Sunday, May 29, 2011

Skille van die lewe

Ek wonder hoe die lewe sou wees as ons instaat was daartoe om dit soos 'n ui af te skil. As ons kon al die dinge wat "bygelowe" is en wat die kern verskans kan wegvat. Wat sal die kern van die lewe wees?

Bygelowe wat deur ons afkoms en opvoeding tot evangelie verhef is. Bygelowe wat soos swaar modder aan ons voete sit en ons stap in die lewe verhinder. Dinge en konvensies wat in baie gevalle eenvoudig nie regtig bestaan nie. Dinge wat ons as evangelie uitbassuin, soos commitment en liefde waar die 2 mense wat dit leef se definisie daarvan totaal verskil.

Dinge wat ons onsself wysmaak as waarheid, en wat ons vul met skuld en vrees. Skuld en vrees en konsekwensie gedrewe denke is wat ons wegvat van wie ons werklik is en om onsself te ontdek. Deur lief te wees en liefde uit te leef, nie soos wat ons wil lief wees nie, maar soos ander wil he ons vir hulle moet liefwees. In ruiltransaksies met almal te wees en op valentynsdag vir mekaar kaartjies te gee wat lees: "I have traded with you very nicely this year, but I am one ahead and you owe me". Ek gee nie, want ek kry nie, en ek kry nie want ek gee nie.

Soms doen ons dinge wat ons dink ons nie mag nie, en dit laat ons skuldig, dinge wat nie noodwendig "verkeerd" is nie, maar wat ons "glo-dink" verkeerd is. Ander mense doen dieselfde dinge en voel nie daaroor skuldig nie, inteendeel, dit gee aan hulle 'n purpose in die lewe en gee plesier in hulle menswees. En die konsekwensies – as jy eerlik is met jouself en eg aan jouself leef – dan hanteer jy alles wat die lewe na jou kant toe gooi met opgewondenheid. Eg aan jou eie menswees is die enigste roeping in die lewe.

Is dit nie die dinge wat opwinding en geluk in die lewe gee nie. Daardie oomblik van "malligheid" wat jou lewe vul met 'n skat wat jy met jou kan saamdra jou hele lewe lank. Dinge wat jy onthou selfs tot op jou sterfbed, omdat dit dalk die enigste ding is wat jy in jou lewe vir jouself gedoen het. Dit maak jou anders as hulle wat met 'n hunkering in hulle hart sterf. Mense wat terugkyk en se: "Plaas dat ek". Mens moet eerder spyt wees in die lewe oor wat jy gedoen het, as wat jy nie gedoen het nie.

Spontaniteit hanteer ons soos 'n vyand. Spontane mense is mense wat ek dink dalk die gelukkigste deur die lewe gaan. Mense wat nie so altyd aanhoudend net dink en analiseer nie, mense wat iets doen omdat hulle weet dit is hulle doelwit om dit te doen. 'n Spontane aanraking, 'n spontane koop van iets wat jy nie kan bekostig nie, 'n skelm kyk, 'n omhelsing of 'n vinnige soen. Onthou daardie eerste soen agter die skoolsaal by 'n prysuitdeling, sonder om daaraan te dink. Daardie skelm tjoklit wat jy met gulsigheid eet terwyl jy op 'n dieet is.

Daardie wonderlike gevoel dat dit op daardie oomblik in selfsugtigheid (ook 'n skil van bygeloof, want jy mag mos nie iets vir jouself doen nie), net oor jou gaan, net oor daardie oomblik. Weg van al die gemaal en gedink van historiese ervarings, vergeet van gister. Daardie ongelooflike oorgawe aan die oomblik sonder om enigsins te dink aan die konsekwensies van more. Die Bybel se mos ook, more sorg vir homself. Om in die oomblik te leef is bliss. Uiting te gee aan jou selfwees tot in die diepste deel van wie jy is, ongeag.

In sulke oomblikke leef jy. In sulke oomblikke definieer jy jouself, ontdek jy wie jy is, en maak die lewe 'n sin.

In daardie vlietende oomblik waarin jy alles agter laat, waar jy leef vir die oomblik, sonder om te dink en te vra. Dit is hoekom ons nie leef nie. In geen storie deur die eeue sou mense plekke en dinge ontdek het as hulle geweet het wat wag nie. As hulle presies geweet het waar hulle gaan uitkom nie, as hulle bang was nie. As jy alles beredeneer en alles ondersoek en eers waarborge in die lewe soek, wat is die sin van die lewe dan, waar is die genot van die lewe.

Konsekwensies – moordenaars het ook die tendens dat hulle terugkeer na hulle moordtoneel, en in dieselfde asem wil ons ook graag "bieg". Ons voel "skuldig" dat ek myself was, en leef in vrees dat mense gaan uitvind. Hoekom wil ons altyd "bieg". Stil in jou hart leef jy met fantasiee, dinge wat in jou kop maal wat jy nooit aan uiting gee nie, jou stille eie ruimte waar jy en jy alleen die rolspeler is. Dit deel ons nooit met die wereld om ons nie, maar as ek dit uitspeel, dan voel ons ons moet, want ons soek 'n skil om daaraan 'n definisie te gee.

Niks in die lewe vind buite jou plaas nie. Jy was en is en sal altyd Jy bly. Maar wie is jy nou regtig? Ek dink dat niemand ooit sal weet nie, geen mens dink ek deel ooit hulle werklike self (as hulle dit ooit ontdek) met die wereld nie. Almal leef 'n lewe in hulle koppe wat verskil van hulle lewens na buite. Ons kleef aan die skille van die uie om onsself, om die lewe "draaglik" te maak, so dink ons. Sodat mense nie moet praat nie, en 'n vinger nie na my gewys kan word nie.

Draaglik vir wie? Draaglik natuurlik vir die mense om ons. Ons gebruik die skille van die samelewing en van opvoeding om te doen wat ons "dink" ons moet doen. Sodoende eindig ons altyd op om dinge te doen en te wees wie ons nie is nie, maar wat ons dink ander mense wil he ons moet wees. Inteendeel, leef ons met die "skuld" en "skaamte" en "vrees" van wie ons werklik is. Omdat ons so bang is om onsself uit te leef, bou hierdie vrees die konfensies in ons lewens. Ons kapituleer aan dinge omdat dit ons "veilig" behoort te laat voel, terwyl dit hierdie "skuilings" teen vrees is wat my eintlik die grootste skade aandoen.

In verhoudings soek ons sekerheid in "commitment" en "huwelike". Meeste mense is en kan nie sekerheid uitleef sonder 'n ring aan die vinger of 'n kontrak nie. Al hierdie "sekerhede" in ons lewens is skille wat ons groei wat gebore is uit "onsekerheid". Ek wil nou weet wat aangaan, en ek gaan nie rus voor ek nie elke dag my commitment pilletjie uit jou hand ontvang het nie. Ek kan ook net funksioneer met JOU aan my sy, sonder jou kan ek nie, want ek is nie meer ek nie, ek is "ons". So ontwikkel die vrees om alleen te wees en gekonfronteer te word met wie ek werklik is en werklik wil doen.

Draaglik in my werk trek ek die skil aan wat van my verwag word. In my kinders beskil ek myself met die manier hoe ek grootgeword het en wat ek dink hoe 'n mens kinders moet grootmaak. Wat van hulle eie menswees? Beskil ek hulle nie ook maar weer met bygelowe en konvensies nie.

Terwyl jy die ware self wegsteek in die "on-egte" skille, word die self, die kern deurweek met die skille van buite. Naderhand is dit so diep weggesteek, dat die kern nie eers meer sigbaar kan word nie. Alles in die lewe is verweef, en dit vat fyn werk om te onderskei.

Baie mense vrees hierdie proses van self ontdekking, want wanneer jy 'n ui begin afskil, gaan dit met trane gepaard. Soms is dit so erg dat jy nie self eers kan uithou nie, en voel jy jy moet ophou. Moenie ophou nie, moenie stop nie, dit is altyd die moeite werd. Geen mens wat hulleself ontdek het en eg aan hulleself geleef het, was nog ooit spyt nie. Maar ons hou maar eerder vas aan die "onegtheid in ons lewe". Die probleem is dat almal my onegtheid ervaar en raaksien. Soms draai hulle 'n blinde oog en hou ook eerder vas aan onegtheid, omdat dit darem ook weer iets is wat hulle dink hulle nodig het.

Onegtheid - Eksponensieel neem die onegtheid van die wereld toe, en erens moet iemand halt roep aan die sneeubal.

En wanneer jy die ui afgeskil het, is daar 'n verdere belangrike les, en dit is dat jy jou hande moet was. Raak ontslae van die reuk op jou hande, want anders gaan die reuk op jou hande bly vir dae, en jou die hele tyd herinner. Verder is dit ook belangrik om te onthou dat 'n ui nie 'n pit het nie, en dat jy dus ook nie maar net alles in die lewe moet weggooi nie want dan sit jy met niks aan die einde van die dag nie.

Wat sou die lewe nie gewees het as ek myself kon wees, en kon doen en leef waarin ek glo nie, eerder as om te leef en te doen wat on-eg is, en te sterf met 'n ongelooflike hunkering in my hart, met 'n "quiet desperation" in my hart. 'n lewe waarin jy nooit geleef en gedoen het wat JY wou nie, maar 'n lewe wat deurdrenk is met bygelowe en konvensies wat lankal nie meer van toepassing is nie, en wat eerder jou ongeluk teweegbring as jou bliss.

Gaan skil, en leef in die oomblik!


Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment