Wednesday, May 22, 2013

Om verdwaal te voel

Soms voel mens asof die lewe met jou snaakse draaie loop. Vandag voel ek so effends verdwaal. En wat doen jy in so 'n geval?

Budha het een keer ook verdwaal. Toe kom hy by 'n olifant en vertel hom dat hy verdwaal het. Die olifant het hom raad gegee om in sulke situasies terug te gaan na die begin.

Die oplossing vir enige probleem, selfs as jy verdwaal het, begin by die bron.

1. Jy is spesiaal:

God het ons gewil nog voor alle tye. Alles wat tot dusver gebeur het is gawes uit die hand van God. Niks en niemand is toevallig nie, en jy ook nie. God het elke dag en oomblik vir jou geskep.

Selfs die vreemde plekke waar jy nou jou voet, kop of hart sit, dis spesiaal vir jou.

So dalk voel jy uit jou vaarwater uit, maar onthou altyd jy is spesiaal.

2. Jy het al die gereedskap:

Kyk in jou, want behalwe dat jy spesiaal is, het jy al die kennis tot jou beskikking om jou pad te loop. Maak jou hart en jou kop oop en let op.

God sou jou nie hier geplaas het sonder 'n rede nie. En God het jou ondervinding gegee oor tyd wat in jou is.

Soms is jou pad 'n berg en natuurlik gaan dit meer van jou vat, maar jy kan, ek kan.

Dink net hoe vervelig jou lewe sou gewees het as daar nie nuwe uitdagings is nie. Leef in die wete dat jy alles in jou het om ook hierdie uitdaging te oorkom. Vertrou jouself!

3. Fokus:

Soms is daar op jou reis stroomversnellings, maar dit is nooit so erg soos jy dink nie. Dit is tye wat jy net effens harder moet konsentreer.

Wees kalm en weet dat jy 'n noodbaadjie aan het. Die God wat jou op hierdie plek afgelaai het, is die God wat jou elke dag beskerm en bewaar.

Niks in die lewe is toeval nie, dit is deel van 'n groter plan. Soms kan jy nie om die draai sien nie, slegs die stroomversnelling voor jou. Weet en besef, daar kom weer tye wat jy kalm waters van rus gaan ervaar. Vir nou, fokus op wat om jou is.

4. Moenie daarteen baklei nie:

Die moeilikste om te doen is om teen die die stroom te veg. Soms is ons so bang vir wat voor ons is, dat ons graag die beker by ons wil laat verbygaan.

Jesus het dit ook gevra, maar dit was deel van wat moes gebeur. Alles het 'n doel, maar die doel is nie stroomop nie, maar stroom-af.

Dit is dalk nie nou wat jy dink jy nodig het nie, terwyl jy die proses wat God vir jou wil, moet vertrou.

5. Geniet dit:

Jy het elke oomblik 'n keuse van hoe jy na die lewe kyk. Jy kan net sowel geniet waar jy is.

Die lewe is geskep om geniet te word. En ja, jy kan dit kies. Ons neem die lewe te ernstig op.

Soms dink ons dat om dinge te geniet beteken dat jy onverantwoordelik is. Verseker nie!

Erns en fokus het niks met mekaar uit te waai nie. Jy kan fokus en steeds die lewe geniet.

6. Moenie alles oor-dink nie:

Terwyl alles hier bo belangrik is, kan ons soms die fout maak dat ons dinge oor-dink.

Wanneer jy in die plek is, vul vrees jou hart. Gewoonlik bring ons alles tot beheer met logika soos hier bo.

Maar dalk is die oplossing vir jou lewe nie in 'n groot teorie of filosofie nie, maar in jou hart en in jou "gut-feeling". In ons westerse samelewing maak ons intuisie af as vreemd en onbetroubaar. Miskien is dit hoekom ons soms God se plan nie verstaan nie, want ons wil dit logies uitredeneer.

Slot:

So dalk is die les, genot bo vrees, laat gaan in plaas van vashou en voel eerder as uitredeneer.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment