons so evolved geraak dat ons met God omgaan as net nog n objek wat ons wetenskaplik en logies mee moet werk. Wat het geword van respek vir God as die Gans Andere, waarvan geen beeld of afbeelding nie gemaak Kan word nie, niks te doen met Mag maak nie.

Dr Johan Heyns het een keer gese: "God Is nie, want as ek Is aan Hom koppel, dan is hy nie meer God nie". Soms voel dit asof ons so totaal wegbeweeg het van diens aan God en oorgawe aan Sy plan vir ons lewe, en hom in bytstukkies probeer breek wat ons bedien. Ons het ons leeens begin leef soos ander mense van ons verwag.

Uit my eie ondervinding oor die laaste paar jaar het ek begin sien dat mense se sukses na hulle koppe gaan en hulle respek vir ander bepaal word deur die manier hoe hulle na hulle en ander se beursies kyk. Baie mense dink ek het n probleem oor die manier waarop ek na geld kyk, beslis nie, inteendeel respekteer ek elke sent in my sak. Wat ek wel agterkom is dat mense se oordeel oor wanneer jy niks het nie, enorm is. Dit het ons eerste punt van oordeel geraak as dit by mense kom. Ons gebruik geld as barometer van sukses. Een ding is waar uit my lewe, my manier van leef toe ek geld gehad het, het veel te wense oorgelaat. Ja, ek was goed vir mense, mense ingeneem in my huis, geld weggegee, ander kinders se skoolgelde betaal ens. Maar wie was ek voor die Here gewees? Wie was ek as mens in die oe van die Here? In die oe van mense was ek fantasties, maar in my eie oe maar effens beroerd. Meeste van die mense toe in my lewe is nou weg. Net n handvol wat my werklik lief het is oor, en dis ok vir my, want ek het geleer dat ek beter af is as mens waar ek nou is.

Nou dat ek niks het nie is ek spiritueel op so n fantastiese plek. Ek lag en laat niemand toe om my te judge nie, veral nie met valse maatbande nie. Want wanneer ek min is, is God baie in my lewe, maar toe ek baie was, was God min vir my.

Dit laat my so dink aan die verlore seun wat teruggaan met sy hoed in die hand en sy varkkos-asem na n plek van rus by sy Vader. Die les hoer gaan nie oor geld nie, maar oor prioriteite, dis waar wonderwerke plaasvind.

Vandag gaan ek terug na God met n blye hart in die wete dat ek al my bekommernis en al die oordeel en al die sukkel in Sy hand los en weet, Hy sal sorg.

Ek gooi al die oordeel van my af, want ons leef nie vir mense nie, ons leef vir God.

God is gans anders, punt, amen.

Sent from my iPhone

Friday, April 4, 2014

Is God nog 'n God van wonderwerke?

 

Ek sal myself klassifiseer as ‘n Christen, seker maar op my eie manier en met my eie dinge in my kop van hoe ek dink dit werk.  Ek probeer deur my lewe al om na te volg wat ek in die bree lyne van die Bybel lees, soos om die regte dinge te doen.  Vir lank het ek wel met myself gestoei oor my eie tekortkominge en foute wat ek maak, maar in die Bybel leer ons tog dat ons nie volmaak is nie, maar steeds oordeel ons oor onsself, veral wanneer dinge begin verkeerd loop. 

In die verkeerd loop van die lewe, begin ‘n mens soms vra oor wat die punt daarvan is?  Wat help dit dat ek so hard probeer om reg te leef?  Jy kyk saam met ouens soos Dawid na mense om jou, en jy begin besef dat daar dalk ander maniere is van leef, want om perfek te wees is nie noodwendig die antwoord nie.  Dawid se op baie plekke dat hy nie kan verstaan dat dit met mense wat NIE in God glo nie, goed gaan, mense wat doen net wat hulle wil, en dit lyk asof daar geen konsekwensies vir hulle dade is nie.  Dit lyk eintlik asof die konsekwensies van hulle “verkeerd” doen, positiewe dinge is.  Dit kan natuurlik maklik ‘n mens se geloof toets en jouself laat vra wat die punt is daarvan.

Op die ander punt van die skaal, begin jy glo dat daar ‘n manier is en moet weet om jou omstandighede te verander.  Daar was altyd nuwe en ander maniere hoe mense hierdie wereld en hulle aksies gedryf het.  Denke wat ons in vandag se tyd die nuwe spiritualiteit of die New Age beweging kan noem.  Soms vind ek dat mense gryp na hierdie nuwe maniere van leef, veral wanneer hulle begin dink dat God dalk nie so betrokke in hulle lewens is nie, dat daar nie meer wonderwerke is nie, maar alles net vibrasie en ingesteldheid is.  Ons leer onsself dat ek myself van voor af kan programmeer om beter te funksioneer in my lewe.  Ek word die argitek van my eie bestaan en my eie lewe.  Ek kan heeltemal verstaan dat mens so begin dink, want dit voel soms asof God nie betrokke is nie.  Mense gee nuwe name aan hierdie iets wat groter is as ons, naamlik die “universe”, om in ‘n mate weg te beweeg van ‘n God wat ons soms voel nie in ons lewens meer betrokke is nie.

Deur die eeue het mense gesukkel met ‘n konsep in die teologie van presies dit, die Theodisie probleem.  In kort gaan dit oor hoekom God slegte dinge toelaat om te gebeur met mense wat Hom aanbid.  Hoekom word ons siek?  Hoekom sukkel ons?  Hoekom voel ons soms heel alleen en dat God ons verlaat het?  Soms vra ons nie meer die vrae nie, en al wat ons doen is om maar net stelselmatig meer en meer weg van God te beweeg.  Gister en vandag het ek so hard vir myself die vraag gevra, want ek probeer my bes, maar dinge werk nie uit nie.  So in my denke rondom, en my soeke na God en Sy hand van ingrype in my lewe, begin ek toe onwillekeurig bang word, want ons is mos nie veronderstel om hierdie God te bevraagteken nie.  Hierdie vrees lei ook daarheen dat ek onwillekeurig skielik doen wat ons almal doen, ons begin weer kyk na ons eie lewens en die manier hoe ek dinge doen.  Ek vra weer vrae oor my sondigheid, ingesteldheid, vibrasie en programmering.  Ek begin weer na binne kyk om die antwoorde in myself te soek, om sodoende God se plan en wil te soek in my lewe.  Dit is natuurlik om so op te tree, want ons is mos altyd op soek daarna om God se guns te probeer wen.  Ons vra die vraag na die sin van die geloof, as dit nou nie werklik vir my iets kan beteken in my alledaagse lewe nie.

Ek dink terug aan my kinderdae en wat ek geleer is dat geloof nie is soos die kersvader verhaal waar ek mooi persente kry wanneer ek ‘n soet kind was nie.  Ek verstaan die verantwoordelikhede in my lewe en dat ek nie net met mense omgaan soos ek wil nie, maar God se liefde moet leef.  Ek weet egter ek kan niks ooit doen om God se guns te wen nie, want sondig sal ek wees.  Ek wil nie hier praat oor die skadukante van ons menswees nie, want ons het dit almal en kan dit nie afskud nie. 

Die vraag hier is egter:  “Waar is die God van wonderwerke?”  Want as alles net ek is, die goed en die sleg, waar is plek vir God?  As ek nie kan verdien nie, nie die goed of die sleg nie, hoekom kry ek die sleg?  Is ek werklik so sleg dat ek nie die mooi in die lewe kan kry nie?  As dit nie verdienste is nie, hoekom sal God my straf?  Dit is tog duidelik dat daar in die Bybel hierdie wisselwerking is in wie en wat God getipeer word.  Orals lees ons van reels en regulasies van wat ons moet doen om ‘n lang lewe te kry as geskenk.  Op soveel plekke lees ons van waar God vir mense gee net wat hulle vra, en in sommige gevalle nog meer as wat hulle verdien.  So, verdienste is deel van die godsdiens wat ons leef, die onnatuurlike manier van waar jy nuut gebore word en doen wat God van jou verwag.

Maar die Bybel is tog vol van magiese wonderwerke, waar God vir mense gee, sonder dat hulle in Hom glo, sonder dat hulle doen wat God vra.  Selfs vir mense wat nie God se wil doen nie, word uit hulle skoene geseen.  Ek verstaan dat dit van buite af so lyk en dat dit soms net ‘n front is wat mense voor hou, maar as jy sukkel en dit gaan sleg met jou menswees, begin ‘n mens soms wonder.  Daar was soveel geleenthede in my lewe waar ek die wonderwerke afgebid het, en God my verhoor het, maar die vraag bly hoekom God dit nie altyd doen nie. 

Ek verstaan dat Jesus ook van God gebid het om die beker by Hom te laat verbygaan, maar God dit nie verhoor het nie, want daar is ‘n groter doel daaraan verbind gewees.  In dieselfde opsig is ons godsdienstige denke ook so geprogrammeer om te glo dat ons lewens elke dag in God se hand is, en dat God ons lei na die doel wat Hy vir ons gestel het.  Dit moet ons soms ook rustig maak in die wete dat God alles ten goede sal laat meewerk, en dat ons net moet vertrou.

Aan die ander kant is ons ook deur ons godsdienstige opvoeding geleer om na die lewe as ‘n halfvol glas te kyk.  Dankbaar te wees vir wie en wat jy is, eerder as om ondankbaar te wees vir wat jy nie het nie.  Blykbaar moet hierdie dankbaarheid ons so vul dat ons niks anders in die lewe van God of die lewe verwag nie.  Wees content met jou omstandighede en maak vrede.  Maar ons word tog ook geleer dat die lewe sin het, nie net in dankbaarheid nie, maar dat ons ook iets astronomies met ons lewens kan doen.  Ons het talente en moet dit uitleef, ons moet groei en daarmee saam ook die lewe geniet.  Ons kan tog ‘n wereld skep en in tot alles instaat deur Christus wat ons krag gee.  Op facebook sien jy baie van hierdie prentjies wat ons lewens en hoe dankbaar ons moet wees deur die mooi boodskappies te share. 

In soveel dinge wat ek lees en hoor, besef ek net soveel meer dat mense soek na iets.  Mense glo nie meer in wonderwerke nie, want ons het geleer om ons lewens so te kan beheer, sodat ons in beheer voel.  Ek sukkel, want dit voel vir my asof ek nie werklik beheer het nie.  Ek kry soveel raad en soveel insette van mense wat ek sien geleer het om hulle lewens te beheer en iets gemaak het van hulle omstandighede.  Dit is vir my wonderlik, en soms is ‘n mens jaloers oor wat gebeur met hulle, maar bly aan die ander kant.  Soos ek met hulle praat oor hulle suksesse, besef ek een ding, daar is iets in hulle lewens wat hulle lewens anders maak, maar soos ‘n goue draad deur almal van hulle loop.

Dit is nie dat hulle nooit swaargekry het, of nie steeds doen nie, maar daar het op een oomblik in hulle lewens ‘n besluit gekom, ‘n katalis wat hulle ‘n pad gekies, ‘n manier van dink verander het wat hulle lewens verander het.  Die besluit klink verskillend, maar dit kom van ‘n “gatvol” situasie waar hulle vir hulleself se:  “Tot hiertoe en nie meer verder nie”.  Op een of ander manier het hulle die onmoontlike vermag om hulleself aan hulle skoenveters op te tel en met passie te begin leef.  Daardie “moegword” vir die manier hoe hulle lewens loop, en ophou om hulleself jammer te kry.

Om te weet wat die omvang van God se hand in daardie oomblik van omdraai is, sal ons seker nooit weet nie, maar vir my is dit soms moeilik om te verstaan hoe God se hand werk.  Ek hou nie op om te leef in die geloof van wonderwerke nie, alhoewel ek soms wonder oor waar daardie hand in my lewe is. 

Ek glo in wonderwerke, en ek glo in ‘n God wat nooit vir sy kinders die slegte toewens nie, en ek vra wat die lesse is wat ek moet leer in hierdie tyd in my lewe.  Ek dink aan die woorde van Romeine 12:2:  “Moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.  Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”.  En dit is dalk eerder my gebed, dat ek moet ophou wonder en dalk weereens eerder my lewe aan God elke dag bly gee en God toelaat om die manier hoe ek dink en hoe ek wonder anders te maak.  Ek sal ook nie skuldig voel teenoor wat ek soms oor God beredeneer nie, want dit is ook God se manier om my denke te vernuwe en so bietjie ‘n kykie in God se hart te kry. 

En weereens, soos in baie Psalms, begin ek met ‘n klaaglied, maar eindig met ‘n geloofsbelydenis dat ek steeds sal glo in ‘n God van wonderwerke, ‘n God wat in beheer is en saam met wie ek ‘n lewe kan bou, in Hom en deur Hom. 

 

 

Thursday, March 27, 2014

Ag-Shamepies

Ek dink as julle my skrywes volg, julle redelik sal agterkom dat ek ook maar sukkel met ‘n klomp dinge in my lewe.  Prakties is daar baie uitdagings, maar emosioneel ook, en dan is ek iemand wat nogal baie vrae vra oor die lewe.  Ek lees baie boeke en artikels oor self ontwikkeling of aktualisering.  Wanneer dit kom by godsdiens sal ek myself klassifiseer as iemand wat nogal sterk in God glo, maar sekere vrae vra oor die manier hoe ons as mense daardie geloof uitleef.  In daardie sin sukkel ek nogal met georganiseerde godsdiens soos wat ons dit in die algemeen in kerke vind, veral rondom die feit dat ek glo dat godsdiens ‘n individuele ervaring is.  Ek het gekwalifiseer as ‘n dominee in die NG Kerk en self gepraktiseer as ‘n dominee in ‘n baie dinamiese gemeente in Pretoria.

Ek het ook pastoraat toegepas as dominee, alhoewel ek moet erken dat ek 24 jaar oud was, en dalk nie al die ondervinding gehad het om dit korrek te doen nie.  Ek het sielkundige agtergrond vanuit my studies en daarom het ek probeer om mense die antwoorde te bied wat hulle gesoek het.  Ek dink, uit my huislike agtergrond, en as persoon, was ek nooit ‘n A-tipe persoon nie.  Ek is steeds iemand wat altyd in alle omstandighede wat mense in verkeer, vrede probeer maak.  Dalk is my ingesteldheid altyd dat ons oor-emosioneel reageer op situasies.  Verseker verstaan ek oor-emosionaliteit baie goed, want ek is en kan soms ook ‘n drama-queen wees wat heftig reageer.

Soos ek hierdie storie vir julle vertel, besef ‘n mens dat elkeen van ons ook maar ons eie stories het.  Ons weet elkeen waar ons vandaan kom, en het ook ‘n opsomming van wie ons is of wat ons persepsie van onsself is.  Ek gebruik die woord “shamepies” met ongelooflike respek teenoor mense om my, want ons leer mos dat ‘n sagte woord die grimmigheid afkeer.  Ek gebruik hierdie woord omdat ek dink dat ons onsself vreeslik jammer kry in situasies, veral as ons in ‘n hoek gedryf word waaroor ons soms nie beheer het nie.  Ons leer in sielkunde dat mense hulle stories moet vertel, en dat mense hulle eie pad moet vind in hulle storie sodat hulle dit kan herrangskik om vir hulle hoop vir die toekoms te gee.

Maar hoe doen ‘n mens dit?  Hoe maak ‘n mens met jou baggasie en jou jannie jammer houding? 

Ons leef in ‘n wereld waar dit klink asof daar slegs een persoonlikheidstipe is wat “aanvaarbaar” is.  Dit is asof die wereld en selfhelpboeke ons leer om A-tipe persone te wees om erens in die lewe te kan kom.  Daardie ampere idee van “go big or go home” scenario, waar daar net plek vir die kampioene van industrie is.  Daardie ouens wat ons van in boeke lees om net dinge te doen.  Daardie tipe van mense wat in besigheid na opgekyk word, die sporthelde, en ook mense soos Oscar Pistorius wat te midde van alles lyk asof hulle al die negatiewe wat na hulle kom oorkom.  Dit word aan ons geleer dat om ons probleme te oorkom, ons onsself met ‘n wonderwerk moet regruk en aan ons eie skoenveters moet optel.  Soos ‘n ou dominee in my lewe een keer vir iemand met depressie gese het:  “Ruk jouself reg, kom nou, hou op en kom reg”.  Dis presies wat ons dink en hoe ons wil en moet doen.

Oor die laaste paar weke het ek die voorreg gehad om na 2 oulike preke te luister.  Die eerste gaan oor Jesus en Sy manier van hoe hy met mense en godsdiens omgegaan het om ons ‘n nuwe manier te leer.  Die Fariseers en Skrifgeleerdes was so vasgevang in hulle “regte” manier van doen.  Die Jode om Hom het verwag die Messias moet een van daardie A-tipe persone wees wat maak en breek en soos ‘n wafferse generaal opstaan en links en regs oorwinning vir sy mense te bring.  Helaas, Jesus was totaal anders, “soft spoken” en liefdevol.  Hy het nie veroordeel nie, inteendeel met ‘n sagte woord mense gewys hoe om op ‘n nuwe manier te kan leef.  Hy het met sagtheid en met deernis meer uitgerig as al die generaals in die geskiedenis van die wereld.  Wat jou denke ookal oor Christenskap is, maak nie saak nie, maar een ding wat jy nie oor kan stry nie is WAT Jesus ons kom leer het oor die lewe, oor God en oor liefde.  Veral in hierdie oogpunt, leer ons dalk meer uit aanvaarding en liefde as uit drama, baklei en oorlog.  So, in jou lewe, dalk is jou uitdaging nie so kwaai om op te staan en hierdie wonderlike tipe-a persoonlikheid oplossing vir jou lewe te soek nie, want dit is dalk hoekom jy jouself met ag shamepies vul, want jou manier om jou probleem op te los werk nie.

In die ander preek oor die donkerkant van Abel Pienaar, maak hy die standpunt dat elkeen ‘n ligte en donker kant het.  Ons dink ons oplossing is om ons donker kant af te wys en net in die lig te leef.  Hy maak ‘n interresante punt dat jy ‘n volledige mens is, lig en donker, en dat jy nie van jou skaduwee kan weghardloop nie.  Jy is wie jy is, en hoe vinniger jy aanvaar wie en wat jy is, hoe vinniger gaan jy kan leef.  Voel jy daardie gevoel in jou wat nou vir jouself se:  “Wat?”.  Ons is mos grootgemaak om dit wat nie lig is nie te beveg en onder die mat in te vee.  Ons is mos geleer dat om gelukkig te wees gaan oor om jou donker te oorwin en lig te kan leef.  Regtig?  Hoe werk dit vir jou uit op die stadium in jou lewe?  Nou hoor ek weer dat jy dink dat dit nou maar weer een of ander “liewe heksie” verskoning van die nuwe spiritualiteit is om soos in ‘n “hippie-bestaan” te leef. 

Dalk is dit hoekom ons onsself so jammer kry, want ons wereld gaan oor “sukses”.  Ons dink mos nie dat sagte en emosionele mense “suksesvol” is nie, want hulle leef in ‘n droomwereld.  Mense wat so leef en dink is mos eintlik onrealisties, want jy weet nie in watter lewe jy leef nie.  Jy dink dat om te maak en breek die manier is om te leef.  Soms wonder ek dan, as ek om my kyk, hierdie tipe “champions of industry” en hulle huwelike, hulle kinders en hulle verhoudings, hoe lyk dit?  Die Oscar Pistorius saak het dit weer vir my gewys, waar ons besef dat almal sukkel met dieselfde dinge in hulle lewens, vrees, hartseer, spanning, krisis en liefde.  Dalk kyk ons op na hulle oor wat hulle “oorwin” het, maar soms word dit waarvoor jy bekendheid verwerf het, net weer ‘n nuwe skadukant, ‘n nuwe krisis en nuwe probleme.  Mense wil beken word, sodat hulle herken kan word en iets maak van hulle lewens, net om weer soos kluisenaars en met brille en maskers weg te kruip vir die fotograwe. 

Wat dit ons leer is dat niks ooit net lig is nie.  Dit leer ons dat as ek een “gestremdheid” oorwin, dit niks wegneem van my gestremdheid nie.  Ek kry myself jammer, maar daar sal altyd ietsie wees vir my om oor ag-shamepies te kan pleeg.  Soms soek ons onmiddelike oplossing vir my ag-shamepies, wat soms skep ek net meer en meer monsters wat beveg moet word.  Dis amper soos in die Hobbit, na elke uitdaging is daar net nog ‘n draak, nog ‘n vyand, nog ‘n donkerte om deur te kom. 

Die probleem van die lewe is nie dat ek in ‘n droomwereld leef nie, die grootste onrealisme is mense wat dink dat daar een oplossing is, raak ontslae van dit wat jou pla en kap dit af, net om weer te besef dit bring nuwe ag-shamepies.  Jammer om jou teleur te stel, maar soeke net na lig is nie die antwoord nie.  Ek sien so baie mense wat dink dat as hulle net dit of dat kan verander, hulle gelukkig gaan wees.  As ek net van my vrou wat kla en kerm kan ontslae raak, gaan ek gelukkig wees.  My man se die en daai, as ek nou net geskei is, dan gaan my lewe werk.  As ek nou net ‘n ander werk kan kry, dan gaan alles beter wees, of daardie motor ry en ontslae raak van my ou krok, dan gaan ek die lewe kan geniet.  Ek vat niks weg van die feit dat mense in moeilike omstandighede leef en dat daar soms drastiese stappe geneem moet word nie, verseker.

In sielkunde sien ons mense wat van een verhouding na die volgende spring, net om ongelukkig te wees in elkeen van daardie verhoudings en dan uitsprake maak soos:  “Geen verhouding werk nie, mans is so en so, of vrouens is dit en dat”.  Een ding wat ons vergeet is dat daar deur jou lewe en al jou verhoudings een gemene deler is, JY.  Wanneer ons nuwe verhoudings begin, is dit mos altyd maanskyn en rose, maar deur tyd begin ons besef en verstaan van mense se donkerkante.  Dit word soms so erg dat ons selfs oor die manier hoe iemand hulle tjoppies eet ge-irriteerd raak.  Dit is mos so, hoe meer jy op iets fokus, hoe erger en hoe meer word dit.  Soos jy met ander doen, doen jy tog ook met jouself in die ergste vlak.  Gister besef ek toe net weer dat mense so maklik in hulle ag-shamepies dink dat hulle so beinvloed word deur dit wat buite hulle gebeur en dat hulle voel ander se skadukante hulle skadukante erger maak. 

Die uitdaging kom nooit van buite nie, maar van binne.  Ek het soveel keer daaroor geskryf dat verandering van binne kom.  Twee mense leef in dieselfde situasie, maar een is gelukkig daarmee, ander een nie.  So, is die situasie die invloed, of is die twee mense se uitkyk daarop die antwoord.  Ok, so, jou idee oor dinge beinvloed of jy ag-shamepies voel of nie.  ‘n Verdere ding wat ons ag-shamepies beinvloed is tyd.  Kan jy onthou hoe jy gevoel het op skool in matriek die dag voor jou wiskunde eindvraestel.  So, jou ag-shamepies gevoelens is soms in die oomblik vir jou erg, maar met tyd word die gevoel anders.  Beteken dit dan eintlik dat dit nie werklik eg is nie?  Beslis nie, dit is dalk met ervaring en loop van tyd wat ons besef dat dit nooit so ernstig was as wat ons gedink het nie.

Ek is nou al in my lewe deur ‘n hele paar traumatiese ervarings, een werklike egskeiding en een semi-egskeiding waar ek van my kinders eintlik geskei is in omstandighede van verblyf.  In daardie oomblikke, daardie alleen afloop in die gang sonder daardie kinderstemmetjies, voel dit asof jou hart uit jou bors geruk is.  Kan ek eerlik wees, daardie twee kere wat ek moes groet het hoofletter ag-shamepies vir my gewees.  Jy kry jouself so jammer, en jy verwyt jouself vir wat gebeur het.  Baie van ons het sulke oomblikke, waarin en waaroor jy voel jy geen beheer het nie.  Hartverskeurende tye van verwerp, van pyn en van hopeloosheid.  Een ding het ek geleer oor tyd en my ag-shamepies, en dit is dat jy ‘n paar dinge kan doen.  Een is, met tyd voel dit beter, maar soos een van my kollegas wat se seun selfmoord gepleeg het my geleer het, soms is daar dinge wat jy vrede mee moet maak dat jy dit nooit kan verander nie, maar net leer om daarmee saam te leef.  Dus, die ag-shamepies is, soos jou skaduwee deel van jou lewe, vat dit, erken dit, en met tyd leer jy om daarmee saam te leef. 

Ongelukkig kan jy nie agter jou ag-shamepies wegkruip nie, want alhoewel ander vir jou mag omgee en raad gee, is jy die een wat met daardie gevoelens leef.  In dieselfde asem het ek geleer dat niemand werklik ooit vir jou ag-shamepies omgee nie.  Die wereld daar buite verwag van jou om die harde a-tipe generaal te wees wat elke dag net veg en oorlog maak teen die skadukant.  Maar net omdat die wereld so is, beteken nie die wereld is reg nie.  Wat die wereld en mense om ons van ons verwag van hoe om met pyn om te gaan is, om eerlik te wees, miskien die oorsaak hoekom die wereld in die toestand is wat hy is.  Die sterkste met die mag van persoonlikheid, geld en kennis word op trone geplaas, net om weer die wat nie so sterk is nie te vertrap en te verwoes.  Die grootste vraag wat ek altyd vra oor die “normatiese” manier van doen in die wereld en in mense is:  “Kom ons kyk na die uitkoms daarvan, en kom ons toets dit rondom geluk”.  Sonder twyfel, eintlik kan ons niks van die norm in die wereld neem nie, want snaaks genoeg, dis resepte wat nie werk nie.  Net omdat jy in die koelte staan, beteken nie dat jou skaduwee weg is nie, dit is net nie sigbaar nie. 

So, jou ag-shamepies, wat dit ookal is gaan altyd deel van jou lewe wees, dit gaan nie weggaan nie, dit maak jou wie jy is.  Jammer om jou te se, maar dit sal nooit weggaan nie, bo-op of onder die mat, dit is deel van wie jy is.  Hoe vinniger jy jou “lot” gaan aanvaar, hoe vinniger gaan jy leer om daarmee saam te leef.  Jammer om te se, maar niemand kan dit van jou af wegneem nie, die beker gaan nie by jou verbygaan nie, al pas jy watter teorie ookal toe, die wereld en mense om jou sal jou kruisig daaroor.  Jy sal nooit werklik “genoeg” wees nie, jy sal nooit “verstaan” word nie, so moenie daarna soek nie.  Wees wie jy is, met jou ag=shamepies en jou sertifikate teen die muur.  Soms moet jy aanvaar, soms moet jy ontspan, soms moet jy die leisels van die lewe laat gaan en die perd alleen laat hardloop huistoe.  As jy ‘n perd se leisels die hele tyd styf hou, gaan die perd nerens heen gaan nie.  Jy kan die perd so probeer “inbreek”, maar op die ou einde gaan die seer oopbreek en uitbloei van pyn, rebellie en hartseer.  Jy kan nooit die lewe beheer soos jy wil nie.

In gholf is daar ‘n goeie voorbeeld van die voormalige nommer 1 gholfer, David Duval.  Tegnies het hy probeer om al meer en meer beheer oor sy swaai en spel te wees, soveel so dat hy op die ou einde sy posisie as nommer een verloor het.  Sy spel het so agteruit gegaan dat hy op die ou einde gladnie meer op die toer kon speel nie.  Eintlik het sy “quest for zero defect” en sy obsessie oor beheer van die spel, eintlik nog ‘n groter ag=shamepies in sy lewe veroorsaak. 

Miskien is vandag die dag wat jy jouself laat gaan, en besef dat jy volledig jy is, met jou ag-shamepies.  Dalk moet jy ophou probeer om die beste te wees, en begin om jy te wees.  Miskien moet jy ophou om perfek te probeer wees of dit te verwag van mense om jou, maar in besonder jouself.  Laat gaan, want dalk is dit dan wanneer jy die wind in jou hare gaan voel en die genot van die lewe ervaar, te midde van die feit dat daar ag-shamepies was, is of gaan wees.

 

 

 

Wednesday, March 12, 2014

Statistieke

Ek is nogal ‘n groot waaier (fan) van statistiek en hoe mense dit soms gebruik of misbruik om hulle punt te bewys.  Op skool het ek aan ‘n redenaars deelgeneem, en een van my standpunte teen my opponent was, wanneer hulle statistiek gebruik, om te se dat hospitale die gevaarlikste plek op aarde is, want meeste mense sterf in hospitale. 

Maar, statistieke kan nogal baie vir ons vertel, al is dit nie ‘n eksakte wetenskap om dinge te bewys nie, is dit soms ‘n aanduiding en rigtingwysers vir verdere ondersoek.  Ek dink dit is wonderlik om jou eie statistieke te “trek” op jou eie lewe en sodoende ‘n prentjie te teken van hoe jou lewe en keuses loop.  Aan die een kant is dit belangrik, want dit kan wys op die tipe tendense wat jy oor en oor in jou lewe toepas.  Dit maak interresante leeswerk aan die een kant, maar aan die ander kant kan jy ook maklik uit jou statistieke negatiewe inligting trek.  Jy kan soms uit jou statistieke trek dat jy nie goed genoeg is nie, of ‘n mislukkiing is.  Partykeer kan jou statistieke vir jou ook ‘n valse en skewe beeld van jouself gee, soos in die voorbeeld van hospitale. 

Ek wil soms lag vir my kinders wat, veral wanneer hulle in toetse sleg gedoen het, altyd die klasgemiddeld aanhaal as ‘n verwysingspunt.  My ma is nogal streng met my gewees, in soverre sy, wanneer ek klasgemiddeld aangehaal het, altyd gese het dat ek my nie teen ander mense moet meet nie, maar eerder teen my eie potensiaal.  Ek het geleer, en ek is dankbaar daaroor, dat ek dinge in die lewe altyd in konteks moet sien.  Soos met statistiek, hang die ondersoeker se uitslae altyd af van wat hulle wil bewys en wat hulle na soek.  Dit is amper soos die uitdrukking dat as jy ‘n stok soek om ‘n hond mee te slaan, is daar altyd een byderhand.  Hoe jy ookal probeer, geen statistiek is ooit sonder konteks nie, selfs die sensus fokus op sekere informasie wat jy insamel.

Selfs wanneer ek krieket kyk, het hulle al daardie oulike statistiese informasie oor ranglyste om mense aan te meet.  Jacques Kallis is ‘n goeie voorbeeld, sy statistieke is ongelooflik, maar statistieke bring altyd vrae.  Vrae word gevra of hy beter was as Sir Donald Bradman of hoe vergelyk hy met ander “all rounders”.  Statistiek is net so goed as wat jy wil bewys, en aan die ander kant waaraan jy dit wil meet.

Oor die laaste klompie maande is ek baie gekonfronteer met mense wat in huwelike en verhoudings is waarin hulle ongelukkig is.  Meer nog, ek het gesien dat mense al meer en meer ander mense “judge” om sodoende hulle eie keuses en optredes te verantwoord.  Ons soek altyd bewyse en waarborge vir die manier wat ons optree.  Dit is soms vir my hartseer, want dit voel vir my asof ons “manier” waarop ons die lewe basseer totaal verkeerd is.  Ons voel beter oor onsself wanneer ons bewyse kan kry vir ons optrede.  Ons soek mense, wat in ons oe, beter statisties deel van ons bewyslas is.  Ons voel ook beter oor onsself, aan die ander kant, wanneer ons iemand kry wat ons beter “rank” as ander mense.  Konstant is ons besig met hierdie speletjie om te bepaal wie waar op daardie ranglys is, om sodoende te weet wie beter en wie slegter is.  Dalk is hierdie “oordeel” so deel van ons lewe, maar ook die ondergang van ons eie vermoe om te kan leef.

Bestaan die lewe daaruit?  Is om te leef die heeltyd gekoppel aan meet en pas?  Is ons hele bestaan gemik daarop om geweeg te word om te bepaal of ons goed genoeg is om hier te wees?  Dit is wat vir my so wonderlik is om ‘n konsep in die Nuwe Testament van die Bybel te lees, naamlik Genade.  Genade beteken dat God vir my sekere talente gegee het, saam met die lewe, en dat Hy graag sal wil sien dat ek dit uitleef.  Maar wat God se genade so ongelooflik maak is, dat Hy egter nooit my toets daaroor nie.  God het nie ‘n ranglys van wie Sy blou-oog en uitgesoekte kinders is en dat niemand anders saakmaak nie.  In God se oe kry ons almal goue medaljes, soos jy ook graag vir jou eie kinders wil doen.

Ek sien so baie mense om my wat daagliks dinge op facebook sit van hoe groot hulle in hulle geloof is, maar daagliks oordeel.  Het die Bybel ons nie ook geleer dat jy met dieselfde oordeel geoordeel gaan word as waarmee jy oordeel nie?  En is dit grootste oordeel nie die teenoorgestelde, dat ons so hard op onsself is en onsself oordeel om perfek te wees, en dan die mense om ons oordeel omdat hulle nie ook perfek is nie?  Jesus het in sy leeftyd standpunt ingeneem oor wat reg en verkeerd is, beslis, maar in dieselfde asem mense in sy binnekring ingenooi wat statisties in die samelewing oordeel verdien het.  Jesus het ons laat verstaan dat daar ‘n ander manier van leef behoort te wees. 

Miskien voel ek persoonlik oor al die veroordeling wat ek so baie in my lewe gevoel het, maar besef dat dit dalk ons uitdaging as mensdom is, om ontslae te raak van ons self veroordeling en veroordeling van ander mense ontslae te raak.  Menslike, en daarmee saam ons “ou” menswees soos in die Bybel van sprake, loop alles saam met die hele idee van mense kruisig.  Daar sal altyd ‘n rede wees hoekom jy iemand om jou kan kruisig, en dit is dalk hoekom Jesus se kruisiging so ‘n goeie voorbeeld is.  Die kultiese leiers en ook die Romeinse regering van die tyd het Jesus gesien as ‘n vyand, iemand wat hulle manier van bestaan in die wiele kan ry.  Weereens ‘n ego ding, waar dit gaan oor mag.  Ons wil in beheer van ons eie lewens wees en elke mens wat ons lewensbestaan in die wiele probeer ry, kruisig ons.

Ons kruisig ons kinders, kleinkinders, huweliksmaats, kollegas, ouers, grootouers, presies op die oomblik wat hulle ons “sogenaamde” bestaan probeer inperk.  Ons is soms so basies in ons bestaan, soos ‘n leeu wat in ‘n hoek vasgedruk word, sonder om te verstaan dat ons eintlik nie moet oordeel nie maar moet leer.  Sou almal wat om Jesus se kruis gestaan het eintlik besef het WAT Jesus se en wat hy leer, dink net aan die konsekwensies van so ‘n besluit.  Sou die wereld nie ‘n ander plek gewees het nie?  Ons skeur mekaar elke dag in stukkies met ons kruisbevele, en ons vergeet so maklik ons roeping van liefde.

Ek kan elke dag honderde mense opnoem wat my in my lewe skade aangedoen het, my uitmekaar geskeur het.  Ek kan myself elke dag vreeslik jammer kry vir die onreg wat aan my gedoen word.  En wat gaan dit my help?   Ek was ook in posisies waar ek gedink het ek wil mense verag en hulle laat toesluit in die diepste hartseer wat ek dink hulle verdien, maar wat sal die punt wees?  Al wat oordeel op daardie vlak bring is die verstaan dat dit oor my en my ego gaan, hoe jy dit ookal wil vertolk.  Niks gaan werklik oor jou nie, elke mens doen in die wereld net hulle bes, en in die woorde van Jesus, “vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”. 

Dalk in die statistiek van jou lewe voldoen mense nooit aan jou vereistes nie.  Dalk is die somtotaal van jou uitkoms negatief, of positief, ek hoop.  Een ding is waar, en dit sal altyd so wees, elke stukkie statistiek en som wat jy maak is subjektief.  As jy iets soek om te bewys, sal jy statistiek kan kry om dit te bewys.  Dit is dalk meer hoe die “law of attraction” werk, dat ons skep, maar meer nog KRY wat jy voor soek in die lewe.  As jy soek na mooi in jou lewe, gaan jy dit kry, en as jy glo dat iets of iemand sleg is, gaan jy presies die slegte kan kry in mense. 

Die hele wereld is vasgevang in die Oscar Pistorius hofsaak, en dit is heerlik om te luister hoe die verdediging en die staat fokus op spesifieke details in die getuies se getuienis.  Hulle soek na sekere woorde, of lok die getuies uit om sekere dinge te kan se.  Soms klink dit asof vrae oor en oor gevra word om statisties genoeg informasie op die regte manier saam te kry om ‘n konklusie te kan maak.  Die vraag wat ek jou vandag vra is:  “Wat is die vrae wat jy vra van jouself en die mense om jou?” Onthou nou, jy kan elke dag kies aan watter kant van die oordeel jy wil staan, Nel se kant van die staat om skuld te probeer “bewys” of aan Roux se kant om die onskuld te soek.  Elke oomblik van jou lewe is jy in die posisie om te kan kies “WAT” jy in die lewe beantwoord soek.

Dalk moet jy bietjie vandag die vraag vra oor watter tipe vrae jy vra, van jouself, van die mense om jou en jou wereld.  Dalk moet jy vrae stel aan jouself wat jy wil bewys, jou motief,  met die statistieke wat jy insamel, want daarin le dalk groter antwoorde as in die antwoorde op die vrae wat jy vra!

 

Tuesday, March 4, 2014

Skep, dit reen!

Vanoggend het ek ‘n gesprek met iemand wat werklik weer my oe oopgemaak het vir hoe ondankbaar ons baie keer is oor wat ons het.   Sy is 19, beide haar ouers is dood, sy is wit, geen heenkome, geen mense om haar wat haar kan ondersteun nie.  Sy glimlag, sy probeer en al is haar lewe nie perfek nie, maak sy die beste daarvan.

Ons lees graag die biografiee van bekende en suksesvolle mense en kyk op na hulle prestasies.  Dit is wonderlik want dit trek ons en motiveer ons.  Gisteraand met die Oscars, nie die hofsaak nie, het Matthew Mcconaughey die Oscar gewen vir beste akteur.  Sy toespraak was een van die bestes wat ek nog ooit gehoor het.  Hy vertel dat toe hy jonk was, iemand vir hom gevra het wie sy rolmodel is, en hy het geantwoord:  “Me in 10 years”.  Toe hy 25 is vra dieselfde persoon vir hom of hy toe bereik het wat hy wou, en hy antwoord dat hy nog nie bereik het wat hy wou nie, maar hy kyk op na homself oor 10 jaar.  Ons kyk na mense, ja, maar eintlik is ons doelwit elke dag om te groei na die mens toe wat ons weet ons potensiaal het om te bereik.

Soms, sonder om werklik neer te kyk op mense, is dit soms belangrik om ook af te kyk na ander mense en hulle omstandighede, en sodoende besef ons hoe ver ons gekom het, wat ons alles het om voor dankbaar te wees.  Gisteraand is daardie meisie gered deur mense wat vir haar ‘n warm en droee slaapplek gegee het.  Wat sou jy ingesteldheid teenoor die lewe gewees het as jy in haar skoene was? 

Mcconaughey se toespraak was werklik inspirerend, maar in dieselfde asem het hy natuurlik ook dankbaarheid uitgespreek teenoor sy ma wat hom en sy boeties sekere waarhede geleer het, waarvan die belangrikste is om hulleself te respekteer en te besef watter tipe mense hulle is.  Alleen dan, kan jy ander mense respekteer.  Hy was so dankbaar vir wie en wat hy is, en het almal om hom die krediet daarvoor gegee. 

As jy vandag so bietjie stil sit en dink, en hoewel ons se dat ons nie onsself ooit met ander moet vergelyk nie, kyk om jou heen.  Kyk na die ou swartman wat papnat in die reen by die motorhawe soek na ‘n ietsie om te eet.  Dink aan al die mense wat nie eers ‘n broodjie het om te eet nie.  Kindertjies wat kilometers in die reen kaalvoet loop skooltoe.  Skielik dan is jou pa se ou kar wat met cable ties aanmekaar gehou word vir jou soos ‘n Bugatti.  Dink aan die mense wat in ‘n sinkhuisie bly en 3 uur moet opstaan en hulleself regmaak om vir R2000 per maand jou huis te kom skoonmaak.  Dan is jou geleenthede en jou voorregte vir werk bietjie anders, of hoe?  Dan kyk ‘n ou ook bietjie anders na die feit dat jy op die snelweg in die verkeer vassit.  Dink bietjie aan die kinders en ouers wat nie met mekaar oor selfone kan praat of net hulle pappa se stem kan hoor nie, en dan is jy dankbaar vir die foon wat jy het, en maak dit nie meer saak dat jy nie die nuutste foon op die mark het nie.

Miskien is “af” kyk nie heeltemal die beste beeld nie, maar dalk net rondkyk en besef hoeveel jy het. 

Dit is alombekend dat daar omstandighede rondom jou is wat jy nie kan verander nie.  Die reen wat die afgelope paar dae val, het jy absoluut geen beheer oor nie.  So, toegegee daar is dinge wat nie in jou beheer is nie, soos ook die huis waarin jy grootgeword het en geleenthede wat jy het.  Shamepies, as elke mens in die wereld sy omstandighede gebruik as ‘n verskoning, waar sou die wereld gewees het. 

Viktor Frankl se:  “When we are no longer able to change a situation, we are CHALLENGED to change ourselves”.  Dit beteken eerstens om jou ingesteldheid te verander, as dit reen, moenie daaroor huil nie, vat ‘n sambreel, trek jou ou tekkies aan en gaan plas in die water.  Frankl se in effek, moenie bekommer oor dinge wat jy nie kan verander nie, neem beheer waarvan jy kan.  Daardie meisie het gisteraand in die reen haar foon opgetel en iemand ge-sms wat haar gered het.  Sy kon, soos baie van ons rustig in die reen gestaan en huil het en alles en almal blammeer het vir wat met haar gebeur het, en dan longontsteking gekry het.  Ons maak onsself siek as ons in die reen bly staan, want blaam en bejammering het niemand nog ooit erens in die lewe gebring nie.  Frankl het hierdie uitspraak gemaak, nie toe hy knus in ‘n warm herehuis gewoon het nie, maar in Auschwitz, ‘n duitse konsentrasiekamp. 

Geluk is nie om in beheer te wees van omstandighede en waarborge te he dat jy lewe altyd sonskyn-gevul gaan wees nie, maar jy het beheer om in jouself jou son te laat skyn, al reen dit so hard dat jy nie jou hand voor jou gesig kan sien nie.
Skep, dit reen seeninge in jou lewe!