Monday, October 8, 2012

Wat ek van geloof dink!

  

Ek dink ons het almal grootgeword in verskillende situasies in ons ouerhuise wat ons denke gevorm het. Die vorming is verder beinvloed deur die skool en kerk waarin ons geleef het. Ook het ons interpretasie van ervarings ook 'n groot rol te speel in ons vorming van wat ons van Godsdiens en van God dink.


In my ouerhuis het ek 2 ouers gehad wat altwee gelowige mense is, maar met uiteenlopende idees. Kom ek begin by my pa wat 'n groot dromer is, en hierdie persoonlikheid van hom is sterk ingedra in sy geloofslewe en denke oor God. Hy het met sy mindere kennis en opleiding die groot dinge in die lewe aangepak, en daarmee saam in 'n totale afhanklikheid teenoor God geleef en geglo, soveelso dat hy soms die realiteit van die lewe agtergelaat het. Ek sou hom baie graag met 'n Paulus wou vergelyk vir wie God en wat God kan doen nie onderhandelbaar was nie. So het my pa woedend geword wanneer mense hom wil terugbring aarde toe en op die realiteit wil fokus, en sulke mense afgemaak as ongelowig.


My ma is 'n wiskunde onderwyseres gewees, en sy was darem nie totaal swart en wit nie, maar vir haar tel die realiteit altyd meer. Sy het altyd so 'n kissie in haar laai voor haar bed bygehou waarin sy sulke klein gebedspapiertjies gehou het. Elke keer wanneer hierdie gebede verhoor is, het sy die datum agterop geskryf om te kan sien op 'n realistiese manier hoe God haar en ons lewens onderhou het.


My persoonlikheid is gevorm in daardie huis en ek het altyd nogal gesukkel tussen hierdie twee pole. Toe ek Teologie gaan studeer het was daar ook twee groepe wat baie dieselfde was. Aan die een kant die mense wat totaal in afhanklikheid geglo het en aan die ander kant die wat ook so bietjie hierdie manier van dink aangeval en krities hanteer het.


Die groot vraag is egter in ons eie lewens van wat ons moet “kies” tussen nie net hierdie twee pole nie, maar ook tussen al die ander verskillende maniere van glo. Ek sien en hoor vreeslik baie van mense wat in vertwyfeling en skuldgevoelens leef oor wat hulle geloofsbeskouing is. Ek dink as ons hierdie vraag van die “regte” denke kan antwoord ons baie gelukkig kan wees.


Die Bybel is ook soms dubbelsinnig oor wat hierdie idee moet wees, want aan die een kant kry ons hulle wat God en omstandighede uitdaag. Ek dink hier aan 'n karakter soos Job en hoe swaar hy gekry het selfs terwyl hy sy geloof behou het. Hy het God uitgedaag omdat hy nie geluk geken het nie en gewonder hoekom sy geloof en God Hom nie red nie. Paulus se gebed dat God die doring uit sy vlees moet haal is beantwoord deur die woorde dat God se genade vir hom genoeg behoort te wees. Dawid het ook gesukkel oor veral hoekom mense wat nie in God glo nie, steeds die seën van God ontvang, terwyl hy wat glo nie dieselfde voorregte geniet nie.


Op 'n ander plek vertel die Bybel ons van die mosterdsaadjie en sê dat as ons geloof so groot was soos een van die kleinste saadjies in die wêreld, ons letterlik berge kan versit. Hierdie is weer die ander teenpool wat ons laat verstaan dat ons nie het wat ons begeer nie, omdat ons dit nie van God vra nie.


Iemand het een keer die “gelooftipes” probeer opsom in 4 afdelings:


  • Ongeloof-Ongeloof – Dit is nou mense wat as ateisties getipeer sal word waar hulle in niks anders glo as hulle eie selfvermoë nie, en hulle glo alleen dat jy en jy alleen verantwoordelik is vir jou lewe. Hulle glo ook nie dat daar iets of iemand anders is na die dood nie, en as alles hier op aarde afgehandel is, dan is dit dit.

  • Geloof-Ongeloof – Dit is dan nou tipies iemand wat op 'n eiland woon en wat die natuur as voorbeeld sal aanbid. Hulle het 'n idee van geloof, maar hulle weet nie wie God werklik is, of wat om te maak om te verseker dat dit aanhou reën nie.

  • Ongeloof-Geloof – Hierdie is die tipe mens wat nie regtig in God glo nie, maar probeer om sekere tipiese goeie norme en waardes uit te leef en goeie mense te wees. Dit is iets wat hulle glo uit 'n mens self kom, maar met God eintlik niks uit te waai het nie.

  • Geloof-Geloof – Dit is nou weer hier maklik om weer onderafdelings te skep, maar oor die algemeen gaan dit hier oor 'n wete en kennis van God, wat op 'n manier jou lewe beinvloed om beter te wees en te voldoen aan die vereistes.


Ek besef dat dit baie simplisties gestel word, maar wat my wel opval is dat al hierdie mense in dieselfde wêreld moet leef en blootgestel word aan dieselfde omstandighede van asemhaal, honger, dors, liefde, vrese, suksesse, ongeluk, siekte en dood. Die vraag is egter watter tipe van geloof jou lewe die beste maak en lei tot verandering, groei en geluk. Die Bybel leer ons duidelik dat daar 'n prys behoort te wees vir mense wat in God en Jesus Christus glo en daaraan vashou.


In die realiteit, net soos in die voorbeelde hierbo uit die Bybel, is dit nie altyd die geval nie, want God verhoor nie altyd ons gebede soos ons versoek nie. In dieselfde asem is daar mense wat bid dat velletjies moet nat reen, of soos Daniël in die leeukuil dat niks slegs met hom moet gebeur nie. Vir baie mense is hierdie situasie 'n groot frustrasie, want wat is God nou? Mense hou sommer blatant op met glo, want wat is die sin daarin om aan 'n God te glo wanneer jy voel dat Sy beloftes aan jou nie nagekom word nie. Ander van ons soek na die antwoord in verskonings en woorde soos dat ons God se wil moet laat geskied en dat God die beste vir ons soek en om die rede hou ons aan met glo in die wete dat God in beheer is. Ander mense dink weer dat ek nie goed genoeg is of goed genoeg lewe nie, en daarom gee God nie vir my wat my hart begeer nie. In dieselfde asem gebruik ons uitdrukkings soos: “Bid asof jy nie werk nie, en werk asof jy nie bid nie”, om ons verantwoordelikheid in die situasie uit te druk.


Ek dink op hierdie stadium so daaroor in my eie ervaringswêreld waar dit nie met my emosies goed gaan nie:


Ek het nog altyd geglo daarin dat, omdat die Bybelverhale vir ons dinge leer wat klomp verskillende opsies wys daar nie een antwoord is nie. Hoe kompleks die situasie ook vir jou klink, dit is hoe God werk. Ek verwys baie keer na die terme “en-en” teenoor “of-of”, want ek kan maklik dink dat as ek iets van God bid en dit nie kry nie, dat dit die finale storie is, maar soms vergeet ek waar God vir my allerhande dinge wel gee wat ek as vanselfsprekend aanvaar, en nooit dankbaar is daarvoor nie. Ek dink ook in dieselfde asem dat ek daar waar gebede verhoor is en waar wonderwerke gebeur soveel meer is as waar dit nie die geval was nie.


Nou dat ek die stuk teruglees, besef ek net al meer en meer dat ek ook maar soos Dawid is wanneer hy die Psalms skryf, en dit is dat geloof nie getoets kan word, en God uitgedaag kan word op 'n lysie om te weet of Hy bestaan en of Hy wonderwerke kan doen nie. Geloof in God is geloof, punt! Verder vorm elkeen van ons ons eie ervaring van God, deur wat gebeur en nie gebeur nie.


Wat wel interresant van al die verhale in die Bybel is dat hulle te midde van hulle kritiese navraag van God se aksies, telkemale NIE hulle geloof en die feit dat God KAN miskyk nie. Dalk het dit ook te doen met hulle agtergrond dat hulle dalk eerder aan God se kant WIL wees te midde van wat in hulle lewens gebeur, in die wete dat om sonder God te wees ook nie die antwoord is nie.


Maar dan eindig ek dus dat, te midde van wat gebeur, of wat my agtergrond is, of watter tipe ervarings ek met God gehad het, of hoeveel van my gebede verhoor word of nie, dat ek steeds sal bly glo in God en dat ek sal bou aan my geloof en my deel sal doen. Ek kan bevraagteken WAT God in my lewe doen en HOE hy dit doen, maar ek kan nooit bevraagteken WIE God is en DAT God daar is nie.


Lekker dag




No comments:

Post a Comment