Wednesday, March 12, 2014

Statistieke

Ek is nogal ‘n groot waaier (fan) van statistiek en hoe mense dit soms gebruik of misbruik om hulle punt te bewys.  Op skool het ek aan ‘n redenaars deelgeneem, en een van my standpunte teen my opponent was, wanneer hulle statistiek gebruik, om te se dat hospitale die gevaarlikste plek op aarde is, want meeste mense sterf in hospitale. 

Maar, statistieke kan nogal baie vir ons vertel, al is dit nie ‘n eksakte wetenskap om dinge te bewys nie, is dit soms ‘n aanduiding en rigtingwysers vir verdere ondersoek.  Ek dink dit is wonderlik om jou eie statistieke te “trek” op jou eie lewe en sodoende ‘n prentjie te teken van hoe jou lewe en keuses loop.  Aan die een kant is dit belangrik, want dit kan wys op die tipe tendense wat jy oor en oor in jou lewe toepas.  Dit maak interresante leeswerk aan die een kant, maar aan die ander kant kan jy ook maklik uit jou statistieke negatiewe inligting trek.  Jy kan soms uit jou statistieke trek dat jy nie goed genoeg is nie, of ‘n mislukkiing is.  Partykeer kan jou statistieke vir jou ook ‘n valse en skewe beeld van jouself gee, soos in die voorbeeld van hospitale. 

Ek wil soms lag vir my kinders wat, veral wanneer hulle in toetse sleg gedoen het, altyd die klasgemiddeld aanhaal as ‘n verwysingspunt.  My ma is nogal streng met my gewees, in soverre sy, wanneer ek klasgemiddeld aangehaal het, altyd gese het dat ek my nie teen ander mense moet meet nie, maar eerder teen my eie potensiaal.  Ek het geleer, en ek is dankbaar daaroor, dat ek dinge in die lewe altyd in konteks moet sien.  Soos met statistiek, hang die ondersoeker se uitslae altyd af van wat hulle wil bewys en wat hulle na soek.  Dit is amper soos die uitdrukking dat as jy ‘n stok soek om ‘n hond mee te slaan, is daar altyd een byderhand.  Hoe jy ookal probeer, geen statistiek is ooit sonder konteks nie, selfs die sensus fokus op sekere informasie wat jy insamel.

Selfs wanneer ek krieket kyk, het hulle al daardie oulike statistiese informasie oor ranglyste om mense aan te meet.  Jacques Kallis is ‘n goeie voorbeeld, sy statistieke is ongelooflik, maar statistieke bring altyd vrae.  Vrae word gevra of hy beter was as Sir Donald Bradman of hoe vergelyk hy met ander “all rounders”.  Statistiek is net so goed as wat jy wil bewys, en aan die ander kant waaraan jy dit wil meet.

Oor die laaste klompie maande is ek baie gekonfronteer met mense wat in huwelike en verhoudings is waarin hulle ongelukkig is.  Meer nog, ek het gesien dat mense al meer en meer ander mense “judge” om sodoende hulle eie keuses en optredes te verantwoord.  Ons soek altyd bewyse en waarborge vir die manier wat ons optree.  Dit is soms vir my hartseer, want dit voel vir my asof ons “manier” waarop ons die lewe basseer totaal verkeerd is.  Ons voel beter oor onsself wanneer ons bewyse kan kry vir ons optrede.  Ons soek mense, wat in ons oe, beter statisties deel van ons bewyslas is.  Ons voel ook beter oor onsself, aan die ander kant, wanneer ons iemand kry wat ons beter “rank” as ander mense.  Konstant is ons besig met hierdie speletjie om te bepaal wie waar op daardie ranglys is, om sodoende te weet wie beter en wie slegter is.  Dalk is hierdie “oordeel” so deel van ons lewe, maar ook die ondergang van ons eie vermoe om te kan leef.

Bestaan die lewe daaruit?  Is om te leef die heeltyd gekoppel aan meet en pas?  Is ons hele bestaan gemik daarop om geweeg te word om te bepaal of ons goed genoeg is om hier te wees?  Dit is wat vir my so wonderlik is om ‘n konsep in die Nuwe Testament van die Bybel te lees, naamlik Genade.  Genade beteken dat God vir my sekere talente gegee het, saam met die lewe, en dat Hy graag sal wil sien dat ek dit uitleef.  Maar wat God se genade so ongelooflik maak is, dat Hy egter nooit my toets daaroor nie.  God het nie ‘n ranglys van wie Sy blou-oog en uitgesoekte kinders is en dat niemand anders saakmaak nie.  In God se oe kry ons almal goue medaljes, soos jy ook graag vir jou eie kinders wil doen.

Ek sien so baie mense om my wat daagliks dinge op facebook sit van hoe groot hulle in hulle geloof is, maar daagliks oordeel.  Het die Bybel ons nie ook geleer dat jy met dieselfde oordeel geoordeel gaan word as waarmee jy oordeel nie?  En is dit grootste oordeel nie die teenoorgestelde, dat ons so hard op onsself is en onsself oordeel om perfek te wees, en dan die mense om ons oordeel omdat hulle nie ook perfek is nie?  Jesus het in sy leeftyd standpunt ingeneem oor wat reg en verkeerd is, beslis, maar in dieselfde asem mense in sy binnekring ingenooi wat statisties in die samelewing oordeel verdien het.  Jesus het ons laat verstaan dat daar ‘n ander manier van leef behoort te wees. 

Miskien voel ek persoonlik oor al die veroordeling wat ek so baie in my lewe gevoel het, maar besef dat dit dalk ons uitdaging as mensdom is, om ontslae te raak van ons self veroordeling en veroordeling van ander mense ontslae te raak.  Menslike, en daarmee saam ons “ou” menswees soos in die Bybel van sprake, loop alles saam met die hele idee van mense kruisig.  Daar sal altyd ‘n rede wees hoekom jy iemand om jou kan kruisig, en dit is dalk hoekom Jesus se kruisiging so ‘n goeie voorbeeld is.  Die kultiese leiers en ook die Romeinse regering van die tyd het Jesus gesien as ‘n vyand, iemand wat hulle manier van bestaan in die wiele kan ry.  Weereens ‘n ego ding, waar dit gaan oor mag.  Ons wil in beheer van ons eie lewens wees en elke mens wat ons lewensbestaan in die wiele probeer ry, kruisig ons.

Ons kruisig ons kinders, kleinkinders, huweliksmaats, kollegas, ouers, grootouers, presies op die oomblik wat hulle ons “sogenaamde” bestaan probeer inperk.  Ons is soms so basies in ons bestaan, soos ‘n leeu wat in ‘n hoek vasgedruk word, sonder om te verstaan dat ons eintlik nie moet oordeel nie maar moet leer.  Sou almal wat om Jesus se kruis gestaan het eintlik besef het WAT Jesus se en wat hy leer, dink net aan die konsekwensies van so ‘n besluit.  Sou die wereld nie ‘n ander plek gewees het nie?  Ons skeur mekaar elke dag in stukkies met ons kruisbevele, en ons vergeet so maklik ons roeping van liefde.

Ek kan elke dag honderde mense opnoem wat my in my lewe skade aangedoen het, my uitmekaar geskeur het.  Ek kan myself elke dag vreeslik jammer kry vir die onreg wat aan my gedoen word.  En wat gaan dit my help?   Ek was ook in posisies waar ek gedink het ek wil mense verag en hulle laat toesluit in die diepste hartseer wat ek dink hulle verdien, maar wat sal die punt wees?  Al wat oordeel op daardie vlak bring is die verstaan dat dit oor my en my ego gaan, hoe jy dit ookal wil vertolk.  Niks gaan werklik oor jou nie, elke mens doen in die wereld net hulle bes, en in die woorde van Jesus, “vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”. 

Dalk in die statistiek van jou lewe voldoen mense nooit aan jou vereistes nie.  Dalk is die somtotaal van jou uitkoms negatief, of positief, ek hoop.  Een ding is waar, en dit sal altyd so wees, elke stukkie statistiek en som wat jy maak is subjektief.  As jy iets soek om te bewys, sal jy statistiek kan kry om dit te bewys.  Dit is dalk meer hoe die “law of attraction” werk, dat ons skep, maar meer nog KRY wat jy voor soek in die lewe.  As jy soek na mooi in jou lewe, gaan jy dit kry, en as jy glo dat iets of iemand sleg is, gaan jy presies die slegte kan kry in mense. 

Die hele wereld is vasgevang in die Oscar Pistorius hofsaak, en dit is heerlik om te luister hoe die verdediging en die staat fokus op spesifieke details in die getuies se getuienis.  Hulle soek na sekere woorde, of lok die getuies uit om sekere dinge te kan se.  Soms klink dit asof vrae oor en oor gevra word om statisties genoeg informasie op die regte manier saam te kry om ‘n konklusie te kan maak.  Die vraag wat ek jou vandag vra is:  “Wat is die vrae wat jy vra van jouself en die mense om jou?” Onthou nou, jy kan elke dag kies aan watter kant van die oordeel jy wil staan, Nel se kant van die staat om skuld te probeer “bewys” of aan Roux se kant om die onskuld te soek.  Elke oomblik van jou lewe is jy in die posisie om te kan kies “WAT” jy in die lewe beantwoord soek.

Dalk moet jy bietjie vandag die vraag vra oor watter tipe vrae jy vra, van jouself, van die mense om jou en jou wereld.  Dalk moet jy vrae stel aan jouself wat jy wil bewys, jou motief,  met die statistieke wat jy insamel, want daarin le dalk groter antwoorde as in die antwoorde op die vrae wat jy vra!

 

No comments:

Post a Comment