Monday, May 6, 2013

Ek wonder 1

Ok, nou glo jy in God en daarmee saam dat hierdie God jou sal lei op die pad van Sy wil. Verder glo jy ook tog dat God 'n rol te speel het in jou alledaagse lewe, want anders, wat sal die sin wees van glo.

Nou lees jy die Bybel en allerhande pragtige verse oor hoe God mense wat soos jy glo, gered het van vreeslike dinge. Omdat jy glo, dink jy tog dat hierdie verhale werklik is, en dat dit daar is om jou te wys hoekom jy in die God moet en kan glo.

Dan kyk jy na jou lewe waar dinge nie so lekker is nie, en dan leer jy ook dat jy moet bid en vra. Great, dit klink lekker en eenvoudig.

Dan gebeur dinge nie soos in die gebed gevra nie, en dan lees jy verder in die Bybel. Jy kom af op mense soos Job en die gebed van Jesus in Getsemane. Hulle kry nie wat hulle vra nie. Dan leer die slim ouens dat jy jouself aan God se wil moet onderwerp. Ok, punt gemaak. Maar dan begin jy wonder hoekom God se wil vir jou lewe so n mislukkinglewe is. En dan lees jy van sonde en dat jy dit moet bely. Ok, jy doen dit, want jy lees van klomp mense se lewens wat na belydenis kry wat hulle vra, en meer. Dan wonder jy, as God dan so almagtig is, hoekom sou Hy die sleg in die eerste plek toelaat en dat jy soos 'n wurm moet kruip vir vergiffenis?

Maar jy doen dit, want jy weet dat daar nie werklik ander opsies is nie. Jy leer ook dat jy moet dankbaar wees vir wat jy het, en nie altyd so gierig moet wees vir ander dinge nie.

Nou gaan dit nog nie beter nie, en jy spiraal in self twyfel. Jy begin dink dat dit jy en jou manier van glo is. As ek net beter kan glo, harder kan bid, minder sondig is, dan sal God my verhoor. Fantasties, jy verander alles in jou denke en bestaan, en niks gebeur nie. Jy kyk soos Dawid na hulle wat gladnie glo nie, wat dinge doen wat ongevraagd is, en jy sien hoe dit met hulle gaan, en jy wonder. Volgens jou speel jou eie krag en wil nie die enigste rol nie, maar in hulle lewens wel. Sonder God kom hulle baie ver.

Dan vra jy jouself, maar dis dalk net vir nou want die Ewige Lewe sal jy kry en hulle wat nie glo nie gaan verlore. Ok, so beteken dit dat ek elke dag maar net die pak slae moet vat want eendag, as ek sterf sal ek ewige geluk he.

Ok, nou se Paulus dat of ek lewe en of ek sterwe, ek het die Ewige Lewe nou. Ok, ek kry dit. Paulus vra God om die doring uit sy vlees te haal, en God se nee, Sy genade is genoeg. Wow, dis n wete van hoekom ek in U glo, maar geloof is tog nie net 'n pie in the sky nie. As ek dan elke dag in my aardse lewe dinge moet doen om my geloof te beoefen, is geloof en samesyn met God iets prakties. So, hoekom voel dit asof Hy nie hier is nie? Selfs al volg ek Hom elke dag, hoekom doen Hy dan niks nie?

Ek glo beslis nie net in God wanneer dinge skeef loop nie, maar ook wanneer dit goed gaan. My dankbaarheid is nie net sodat ek iets kan kry nie. My geloof is nie sodat my lewe beter moet wees nie, maar soms word ek moeg. Soms is ek nie meer lus vir 'n geloof waarin dit voel asof daar kat en muis met my gespeel word nie.

Ek wonder maar net, wanneer ek na waters van rus gelei gaan word en wanneer U dienaar niks gaan kortkom nie.

As hierdie 'n wederkerige daaglikse verhouding is, wanneer gaan ek ophou skuldig voel en al die blaam voel vir hoekom U nie daar is nie? As ons in 'n liefdevolle verhouding is, wanneer gaan ek voel dat U my bietjie spesiaal laat voel? Hoekom sal ek skuldig voel en alle blaam dra vir my lewe? Wanneer gaan ek ophou soos 'n bywoner in U teenwoordigheid voel, en maar net dankbaar moet wees vir die feit van geloof, wat soms voel asof dit nie vir my werk nie?

Wanneer gaan U ophou om met my in raaisels te praat oor my lewe en U wil daarvoor? U het tog my drome ook vir my gegee, hoekom nie die oplossing en uitleef daarvan nie?

Ek wonder maar net?

Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment