Monday, May 20, 2013

Dans met die lewe

Verlede week kry ek per e-pos een van daardie oulike grappie-prentjies van 'n haarkrul tang. Onderaan die prentjie is 'n waarskuwing wat lees: "Vir eksterne gebruik alleenlik". Natuurlik gaan ons begin spot oor al die waarskuwings wat daar op produkte is, want dit word al hoe meer belaglik.

Verlede week hoor ek die storie van 'n vrou in Amerika wat 'n "camperhome" gehuur het. Sy het 'n reuse hofsaak gewen teen die vervaardigers na 'n ongeluk. Die rede is dat daar op die stuurwiel 'n knoppie is wat lees: "autocruise". Sy het die knoppie gedruk en toe het sy agtertoe gestap om te gaan tee maak. Vir hierdie rede het die motorvervaardigers wereldwyd die naam van "autocruise" na "speedocruise" verander.

My dogtertjie het van daai oulike swemvlerkies, en dit is oplettend hoeveel waarskuwings daar op geskryf is, dat daar amper nie plek is vir die prentjie van Barbie nie. Het ons so belaglik geword en in so 'n ingeligte tyd dat ek nie weet hoe om met produkte om te gaan nie? Het ons so bang geword vir die lewe, dat ons daagliks gewaarsku moet word oor alles in ons lewens? Een van die dae gaan babatjies gebore word met waarskuwingstekens op van wat alles met hulle kan fout gaan.

Dit is 'n sisteem van vrees wat geskep word. Die vervaardiger probeer homself beskerm teen hofsake, maar die vraag is of jy al die negatiewe dinge wat met 'n produk kan gebeur op die produk kan skryf? Daar gaan elke keer iemand wees wat, soos in die geval van 'n krultang, iets doen wat totaal onvoorspelbaar is. In ons as die verbruikers word daar ook vrees geskep, want ek kan dalk totaal en al so bang word vir die produk as ek al die waarskuwings lees. Dalk se die waarskuwings ons meer van menswees as wat ons dink.

Elke dag is gevul met geleenthede om besluite te neem. Dit begin by wat ons gaan aantrek, wat ons gaan eet, en natuurlik ook wat ons gaan doen. In elke besluit is daar natuurlik "positiewe" en dan ook "negatiewe". Vrydag spandeer ek tyd met iemand wat deur 'n moeilike tyd gaan en wat by 'n kruispad in haar lewe gekom het. Onwillekeurig begin die besluitneming by die agtergrond en wat gelei het daartoe dat iemand by 'n kruispad is.

Sy verstaan dat sy 'n keuse moet maak, maar dit word dan weer 'n lysie-maak oefening. Die gevaar van besluite is die onsekerheid en omdat ons nie in die toekoms kan sien nie. Vir die rede hou mense by hulle huidige lewe eerder, al is dit vreeslik onglukkig, want ons dink "better the devil you know than the devil you don't" Dit is volgens ons makliker om eerder in die bekende te leef, want al is dit hoe sleg, voel ons in beheer. Ons het ook so geleer om te "cope" met dinge, en mense "maak vrede". Dan wonder ons hoekom ons so ongelukkig is.

Indien ek op die swemvlerkies al die waarskuwings lees, gebeur dit soms dat ek eerder dan nooit in die swembad gaan klim nie. Ek sal nooit die lag van kinderstemmetjies hoor of heerlik lafenis geniet nie. Ons weet ook dat 99% van die waarskuwings en ons vrese oor die toekoms nooit gaan gebeur nie.

Jou lewe is soos 'n fantastiese produk wat gevul is met genot en liefde en opwinding van 'n swembad. God het ons geskep om die lewe te geniet, Hy het hierdie wereld met sy fantastiese speelpark gemaak vir jou om te geniet. Maar mense is so ingestel op die negatiewe waarskuwings, dat mense hulle lewens deurgaan en eintlik slegs asemhaal en funksioneer. Ons word so oorweldig deur die onsekerheid en die waarskuwings dat ek my lewe in 'n kas bere omdat ek so bang is vir die onsekerheid wat dit bring.

Produkte kom egter met waarborge, maar die lewe het nie sulke waarborge nie. Die meeste besluite neem ons slegs op 'n ingeligte wyse, maar niemand weet wat die toekoms gaan inhou nie. Ons weet nie hoe lank of hoe kort die lewe gaan wees nie. Ons weet nie of ons more die geleentheid gaan vind om die lewe van elke dag te geniet nie.

Wanneer gaan jou jy lewe uit die kas uithaal en dans met die mense om jou? Wanneer gaan jy besef dat die lewe 'n geskenk is wat geleef moet word? Wanneer gaan ons besef dat dit lekkerder is om te leef as om in ons ongeluk voort te leef? Wanneer gaan jy besef dat meeste besluite in jou lewe sal nooit geneem word as jy nie spring nie?

Hierdie naweek was vir my 'n sprankelende voorbeeld van hoe wonderlik en lekker die lewe is, wanneer dit gepaardgaan met spontaniteit. Hoe heerlik om te lag vir 3 dae aanmekaar en tyd te spandeer met goeie vriende? Hoe lekker is dit om saam met positiewe mense wat eerder redes soek om dinge te doen as om redes te soek hoekom hulle nie moet nie.

Die waarskuwings op produkte is vir ons belaglik, want ons glo dat ons "common sense" het om te weet dat ek die vlerkies moet opblaas en dat ek nie kinders alleen moet laat in 'n swembad nie. Maar dieselfde "common sense" het ons dan ook van God gekry om te besef dat die lewe gemaak is om te lag en te geniet. Met dieselfde verantwoordelikheid natuurlik, maar meer met die doelwit om dit te geniet.

Vervaardigers van produkte skryf wel waarskuwings daarop, maar wanneer hulle die produk adverteer vertel hulle ons van al die kenmerke en hoe dit ons lewens kan lekkerder maak. Sommige produkte is gemaak om die lewe prakties beter te maak en funksioneel te wees, maar dit kan soms so vervelig wees. Soms is dit daardie nie-essensiele produkte wat die lewe ekstra-ordiner maak.

Dalk is vandag die dag wat jy jou lewe uit die kas moet gaan haal, af te stof en voluit te gebruik, want dit is 'n geskenk uit die hand van God.

En ook weet ons dat al is daar nie waarborge in die toekoms nie, God elke stappie daarvan saam met ons gaan wees en ons sal bystaan in ons lewens.
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment