Tuesday, December 18, 2012

In my kerskous

Iemand wat ons ken was nou die aand aan huis by ons, ek was gelukkig nie daar gewees nie, maar ek hoop dat sy op 'n stadium hierdie lees.

In die gesprek het dit uitgekom dat God vir ons goed is, en sy het hewig hierop reageer.  Jy sien, haar lewe lyk na een groot stuk gemors.  Dinge werk nie vir haar uit nie, sy is alleen en sy is eensaam.  Klaarblyklik het sy mense se lewens verwoes en daarmee saam ook haar eie. 

Een ding wat ek weet is dat wanneer dinge vir ons nie goed loop nie, ons gewoonlik op daardie stadium God betrek by die situasie.  Aan die een kant het jy mense wat 'n idée in hulle gedagtes vorm van hoe hulle lewens moet lyk, en as dit nie so uitwerk nie, dan is dit God wat dit so maak. 

Ek het al baie verwys daarna dat ons God soms sien as Kersvader en vir hom 'n briefie, in die vorm van gebed, aanstuur Noordpool toe.  Wanneer ons dus een oggend opstaan en sien dat die kerkskous se inhoud nie met die briefie saamstem nie, dan is ons woedend.

Soos ek ouer word, besef ek tog dat daar iemand is wat kersvader help finansier aan die lysie.  Soms is dit nie moontlik om die lysie aan te voldoen nie.  Ek het 'n seuntjie wat 'n jaar moes wag vir sy WII omdat ek dit eenvoudig nie kon bekostig nie.  Beteken dit dat ek hom nie liefhet nie?  Alhoewel hy dit nie onmiddelik kon kry nie, en ek dit nie kon bekostig nie, ek steeds op ander vlakke waar ek wel kon help vir hom alles gegee het wat ek kon.

In my vorige blog het ek geskryf dat on sander blammeer vir wat in ons lewens gebeur.  Toegegee, nie alles in die lewe is my toedoen nie, maar ons leer tog vir kinders dat kersvader nie vir hulle hulle wense gaan gee wanneer hulle deur die jaar stout was nie.  Hierdie insig kan wel lei tot selfbejammering en oormatige skuld wat mense op hulleself plaas, maar dit wil vir kinders leer dat hulle 'n verantwoordelikheid het om beter mense te probeer wees.

Hierdie vrou wat ek my storie mee begin het is ongelooflik negatief op alles en almal om haar.  Sy gee my die idée dat sy dink dat die wêreld haar iets skuld, en as sy dit nie kry nie, dan gooi sy haar speelgoed.  Dit is altyd iemand anders se skuld, want ag siestog, sy het so 'n hartseer lewe.  Jy sal ook sien dat mense wat almal om hulle die skuld gee, nooit om verskoning vra nie.  As niks my skuld is nie, hoe kan ek my aandeel in die situasie erken? 

Jong, ons moet versigtig wees, want ons lewens verval so maklik in hierdie negatiwiteit.  Erger as dit nog, ons beinvloed mense om ons om ook so negatief te word.  Ons trek mense af na 'n vlak waar hulle gladnie wil of kan leef nie.  En die ergste daarvan is dat mense ons vir 'n ruk lank akkommodeer, maar dat hulle ons op 'n stadium gaan uitspoeg, sodat jy soos 'n vissie lê en smag na asem op die strand.

Ek lees vanoggend weer die woorde:  "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend".  Dit het my geruk, want alhoewel ek al jare lank die vers lees, en selfs daaroor gepreek het, het ek die vers net half gelees.  Ek het gelees dat ek nie besorg moet wees en moet bekommer nie, en my begeertes en wat ek soek uit die lewe aan God bekend moet maak.  Geen wonder dat dinge in my lewe uitgedraai het soos dit soms het nie, want ek het die ander deel van die vers gemis.

Die eerste daarvan is om te kan smeek, soos 'n kindjie wat in die supermark 'n nuwe strandbal soek.  Asseblief mamma, ek soek daardie een met Barbie op.  Soms word hierdie smeking lelik en gaan dit met trane en skree en pak slae gepaard, en dan gaan jy beslis nie kry wat jy soek nie.  Soms moet my kind 'n bal kry om hulle te help met hulle ontwikkeling, of as my kind krieket by die skool speel, moet hy tog 'n krieketbal in sy sak hê.  Jy sien, soms smeek ons vir dinge wat ons nie nodig het nie, en wat nie vir ons goed is nie.  Jy sien, dit sal vreemd wees as my seun vir grimering vra in sy kerskous, maar as hy grimering nodig het vir 'n toneelspel by die skool, is dit 'n ander situasie.

Omdat ons onsself nie goed genoeg ken nie, tas ons in die winkel rond en soek alles wat ons harte begeer, want ons het nog nie ons niche gevind nie.  God ken jou deur en deur, en ek glo dat God ook nie vir jou grimering gaan koop as dit nie in jou karakter en menswees gaan pas nie. 

Al smeek jy soms vir 'n nuwe bal, gaan ouers dit nie vir jou gee nie, veral nie as die hele werf vol balle lê wat jy nie mee speel, of wat jy nooit bêre nie.  Soms dink ek God se geduld raak ook op, wanneer hy vir ons alles gee wat ons nodig het, maar ons gebruik dit nie met respek nie.  Hoeveel kaste en kaste speelgoed is daar nie in jou lewe, wat jy net een keer mee speel, en dan nooit weer gebruik nie, maar altyd net nuwer en nuwer dinge soek? 

Ek as ouers sal ook onverantwoordelik wees wanneer ek vir babadogter 'n skerp knipmes wat sy soek gaan koop.  Soms is waarvoor ons smeek nie goed vir ons nie, want ons het nie die vermoë om dit reg te hanteer nie, en dit kan meer skade aanrig as goed.  Daar is dus ook soms baie goeie redes hoekom ons nie kry waarvoor ons smeek nie, en al maak dit nie nou sin nie, sal ek dalk een dag verstaan.

Die laaste deel van die vers het my totaal geruk, want dit gaan oor dankbaarheid.  Hierdie vrou in die verhaal is so gefokus op wat sy nie het nie, dat sy nooit dankbaar is vir wat sy wel het nie.  Dit is soos 'n pa wat in die winkel vir sy seun 'n krieketbal wil koop, maar die seun sê dat hy wel een by die huis het wat nog werk.  Jy sien, wanneer ons in dankbaarheid leef aan God vir alles in ons lewens, het ons eintlik niks nodig in die winkel meer nie.  Die meeste van dit wat ons in die lewe het, het outomaties gebeur sonder dat ons dit eers van God gebid of van God gesmeek het. 

Ek sit die vakansie en is nogal depressief oor my situasie op die oomblik en ek verlang.  Tot ek een oggend besef dat ek 'n wonderlike geskenk gekry het om te geniet, en ook die lekker uit my lewe haal deur te top oor ander dinge.  Ek is nie dankbaar vir die klank van die golwe, die lekker sonskyn, heerlike kos en wonderlike geselskap nie. 

Dit is dalk die basis van die "Law of Attraction", dat jy deur dankbaarheid en fokus op wat jy wel het dinge vermenigvuldig, eerder as om nuwe dinge te skep en aan te trek.  Deur dankbaarheid, sal jou pa dalk sommer uit sy eie besluit dat hy vir jou 'n beter krieketbal gaan koop, net oor jou ingesteldheid teenoor die lewe.

Dit het dalk niks uit te waai met positiewe of negatiewe mense in die lewe nie, dalk eerder oor mense wat dankbaar en ondankbaar is.  Ondankbare mense het geen ontsag vir wat na hulle kant toe kom nie, en blammeer almal om hulle.  Dankbare mense het ontsag en weet waar alles vandaan kom.

Dit is miskien ons probleem op elke vlak van ons lewens, en dit is die oordeel waarmee ons lewe.  Dankie is nie oordeel nie, want dit is erkenning. 

Gaan vul jou kerskous hierdie jaar met danksegging vir wat jy het.

"Dankie Here vir my lewe.  Dankie vir gesondheid, liefde en vrede.  Dankie vir soveel mense om my wat my liefhet.  Dankie vir my kinders en die wonderlike mense wat hulle is.  Dankie vir al die ervarings in my lewe, en dankie dat ek niks tekort het nie, altyd veilig, altyd warm en altyd rustig kan wees.  Dankie Here, dat ek U kan ken, saam met U kan leef en dat ek U kan vertrou om altyd my God te wees wat die beste vir my in die lewe gee.  AMEN"

Sunday, December 16, 2012

R.I.P. Iemand anders

Die internet en Google is baie goeie voorbeelde van hoe ons nie meer nodig het om alles te weet nie, solank ek net weet waar om dit te gaan soek.

Ons wereld het so verander en ons het eintlik baie lui geword, nie net in ons kennisinname nie, maar ook emosioneel.

Ons deligeer omtrent alles deesdae, jy sien selfs bediendes wat ons honde neem vir 'n stappie. Ouers het selfs nie eers tyd om met kinders te spandeer nie, en so word hulle groot by bediendes. Ek hoor selfs van mense wat 'n nag-bediende het wat inslaap sodat die ouers nie hoef op te staan in die nag nie.

Ons koop mikrogolf etes by woolies sodat ons nie nodig het om kos te maak nie. Ons koop selfs die kits witsous en gooi net water by. Ons probeer beter voel oor onsself met 'n haarsny deur iemand anders, of 'n pilletjie wat iemand anders geskep het, of 'n botox inspuiting van buite of inplant-borste om my beter oor myself te laat voel.

Dit wil voorkom asof ons alles afskuif op ander mense en dinge van buite om ons lewens rustiger en gemakliker te maak. Maar maak dit ons lewens beter?

Hierdie week sien ek hoe 'n vriend van ons hier op vakansie vir ons kos maak. Hy wil nie ons hulp he nie, en terwyl ek hom dophou sien ek die genot waarmee hy dit doen. Ek sien sy gesig wanneer ons aan die tjoppies smul en besef dat die maak van die kos vir hom die lekkerste is, en niks word gejaag nie.

Ons kinders is ook hier, sonder mammas en bediendes. Ons maak almal self skoon en elkeen doen sy deel. Ons maak 'n speletjie daarvan en niemand kla oor wat hulle moet doen nie, want daar is nie iemand anders wat dit gaan doen nie.

Dit is lekker wanneer jy nie iemand anders het om jou verantwoordelikhede op af te skuif nie. Maar wat van ons verantwoordelikheid teenoor jouself om gelukkig te wees?

Skuif ons nie die verantwoordelikheid te veel af op ander mense of omstandighede nie? Wag ons nie dalk vir die perfekte plek of persoon in my lewe om dan eers geluk te ervaar nie? Ek is stoksiel alleen in my lewe, en ek is self verantwoordelik om gelukkig te wees. Daar is nie iemand anders wat dit vir my gaan doen nie.

Indien die skottelgoed vuil en opgestapel is in my kop, dan is dit my verantwoordelikheid. Ek is die argitek van my eie kop-huisie. En is die pleisteraar wat toesien dat die huis mooi afgewerk is. Ek is die tuinier wat sorg dat die rantjies van my lewe mooi en netjies afgewerk is. Ek is die loodgieter wat toesien dat die pype skoon en ongeblokkeer is. Ek is die gasheer wat besluit wie ek in my lewe gaan innooi, en ek is ook die hoof van sekuriteit wat die wat skade aanrig en hulleself nie kan gedra nie, uitskop.

Ek is ook die berader wat my eie pyn moet verwerk, en ek is ook die dokter wat my eie wonde moet toewerk.

Ons skuif die verantwoordelikheid so maklik af op ander omdat dit die kollig op ander kan plaas. As die witsous vrot is, vat ek dit terug en ruil dit om. As mense om my nie hulle werk doen nie, steek ek hulle summier in die pad, en stel maar net 'n ander een aan. Ons los net eenvoudig 'n huweliksmaat, en gaan soek iemand anders om ons gelukkig te maak. Ons koop nie die dvd nie, ons leen dit net by Mr Video, en wanneer ek my gebruik daaruit gekry het, ruil ek dit in. So glo die nuwe spiritualiteit dat ek mense om my het wat my lesse leer, maar ek is klaar met jou wanneer ek my les by jou geleer het.

As ek nie self verantwoordelikheid neem nie, word ek 'n parasiet en verbruiker en misbruiker van mense en dinge om my.

Miskien het die tyd aangebreek dat ek en jy opstaan en self begin doen. Miskien moet jy self die witsous met liefde maak, self met jou kinders gaan sit en inkleur en verf. Miskien moet jy ophou om eksterne inplanttate te soek om jou beter oor jouself te laat voel. Miskien moet jy self jou hond vir 'n stappie neem en aan die blomme in die park gaan ruik.

Miskien moet jy 'n skepper word, en ophou verbruik. Miskien moet jy bele in dinge wat ewigheidwaarde het, en dit oppas. Miskien moet jy ook weet dat die God wat in jou leef, jou al die vaardighede en talente gegee het om alles self te kan doen in jou kophuisie en jou lewe.

Gaan werk dus lekker, asof net jy kan, en gaan glo in God asof jy nie kan nie, en vra vir genade en vaardighede om te kan!
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Monday, December 10, 2012

Cremora lewe

Dalk onthou julle nog die Cremora advertensie wat op televisie was, waar die man vir sy
vrou vra waar die Cremora is, en dan eindig dit met die woorde: "It is not inside, it's on
top".

Wanneer ek so om my na my eie lewe kyk en die mense om my, kom ek agter dat die
lewe eintlik so geword het. Vir ons het die dinge wat "on top" is belangriker geword as
dit wat binne ons aangaan. Ons beoordeel mense op grond van hoe hulle lyk, wat hulle
ry en waar hulle bly.

Dit laat my dink aan die verhaal in die Bybel oor Ragel en Lea en Jakob wat by hulle pa,
oom Laban, gaan woon het. Hy was so oorval met die skoonheid van Ragel, dat hy
bereid was om 7 jaar lank vir haar te werk. Die aand met die troue is hy baie ontsteld,
want die vrou wat hy gekry het was nie Ragel nie, maar haar sussie Lea. Hy het
ingestorm by oom Laban, want dit was nie die ooreenkoms nie. Laban vertel toe vir hom
dat dit hulle gebruik is om die oudste dogter eerste te laat trou, maar as hy 'n week nog
vir hom werk, dan kan hy ook met Ragel trou.

Van Lea lees ons nie baie nie, net dat sy sagte oë gehad het, en dat sy kinders kon kry,
waar Ragel weer baie mooi was, maar gesukkel het om swanger te raak. Ek dink dat
geen mens graag in Lea se skoene wou wees in die verhaal nie, want sy was soos 'n derde
wiel aan die wa. Ek kan net dink hoe hartseer sy moes gevoel het om te dink dat sy,
omdat sy nie so mooi is soos Ragel nie, minder werd is vir Jakob.

Min mense weet egter hoe die verhaal eindig. Op sy sterfbed verander die storie
heeltemal, want Jakob gee instruksie aan sy seuns om hom in die familiegraf te gaan
begrawe, waar Abraham en Sarah begrawe is. En in die familiegraf is Lea begrawe en hy
wil langs haar begrawe word. Ragel het gesterf toe sy vir Benjamin gebaar het, en Jakob
het haar langs die pad oppad Bethlehem toe begrawe.

Jy sien, ons maak ons kinders groot met die idée dat hulle moet van binne af buite toe
leef. Ons vertel vir mekaar by skoonheidskompetisies dat dit handel oor innerlike
skoonheid en nie uiterlike skoonheid nie. Ons spandeer ure en miljoene rande om ons
skoonheid te behou en te skep. Ons spandeer miljoene rande aan rente om die huise en
motors te koop.

Lea het die sagte oë gehad wat ewigheidswaarde het. Sy was heel moontlik die persoon
wat vir Jakob 'n sielsgenoot was. Sy was heel moontlik die persoon wat Jakob diep in sy
hart die liefste voor was. Wanneer ons hoor wat sy laaste wens was, kan 'n mens hierdie
afleiding maak, want mens wil graag begrawe word by jou geliefde.

Moet asseblief nou nie vandag dit so ernstig opneem dat jy nie eers stort voor jy werk toe
gaan of nie jou hare kam nie. Die beginsel is egter dat ons meer obsessief moet wees oor
wat in ons harte en denke gebeur. Ons moet mense om ons beoordeel vir wat in hulle
binneste gebeur, want dit is wat belangrik is. Ons moet ander aanspoor om te groei en te
ontwikkel wat werklik belangrik is. Ons gee maklik komplimente oor hoe mense lyk,
maar wanneer laas het jy iemand 'n kompliment gegee oor wie en wat mooi is in hulle
binneste?

Dalk sal die węreld 'n beter plek wees wanneer ons kan uitroep: "It's not on top, it's
inside"

Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Wednesday, November 21, 2012

"Terme en Voorwaardes geld"

 

Dit is vir my opvallend dat amper elke advertensie op die radio deesdae eindig met die woorde: “Terme en Voorwaardes geld”.  Die advertensie begin op so ‘n manier wat jou ore laat spits oor die nuwe BMW wat jy kan koop, die ekstras wat jy ontvang, hoe goedkoop die maandelikse terugbetaling is en dat jy eers in Maartmaand gaan begin betaal.  Dan kom daardie laaste sinnetjie wat jou amper laat vergeet wat hulle geadverteer het en jou keer om onmiddelik die eerste BMW handelaar te soek.

 

Ek verstaan baie goed dat die maatskappye hulleself moet beskerm en dat nie almal kan kwalifiseer vir die spesiale aanbieding nie.  Indien jy oor die laaste klompie jare, met die nuwe kredietwet, iets op skuld wou koop, sal jy met my saamstem dat dit ‘n baie intensiewe proses geraak het.  Jy moet allerhande dokumente lewer en dan word daar nog ondersoek gedoen by ‘n kredietburo om vas te stel of jy wel kan kwalifiseer.  Dit kan soms vir jou voel asof daar oor jou geoordeel word en jy staan soos ‘n skoolseuntjie voor die hoof se kantoor met jou hoed in die hand.  En dan het jy ook boonop die vrees dat jy te lig bevind sal word en nie die heerlike leersitplekke van die nuwe BMW gaan geniet nie.

 

Hierdie gevoel van oordeel is deel van ons menslike natuur, waar jy voel jy weeg en te lig bevind, of nog erger waar mense jou te lig bevind om te kwalifiseer vir hulle aandag, liefde, tyd en geld.  Ons weet dat oordeel nie iets nuuts is wat ons nou ervaar nie, want die Bybel waarsku ons reeds dat ons nie mag oordeel nie, want die oordeel waarmee ons oordeel sal gebruik word om ook oor ons te oordeel.  Dit beteken dus dat die stok wat ek optel om ander mee te slaan, uiteindelik die stok word waarmee ek geslaan word. 

 

Ek het baie lank gewonder oor die term “oordeel”, want beteken dit nou dat ek alles eenvoudig net moet aanvaar in die lewe?  Beteken dit dat daar geen regstelsel of straf vir misdadigers moet wees nie?  Sou dit dan ook beteken dat ek in ‘n verhouding waar ek fisies aangerand word moet bly?  Is alles maar net aanvaarbaar omdat ek nie mag oordeel nie?

 

Een dag in ‘n gesprek met my ma, het sy die saak vir my baie mooi duidelik gemaak wat ek graag met my wil saamneem in hierdie nuwe jaar.  Sy het gesê dat daar twee maniere van oordeel is, die eerste is “ver-oordeel” en die ander “be-oordeel”.

 

Ek dink dat dit die “veroordeling” is waarteen die Bybel ons waarku, want veroordeling handel oor iemand wat haarself aanstel en vanuit ‘n sogenaamde magsposisie na jou aksies kyk.  Dit word natuurlik mooi verduidelik met die gesegde dat jy eers die balk uit jou eie oog moet haal, voordat jy die ander persoon op die splinter in sy oog moet wys.  En dit is natuurlik eenvoudig dat nie een van ons volmaak is nie, en daarom mag niemand hulleself aanstel oor ander mense en hulle ver-oordeel nie.

 

Ons menslike natuur is ook so ingestel dat as jy, soos hier bo veroordeel word en in ‘n hoek vasgedruk word, jy jouself sal verdedig.  Dit is in sulke gevalle waar mense jou gewoonlik aanval met daardie stok wat jy opgetel het en jou onmiddelik jou ook begin veroordeel.  Daar is twee interresante dinge wat hier ‘n rol speel.  Die eerste is ‘n term wat ons baie hoor, naamlik “die wet van aantrekking”.  Wat dit in kort behels is dat ek hout in ander se oë kan sien, wanneer ek hout in my oog het.  Ek trek dinge aan en sien dinge raak wat in my gedagtes aangaan.  Die persoon wat my dus veroordeel, of wat uit selfverdediging my op my hout in die oog wys, beide se ingesteldheid is ‘n houtproduk.  Miskien is dit die feit dat ons nie volmaak is nie wat aanleiding gee tot ons veroordeling van ander mense, want ons sien ons imperfeksies in hulle raak.  ‘n Goeie voorbeeld hiervan is natuurlik wanneer jy kinders het.

 

Wat “die wet van aantrekking” ons ook leer is dat ons fokus op wat ons in ons lewens is en ook wat ons toelaat om deel van ons lewens te maak.  As ek dus nie kan oordeel nie, hoe keer ek dat ek hout, of dit nou ‘n splinter of ‘n balk is, om in my oog te kom?  Moet ek dus nou maar net terugsit en alles in my lewe toelaat en aanvaar?

 

Dit is waar my ma se tweede punt inkom, en dit is dat jy nie nodig het om veroordelend te wees nie, maar dat jy ook die vermoë en die reg het om te kan beoordeel.  Elke mens het die reg om hulle eie stel “Terme en Voorwaardes” te kan skryf, en kan self bepaal wanneer iets of iemand nie daaraan voldoen nie.  Dit voel asof die BMW handelaar my veroordeel as hulle nie die motorsleutels vir my wil gee nie, maar eintlik weet ons dat nie almal kan kwalifiseer nie.  Verder ook is dit die handelaar wat op risiko is indien hulle vir almal net motorvoertuie uitdeel, want dan sou hulle teen hierdie tyd lankal bankkrot gewees het.

 

Om jouself en mense om jou te beskerm, nie net teen finansiële bankkrotskap nie, maar bankkrotskap op alle ander vlakke van jou lewe, moet jy besef dat jy die reg en ook die verantwoordelikheid het om jou eie terme en voorwaardes te skryf.  Die motorhandelaar skryf dit uit ondervinding en logika.  So moet ons ook uit die verlede gaan haal wat ons weet nie vir ons werk nie en dit inbou in die manier wat ek dinge beoordeel.  Ek moet ook logika aan die dag lê en sommetjies maak, want as ek besef dat die muur van steen gemaak is, gaan ek tog nie met alle geweld daarin vasry nie.  Ons as Christene het ook natuurlik die voordeel dat die Bybel ook sekere terme en voorwaardes het wat ek en jy gemaklik kan deel maak van ons eie stel reëls.

 

Om af te sluit, moet ek met integriteit leef, wat per definisie beteken dat alles wat jy sê en doen in lyn moet wees met hierdie terme en voorwaardes.  Jakobus 4:17 lees:  “as ek weet wat die regte ding is om te doen en ek doen dit nie, dan is dit sonde”. 

 

As ons so terugkyk op die jaar wat verby is, laat ons die lesse leer wat ons moet leer, en wanneer ons vorentoe kyk, laat dit jou jaar van integriteit wees waar jy jou aksies, woorde en mense be-oordeel en keuses maak op grond van wie jy werklik is.

 

 

 

Tuesday, October 30, 2012

Die waarheid maak jou vry

Vanaf die vroegste tye vra mense die vraag na die waarheid. Per definisie is die waarheid dit wat getoets kan word teen feite of die realiteit.

'n Eenvoudige voorbeeld daarvan is die volgende: "Is daar oorstromings in die ooste van Amerika as gevolg van 'n storm?" Die ware antwoord is: "Ja". Dit wat gesę en gedoen word word gespiëel teen iets anders en sodoende word bepaal of dit nie waarheid is of 'n leuen.

Dit is natuurlik 'n maklike voorbeeld, aangesien daar geen bewyse is wat ons kan oortuig dat die stelling van die oorstroming vals is nie. Ons sien dit op CNN en ons luister na wat die joernaliste sę en sodoende word dit die waarheid.

Maar alles in die lewe is nie so eenvoudig om te toets of dit die waarheid is nie. Die rede daarvoor is dat jy aan die eenkant die vraag het, maar die spiëel aan die ander kant is nie heeltemal so helder nie. Daarom sukkel ons om die waarheid van alles te bepaal.

Twee mense is in 'n verhouding en die een persoon maak die stelling dat hulle lief is vir jou. Is dit die waarheid? As 'n man te lank saam met sy vriende in die kroeg drankies gedrink het en te laat by die huis kom, wonder ek of sy vrou hom gaan glo dat hy vir haar lief is, want die spiëel wat sy dit aan toets word verskadu deur haar ego. Sy gaan dink dat hy haar nie ge-akkomodeer het nie of dat hy geen ontsag en respek vir haar het nie.

Wanneer dieselfde man met blomme by die huis aankom en die woorde uiter, lyk haar spiëel totaal anders en sy aksies maak dit makliker om sy liefde as waarheid te klassifiseer.

Wat dit interessant maak is dat dit dieselfde man en dieselfde vrou is. Hy het haar gekies om sy lewe saam mee te deel en sy dieselfde. As sy aksies dan die antwoord van waar of vals kan beinvloed, is daar dan tussen hulle 'n ware liefde?

Die wyse Salomo het ook gesę dat hy nooit sal verstaan hoe die liefde tussen 'n man en vrou werk nie. Miskien lę die antwoord dat ons almal se spiëels waarteen ons die waarheid toets van mekaar verskil. Miskien is dit ook hoekom die Bybel vir ons vertel dat wat vir een mens sonde is nie vir die ander sonde is nie. As sonde dan "relatief" is vir verskillende mense, is waarheid dus ook verskillend van mens tot mens en situasie tot situasie.

Dalk is dit dan so dat ons in die waarheid glo wat pas by die spiëel wat ek in my kop ronddra. Dalk beteken die waarheid dat ek ook 'n nuwe realiteit kan skep en waarheid kan ontdek waar dit in die verlede vir my vals was. Dalk beteken dit ook dat gister se waarheid verskil van die waarheid wat ek vandag het.

Wat baie filosowe ons ook leer is dat baie mense dinge as leuens klassifiseer wanneer dit wat mense doen en kommunikeer nie strook met hulle denkwyse nie. Dit maak nie wat 'n persoon vir my sę 'n leuen nie, dit maak dit vir my 'n leuen.

Ek kan onthou hoeveel keer ons in gesprekke die vraag gevra het of 'n mens 'n "wit leuentjie kan vertel as dit tot die ander persoon se voordeel is?" 'n Wit leuen is eintlik nie net om iemand te beskerm nie, dit word "wit" genoem omdat die bedoeling van die leuen suiwer is. Ek ken baie mense wat "wit leuens" leef en geleer het om mense se spiëels eers te analiseer en om mense te manipuleer tot hulle voordeel.

In my veld van verkope word almal die tegniek geleer om mense se waardes en wat vir hulle belangrik is te soek en dan jou verkoopstegniek daarby aan te pas. Is om vir mense te sę wat hulle wil hoor om sodoende die uitkoms wat ek soek te kry, nie maar ook 'n leuen nie?

Ek vra sommer vandag hierdie vrae, want ek dink dat soveel mense elke dag sielsongelukkig is en in hartseer omstandighede leef omdat hulle nie eerlik met hulleself is nie en daarom 'n valse lewe leef. Wanneer dit veral by verhoudings kom, wonder ek of daar werklik 'n volkome waarheid tussen mense is?

As ek mense se aksies om my sien, wonder ek hoeveel mense werklik opreg is, veral as ek in ag neem dat ek hulle toets in my spiëel?

Om dit nog verder te vat is dat ons ook nie net ander mense en dinge toets vir die waarheid nie, maar ook onsself en ons aksies. Dit beteken dat ek kan vir iemand sę dat ek hulle liefhet, want in my oog is dit die waarheid, maar omdat dit nie in hulle spiëel pas nie, glo hulle my nie. So word die hele lewe 'n tameletjie wat soos 'n taai toffie lekker smaak maar jou tande kan breek.

Waarheid is dus relatief (in the eye of the beholder) totdat my en jou spiëels en woorde en situasies met mekaar sinkroniseer. Miskien is dit hoekom ons graag met mense saamleef wat dieselfde opvoeding, opleiding, agtergrond en uitkyk op die lewe het.

Oor die naweek praat ek met iemand en die persoon sę dat fisiese aggressie deel van die lewe is en aanvaarbaar is. Ek vra toe uit hoekom dit so is, waarop hulle antwoord dat hulle in hulle gesin en familie dit aanvaar het dat 'n mens iemand fisies kan aanrand. In my lewe het ek baie te doen gehad met fisiese geweld teen ander mense, maar ek glo geheel en al glad nie aan fisiese geweld nie. Dink jy vir enige oomblik dat ek en die persoon 'n pad met mekaar kan stap? Ek kan die persoon se vriend word, net wanneer hulle hul idee oor geweld verander, want daarsonder is daar geen "common ground" nie.

Wanneer ons dus oor "waarheid" praat, beteken dit dus dat ek meer waarheid sal vind, in myself en in ander mense, wanneer ek mense in my lewe en om my lewe het wat dieselfde waardes en spiëels deel. Dit beteken nie dat ander mense met hulle spiëels van geweld wat van myne verskil verkeerd en vals is nie, dit beteken net dat hulle nie deel van my lewe mag wees vir my om die "waarheid" in myself en my lewe te vind nie.

Ons kan dit baie goed in ons lewens sien dat ons almal die waarheid en die antwoorde van opregtheid soek. God het ons so gemaak dat ons opreg en eerlik moet leef met onsself en die mense om ons. Die Bybel stel dit duidelik dat die waarheid ons sal vrymaak en wie ken jy wat nie in totale vryheid soek en begeer nie.

Miskien moet ons nie na die waarheid "soek" nie, maar eerder na mense en situasies waar ons spiëels met mekaar ooreenstem. Miskien is ons ongelukkigheid daarin opgesluit dat ons mense wil oortuig om ons manier van dink te aanvaar, of van hulle verwag om hulle spiëels te verander om by ons aan te pas. Ek dink dit is 'n verbete stryd wat jy nooit sal wen nie.

Ons het almal baie lewensondervinding en verstaan baie goed dat mense nie kan verander nie, mense moet wil verander. Jy moet egter besef dat as jy nie kan vrede maak met mense om jou se spiëels nie, jou lewe nooit gelukkig en vol vrede kan wees nie. Miskien is die waarheid nie om te bepaal wie reg of verkeerd is nie, maar eerder oor wie en wat vir jou reg of verkeerd is. Dit is die waarheid wat jou kan vry maak van ongeluk, hartseer en 'n lewe van pyn!


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Wednesday, October 24, 2012

Oor God en CSI

  

Ek het nog altyd gehou van die CSI reeks op televisie. Dit is ongelooflik om te sien hoe hulle 'n misdaad ontrafel om sodoende die skuldige persoon op te spoor.


Ek sit nou die dag weer so lekker en kyk en besef toe dat dit eintlik baie maklik is om die reeks te maak, omdat die skrywer die hele storie van agter na voor aanmekaar kan sit. Hy sit reeds met die antwoord van wie die skuldige is, en dan sit hy al die bewyse terugwerkend in die storie tot by daardie eerste skets waar die vermoorde persoon op die straathoek lê.


Ons wat die storie kyk, kyk dit ook natuurlik van die begin af, en stelselmatig word ons gelei deur die bewyse totdat ons kan sien wat uiteindelik gebeur. Vir ons is elke ding wat gebeur 'n verrassing, want ons weet nie wat volgende kom nie. Ons is ook maar rusbank-speurders wat probeer om self die storie vooruit te loop en te besluit wie die skuldige persoon in die moord is.


Een van die belangrikste vrae wat mense deur die eeue vra is: “Hoe werk God en wat is God se plan vir my lewe?” In die antwoord op hierdie vrae is daar gewoonlik 2 pole. Aan die een kant het ons die idee dat God 'n vaste plan het waarvolgens alles werk en dat niks gebeur sonder dat dit Sy wil is nie. Aan die ander kant is daar mense wat weer glo dat God my die geleentheid op aarde gee om totaal vry te wees en te maak wat ek wil.


Daar is ook kombinasies van hierdie twee maniere van dink. Sommige mense glo dat ek vrye wil het, en dat my keuses presies is wat God in sy raadsplan vir my lewe beplan het. Ander glo weer dat ek kan kies wat ek wil, want God sal my ondersteun in enige keuse wat ek maak.


Jy sien, die manier wat jy dink oor hierdie vraag is ongelooflik belangrik, veral wanneer dinge in my lewe met my gebeur. Wanneer dinge nie so mooi loop nie, kan ek, as ek in vrye wil alleen glo, dink dat dit my skuld is en dat ek totaal alleen verantwoordelik is vir die gemors, of ek kan ander om my skuldig hou oor die vrye wil wat hulle toegepas het. Aan die ander kant kan ek, as ek glo in God se wil alleen, God daarvoor verantwoordelik hou en begin twyfel aan God. Ek kan ook dan weer self begin om skuldig te voel en te wonder hoekom God my straf en wat ek nou weer verkeerd gedoen het dat God my so straf.


Dit wil voorkom asof ons net soos in 'n CSI reeks vasgevang is. Ons lewe elke dag vorentoe, en ontrafel die bewyse soos dit oor ons pad kom. Ons kan nie in die toekoms in sien nie, en daarom kyk ons net vas teen wat ons weet en wat voor ons is. Ons sien God as die skrywer van die storie wat die storie van agter na voor geskryf het en vir ons net gee wat ons nodig het op 'n “need to know basis”.


Daar is natuurlik 'n totaal ander manier van dink wat ons buite rekening laat. Is daar 'n storie? Het God die storie klaar geskryf? Dalk is dit nie so dat God al aan die einde was nie, maar dat God dalk saam met ons “ontwikkel”. Dalk is daar nie 'n storie nie, maar net nou. Dalk is die toekoms nie in kliptablette vas nie, maar ontsyfer ek en my God die uitdagings en informasie saam. Dit hoef nie weg te neem dat Hy God is nie. Dit hoef gladnie my geloof te breek nie, want God kan steeds in beheer wees en bly. Ek kan dalk eerder glo dat God meer hulp bied met die ontrafeling en dat God reeds eeue al “ondervinding” het in ontrafeling. Ek kan wel ook glo dat God nie “af siek” gaan wees en my alleen gaan laat nie. Ek kan steeds glo dat God goed en liefdevol is en ek kan steeds elke dag Sy hulp en insig vra.


Verder dink ek dat die doelwit van die ontrafeling van dinge in jou lewe nie die doel het om die skuldige of held van 'n verhaal te bepaal soos in CSI nie. Soms is ons so besig om die swartskaap te soek vir dinge wat verkeerd geloop het, want ons dink dat as ons al die moordenaars in die tronk sit, dat daar nie meer moord gaan wees nie. Dit is dalk hoekom daar nou 5 reekse van CSI op televisie is en hoekom dit nou al vir 10 jaar uitgesaai word. Dit is asof dit net nooit ophou nie, en in dieselfde asem gaan die negatiewe en pyn altyd deel wees van jou lewensverhaal.


Sou jy dan nou ook die “moordenaars” gevang het en hulle “genail” het, is jy dan werklik 'n held? As jy dan is, is jy net vir 'n vlietende oomblik in die koerant, en more is daar weer ander nuus en ander helde. Dit lyk ook nie vir my so lekker om 'n CSI agent te wees nie, want hulle lewens is altyd vol drama, vasgevang in mikroskope en moord, terwyl daar 'n wonderlike lewe daarbuite is wat by hulle verbygaan. So het ek nou net 'n oproep ontvang van 'n makelaar wat my daarvan “beskuldig” dat ek sy kliënt probeer steel, op so 'n ongeskikte manier dat jy nie kan glo nie. Dit bewys net weer my punt, ja ek het dalk nie geweet dat dit sy kliënt is nie, maar sy lewe is so ingestel dat ek nou baie bly is dat ek nie sy vrou of kliënt is nie. Geen wonder dat hy sy kliënte so moet oppas nie, want met so 'n houding sal niemand sy kliënt wil wees nie, en ek kan jou verseker, hy het nie 'n idee hoe om sy lewe te geniet nie.


Soms is ons ook so vasgevang in ons verkrampte labratoriums in ons koppe en lewens en vra ons vrae soos hierbo wat gladnie eers ons doelwit behoort te wees nie. Ons kan God ook nooit werklik verstaan nie, so ek mag dus ook aan Hom dink as my vriend wat elke dag saam met my meer van my en van Hom en van die lewe “ontdek”. Ek kan dus ook saam met God groei om die wonders van die lewe te ontdek. Ek kan ook al die wonderlike ervarings, kennis en toerusting eerder rig om myself te ontdek en eerder my lewe beter te maak deur aanvaarding van hoe dinge is, eerder as oordeel, pyn en kastyding.


En die wonderlikste van hierdie denke is dat ek dalk dan kan word wat ek en God graag wil sien ek word. Dalk kan ek dan 'n more bou wat my en God tevrede stel. Dalk kan ek dan in hierdie vrede leef, elke oomlik, in die oomblik.


In enige storie wat klaar geskryf is is daar geen opwinding nie. Gaan leef vandag 'n wonderlike lewe saam met God en laat God toe om saam met jou te groei en gaan geniet elke oomblik waar jy saam met God jou storie nuut, interresant en veranderbaar skryf.


Monday, October 8, 2012

Wat ek van geloof dink!

  

Ek dink ons het almal grootgeword in verskillende situasies in ons ouerhuise wat ons denke gevorm het. Die vorming is verder beinvloed deur die skool en kerk waarin ons geleef het. Ook het ons interpretasie van ervarings ook 'n groot rol te speel in ons vorming van wat ons van Godsdiens en van God dink.


In my ouerhuis het ek 2 ouers gehad wat altwee gelowige mense is, maar met uiteenlopende idees. Kom ek begin by my pa wat 'n groot dromer is, en hierdie persoonlikheid van hom is sterk ingedra in sy geloofslewe en denke oor God. Hy het met sy mindere kennis en opleiding die groot dinge in die lewe aangepak, en daarmee saam in 'n totale afhanklikheid teenoor God geleef en geglo, soveelso dat hy soms die realiteit van die lewe agtergelaat het. Ek sou hom baie graag met 'n Paulus wou vergelyk vir wie God en wat God kan doen nie onderhandelbaar was nie. So het my pa woedend geword wanneer mense hom wil terugbring aarde toe en op die realiteit wil fokus, en sulke mense afgemaak as ongelowig.


My ma is 'n wiskunde onderwyseres gewees, en sy was darem nie totaal swart en wit nie, maar vir haar tel die realiteit altyd meer. Sy het altyd so 'n kissie in haar laai voor haar bed bygehou waarin sy sulke klein gebedspapiertjies gehou het. Elke keer wanneer hierdie gebede verhoor is, het sy die datum agterop geskryf om te kan sien op 'n realistiese manier hoe God haar en ons lewens onderhou het.


My persoonlikheid is gevorm in daardie huis en ek het altyd nogal gesukkel tussen hierdie twee pole. Toe ek Teologie gaan studeer het was daar ook twee groepe wat baie dieselfde was. Aan die een kant die mense wat totaal in afhanklikheid geglo het en aan die ander kant die wat ook so bietjie hierdie manier van dink aangeval en krities hanteer het.


Die groot vraag is egter in ons eie lewens van wat ons moet “kies” tussen nie net hierdie twee pole nie, maar ook tussen al die ander verskillende maniere van glo. Ek sien en hoor vreeslik baie van mense wat in vertwyfeling en skuldgevoelens leef oor wat hulle geloofsbeskouing is. Ek dink as ons hierdie vraag van die “regte” denke kan antwoord ons baie gelukkig kan wees.


Die Bybel is ook soms dubbelsinnig oor wat hierdie idee moet wees, want aan die een kant kry ons hulle wat God en omstandighede uitdaag. Ek dink hier aan 'n karakter soos Job en hoe swaar hy gekry het selfs terwyl hy sy geloof behou het. Hy het God uitgedaag omdat hy nie geluk geken het nie en gewonder hoekom sy geloof en God Hom nie red nie. Paulus se gebed dat God die doring uit sy vlees moet haal is beantwoord deur die woorde dat God se genade vir hom genoeg behoort te wees. Dawid het ook gesukkel oor veral hoekom mense wat nie in God glo nie, steeds die seën van God ontvang, terwyl hy wat glo nie dieselfde voorregte geniet nie.


Op 'n ander plek vertel die Bybel ons van die mosterdsaadjie en sê dat as ons geloof so groot was soos een van die kleinste saadjies in die wêreld, ons letterlik berge kan versit. Hierdie is weer die ander teenpool wat ons laat verstaan dat ons nie het wat ons begeer nie, omdat ons dit nie van God vra nie.


Iemand het een keer die “gelooftipes” probeer opsom in 4 afdelings:


  • Ongeloof-Ongeloof – Dit is nou mense wat as ateisties getipeer sal word waar hulle in niks anders glo as hulle eie selfvermoë nie, en hulle glo alleen dat jy en jy alleen verantwoordelik is vir jou lewe. Hulle glo ook nie dat daar iets of iemand anders is na die dood nie, en as alles hier op aarde afgehandel is, dan is dit dit.

  • Geloof-Ongeloof – Dit is dan nou tipies iemand wat op 'n eiland woon en wat die natuur as voorbeeld sal aanbid. Hulle het 'n idee van geloof, maar hulle weet nie wie God werklik is, of wat om te maak om te verseker dat dit aanhou reën nie.

  • Ongeloof-Geloof – Hierdie is die tipe mens wat nie regtig in God glo nie, maar probeer om sekere tipiese goeie norme en waardes uit te leef en goeie mense te wees. Dit is iets wat hulle glo uit 'n mens self kom, maar met God eintlik niks uit te waai het nie.

  • Geloof-Geloof – Dit is nou weer hier maklik om weer onderafdelings te skep, maar oor die algemeen gaan dit hier oor 'n wete en kennis van God, wat op 'n manier jou lewe beinvloed om beter te wees en te voldoen aan die vereistes.


Ek besef dat dit baie simplisties gestel word, maar wat my wel opval is dat al hierdie mense in dieselfde wêreld moet leef en blootgestel word aan dieselfde omstandighede van asemhaal, honger, dors, liefde, vrese, suksesse, ongeluk, siekte en dood. Die vraag is egter watter tipe van geloof jou lewe die beste maak en lei tot verandering, groei en geluk. Die Bybel leer ons duidelik dat daar 'n prys behoort te wees vir mense wat in God en Jesus Christus glo en daaraan vashou.


In die realiteit, net soos in die voorbeelde hierbo uit die Bybel, is dit nie altyd die geval nie, want God verhoor nie altyd ons gebede soos ons versoek nie. In dieselfde asem is daar mense wat bid dat velletjies moet nat reen, of soos Daniël in die leeukuil dat niks slegs met hom moet gebeur nie. Vir baie mense is hierdie situasie 'n groot frustrasie, want wat is God nou? Mense hou sommer blatant op met glo, want wat is die sin daarin om aan 'n God te glo wanneer jy voel dat Sy beloftes aan jou nie nagekom word nie. Ander van ons soek na die antwoord in verskonings en woorde soos dat ons God se wil moet laat geskied en dat God die beste vir ons soek en om die rede hou ons aan met glo in die wete dat God in beheer is. Ander mense dink weer dat ek nie goed genoeg is of goed genoeg lewe nie, en daarom gee God nie vir my wat my hart begeer nie. In dieselfde asem gebruik ons uitdrukkings soos: “Bid asof jy nie werk nie, en werk asof jy nie bid nie”, om ons verantwoordelikheid in die situasie uit te druk.


Ek dink op hierdie stadium so daaroor in my eie ervaringswêreld waar dit nie met my emosies goed gaan nie:


Ek het nog altyd geglo daarin dat, omdat die Bybelverhale vir ons dinge leer wat klomp verskillende opsies wys daar nie een antwoord is nie. Hoe kompleks die situasie ook vir jou klink, dit is hoe God werk. Ek verwys baie keer na die terme “en-en” teenoor “of-of”, want ek kan maklik dink dat as ek iets van God bid en dit nie kry nie, dat dit die finale storie is, maar soms vergeet ek waar God vir my allerhande dinge wel gee wat ek as vanselfsprekend aanvaar, en nooit dankbaar is daarvoor nie. Ek dink ook in dieselfde asem dat ek daar waar gebede verhoor is en waar wonderwerke gebeur soveel meer is as waar dit nie die geval was nie.


Nou dat ek die stuk teruglees, besef ek net al meer en meer dat ek ook maar soos Dawid is wanneer hy die Psalms skryf, en dit is dat geloof nie getoets kan word, en God uitgedaag kan word op 'n lysie om te weet of Hy bestaan en of Hy wonderwerke kan doen nie. Geloof in God is geloof, punt! Verder vorm elkeen van ons ons eie ervaring van God, deur wat gebeur en nie gebeur nie.


Wat wel interresant van al die verhale in die Bybel is dat hulle te midde van hulle kritiese navraag van God se aksies, telkemale NIE hulle geloof en die feit dat God KAN miskyk nie. Dalk het dit ook te doen met hulle agtergrond dat hulle dalk eerder aan God se kant WIL wees te midde van wat in hulle lewens gebeur, in die wete dat om sonder God te wees ook nie die antwoord is nie.


Maar dan eindig ek dus dat, te midde van wat gebeur, of wat my agtergrond is, of watter tipe ervarings ek met God gehad het, of hoeveel van my gebede verhoor word of nie, dat ek steeds sal bly glo in God en dat ek sal bou aan my geloof en my deel sal doen. Ek kan bevraagteken WAT God in my lewe doen en HOE hy dit doen, maar ek kan nooit bevraagteken WIE God is en DAT God daar is nie.


Lekker dag