Thursday, March 27, 2014

Ag-Shamepies

Ek dink as julle my skrywes volg, julle redelik sal agterkom dat ek ook maar sukkel met ‘n klomp dinge in my lewe.  Prakties is daar baie uitdagings, maar emosioneel ook, en dan is ek iemand wat nogal baie vrae vra oor die lewe.  Ek lees baie boeke en artikels oor self ontwikkeling of aktualisering.  Wanneer dit kom by godsdiens sal ek myself klassifiseer as iemand wat nogal sterk in God glo, maar sekere vrae vra oor die manier hoe ons as mense daardie geloof uitleef.  In daardie sin sukkel ek nogal met georganiseerde godsdiens soos wat ons dit in die algemeen in kerke vind, veral rondom die feit dat ek glo dat godsdiens ‘n individuele ervaring is.  Ek het gekwalifiseer as ‘n dominee in die NG Kerk en self gepraktiseer as ‘n dominee in ‘n baie dinamiese gemeente in Pretoria.

Ek het ook pastoraat toegepas as dominee, alhoewel ek moet erken dat ek 24 jaar oud was, en dalk nie al die ondervinding gehad het om dit korrek te doen nie.  Ek het sielkundige agtergrond vanuit my studies en daarom het ek probeer om mense die antwoorde te bied wat hulle gesoek het.  Ek dink, uit my huislike agtergrond, en as persoon, was ek nooit ‘n A-tipe persoon nie.  Ek is steeds iemand wat altyd in alle omstandighede wat mense in verkeer, vrede probeer maak.  Dalk is my ingesteldheid altyd dat ons oor-emosioneel reageer op situasies.  Verseker verstaan ek oor-emosionaliteit baie goed, want ek is en kan soms ook ‘n drama-queen wees wat heftig reageer.

Soos ek hierdie storie vir julle vertel, besef ‘n mens dat elkeen van ons ook maar ons eie stories het.  Ons weet elkeen waar ons vandaan kom, en het ook ‘n opsomming van wie ons is of wat ons persepsie van onsself is.  Ek gebruik die woord “shamepies” met ongelooflike respek teenoor mense om my, want ons leer mos dat ‘n sagte woord die grimmigheid afkeer.  Ek gebruik hierdie woord omdat ek dink dat ons onsself vreeslik jammer kry in situasies, veral as ons in ‘n hoek gedryf word waaroor ons soms nie beheer het nie.  Ons leer in sielkunde dat mense hulle stories moet vertel, en dat mense hulle eie pad moet vind in hulle storie sodat hulle dit kan herrangskik om vir hulle hoop vir die toekoms te gee.

Maar hoe doen ‘n mens dit?  Hoe maak ‘n mens met jou baggasie en jou jannie jammer houding? 

Ons leef in ‘n wereld waar dit klink asof daar slegs een persoonlikheidstipe is wat “aanvaarbaar” is.  Dit is asof die wereld en selfhelpboeke ons leer om A-tipe persone te wees om erens in die lewe te kan kom.  Daardie ampere idee van “go big or go home” scenario, waar daar net plek vir die kampioene van industrie is.  Daardie ouens wat ons van in boeke lees om net dinge te doen.  Daardie tipe van mense wat in besigheid na opgekyk word, die sporthelde, en ook mense soos Oscar Pistorius wat te midde van alles lyk asof hulle al die negatiewe wat na hulle kom oorkom.  Dit word aan ons geleer dat om ons probleme te oorkom, ons onsself met ‘n wonderwerk moet regruk en aan ons eie skoenveters moet optel.  Soos ‘n ou dominee in my lewe een keer vir iemand met depressie gese het:  “Ruk jouself reg, kom nou, hou op en kom reg”.  Dis presies wat ons dink en hoe ons wil en moet doen.

Oor die laaste paar weke het ek die voorreg gehad om na 2 oulike preke te luister.  Die eerste gaan oor Jesus en Sy manier van hoe hy met mense en godsdiens omgegaan het om ons ‘n nuwe manier te leer.  Die Fariseers en Skrifgeleerdes was so vasgevang in hulle “regte” manier van doen.  Die Jode om Hom het verwag die Messias moet een van daardie A-tipe persone wees wat maak en breek en soos ‘n wafferse generaal opstaan en links en regs oorwinning vir sy mense te bring.  Helaas, Jesus was totaal anders, “soft spoken” en liefdevol.  Hy het nie veroordeel nie, inteendeel met ‘n sagte woord mense gewys hoe om op ‘n nuwe manier te kan leef.  Hy het met sagtheid en met deernis meer uitgerig as al die generaals in die geskiedenis van die wereld.  Wat jou denke ookal oor Christenskap is, maak nie saak nie, maar een ding wat jy nie oor kan stry nie is WAT Jesus ons kom leer het oor die lewe, oor God en oor liefde.  Veral in hierdie oogpunt, leer ons dalk meer uit aanvaarding en liefde as uit drama, baklei en oorlog.  So, in jou lewe, dalk is jou uitdaging nie so kwaai om op te staan en hierdie wonderlike tipe-a persoonlikheid oplossing vir jou lewe te soek nie, want dit is dalk hoekom jy jouself met ag shamepies vul, want jou manier om jou probleem op te los werk nie.

In die ander preek oor die donkerkant van Abel Pienaar, maak hy die standpunt dat elkeen ‘n ligte en donker kant het.  Ons dink ons oplossing is om ons donker kant af te wys en net in die lig te leef.  Hy maak ‘n interresante punt dat jy ‘n volledige mens is, lig en donker, en dat jy nie van jou skaduwee kan weghardloop nie.  Jy is wie jy is, en hoe vinniger jy aanvaar wie en wat jy is, hoe vinniger gaan jy kan leef.  Voel jy daardie gevoel in jou wat nou vir jouself se:  “Wat?”.  Ons is mos grootgemaak om dit wat nie lig is nie te beveg en onder die mat in te vee.  Ons is mos geleer dat om gelukkig te wees gaan oor om jou donker te oorwin en lig te kan leef.  Regtig?  Hoe werk dit vir jou uit op die stadium in jou lewe?  Nou hoor ek weer dat jy dink dat dit nou maar weer een of ander “liewe heksie” verskoning van die nuwe spiritualiteit is om soos in ‘n “hippie-bestaan” te leef. 

Dalk is dit hoekom ons onsself so jammer kry, want ons wereld gaan oor “sukses”.  Ons dink mos nie dat sagte en emosionele mense “suksesvol” is nie, want hulle leef in ‘n droomwereld.  Mense wat so leef en dink is mos eintlik onrealisties, want jy weet nie in watter lewe jy leef nie.  Jy dink dat om te maak en breek die manier is om te leef.  Soms wonder ek dan, as ek om my kyk, hierdie tipe “champions of industry” en hulle huwelike, hulle kinders en hulle verhoudings, hoe lyk dit?  Die Oscar Pistorius saak het dit weer vir my gewys, waar ons besef dat almal sukkel met dieselfde dinge in hulle lewens, vrees, hartseer, spanning, krisis en liefde.  Dalk kyk ons op na hulle oor wat hulle “oorwin” het, maar soms word dit waarvoor jy bekendheid verwerf het, net weer ‘n nuwe skadukant, ‘n nuwe krisis en nuwe probleme.  Mense wil beken word, sodat hulle herken kan word en iets maak van hulle lewens, net om weer soos kluisenaars en met brille en maskers weg te kruip vir die fotograwe. 

Wat dit ons leer is dat niks ooit net lig is nie.  Dit leer ons dat as ek een “gestremdheid” oorwin, dit niks wegneem van my gestremdheid nie.  Ek kry myself jammer, maar daar sal altyd ietsie wees vir my om oor ag-shamepies te kan pleeg.  Soms soek ons onmiddelike oplossing vir my ag-shamepies, wat soms skep ek net meer en meer monsters wat beveg moet word.  Dis amper soos in die Hobbit, na elke uitdaging is daar net nog ‘n draak, nog ‘n vyand, nog ‘n donkerte om deur te kom. 

Die probleem van die lewe is nie dat ek in ‘n droomwereld leef nie, die grootste onrealisme is mense wat dink dat daar een oplossing is, raak ontslae van dit wat jou pla en kap dit af, net om weer te besef dit bring nuwe ag-shamepies.  Jammer om jou teleur te stel, maar soeke net na lig is nie die antwoord nie.  Ek sien so baie mense wat dink dat as hulle net dit of dat kan verander, hulle gelukkig gaan wees.  As ek net van my vrou wat kla en kerm kan ontslae raak, gaan ek gelukkig wees.  My man se die en daai, as ek nou net geskei is, dan gaan my lewe werk.  As ek nou net ‘n ander werk kan kry, dan gaan alles beter wees, of daardie motor ry en ontslae raak van my ou krok, dan gaan ek die lewe kan geniet.  Ek vat niks weg van die feit dat mense in moeilike omstandighede leef en dat daar soms drastiese stappe geneem moet word nie, verseker.

In sielkunde sien ons mense wat van een verhouding na die volgende spring, net om ongelukkig te wees in elkeen van daardie verhoudings en dan uitsprake maak soos:  “Geen verhouding werk nie, mans is so en so, of vrouens is dit en dat”.  Een ding wat ons vergeet is dat daar deur jou lewe en al jou verhoudings een gemene deler is, JY.  Wanneer ons nuwe verhoudings begin, is dit mos altyd maanskyn en rose, maar deur tyd begin ons besef en verstaan van mense se donkerkante.  Dit word soms so erg dat ons selfs oor die manier hoe iemand hulle tjoppies eet ge-irriteerd raak.  Dit is mos so, hoe meer jy op iets fokus, hoe erger en hoe meer word dit.  Soos jy met ander doen, doen jy tog ook met jouself in die ergste vlak.  Gister besef ek toe net weer dat mense so maklik in hulle ag-shamepies dink dat hulle so beinvloed word deur dit wat buite hulle gebeur en dat hulle voel ander se skadukante hulle skadukante erger maak. 

Die uitdaging kom nooit van buite nie, maar van binne.  Ek het soveel keer daaroor geskryf dat verandering van binne kom.  Twee mense leef in dieselfde situasie, maar een is gelukkig daarmee, ander een nie.  So, is die situasie die invloed, of is die twee mense se uitkyk daarop die antwoord.  Ok, so, jou idee oor dinge beinvloed of jy ag-shamepies voel of nie.  ‘n Verdere ding wat ons ag-shamepies beinvloed is tyd.  Kan jy onthou hoe jy gevoel het op skool in matriek die dag voor jou wiskunde eindvraestel.  So, jou ag-shamepies gevoelens is soms in die oomblik vir jou erg, maar met tyd word die gevoel anders.  Beteken dit dan eintlik dat dit nie werklik eg is nie?  Beslis nie, dit is dalk met ervaring en loop van tyd wat ons besef dat dit nooit so ernstig was as wat ons gedink het nie.

Ek is nou al in my lewe deur ‘n hele paar traumatiese ervarings, een werklike egskeiding en een semi-egskeiding waar ek van my kinders eintlik geskei is in omstandighede van verblyf.  In daardie oomblikke, daardie alleen afloop in die gang sonder daardie kinderstemmetjies, voel dit asof jou hart uit jou bors geruk is.  Kan ek eerlik wees, daardie twee kere wat ek moes groet het hoofletter ag-shamepies vir my gewees.  Jy kry jouself so jammer, en jy verwyt jouself vir wat gebeur het.  Baie van ons het sulke oomblikke, waarin en waaroor jy voel jy geen beheer het nie.  Hartverskeurende tye van verwerp, van pyn en van hopeloosheid.  Een ding het ek geleer oor tyd en my ag-shamepies, en dit is dat jy ‘n paar dinge kan doen.  Een is, met tyd voel dit beter, maar soos een van my kollegas wat se seun selfmoord gepleeg het my geleer het, soms is daar dinge wat jy vrede mee moet maak dat jy dit nooit kan verander nie, maar net leer om daarmee saam te leef.  Dus, die ag-shamepies is, soos jou skaduwee deel van jou lewe, vat dit, erken dit, en met tyd leer jy om daarmee saam te leef. 

Ongelukkig kan jy nie agter jou ag-shamepies wegkruip nie, want alhoewel ander vir jou mag omgee en raad gee, is jy die een wat met daardie gevoelens leef.  In dieselfde asem het ek geleer dat niemand werklik ooit vir jou ag-shamepies omgee nie.  Die wereld daar buite verwag van jou om die harde a-tipe generaal te wees wat elke dag net veg en oorlog maak teen die skadukant.  Maar net omdat die wereld so is, beteken nie die wereld is reg nie.  Wat die wereld en mense om ons van ons verwag van hoe om met pyn om te gaan is, om eerlik te wees, miskien die oorsaak hoekom die wereld in die toestand is wat hy is.  Die sterkste met die mag van persoonlikheid, geld en kennis word op trone geplaas, net om weer die wat nie so sterk is nie te vertrap en te verwoes.  Die grootste vraag wat ek altyd vra oor die “normatiese” manier van doen in die wereld en in mense is:  “Kom ons kyk na die uitkoms daarvan, en kom ons toets dit rondom geluk”.  Sonder twyfel, eintlik kan ons niks van die norm in die wereld neem nie, want snaaks genoeg, dis resepte wat nie werk nie.  Net omdat jy in die koelte staan, beteken nie dat jou skaduwee weg is nie, dit is net nie sigbaar nie. 

So, jou ag-shamepies, wat dit ookal is gaan altyd deel van jou lewe wees, dit gaan nie weggaan nie, dit maak jou wie jy is.  Jammer om jou te se, maar dit sal nooit weggaan nie, bo-op of onder die mat, dit is deel van wie jy is.  Hoe vinniger jy jou “lot” gaan aanvaar, hoe vinniger gaan jy leer om daarmee saam te leef.  Jammer om te se, maar niemand kan dit van jou af wegneem nie, die beker gaan nie by jou verbygaan nie, al pas jy watter teorie ookal toe, die wereld en mense om jou sal jou kruisig daaroor.  Jy sal nooit werklik “genoeg” wees nie, jy sal nooit “verstaan” word nie, so moenie daarna soek nie.  Wees wie jy is, met jou ag=shamepies en jou sertifikate teen die muur.  Soms moet jy aanvaar, soms moet jy ontspan, soms moet jy die leisels van die lewe laat gaan en die perd alleen laat hardloop huistoe.  As jy ‘n perd se leisels die hele tyd styf hou, gaan die perd nerens heen gaan nie.  Jy kan die perd so probeer “inbreek”, maar op die ou einde gaan die seer oopbreek en uitbloei van pyn, rebellie en hartseer.  Jy kan nooit die lewe beheer soos jy wil nie.

In gholf is daar ‘n goeie voorbeeld van die voormalige nommer 1 gholfer, David Duval.  Tegnies het hy probeer om al meer en meer beheer oor sy swaai en spel te wees, soveel so dat hy op die ou einde sy posisie as nommer een verloor het.  Sy spel het so agteruit gegaan dat hy op die ou einde gladnie meer op die toer kon speel nie.  Eintlik het sy “quest for zero defect” en sy obsessie oor beheer van die spel, eintlik nog ‘n groter ag=shamepies in sy lewe veroorsaak. 

Miskien is vandag die dag wat jy jouself laat gaan, en besef dat jy volledig jy is, met jou ag-shamepies.  Dalk moet jy ophou probeer om die beste te wees, en begin om jy te wees.  Miskien moet jy ophou om perfek te probeer wees of dit te verwag van mense om jou, maar in besonder jouself.  Laat gaan, want dalk is dit dan wanneer jy die wind in jou hare gaan voel en die genot van die lewe ervaar, te midde van die feit dat daar ag-shamepies was, is of gaan wees.

 

 

 

No comments:

Post a Comment