Monday, May 27, 2013

"Law of attraction" en visvang

My jongste seuntjie, Robert, is absoluut versot oor visvang. Wanneer ander kinders cartoons kyk, is hy besig op Discovery of een of ander kanaal om visvang te kyk. As ek hom 'n keuse gee oor wat hy die dag wil doen, kies hy om te gaan visvang.

Ek het al vis gevang in my lewe, maar die gogga het my nooit gebyt nie. So 'n paar weke gelede het ek hom gevat om te gaan visvang, en hy was koorsagtig opgewonde daaroor.

Gelukkig het hy 'n hele klomp toerusting reeds, so ons kon onsself help.
Wanneer ek dink oor die "Law of Attraction", werk dit dieselfde as visvang.

1. Jy moet weet wat jy wil doen:

Soms voel dit asof mense geen idée het van wat hulle wil doen nie. Hulle is elke dag deel van die lewe, maar bestaan net. Jy moet tog weet wat jy wil bereik in die lewe en waarna jy soek, nog voordat jy enige iets kan aanpak. Die "Law of Attraction" gaan nie oor "laat God's water oor God's akker loop nie, die teendeel daarvan is eintlik waar.

Mense lewer baie kommentaar oor my artikels oor hierdie onderwerp, veral mense wat slegs glo in die Wil van God.

Om in God te glo en Sy hand in my lewe te sien, beteken tog nie dat God my soos 'n poppemeester aan my toutjies hou en ek elke oomblik slegs doen wat God my instrukteer om te doen nie. God het my geskep met 'n doel, en daardie doel is lewe. God het asem in my longe ingeblaas en vir my talente gegee om die lewe te gaan leef.

Die "Law of Attraction" sou tog nie bestaan het as 'n teorie indien dit nie die geval was nie. Ons sou almal redelik dieselfde gewees het, maar God het ons vrye wil ook gegee.

Dit is waar ek en jy, in God se wereld, in God se beeld, in God se teenwoordigheid, die vrye teuels het om ons lewens te leef.

As God dus so betrokke is by my lewe, is dit dieselfde God wat ook in my die begeerte geplaas het om beter te wees, hoer te vlieg en vinniger te WIL hardloop. Dit is 'n gawe uit die hand van God dat ek kan en wil glo dat daar iets beter en iets groters bestaan.

Robert het nie net een oggend opgestaan en begin visvangstories kyk nie, inteendeel sy oupa het hom viswaters toe geneem. Hy is dus blootgestel, net soos wat ek en jy blootgestel is aan die idée dat die lewe groter en beter en lekkerder kan wees.

Dit is ook Robert se persoonlikheid wat hom daardie passie gee vir visvang, net so het ek en jy die passie in ons om te gaan doen wat ons van hou, en nog meer daarvan soek.

Maar jy moet presies weet wat dit is wat jy soek, anders gaan jy jouself nooit op die pad plaas na waar jy wil wees nie.

2. Gaan waar die visse is:

Met dit uitgeklaar, wanneer ek weet dat ek wil VIS vang, gaan ek soek na plekke en situasies waar daar visse is. Ek gaan nie op Loftus se pawiljoen sit met my visstok nie, want alhoewel daar soms haaie daar is, is my kanse om daar visse te kry redelik skaars. Ek gaan dam toe.

Baie mense weet wel wat hulle soek, maar is nooit op 'n plek waar hulle dit kan doen nie. Dan blammeer hulle almal om hulle, en God ook, as daar nie vis is nie.

Mense sit in verhoudings vasgevang, en elke dag blammeer hulle hulle huweliksmaat omdat hy of sy nie is wat hulle soek nie. Ons sit in beroepe vas waar ek sielsongelukkig is, maar ek bly maar daar vir die geld. Elke aand as ek huistoe ry, dan wonder ek oor alles om my en oor die sin van die lewe, en smag na vis. Dan ontwikkel ek allerhande siektes soos depressie, en dalk nog ander siektes, omdat ek nie is waar ek moet wees nie.

Hierdie "Law of Attraction" is net so logies, as wat dit magies is. Ek moet erens tog vir God of die "Universe" halfpad ontmoet.

3. Toerusting:

Soms daag ons op by die dam, waar ek weet ek moet wees, sonder toerusting. Naderhand is ek rooi van die son, maar niks gebeur nie. Wat het jy verwag? Het jy gedink die visse gaan net outomaties in jou hand gaan inspring?

Dan blammeer ons weer en sit met ons hande in ons hare, want niks gebeur nie. Jy lag nou, maar dit is wat ons doen. Hierdie woorde wat jy nou lees is getik op 'n rekenaar, 'n blog is geskep en ek het dit daarop gelaai. Ek kan tog nie van jou verwag om te weet wat ek oor dinge dink, as ek nie die toerusting tot my beskikking gebruik nie.

Ek sien elke dag hoe ek dit in my lewe doen. Ek kry soms skaam wanneer ek God vra vir dinge, maar ek steek al my kennis en talente onder die maatemmer weg. Dit is logies, maar ons kan nie NET verwag dinge moet gebeur nie. Ek moet oproepe maak en mense sien om aan die lewe te bly. Ek kan nie net my kop in 'n gat druk en die beste verwag nie.

