Friday, April 4, 2014

Is God nog 'n God van wonderwerke?

 

Ek sal myself klassifiseer as ‘n Christen, seker maar op my eie manier en met my eie dinge in my kop van hoe ek dink dit werk.  Ek probeer deur my lewe al om na te volg wat ek in die bree lyne van die Bybel lees, soos om die regte dinge te doen.  Vir lank het ek wel met myself gestoei oor my eie tekortkominge en foute wat ek maak, maar in die Bybel leer ons tog dat ons nie volmaak is nie, maar steeds oordeel ons oor onsself, veral wanneer dinge begin verkeerd loop. 

In die verkeerd loop van die lewe, begin ‘n mens soms vra oor wat die punt daarvan is?  Wat help dit dat ek so hard probeer om reg te leef?  Jy kyk saam met ouens soos Dawid na mense om jou, en jy begin besef dat daar dalk ander maniere is van leef, want om perfek te wees is nie noodwendig die antwoord nie.  Dawid se op baie plekke dat hy nie kan verstaan dat dit met mense wat NIE in God glo nie, goed gaan, mense wat doen net wat hulle wil, en dit lyk asof daar geen konsekwensies vir hulle dade is nie.  Dit lyk eintlik asof die konsekwensies van hulle “verkeerd” doen, positiewe dinge is.  Dit kan natuurlik maklik ‘n mens se geloof toets en jouself laat vra wat die punt is daarvan.

Op die ander punt van die skaal, begin jy glo dat daar ‘n manier is en moet weet om jou omstandighede te verander.  Daar was altyd nuwe en ander maniere hoe mense hierdie wereld en hulle aksies gedryf het.  Denke wat ons in vandag se tyd die nuwe spiritualiteit of die New Age beweging kan noem.  Soms vind ek dat mense gryp na hierdie nuwe maniere van leef, veral wanneer hulle begin dink dat God dalk nie so betrokke in hulle lewens is nie, dat daar nie meer wonderwerke is nie, maar alles net vibrasie en ingesteldheid is.  Ons leer onsself dat ek myself van voor af kan programmeer om beter te funksioneer in my lewe.  Ek word die argitek van my eie bestaan en my eie lewe.  Ek kan heeltemal verstaan dat mens so begin dink, want dit voel soms asof God nie betrokke is nie.  Mense gee nuwe name aan hierdie iets wat groter is as ons, naamlik die “universe”, om in ‘n mate weg te beweeg van ‘n God wat ons soms voel nie in ons lewens meer betrokke is nie.

Deur die eeue het mense gesukkel met ‘n konsep in die teologie van presies dit, die Theodisie probleem.  In kort gaan dit oor hoekom God slegte dinge toelaat om te gebeur met mense wat Hom aanbid.  Hoekom word ons siek?  Hoekom sukkel ons?  Hoekom voel ons soms heel alleen en dat God ons verlaat het?  Soms vra ons nie meer die vrae nie, en al wat ons doen is om maar net stelselmatig meer en meer weg van God te beweeg.  Gister en vandag het ek so hard vir myself die vraag gevra, want ek probeer my bes, maar dinge werk nie uit nie.  So in my denke rondom, en my soeke na God en Sy hand van ingrype in my lewe, begin ek toe onwillekeurig bang word, want ons is mos nie veronderstel om hierdie God te bevraagteken nie.  Hierdie vrees lei ook daarheen dat ek onwillekeurig skielik doen wat ons almal doen, ons begin weer kyk na ons eie lewens en die manier hoe ek dinge doen.  Ek vra weer vrae oor my sondigheid, ingesteldheid, vibrasie en programmering.  Ek begin weer na binne kyk om die antwoorde in myself te soek, om sodoende God se plan en wil te soek in my lewe.  Dit is natuurlik om so op te tree, want ons is mos altyd op soek daarna om God se guns te probeer wen.  Ons vra die vraag na die sin van die geloof, as dit nou nie werklik vir my iets kan beteken in my alledaagse lewe nie.

Ek dink terug aan my kinderdae en wat ek geleer is dat geloof nie is soos die kersvader verhaal waar ek mooi persente kry wanneer ek ‘n soet kind was nie.  Ek verstaan die verantwoordelikhede in my lewe en dat ek nie net met mense omgaan soos ek wil nie, maar God se liefde moet leef.  Ek weet egter ek kan niks ooit doen om God se guns te wen nie, want sondig sal ek wees.  Ek wil nie hier praat oor die skadukante van ons menswees nie, want ons het dit almal en kan dit nie afskud nie. 

Die vraag hier is egter:  “Waar is die God van wonderwerke?”  Want as alles net ek is, die goed en die sleg, waar is plek vir God?  As ek nie kan verdien nie, nie die goed of die sleg nie, hoekom kry ek die sleg?  Is ek werklik so sleg dat ek nie die mooi in die lewe kan kry nie?  As dit nie verdienste is nie, hoekom sal God my straf?  Dit is tog duidelik dat daar in die Bybel hierdie wisselwerking is in wie en wat God getipeer word.  Orals lees ons van reels en regulasies van wat ons moet doen om ‘n lang lewe te kry as geskenk.  Op soveel plekke lees ons van waar God vir mense gee net wat hulle vra, en in sommige gevalle nog meer as wat hulle verdien.  So, verdienste is deel van die godsdiens wat ons leef, die onnatuurlike manier van waar jy nuut gebore word en doen wat God van jou verwag.

