Thursday, May 26, 2011

Beelde van God

In die Bybel is daar baie beelde van God, wat ons elke dag met ons saamdra:

Die OerGod wat deur oorvertellings van mense sonder abstrakte begrip was. Die reen kom van bo, die gras groei, die bokke word vet, ons vang die bokke en ons eet lekker.

Daar moet dus iets daar bo wees wat so sorg. Vandaar die beeld van God wat daar bo is, en ons wat afhanklik is van 'n besluit van hierdie God of ons reen kry of nie.

Onlosmaaklik deel van die beeld van God, is ons interaksie met die God. Wat sal ons nou doen dat die God vir ons reen gee?

Ons skep rituele en offerhande en liedere om so te sien of ons nie met die God kan ruil nie. Ek doen reg en God gee vir my reen.

Belangrike elemente van die beeld = Dat mense 'n bewyssyn van God het, onlosmaaklik deel van ons.

Ons noem in Teologie dat hierdie bewyssyn kom uit die algemene openbaring van die natuur rondom ons.

Die Skoolhoof Godsbeeld is waar die God vir mense Sy 10 gebooie gee. Dit is die reels, bly daarby en doen dit, en God sal vir jou 'n lang lewe gee. Dit is 'n godsbeeld waar ek oor my skouer loer en te bang is om iets verkeerd te doen en gestraf te word.

Belangrike element van die godsbeeld, is dat daar 'n wedersydse verhouding is tussen God en ons. Wedersydse verwagtinge van ek doen, en God gee vir my 'n beloning in dat niks slegs met my gaan gebeur nie.

Deur die Bybel lees ons ook van 'n Jaloerse God. 'n God wat wil sien en wil oortuig dat Hy beter en groter is as ander gode wat mense sou aanbid. In die beeld wil God ook nie he dat ek en jy hoogmoedig moet wees nie, nie moet dink dat ons God nie nodig het nie.

Dit is asof die beeld van God vir ons 'n menslikheid van God wys. Asof God ONS nodig het om God te wees en ons dit elke dag moet benadruk. Dit wil voorkom asof God 'n "ego" het wat gestreel moet word voordat ons kan kry wat ons wil he.

So vroeg soos in Dawid se tyd begin Dawid met die idees van God worstel. Die idee dat mense wat nie goed doen nie, dat God vir hulle ook sorg en hulle ook ryk maak en lang lewens gee. Maar tog die ommekeer in sy psalms om weer net blindelings te glo.

Twee dinge van die beeld wat belangrik is, ons mag wonder oor God en twyfel. Tweedens, my denke oor God hoef baie keer nie my geloof in God te beinvloed nie.
Dit wil ook voorkom asof daar so effens begin deurskemer dat ek Vrye Wil het.

In die Nuwe Testament kry ons te doen met die VaderGod. Hierdie is 'n God wat as Vader 'n deel van homself, sy Seun afbreek en as 'n offer vir ons kom gee, juis omdat ons nie die vermoe het om in die verhouding met Hom te voldoen aan Sy vereistes nie.

Nou verdien ons nie meer nie, God het nou eers Sy deel kom nakom, en nou moet ek in bekering en dankbaarheid dinge doen.

Wat hierdie beeld ongelooflik maak, is dat God, amper soos 'n battered wife, nie ophou met mense nie. 'n God wat eenvoudig nie gaan ophou met mense totdat ons in Hom, saam met Hom, deel van Hom, met Hom in ons gaan leef nie. Hy vee selfs in die etiek alles van die tafel af en gee vir ons 'n nuwe term wat ook alreeds vir 2000 jaar onverstaanbaar was, die term genade.

Jy sien, ons uitdaging is ons taal en die beperkinge daarvan. Woorde is gelaai met vooraf belaaide emosie. Genade het vir ons 'n "maar" in. Selfs Paulus het in sy gesprekke met mense dit agtergekom. "Moet ons nou meer sonde doen sodat die genade moet toeneem?" Wat moet ons nou doen, Paulus, nou dat ons nie meer iets hoef te doen of nie hoef te doen nie, kan dit waar wees?

Daar is natuurlik nog baie ander godsbeelde wat ons kan opnoem, en verskillende maniere hoe ons met God in verhouding is.

Wanneer ons nou leef en soek na 'n Nuwe Godsbeeld vir 'n Nuwe Tyd vir Nuwe mense, wat doen ons met hierdie godsbeelde wat ons so uit die bybel kry?

Ek dink die grootste gevaar is dat ons die baba met die badwater uitgooi.

Jy sien, behalwe genade, het iets anders ook gebeur wat mense misgekyk het.

Mattheus 16:13
Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: "Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?"
14 Hulle antwoord: "Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete."

15 "Maar julle," het Hy gevra, "wie, sê julle, is Ek?"

16 Simon Petrus het geantwoord: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."

Dit is belangrik omdat geloof nooit gegaan het oor die kollektiewe nie, maar eerder oor die individu.

Dit gaan nie oor wat ander mense van God dink nie, of die kerk, of die gemeente, of die wereld nie – dit gaan oor wat JY dink.

In die polemiek oor 'n eietydse idee oor God, gaan dit nie weer oor 'n dogma wat iemand wat slim is en grade het vir ons toedeel nie, maar wat JY vorm.

Soos jy groei en ontwikkel, so groei dit saam met jou, so groei God in jou, om jou en deur jou.

Natuurlik word ons idees gevorm deur die blootstelling aan idees, maar dit is jou besluit.

Genade gee vir ons 'n konsep van Nie-Oordeel nie. Dit beteken dat ons moet weet en verstaan dat net soos wat mense uit verskillende dinge bestaan, ek niks oor God en wat van God geleer is moet veroordeel nie.

God is 'n klomp dinge tegelyk, nie net 'n airy fairy, happy go lucky God nie, nie net 'n vriend nie, nie net 'n Vader nie, nie net 'n oordeel God nie, maar alles tegelyk.

Nie net die God wat ons in Renaissance preek nie, maar ook die God van die susterskerke, die God van die Taoisme, van Ghandi van almal.

Dit is in die collective conciousness van die wereld oor God waarin ons moet kan inprop om die volle krag en idees van God te vorm en te kry.

Maar wanneer ek oordeel, en uitsluit, dan ontneem ek van wat God alles is en kan wees en nog meer kan word in ons lewens.

En wanneer dit by etiek kom, van hoe ek moet leef – ja, dan is dit natuurlik ook my EIE besluit oor wat ek wil of gaan of voel ek moet doen, want, omdat daar nie oordeel is nie, is daar ook nie 'n reg en 'n verkeerd nie.

Conversations se: Daar is nie 'n reg of 'n verkeerd nie, maar eerder dinge wat vir jou goed is en dinge wat nie vir jou goed is nie.

Ek weet dit klink na 'n maklike antwoord en 'n maklike uitkoms, maar in werklikheid is dit nie. Dit is juis moeiliker vir ons om van ons oordelende self ontslae te raak en ons bloot te stel aan alles.

Kyk maar in ons lewens en verhoudings waar ons eenvoudig elke dag weeg en te lig bevind, eerder as om mense toe te laat om hulle wonderlike siele met ons te deel.

Ons breek eerder iemand se siel, sodat ons beter kan voel oor onsself, as om mense se siele op te bou sodat hulle gelukkig kan wees.

Ons soek eerder redes van hoekom om nie met mense saam te leef nie, as redes hoekom.
As ek verwag om aanvaar te word, moet ek leer om alles te aanvaar.

Om te dink dat ek reg is is een ding, maar om te dink dat ek die enigste een is wat reg is, dit is 'n probleem.

Dit is 'n reis, en nie 'n resies nie.
Daar is nie medaljes vir die wat die antwoord gaan kry nie, want ons het reeds al die idees en denke en antwoorde in ons.

Dit is soos 'n alkoholis wat moet erken dat hy 'n probleem het, net so moet ons in ons denke oor God, soms net eenvoudig soos Dawid dalk net glo, dalk net soos 'n kind glo.

"The truth is that there is nothing noble in being superior to somebody else. The only real nobility is in being superior to your former self." - Whitney Young

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

1 comment:

  1. Deon, ek is nie seker of ek jou reg verstaan nie. Stel jy voor dat ons die God van Taoisme en van Ghandi (en natuurlik al die ander) te akkommodeer sodat dit nie lyk asof ons mense veroordeel nie, ten spyte van dit wat aan ons geopenbaar is as die waarheid van die evangelie van Christus? As ek Jesus se leer aanvaar, word dit nie my eie leer nie maar bly dit syne. As ek dit nie as absolute waarheid aanvaar nie, hang ek maar net soos baie ander in die middel van nerens en weet nie regtig waarheen ek op pad is nie.
    Weereens: ek mag jou heeltemal verkeerd verstaan het.

    ReplyDelete