Tuesday, February 9, 2016

Sagmoedigheid

Oor die laaste paar weke het ek baie geskryf oor van die dinge wat ek in my binneste deurgaan en besluite wat ek moet neem.  Skielik word dit vir my duidelik, uit al die kommentaar (meer as ooit tevore) hoeveel mense met hierdie dinge in hulle lewens woel.  Gister lewer een persoon, en ek sal nie sy naam noem nie, dat mens moet ophou om pateties te wees.


Ek dink vanoggend daaraan, dat dit dalk die wereld se ondergang is, want ons dink dat om saggeaard te wees, sagmoedig van gees te wees en die wereld te baklei, die antwoord is.  Ons maak ons kinders groot om sterk en vol moed te wees vir 'n lewe vorentoe, want ons weet dat die wereld hard is.  Die wereld is hard, omdat almal van ons ons sagmoedigheid verloor het.


En ek het baie gedink oor die persoon se kommentaar, want dit het so half en half vir my gevoel asof daar gesinspeel word dat ek pateties is in my aksies en in wat ek skryf.  Net omdat mens worstel met dinge en veg vir wat jy dink die regte ding is en soms simpel dinge dink en doen, beteken nie jy is pateties nie, dit beteken slegs dat dit deel van jou proses is.  En soos wat ek daaraan dink, lees ek Mattheus 5:5 waar Jesus vir die mense se:  "Gelukkig is die saggeaardes,  want hulle sal die aarde beërf.  En skielik skok dit my en besef ek dat dit wat ons as swakheid sien, dalk gladnie so pateties is soos ons dink nie. 


As jy as 'n seun in die Afrikaner gemeenskap grootgeword het, kan jy onthou hoeveel keer daar gese is: "man, 'n seun huil nie".  Dit is asof ons hierdie vers van Mattheus gladnie verstaan nie, want dit is juis die wat sagmoedig is, seer het, deur hulle seer werk wat die magtigste op aarde is.  Dit is die onsekeres en hulle wat wonder wat die wereld gaan beheers, en nie die macho brekers nie.  Gaan lees gerus weer die hele bergprediking en gaan kyk hoe Jesus die mense leer oor vrede maak, sag wees en deernis met ander.


Onthou, die mense van Jesus se tyd het geglo in die Messias, hulle het geglo dat dit iemand gaan wees wat met geweld en oorlog hulle gaan bevry van die Romeinse heersers.  En hier kom Jesus, en Jesus se vir hulle om te vergewe, sag te leef, wat tien teen een in hulle gedagtes 'n prentjie skets van om pateties te wees.  En hier se hy vir hulle en leer hulle dat dit die mens is wat vrede soek en harmonie en wat kan huil, dat hulle die oorwinnaars is.  Dit klink na so 'n vreemde gedagte, veral in 'n wereld waar dinge anders werk, maar dit is juis hoekom Jesus dit vir hulle kom leer, vir 'n wereld wat stukkend en verwoestend met mekaar werk.


Almal van ons het seer in ons, almal van ons voel soms daardie patetiese gevoel in ons van wat ons aan ander gedoen het en hulle aan ons.  Die wereld is stukkend van binne, en dit is verstaanbaar, want ons vergeet die sagmoedigheid in ons.  Elke mens het 'n siel, elke mens het 'n binneste wat sonder beskerming moet leef.  Veral wanneer jy kinders het, wil jy nie graag sien dat hulle in 'n harde wereld geboelie of verniel moet word nie, maar in ons harte is elkeen van ons ook maar net so kinderlik, klein en blootgestel.


Daar is 'n paar dinge wat ek dink wat ons kan leer uit hierdie stuk uit die Bybel vanoggend, waarvan die belangrikste is dat jy maar mag sagmoedig en "pateties" na die wereld toe kan kom, dit is OK, inteendeel, dit is nie net OK nie, dit vat meer moed as om 'n wapen op te tel.


Die eerste is, leer om mekaar te vergewe.  Onthou wat Jesus se woorde aan die kruis was: "vergewe hulle Vader, want hulle weet nie wat hulle doen nie".  Ons moet onsself eers vergewe, want in sekere situasies het ons nie beter geweet nie, vergewe jouself vir die onreg wat jy ander aangedoen het, en natuurlik moet jy alles in jou gee om dit te herstel en die skade te vergoed, want dit is wat van ons gevra word.  Saam met dit, vergewe ook ander op dieselfde manier vir wat jy voel hulle aan jou gedoen het.  Dit het niks te doen met om pateties te wees nie, dit is juis in dit waar jou en jou God se krag le, in vergiffenis. 


Die tweede belangrike ding is, wees sagmoedig met jouself en met die mense om jou.  Gelukkig leef ons nie meer in 'n wereld waar mense van ons verwag om hard en macho te wees nie.  Jy mag die sagtheid in jou omhels en het geensins nodig om jou "vulnerability" bloot te stel nie.  Seuns en mans mag huil, dit maak hulle nie swak nie, inteendeel, Jesus se dit maak hulle meer as oorwinnaars.  Voel jou pyn, voel jou hartseer tot op die been, want in dit kan jy jou lewe verander en oorwinnaar in jouself wees.  Natuurlik gaan die wereld dit as pateties sien, maar dit is hulle probleem, Jesus het dit vir ons anders kom leer.  As iemand se jy is pateties as gevolg daarvan, haal vir hulle Mattheus 5:5 aan, en dalk is dit juis uit hierdie situasie wat jy hulle lewens ook gaan verander.


Ek onthou die huldeblyke aan Jonah Lomu toe hy verlede jaar oorlede is en hoe almal vertel het hoe sag hy was, iets wat jy nooit van hom sou gedink het nie.  Op die rugbyveld was hy hard en onverskrokke in dit wat hy nagestreef het.  Want om saggeaard te wees, en dit is dalk waar die verandering in die definisie moet kom, beteken nie dat jy in sake n as gaan sit en nooit moet veg en opstaan waarna jy streef nie.  Dit is beslis nie wat daarmee bedoel word nie, Jesus het ook opgestaan en sy doel in die lewe vervul, maar op 'n ander manier.  Dit is beslis so da tons wereld vandag 'n voorbeeld daarvan is dat die manier wat ons dit probeer het nie gewerk het nie. 


Die Bybel leer ons in Romeine: "moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe".  Die wereld en omstandighede het met ons gebeur en het ons hard gemaak om onsself te beskerm.  Dit is 'n natuurlike manier, maar stel jouself bloot aan God en aan Sy vernuwende krag wat jou lewe drasties en indringend kan en sal verander.  God se genade en God se liefde is groter as enige probleem wat jy vandag in die oog moet staar.


En die belangrikste daarvan is dat jy nooit God se genade en sagmoedigheid kan of moet vergeet nie.  God soek net die beste vir jou, en al is jou omstandighede wat ookal, God se liefde en sagtheid sal jou oplossing gee en bring.  Soms moet jy uit die pad staan en jou oorgee aan God, Sy genesing en Sy pad en plan vir jou lewe.

No comments:

Post a Comment