Thursday, May 26, 2011

Moenie die duiwel 'n vatkans gee nie

Ek onthou die verhaal van die man wat van Pretoria Kaap toe ry. Die middag voordat hy ry, het sy seuntjie die domkrag uit sy pa se motor gehaal om sy fiets te “diens”. Soos kinders nou maar is, vergeet hy om die domkrag terug te sit in die kattebak. Laat die nag, erens tussen niks en nerens, kry hy ‘n pap wiel. En, tot sy verbasing, is die domkrag nie in die kattebak nie.

In die verte sien hy ‘n liggie brand en besluit om daar ‘n domkrag te gaan leen. Soos hy stap begin hy dink aan die situasie. “Hoekom het ek nie gekyk voor ek gery het nie?”, “Ek is so simpel”, “Boere is baie gesteld op hulle besittings”, “Die boer gaan dink dat ek dom en onverantwoordelik is”, ens. Toe hy uiteindelik by al die kwaai honde verby is en die boer die deur oopmaak sê hy vir die boer: “Ek wil net vir jou sê: Hou jou domkrag!”

Is dit nie presies hoe ons optrede is nie? Maak nou nie saak hoe dit ontwikkel het nie, maar my denkpatrone het so ontwikkel dat ons gedagtes, en veral negatiewe gedagtes, toelaat om te sneeubal in ‘n groot issue. Die ou het homself so opgewerk, dat hy dalk nou nog sonder ‘n domkrag sit. Dat hy dalk sy vergadering in die kaap gemis het, maar meer nog, dat hy homself en sy gesondheid skade aangedoen het.

Ek sien dit by mense, hulle begin hulle dag sleg, en laat elke negatiewe idee toe om hulle lewens te oorheers. Ons gee die duiwel ‘n vatkans in ons lewens deur toe te laat dat dinge om ons ons so beinvloed dat ons gladnie in beheer is van wat om ons gebeur meer nie. Ek lees graag in die oggend my facebook, en kan sien dat mense wat kla, altyd kla. Mense wat weer met optimisme die dag aanpak, hulle dag draai mooi en goed uit.
Van die suksesvolste mense in die wereld het een ding wat hulle onderskei van die ander, en dit is optimisme. Optimisme te midde van omstandighede. Mense wat die vermoe het om hulle lewens anders te draai en die geloof te he om hulle staf op die water te slaan en die see te laat oopbreek voor hulle.

‘n Bestuurder vir wie ek gewerk het, het die mense wat vir hom werk met ‘n trop leeus vergelyk. Hy het altyd die uitspraak in die oggend gehad: “Either you eat, or you get eaten”. Ek kan die wereld om my elke dag beter maak en verander, maar as ek dit nie doen nie, gaan die wereld my beinvloed, en my opeet, net soos my stress en spanning.

Beteken dit nou dat daar nie slegte omstandighede oor jou pad gaan kom nie? Dit is so. Kom ons draai nie doekies om nie, vir mense wat met hierdie optimisme leef, met die positiewe energie wat hulle uitstraal, verander hulle omstandighede wat ander se einde sou beteken ook in ‘n positiewe. Dit begin by om te verkies om die dag en na dinge om jou op ‘n manier te dink, en dit uit te spreek. Kyk bietjie hierdie week wat voorle, staan elke oggend op en vertel vir al die mense om jou hoe fantasties hierdie dag gaan wees. (Laat weet my oor ‘n week hoe dit gegaan het met jou week).

Net deur dit al te besluit, voel jy klaar in beheer van jou lewe, en verander jy die wereld om jou.

‘n Verdere punt wat ek dink wonderlik is, is om vir hierdie week gladnie enige judgement toe te pas op die mense om jou nie. Geen informasie van of oor ander mense uit te spreek en te skinder nie. Die oomblik wat iemand jou aanraak, voor jou inry en irriteer, besluit net eenvoudig om niks daaraan te doen nie. Moet nie dat dit jou beinvloed nie.

Jakobus 4:17 se dat as ‘n mens weet dat iets verkeerd is (of nie vir jou goed is nie) en jy doen dit steeds, dan is dit sonde. Of iemand anders “verkeerd” is, dit het met jou niks uit te waai nie. Vir jou om jou speelgoed te gooi gaan geen verskil maak nie. In Wiskunde maak twee negatiewe dalk ‘n positief, maar ons leer uit die Bybel dat ‘n sagte woord die grimmigheid (woede) afkeer.

In ons gedagtes kan slegs een gedagte of emosie op een stadium die spasie okkupeer. Dit maak nou nie saak hoe groot of klein jou spasie is nie, vul dit met wat jy besluit om dit mee te vul. Moet ook nie vir ‘n oomblik dink dat dit moeilik is nie, dan gee jy weer in. Wie het gese dat dinge moet werk op die manier hoe ons dink dit werk, ons kan dit alles verander.

Ons weet almal dat dit wat jy glo waar word, geen wonder dat die dominees so baie vir ons se dat ons ons oggend met die Bybel en met gebed moet begin nie, want om te weet dat God in beheer is, plaas jou reeds op die regte pad van jou idees.

Moenie dit wat skadelik is vir jou vandag ‘n vastrapplek gee nie.

No comments:

Post a Comment