Monday, February 8, 2016

Oorgawe

Vir baie lank in my lewe is ek, seker soos omtrent almal wat hierdie lees, grootgemaak in die Christelike geloof.  Die manier hoe ons dit uitleef en die keuses wat ons daaroor gemaak het is seker verskillend.  Sommige van julle het gekies om dit te verwerp as 'n fairytale, want kom ons wees eerlik dat of dit nou is met die groei van die logika, of met wetenskap, sekere dinge van die Bybel nie meer sin gemaak het nie.  Sommige het dit so omhels en sommiges leef so binne in die aanbidding van Jesus Christus, dat dit mens soms effens irriteer, moet ek eerlik wees.


Ek het die afgelope paar weke baie geskryf oor my situasie en waardeur ek emosioneel gaan, en ek omhels elke oomblik daarvan tot op die been.  En as daar een van my blogs is wat ek dink niemand moet mis nie, is dit hierdie een.  In die afgelope paar weke het my lewe weereens uitmekaar gespat.  Ek is bang vir die oggend om aan te breek, en in die nag kan ek nie wag om te gaan slap nie.  Niks proe lekker nie, en ek voel nie eers die hitte van die son op my liggaam nie.  Vir die soveelste keer het my lewe uitmekaar geval.  Vanoggend kry ek 'n boodskap van een van die persone wat my volg, en dit skeur my hart uitmekaar, want dit is iemand wat my bedank vir wat ek doen en hoe baie dit in haar lewe beteken.  Terwyl ek die boodskap lees, dink ek aan 'n stuk wat ek gister op youtube gekyk het oor menswees.  Ek het vir 'n oomblik gewonder of die vrou wat die boodskap vir my gestuur het werklik weet hoe stukkend dit in my is, en hoe swaar ek werklik kry.  Ek het gewonder of sy ooit sal weet en verstaan hoe uitmergelend dit vir my is om voor die rekenaar te sit en my gevoelens te probeer verwoord.


In daardie youtube video wat ook erens geshare is op my facebook blad, praat die vrou oor haar maskers wat sy gedra het, omdat sy probeer het om van haarself en wie sy is weg te hardloop.  Dit het my oopgeskeur, want ek is hierdie sagte en emosionele mens, wat moet leef en van wie verwag word om hierdie absolute A-Tipe persoonlikheid te wees.  My sagtheid is wat almal vir my vertel my so spesiaal maak, maar almal verwag van my om deel te wees van 'n lewe en te doen wat ek soms onmoontlik vind.  Gister se 'n vriendin vir my dat sy dit vreemd vind dat vrouens almal onder mekaar die ou soek wat die gedigte skryf, maar eintlik meer gaan vir die Knight in Shining Armour, die ou wat die redder is en die drake kan verdryf.  Mens sukkel om dit te wees, en gister se video het vir my so baie beteken, want ek het besef dat God my spesiaal gemaak het, net soos ek is.  Ek hoef nie skaam te voel oor my gedigte en dat dit verkeerd opgeneem sal word nie, dit is wie God my gemaak het, vulnerable, bang, eensaam en sag.


Soms wys ons vir ons dogtertjies al hierdie mooi sprokiesverhale, en ons skep die idee, by ons self ook dat die wereld 'n harde plek is, waar jy moet baklei en veg, maar ons is nie almal so nie.  Almal dra maskers en deur die dra van die masker verskuil on wie en wat ons werklik is en vir die wereld en mense kan en wil beteken.  Ek is so dankbaar vir die boodskap van daardie vrou vanoggend, wat my laat besef het dat ek moet aanhou skryf, maar dalk meer uit my hart om vir mense iets te beteken.  Al beteken dit dat ek seerkry in die proses, moet seerkry in elke woord van die gedigte wat uit my vloei soos reen.  Dalk is die seerkry die enigste proses om deur te leef, want dit is hoe God my ook in my wese geskep het.


Die verdere ding wat met my in die laaste paar weke gebeur het, van maskers gepraat, is die masker wat ons vir God dra en voor Hom dra.  Ons met ons internet en logika en medikasies wat glo dat ONS in beheer van ons lewens en werelde is, dit is die ergste masker.  Die laaste paar weke het ek my hart weer vir God oopgeslaan, opgekrul in Sy omhelsing in die vertroue dat God my deur dinge sal neem waar ek weer kan funksioneer.  En ek dink dit is deel van hoekom ons maskers voor God dra, want alhoewel ons binne ons weet dat God daar is vir ons en ons dra, is ons soms bevrees vir die antwoorde wat ons gaan vind.  Ons hardloop so met ons eie idees en dinge, want ons probeer ons eie antwoorde in die chaos vind, eerder as soms dit in oorgawe aan God te gee.  Ek is bang vir die antwoorde wat na my toe kom, want soms wil ek dit so graag anders sien en wil so graag he dat dinge anders moet loop.  En dit is hoekom mense dalk nie meer in totale oorgawe aan God leef nie, want hulle hou nie van wat die antwoord gaan wees nie.


Vanoggend post ek ook 'n video van Rick Warren wat nou baie oor my pad kom, wat handel oor hoe ons nie net vergeet om aan God getrou te bly nie, maar ook aan onsself.  Ons speel speletjies met onsself en doen wat ander van ons verwag om te doen, eerder as wat ons weet wat die regte ding is om te doen en om God daarmee te vertrou.  Soms is dit nie net dat ek God nie vertrou nie, maar dat ek myself so sleg ken en vertrou wat tot soveel drama lei.  Erens binne ons glo ons dat God 'n pad het vir ons lewens en dat Hy nie wil sien dat ons swaarkry nie, maar ons oorgawe aan daardie besluite is soms so moeilik.  Ek het besluit dinge moet so loop of so, maar in welke mate maak ek my oop vir God se ingrype en in God se oopskeur van omstandighede wanneer ek so hardkoppig is? Soms breek jy jou kop oor besluite wat geneem moet word, maar hoeveel keer gee ek my lewe, my siel, my omstandighede alles vir God.

Wanneer krul ek my op by God in Sy arms en smeek en vra en luister na wat God vir my wys? 


Vandag voel ek net dat almal dit moet hoor dat die tyd dalk aangebreek het vir ons om te besef dat ek van die troon van my eie lewe moet afklim, want ek is nie volmaak nie, en God moet laat heers oor my lewe, en God toe te laat om my, deur alle omstandighede, MY te laat wees en MY te rig tot die lewe wat HY vir my beplan!

No comments:

Post a Comment