Sunday, December 16, 2012

R.I.P. Iemand anders

Die internet en Google is baie goeie voorbeelde van hoe ons nie meer nodig het om alles te weet nie, solank ek net weet waar om dit te gaan soek.

Ons wereld het so verander en ons het eintlik baie lui geword, nie net in ons kennisinname nie, maar ook emosioneel.

Ons deligeer omtrent alles deesdae, jy sien selfs bediendes wat ons honde neem vir 'n stappie. Ouers het selfs nie eers tyd om met kinders te spandeer nie, en so word hulle groot by bediendes. Ek hoor selfs van mense wat 'n nag-bediende het wat inslaap sodat die ouers nie hoef op te staan in die nag nie.

Ons koop mikrogolf etes by woolies sodat ons nie nodig het om kos te maak nie. Ons koop selfs die kits witsous en gooi net water by. Ons probeer beter voel oor onsself met 'n haarsny deur iemand anders, of 'n pilletjie wat iemand anders geskep het, of 'n botox inspuiting van buite of inplant-borste om my beter oor myself te laat voel.

Dit wil voorkom asof ons alles afskuif op ander mense en dinge van buite om ons lewens rustiger en gemakliker te maak. Maar maak dit ons lewens beter?

Hierdie week sien ek hoe 'n vriend van ons hier op vakansie vir ons kos maak. Hy wil nie ons hulp he nie, en terwyl ek hom dophou sien ek die genot waarmee hy dit doen. Ek sien sy gesig wanneer ons aan die tjoppies smul en besef dat die maak van die kos vir hom die lekkerste is, en niks word gejaag nie.

Ons kinders is ook hier, sonder mammas en bediendes. Ons maak almal self skoon en elkeen doen sy deel. Ons maak 'n speletjie daarvan en niemand kla oor wat hulle moet doen nie, want daar is nie iemand anders wat dit gaan doen nie.

Dit is lekker wanneer jy nie iemand anders het om jou verantwoordelikhede op af te skuif nie. Maar wat van ons verantwoordelikheid teenoor jouself om gelukkig te wees?

Skuif ons nie die verantwoordelikheid te veel af op ander mense of omstandighede nie? Wag ons nie dalk vir die perfekte plek of persoon in my lewe om dan eers geluk te ervaar nie? Ek is stoksiel alleen in my lewe, en ek is self verantwoordelik om gelukkig te wees. Daar is nie iemand anders wat dit vir my gaan doen nie.

Indien die skottelgoed vuil en opgestapel is in my kop, dan is dit my verantwoordelikheid. Ek is die argitek van my eie kop-huisie. En is die pleisteraar wat toesien dat die huis mooi afgewerk is. Ek is die tuinier wat sorg dat die rantjies van my lewe mooi en netjies afgewerk is. Ek is die loodgieter wat toesien dat die pype skoon en ongeblokkeer is. Ek is die gasheer wat besluit wie ek in my lewe gaan innooi, en ek is ook die hoof van sekuriteit wat die wat skade aanrig en hulleself nie kan gedra nie, uitskop.

Ek is ook die berader wat my eie pyn moet verwerk, en ek is ook die dokter wat my eie wonde moet toewerk.

Ons skuif die verantwoordelikheid so maklik af op ander omdat dit die kollig op ander kan plaas. As die witsous vrot is, vat ek dit terug en ruil dit om. As mense om my nie hulle werk doen nie, steek ek hulle summier in die pad, en stel maar net 'n ander een aan. Ons los net eenvoudig 'n huweliksmaat, en gaan soek iemand anders om ons gelukkig te maak. Ons koop nie die dvd nie, ons leen dit net by Mr Video, en wanneer ek my gebruik daaruit gekry het, ruil ek dit in. So glo die nuwe spiritualiteit dat ek mense om my het wat my lesse leer, maar ek is klaar met jou wanneer ek my les by jou geleer het.

As ek nie self verantwoordelikheid neem nie, word ek 'n parasiet en verbruiker en misbruiker van mense en dinge om my.

Miskien het die tyd aangebreek dat ek en jy opstaan en self begin doen. Miskien moet jy self die witsous met liefde maak, self met jou kinders gaan sit en inkleur en verf. Miskien moet jy ophou om eksterne inplanttate te soek om jou beter oor jouself te laat voel. Miskien moet jy self jou hond vir 'n stappie neem en aan die blomme in die park gaan ruik.

Miskien moet jy 'n skepper word, en ophou verbruik. Miskien moet jy bele in dinge wat ewigheidwaarde het, en dit oppas. Miskien moet jy ook weet dat die God wat in jou leef, jou al die vaardighede en talente gegee het om alles self te kan doen in jou kophuisie en jou lewe.

Gaan werk dus lekker, asof net jy kan, en gaan glo in God asof jy nie kan nie, en vra vir genade en vaardighede om te kan!
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment