Wednesday, October 24, 2012

Oor God en CSI

  

Ek het nog altyd gehou van die CSI reeks op televisie. Dit is ongelooflik om te sien hoe hulle 'n misdaad ontrafel om sodoende die skuldige persoon op te spoor.


Ek sit nou die dag weer so lekker en kyk en besef toe dat dit eintlik baie maklik is om die reeks te maak, omdat die skrywer die hele storie van agter na voor aanmekaar kan sit. Hy sit reeds met die antwoord van wie die skuldige is, en dan sit hy al die bewyse terugwerkend in die storie tot by daardie eerste skets waar die vermoorde persoon op die straathoek lê.


Ons wat die storie kyk, kyk dit ook natuurlik van die begin af, en stelselmatig word ons gelei deur die bewyse totdat ons kan sien wat uiteindelik gebeur. Vir ons is elke ding wat gebeur 'n verrassing, want ons weet nie wat volgende kom nie. Ons is ook maar rusbank-speurders wat probeer om self die storie vooruit te loop en te besluit wie die skuldige persoon in die moord is.


Een van die belangrikste vrae wat mense deur die eeue vra is: “Hoe werk God en wat is God se plan vir my lewe?” In die antwoord op hierdie vrae is daar gewoonlik 2 pole. Aan die een kant het ons die idee dat God 'n vaste plan het waarvolgens alles werk en dat niks gebeur sonder dat dit Sy wil is nie. Aan die ander kant is daar mense wat weer glo dat God my die geleentheid op aarde gee om totaal vry te wees en te maak wat ek wil.


Daar is ook kombinasies van hierdie twee maniere van dink. Sommige mense glo dat ek vrye wil het, en dat my keuses presies is wat God in sy raadsplan vir my lewe beplan het. Ander glo weer dat ek kan kies wat ek wil, want God sal my ondersteun in enige keuse wat ek maak.


Jy sien, die manier wat jy dink oor hierdie vraag is ongelooflik belangrik, veral wanneer dinge in my lewe met my gebeur. Wanneer dinge nie so mooi loop nie, kan ek, as ek in vrye wil alleen glo, dink dat dit my skuld is en dat ek totaal alleen verantwoordelik is vir die gemors, of ek kan ander om my skuldig hou oor die vrye wil wat hulle toegepas het. Aan die ander kant kan ek, as ek glo in God se wil alleen, God daarvoor verantwoordelik hou en begin twyfel aan God. Ek kan ook dan weer self begin om skuldig te voel en te wonder hoekom God my straf en wat ek nou weer verkeerd gedoen het dat God my so straf.


Dit wil voorkom asof ons net soos in 'n CSI reeks vasgevang is. Ons lewe elke dag vorentoe, en ontrafel die bewyse soos dit oor ons pad kom. Ons kan nie in die toekoms in sien nie, en daarom kyk ons net vas teen wat ons weet en wat voor ons is. Ons sien God as die skrywer van die storie wat die storie van agter na voor geskryf het en vir ons net gee wat ons nodig het op 'n “need to know basis”.


Daar is natuurlik 'n totaal ander manier van dink wat ons buite rekening laat. Is daar 'n storie? Het God die storie klaar geskryf? Dalk is dit nie so dat God al aan die einde was nie, maar dat God dalk saam met ons “ontwikkel”. Dalk is daar nie 'n storie nie, maar net nou. Dalk is die toekoms nie in kliptablette vas nie, maar ontsyfer ek en my God die uitdagings en informasie saam. Dit hoef nie weg te neem dat Hy God is nie. Dit hoef gladnie my geloof te breek nie, want God kan steeds in beheer wees en bly. Ek kan dalk eerder glo dat God meer hulp bied met die ontrafeling en dat God reeds eeue al “ondervinding” het in ontrafeling. Ek kan wel ook glo dat God nie “af siek” gaan wees en my alleen gaan laat nie. Ek kan steeds glo dat God goed en liefdevol is en ek kan steeds elke dag Sy hulp en insig vra.


Verder dink ek dat die doelwit van die ontrafeling van dinge in jou lewe nie die doel het om die skuldige of held van 'n verhaal te bepaal soos in CSI nie. Soms is ons so besig om die swartskaap te soek vir dinge wat verkeerd geloop het, want ons dink dat as ons al die moordenaars in die tronk sit, dat daar nie meer moord gaan wees nie. Dit is dalk hoekom daar nou 5 reekse van CSI op televisie is en hoekom dit nou al vir 10 jaar uitgesaai word. Dit is asof dit net nooit ophou nie, en in dieselfde asem gaan die negatiewe en pyn altyd deel wees van jou lewensverhaal.


Sou jy dan nou ook die “moordenaars” gevang het en hulle “genail” het, is jy dan werklik 'n held? As jy dan is, is jy net vir 'n vlietende oomblik in die koerant, en more is daar weer ander nuus en ander helde. Dit lyk ook nie vir my so lekker om 'n CSI agent te wees nie, want hulle lewens is altyd vol drama, vasgevang in mikroskope en moord, terwyl daar 'n wonderlike lewe daarbuite is wat by hulle verbygaan. So het ek nou net 'n oproep ontvang van 'n makelaar wat my daarvan “beskuldig” dat ek sy kliënt probeer steel, op so 'n ongeskikte manier dat jy nie kan glo nie. Dit bewys net weer my punt, ja ek het dalk nie geweet dat dit sy kliënt is nie, maar sy lewe is so ingestel dat ek nou baie bly is dat ek nie sy vrou of kliënt is nie. Geen wonder dat hy sy kliënte so moet oppas nie, want met so 'n houding sal niemand sy kliënt wil wees nie, en ek kan jou verseker, hy het nie 'n idee hoe om sy lewe te geniet nie.


Soms is ons ook so vasgevang in ons verkrampte labratoriums in ons koppe en lewens en vra ons vrae soos hierbo wat gladnie eers ons doelwit behoort te wees nie. Ons kan God ook nooit werklik verstaan nie, so ek mag dus ook aan Hom dink as my vriend wat elke dag saam met my meer van my en van Hom en van die lewe “ontdek”. Ek kan dus ook saam met God groei om die wonders van die lewe te ontdek. Ek kan ook al die wonderlike ervarings, kennis en toerusting eerder rig om myself te ontdek en eerder my lewe beter te maak deur aanvaarding van hoe dinge is, eerder as oordeel, pyn en kastyding.


En die wonderlikste van hierdie denke is dat ek dalk dan kan word wat ek en God graag wil sien ek word. Dalk kan ek dan 'n more bou wat my en God tevrede stel. Dalk kan ek dan in hierdie vrede leef, elke oomlik, in die oomblik.


In enige storie wat klaar geskryf is is daar geen opwinding nie. Gaan leef vandag 'n wonderlike lewe saam met God en laat God toe om saam met jou te groei en gaan geniet elke oomblik waar jy saam met God jou storie nuut, interresant en veranderbaar skryf.


No comments:

Post a Comment