Tuesday, March 4, 2014

Skep, dit reen!

Vanoggend het ek ‘n gesprek met iemand wat werklik weer my oe oopgemaak het vir hoe ondankbaar ons baie keer is oor wat ons het.   Sy is 19, beide haar ouers is dood, sy is wit, geen heenkome, geen mense om haar wat haar kan ondersteun nie.  Sy glimlag, sy probeer en al is haar lewe nie perfek nie, maak sy die beste daarvan.

Ons lees graag die biografiee van bekende en suksesvolle mense en kyk op na hulle prestasies.  Dit is wonderlik want dit trek ons en motiveer ons.  Gisteraand met die Oscars, nie die hofsaak nie, het Matthew Mcconaughey die Oscar gewen vir beste akteur.  Sy toespraak was een van die bestes wat ek nog ooit gehoor het.  Hy vertel dat toe hy jonk was, iemand vir hom gevra het wie sy rolmodel is, en hy het geantwoord:  “Me in 10 years”.  Toe hy 25 is vra dieselfde persoon vir hom of hy toe bereik het wat hy wou, en hy antwoord dat hy nog nie bereik het wat hy wou nie, maar hy kyk op na homself oor 10 jaar.  Ons kyk na mense, ja, maar eintlik is ons doelwit elke dag om te groei na die mens toe wat ons weet ons potensiaal het om te bereik.

Soms, sonder om werklik neer te kyk op mense, is dit soms belangrik om ook af te kyk na ander mense en hulle omstandighede, en sodoende besef ons hoe ver ons gekom het, wat ons alles het om voor dankbaar te wees.  Gisteraand is daardie meisie gered deur mense wat vir haar ‘n warm en droee slaapplek gegee het.  Wat sou jy ingesteldheid teenoor die lewe gewees het as jy in haar skoene was? 

Mcconaughey se toespraak was werklik inspirerend, maar in dieselfde asem het hy natuurlik ook dankbaarheid uitgespreek teenoor sy ma wat hom en sy boeties sekere waarhede geleer het, waarvan die belangrikste is om hulleself te respekteer en te besef watter tipe mense hulle is.  Alleen dan, kan jy ander mense respekteer.  Hy was so dankbaar vir wie en wat hy is, en het almal om hom die krediet daarvoor gegee. 

As jy vandag so bietjie stil sit en dink, en hoewel ons se dat ons nie onsself ooit met ander moet vergelyk nie, kyk om jou heen.  Kyk na die ou swartman wat papnat in die reen by die motorhawe soek na ‘n ietsie om te eet.  Dink aan al die mense wat nie eers ‘n broodjie het om te eet nie.  Kindertjies wat kilometers in die reen kaalvoet loop skooltoe.  Skielik dan is jou pa se ou kar wat met cable ties aanmekaar gehou word vir jou soos ‘n Bugatti.  Dink aan die mense wat in ‘n sinkhuisie bly en 3 uur moet opstaan en hulleself regmaak om vir R2000 per maand jou huis te kom skoonmaak.  Dan is jou geleenthede en jou voorregte vir werk bietjie anders, of hoe?  Dan kyk ‘n ou ook bietjie anders na die feit dat jy op die snelweg in die verkeer vassit.  Dink bietjie aan die kinders en ouers wat nie met mekaar oor selfone kan praat of net hulle pappa se stem kan hoor nie, en dan is jy dankbaar vir die foon wat jy het, en maak dit nie meer saak dat jy nie die nuutste foon op die mark het nie.

Miskien is “af” kyk nie heeltemal die beste beeld nie, maar dalk net rondkyk en besef hoeveel jy het. 

Dit is alombekend dat daar omstandighede rondom jou is wat jy nie kan verander nie.  Die reen wat die afgelope paar dae val, het jy absoluut geen beheer oor nie.  So, toegegee daar is dinge wat nie in jou beheer is nie, soos ook die huis waarin jy grootgeword het en geleenthede wat jy het.  Shamepies, as elke mens in die wereld sy omstandighede gebruik as ‘n verskoning, waar sou die wereld gewees het. 

Viktor Frankl se:  “When we are no longer able to change a situation, we are CHALLENGED to change ourselves”.  Dit beteken eerstens om jou ingesteldheid te verander, as dit reen, moenie daaroor huil nie, vat ‘n sambreel, trek jou ou tekkies aan en gaan plas in die water.  Frankl se in effek, moenie bekommer oor dinge wat jy nie kan verander nie, neem beheer waarvan jy kan.  Daardie meisie het gisteraand in die reen haar foon opgetel en iemand ge-sms wat haar gered het.  Sy kon, soos baie van ons rustig in die reen gestaan en huil het en alles en almal blammeer het vir wat met haar gebeur het, en dan longontsteking gekry het.  Ons maak onsself siek as ons in die reen bly staan, want blaam en bejammering het niemand nog ooit erens in die lewe gebring nie.  Frankl het hierdie uitspraak gemaak, nie toe hy knus in ‘n warm herehuis gewoon het nie, maar in Auschwitz, ‘n duitse konsentrasiekamp. 

Geluk is nie om in beheer te wees van omstandighede en waarborge te he dat jy lewe altyd sonskyn-gevul gaan wees nie, maar jy het beheer om in jouself jou son te laat skyn, al reen dit so hard dat jy nie jou hand voor jou gesig kan sien nie.
Skep, dit reen seeninge in jou lewe!

No comments:

Post a Comment