Maar die Bybel is tog vol van magiese wonderwerke, waar God vir mense gee, sonder dat hulle in Hom glo, sonder dat hulle doen wat God vra.  Selfs vir mense wat nie God se wil doen nie, word uit hulle skoene geseen.  Ek verstaan dat dit van buite af so lyk en dat dit soms net ‘n front is wat mense voor hou, maar as jy sukkel en dit gaan sleg met jou menswees, begin ‘n mens soms wonder.  Daar was soveel geleenthede in my lewe waar ek die wonderwerke afgebid het, en God my verhoor het, maar die vraag bly hoekom God dit nie altyd doen nie. 

Ek verstaan dat Jesus ook van God gebid het om die beker by Hom te laat verbygaan, maar God dit nie verhoor het nie, want daar is ‘n groter doel daaraan verbind gewees.  In dieselfde opsig is ons godsdienstige denke ook so geprogrammeer om te glo dat ons lewens elke dag in God se hand is, en dat God ons lei na die doel wat Hy vir ons gestel het.  Dit moet ons soms ook rustig maak in die wete dat God alles ten goede sal laat meewerk, en dat ons net moet vertrou.

Aan die ander kant is ons ook deur ons godsdienstige opvoeding geleer om na die lewe as ‘n halfvol glas te kyk.  Dankbaar te wees vir wie en wat jy is, eerder as om ondankbaar te wees vir wat jy nie het nie.  Blykbaar moet hierdie dankbaarheid ons so vul dat ons niks anders in die lewe van God of die lewe verwag nie.  Wees content met jou omstandighede en maak vrede.  Maar ons word tog ook geleer dat die lewe sin het, nie net in dankbaarheid nie, maar dat ons ook iets astronomies met ons lewens kan doen.  Ons het talente en moet dit uitleef, ons moet groei en daarmee saam ook die lewe geniet.  Ons kan tog ‘n wereld skep en in tot alles instaat deur Christus wat ons krag gee.  Op facebook sien jy baie van hierdie prentjies wat ons lewens en hoe dankbaar ons moet wees deur die mooi boodskappies te share. 

In soveel dinge wat ek lees en hoor, besef ek net soveel meer dat mense soek na iets.  Mense glo nie meer in wonderwerke nie, want ons het geleer om ons lewens so te kan beheer, sodat ons in beheer voel.  Ek sukkel, want dit voel vir my asof ek nie werklik beheer het nie.  Ek kry soveel raad en soveel insette van mense wat ek sien geleer het om hulle lewens te beheer en iets gemaak het van hulle omstandighede.  Dit is vir my wonderlik, en soms is ‘n mens jaloers oor wat gebeur met hulle, maar bly aan die ander kant.  Soos ek met hulle praat oor hulle suksesse, besef ek een ding, daar is iets in hulle lewens wat hulle lewens anders maak, maar soos ‘n goue draad deur almal van hulle loop.

Dit is nie dat hulle nooit swaargekry het, of nie steeds doen nie, maar daar het op een oomblik in hulle lewens ‘n besluit gekom, ‘n katalis wat hulle ‘n pad gekies, ‘n manier van dink verander het wat hulle lewens verander het.  Die besluit klink verskillend, maar dit kom van ‘n “gatvol” situasie waar hulle vir hulleself se:  “Tot hiertoe en nie meer verder nie”.  Op een of ander manier het hulle die onmoontlike vermag om hulleself aan hulle skoenveters op te tel en met passie te begin leef.  Daardie “moegword” vir die manier hoe hulle lewens loop, en ophou om hulleself jammer te kry.

Om te weet wat die omvang van God se hand in daardie oomblik van omdraai is, sal ons seker nooit weet nie, maar vir my is dit soms moeilik om te verstaan hoe God se hand werk.  Ek hou nie op om te leef in die geloof van wonderwerke nie, alhoewel ek soms wonder oor waar daardie hand in my lewe is. 

Ek glo in wonderwerke, en ek glo in ‘n God wat nooit vir sy kinders die slegte toewens nie, en ek vra wat die lesse is wat ek moet leer in hierdie tyd in my lewe.  Ek dink aan die woorde van Romeine 12:2:  “Moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.  Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”.  En dit is dalk eerder my gebed, dat ek moet ophou wonder en dalk weereens eerder my lewe aan God elke dag bly gee en God toelaat om die manier hoe ek dink en hoe ek wonder anders te maak.  Ek sal ook nie skuldig voel teenoor wat ek soms oor God beredeneer nie, want dit is ook God se manier om my denke te vernuwe en so bietjie ‘n kykie in God se hart te kry. 

En weereens, soos in baie Psalms, begin ek met ‘n klaaglied, maar eindig met ‘n geloofsbelydenis dat ek steeds sal glo in ‘n God van wonderwerke, ‘n God wat in beheer is en saam met wie ek ‘n lewe kan bou, in Hom en deur Hom. 

 

 

No comments:

Post a Comment