Thursday, May 26, 2011

Die Reis na binne

Ons leef in ‘n baie spirituele tyd. Ons sien dat mense wat jy dit nooit van verwag het nie (natuurlik ons opinie oor hulle ogv betrokkenheid) dat hulle begin om te lees en te dink oor hulle eie spiritualiteit.

Met spiritualiteit bedoel ek dat mense se fokus al meer na binne gekeer word, weg van dit wat hulle sien en aanraak, na die goddelikheid en na hulle siele. Ek praat hier nie van religie nie, maar meerendeels die vraag in almal se harte dat die sin van die lewe nie van “buite” kom nie, maar van binne. Die wete dat die goddelikheid in ons elkeen is om te ontdek en uit te leef.

So begin mense ook die “tradisionele” manier van dink en doen uitdaag. In die kerke fokus mense al meer en meer op “ervaring” as net op die kognitiewe.

Mense besef ook al meer dat dit gaan oor wat EK dink, en nie meer net oor wat ‘n dogma se nie. Vir baie van ons is dit ‘n groot bangmaak proses. Dit maak ons bevrees omdat ons soos ‘n kind ons rugsakkie pak en jou eie pad en plek gaan soek, sonder kaarte of werklike aanwysings.

Die Bybel stel dit ook duidelik dat ons met ons geloof sukkel omdat ons nie die vaste spyse al kan eet nie, maar op babakossies leef. Vergewe my die eenvoudige uitleg daarvan, maar vir my beteken dit dat ek mag, kan en moet groei. Nie alleen as ‘n kerklidmaat nie, maar in besonder as ‘n individu.

Ek dink dat die dogmas van kerke vergelyk kan word met ‘n afgespreekte huwelik. My lewe is en kan alleen blom as ek die vryheid het om te dink soos ek wil en self my verhouding en idees kan kies.

Die uitdaging gaan dus nie oor wat reeds daarbuite is nie, maar oor hoe ek dit kan sif om my eie lewe te bou tot dit waarmee ek tevrede is en gelukkig is. Dit beteken ook dat dit elke dag sal groei en moet verander.

Die Bybel maak melding dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die “bose” geeste in die lug. Die idee oor die bose is natuurlik ‘n ander dag se dink weg, maar dit beteken dat ons reis elke dag handel oor die spirituele, oor ons denke van die lewe in ons en deur ons.

No comments:

Post a Comment