Visvang werk nie so nie. Om te kry wat jy soek en wil hę, beteken om jou lyn in die water te hę.
Met die "Law of Attraction" doen ons dit met woorde en aksies. As jy weet wat jy soek, wees spesifiek in jou woorde en jou aksies.

4. Kennis:

Nadat ek en Robert, onsuksesvol moet ek se, ons visvangtrippie afgehandel het, was hy baie teleurgesteld. Toe kom iemand wat ons ken en vat hom om saam met 'n Springbok hengelaar te gaan visvang. Die oom vat hom toe na 'n plek waar hy verseker weet daar visse is, en hy leer hom wat om te doen. Daardie dag het hy 8 visse gevang, en grotes ook.

Die oom het natuurlik al die toerusting waaraan jy kan dink, maar is iemand wat ook weet presies waar en waarmee jy moet vang.

Ons leef in 'n wereld met soveel kennis en ondervinding, maar ons wil soms op ons eie kluit sit en kripeer. Daar is soveel informasie om jou wat jou kan help om by jou doelwit uit te kom en die visse te vang wat jy glo jy verdien. Gebruik jy dit, of dink jy dat jy al die mag en pag het.

Jare gelede het my pa 'n siekteprobleem gehad wat genoodsaak het dat hy 'n operasie ondergaan. Een van sy vriende was baie gelowig en het vir hom gebid dat sy toestand moet weggaan. Hy was baie kwaad oor my pa se tekort aan geloof, want my pa het vir die operasie gegaan. Jy sien, sy redenasie was dat God nie deur dokters of die mediese wetenskap kan werk nie, en slegs op 'n wonderbaarlike manier. As ek my Bybel goed lees, sien ek dat God gewone herkenbare dinge soos skaapvelletjies gebruik om die boodskap en redding te bring.

Robert het vir geen oomblik omgegee dat hy die oom se stokke, aas en kennis gebruik het nie. Al waaroor dit vir hom gegaan het was die visse wat hy gevang het. Hy was wel baie dankbaar vir die toerusting en raad, maar hy het self vis gevang. Soms wil ons nie gebruik wat om ons is nie, maar daar is baie mense wat al deur hierdie proses gegaan het wat jy nou deurgaan. Gaan lees en gaan vra, want God het dit tot jou beskikking geplaas.

5. Trial and Error:

Ek is seker dat die oom wat die Springbok visvanger is, nie sommer net een oggend opgestaan het met 'n "magiese" gawe en 'n kissie vol van die regte aas nie. Hy het nie sommer net blindelings na daardie spesifieke plekkie by Roodeplaat gery en toevallig suksesvol begin visvang nie. Sy resepte en ondervinding kom deur 'n klomp kere wat hy probeer het. Soms het hy misluk, maar soms sukses behaal. Daar is lesse te leer uit elke mislukking en sukses.
Dit het hom by die punt gebring waar sy kanse op sukses groter is as myne.

Soms wil ons onmiddelik en sommer die eerste keer sukses behaal, maar dit werk nie altyd so nie. Jy moet bereid wees om ook te misluk, sodat jy daardeur die volgende keer nader aan jou sukses kan kom. Alles gebeur nie noodwendig in 'n oogwink en net magies nie. Soos met visvang, kom daar ook dae wanneer jy niks gaan vang nie, maar dit beteken nie dat daar nie vis is nie, dit beteken dalk net dat dit nie NOU is nie.

6. Geduld:

Hierdie is een van die redes hoekom ek dink ek nie van visvang hou nie. Nadat jy nou alles gedoen het wat jy kan en die regte plek, aas en kennis het, gooi jy jou lyn in.
Nou is daar ook geen volmaakte waarborge nie, slegs die wete dat jy jou deel gedoen het. Nou kom die moeilike gedeelte, want ek het geen idée wanneer die visse gaan byt nie. Elke vis het sy eie tyd van eet, en al wat ek kan doen is om te wag.

Dit is nou daardie tyd wat jy uit die pad moet kom en vertrou. Dit is wanneer jy jou aandag vestig op die geselskap om jou. As jy nou kinders van 10 jaar oud ken, sal jy verstaan dat dit omtrent onmoontlik is om dit vir hulle te leer.
Maar, visvang werk so. Jy moet die God in jou lewe wat jy vir al hierdie dinge vra kans gee om Sy ding te doen op Sy tyd.

Toe ek en Robert gaan visvang het was wonderlik vir my en sy verhouding, want terwyl die lyn in die water was, was dit tyd om te praat oor ons verhouding. Moet dus ook nie so gefokus wees op jou dobbertjie en die einddoel, dat jy vergeet om die natuur om jou te geniet nie.

Wees oop vir die lewe terwyl jou lyn in die water is. Dit beteken nie dat jy nie geloof het nie.

Verstaan dat jy vandat jou lyn in die water is, verder geen beheer meer het oor wat verder gebeur in die proses nie. Dieselfde met die "Law of Attraction", as ek my begeerte met smeking en danksegging aan God bekend gemaak het, kan ek tog nie verwag dat dit onmiddelik MOET gebeur nie. Dit is wanneer ek moet vertrou op God dat as dit vandag is, fantasies, maar as dit eers volgende week is, dalk is dit dan wanneer ek die rekordvis uittrek.

Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment