Thursday, July 27, 2017

3 Dinge

In my observasie van mense, kom ek agter dat veral 3 dinge mense ongelukkig maak.

1. Elite-tisme. 

Dit is die idee dat jy verhewe is bo ander mense, en die Engelse praat ook van "entitlement".

Die laaste keer wat ons getrek het bespreek ons vanaf die Internet 'n vragmotor. Die aand voor die tyd skakel ek en die eienaar lig my in dat alles in plek is, hulle ry al 3 uur die oggend uit Carletonville uit. Dit was vir my vreemd want ons bly in Pretoria. Die eienaar lig my in dat hulle gaan waar die werk is. So kom die vragmotor 7.05 by ons huis aan met net 2 mans. 'n Migrasiewerker en 'n wit jong man klim uit en ek val vas met 2 vrae, die eerste is of die arbeid genoeg is en die teeede is hoekom 'n tru-rat BEE man die tipe werk doen. Ons is mos nie gewoond daaraan nie. Maar die dag het n permanente impak op my gehad.

Eerstens is ek gekonfronteer met my eie elite-tisme van kleur en ras. Verder het die outjie my verras. Eerstens gaan wys ek die hengse groot yskas en vertel hoe swaar hy is. Sy antwoord: "Meneer, daai is geen probleem nie!" Gewoonlik sou mens 'n mechanic se fluit verwag, maar nee, nie die keer nie.

Hy dra so waar as wraggies die huis op sy eie leeg, terwyl die ander man die trok pak, behalwe vir die yskas. Toe ons klaar gepak het en wou ry, sien ons die trok se wiel is pap. "Geen probleem nie meneer, ons maak hom in 5 minute reg" daar seil hy onder die trok in, en na 5 minute kan ons ry. Net toe vra hy my waar die bediende badkamer is. Ek sê toe, gaan daar binne. "Geen probleem meneer, ek gaan sommer by die buitekantste een".

By die nuwe huis is trappe en ek se vir hulle sterkte. "Daai is niks meneer", sê die outjie. In 'n japtrap dra hulle alles in die huis in.

Na so 'n ruk staan hy buite en trek aan 'n nippie Voyager sigaret, en ek vra hom uit. Hy vertel dat hy sy werk verloor het nadat hy sy rug gebreek het. Hy en sy vrou bly in 'n kamer waar hy weer moes leer loop. Daar is nie werk in Carletonville nie. Sy vrou werk vir die oom van die vragmotor. Hulle het 'n krisis gehad met arbeid, toe volunteer hy om te help. "Vanaand gaan ons lekker eet meneer", eindig hy die gesprek.

Op daardie oomblik wil my oë vol trane skiet. Hier staan ek en bekommer my blou oor soveel "elite" dinge, en ek loop met vrees, spanning en 'n lang lip rond. Die man dra alles met 'n glimlag, niks is 'n probleem nie. En ek kyk in respek en nederigheid op na 'n reus van 'n mens.

Ons is nie "entitled" tot enige iets in die lewe nie. Die mannetjie het vrede gemaak met wie en wat sy lot is en hy maak die beste daarvan. Hy is heel moontlik ook die tipe mens wat daardie aand by die Supermark ook nog vir die ou tannie agter hom in die ry plek voor hom sal gee. 

Hy het die heel dag met 'n glimlag op sy gesig geloop. Hy het nie opgetree asof dit 'n vernedering is nie. Hy het nie gekla of een oomblik sy gesig getrek nie. Hy het my geleer dat dankbaarheid vir wat jy het die belangrikste ding is, teenoor ons wat soms verval in depressie oor wat ons nie het nie.

So ry ons soms verby die mansions en die blink karre met jaloesie en weerwil. Ons leef sonder dankbaarheid vir "squeeky" wat soms 'n geluid maak op sy kragstuur, en ons vergeet sy bring ons ook uit waar ons moet wees. Ek is genoodsaak in my lewe om dit te leer.

Saam met die tevredenheid, kom ook dit dat ons ander se geluk en mooi dinge gun. Die jong man het na ons huis gekyk en die hele tyd gesê hoe gelukkig ons kan wees en hoe mooi dit is. Maar dit was opvallend dat hy nooit gesê het dat as sy skip inkom hy ook so 'n huis wil hê nie.

Wanneer ek in die nag wakker lê en stress, dink ek baie aan die outjie. Hy leef werklik in die oomblik en maak die beste van wie en waar hy is. Wat 'n inspirasie!

2. Fundamentalisme:

Ek het op 'n stadium 'n preek geskryf oor Paulus en Barnabas. Die tema was: "Rigied-buigbaar". Paulus en Barnabas was goeie vriende en saam op 'n sendingsreis. Toe kry Barnabas die nuus dat sy ma ernstig siek is, en hy deel Paulus mee dat hy na sy ma toe wil gaan. Paulus was hewig ontsteld en het Barnabas se geloof en roeping in twyfel getrek. Hulle is uitmekaar en so ook hulle vriendskap.

By punt by die preek was dat jy beide rigied kan wees in jou denke en doelwitte, maar op dieselfde tyd plek kan maak vir ander, hulle emosies en denke. Jy het nie nodig om dit te aanvaar as jou eie of jou van spoed af te bring agv verskille nie. Ek onthou dat ek hewige kritiek gekry het, want wie is ek om die Heilige Paulus aan te vat. 

Ek onthou die baklei-sessies toe ek grootgeword het oor die faksies van Groot doop en Kinderdoop, SAP en Nat en BMW en Merc. Vurige argumente wat soms families geskeur het, vir wat? Wat maak dit saak? Is dit die moeite werd, en wie bepaal wie op die ou einde reg of verkeerd is?

Ek het my idee oor Jona en die vis, dis al wat tel, of iemand anders nou dink dit is simbolies of dat hy werklik in die vis was, is volgens my irrelevant. 

Dit is iets wat fundamentaliste nie kan doen nie, hulle kan nie ander se standpunt hoor of sien nie, nie eers gepraat van glo nie. Verhoudings gaan nie oor praat en jou eie idees nie, maar luister en ander ruimte gee. Wat ek soms optel is dat fundamentaliste dink dat as hulle na ander luister hulle met die ander saamstem. 

Dit is nie waar nie, want jy kan steeds besluit om jou punt te handhaaf, niemand dwing jou nie. Wat dit wel doen, soos in die geval van Paulus en Barnabas, dit bou verhoudinge, en dit het n positiewe uitwerking opbeide partye.

Daar is niks fout daarmee om te dink jy is reg nie, die fout kom wanneer jy dink jy is die enigste een wat is.

3. Om Fanaties te wees:

Om die konsep te verduidelik is soms moeilik. Om "Fan" of ondersteuner te wees van jou gunsteling rugbyspan is nie fout nie. Dit gaan hier oor die konsep van "te". Die oumense het mos gesê: "alles wat 'n "te" is is verkeerd, behalwe "te-perd", "te-voet" en "te-maties" (nou nie daai ouens van Stellenbosch nie).

Hier gaan dit oor die "All consuming", soos 'n verslawing aan iets. My kinders is verslaaf aan hulle rekenaars en fone. Ons het nie Wi-Fi in die huis nie, en dit tel teen ons as ouers. As ons na 'n plek toe wil gaan of by mense gaan braai, is die vraag nie of daar maats is of wat ons gaan eet nie, maar of daar Wi-Fi is.

Ek is nie van die garde wat glo kinders moet net boom klim nie. Maar ek glo in balans.

So 'n jaar terug speel die Bokke teen Ierland en ons het nie DSTV nie. So nooi ek my ma en haar dekodeerder vir 'n braai. Ons koppel en bel en stel dat die rook uitkom. Naderhand is ons almal in mekaar se hare, want die volksliedere is al verby. So op 'n stadium roep ek 'n halt en ons gaan haal die radio. So ontstaan een van die lekkerste kuiers, ons gesels naderhand so lekker dat ons net so nou en dan die telling hoor.

So kom 'n mens agter dat jy mos net 'n paar goed in die lewe "moet" doen, slaap, eet, badkamer gebruik en liefde uitdeel. 

Soms moet jy jou ondersteuning van 'n ding op die agterplaat laat. Een van die dinge wat ek uit my pa se alkoholisme geleer het, was dat sy verslawing nie net sy persoonlik issue was nie. Dit het my en my ma 'n klomp dinge ontneem. Dis amper soos 'n selfmoord bomaanval waar onskuldige mense beseer word. 

Gaan kyk bietjie na die dinge waaroor jy fanaties is en vra jouself af of jou aanbidding en uitleef daarvan nie dalk die oorsaak is van jou probleme en hartseer nie.


Sent from my iPhone

Sunday, July 16, 2017

Die Familiefees

So wen ek vir myself 'n familiefees, ongedefinieerd daag ek op.  Kyk, ek ken mos nie die mense nie, net die name en stories.  Die plek waar dit is is nie ver buite Pretoria nie, maar dit is n dooie GPS kol, dalk het die Guptas daarmee iets uit te waai. Niemand se GPS'e kry die plek nie, en die fone se batterye is laag. Die een met die werkende foon het nie lugtyd nie, so ons tas in die donker. Op die website lyk dit na n fancy plek, met silwer onderborde en als. Ek dag toe dat hulle dalk eerder die geld moes spandeer op n bord langs die pad wat mens in die nag kan sien, maar nou ja, ons strompel toe toevallig op die bord af en vat die paadjie in. Ons word begroet met hartelike boereworsrol-liefde. Ek is op my beste, want ek is nie, nog nie familie nie, so ek gedra myself. Ek voel asof dit n 'screening' is, amper soos n werksonderhoud. 

Gelukkig is jy bietjie voorberei sodat jy weet wie by wie pas en hoe dinge inmekaar steek. Jy weet van die suksesvolles, die wat nice en oulik is, die swartskape en die kuiergatte. Dis nou as jy kan onthou wie wie is, maar ten minste is jy so effens beter af, want dis dan mos makliker om name te onthou. Maar jy is ook voorbereid om jou CV te kan deel, waar jy op skool was en waar jy vandaan kom. Jy moet ook, as jy n man is n kennis wys van sekere onderwerpe, Rugby veral, alhoewel niemand my uitgewerkte standpunt oor Rudi Paige gevra het nie. Gelukkig het ek geweet dat as die Crusaders verloor en Lions wen is die Lions bo aan die punteleer. Om dit te geweet het het baie punte getel. Jy moet ook van karre iets weet, torque en kilowats, help ook nogal, en natuurlik petrolverbruik. 

Vrouens praat oor kindrrs en leerprobleme en hoe lank en mooi hulle dogtertjies se hare is, en natuurlik huiswerk en bediendes. Lekker weet ons ook waar ons parte vir die skottelgoedwasser kan kry. Ek weet ook nou dat n Laundromat R28 per kilo vra vir was en stryk van wasgoed. Heel insiggewend dink ek.

Wanneer familie mekaar so n eerste keer in n lang ruk sien, is die eerste wat hulle probeer uitsorteer by wie se begrafnis of troue hulle mekaar laas gesien het. En die kinders word begroet met: "kyk hoe groot het jy geword". Die ongetiteldes by die begroeting word voorgestel, en vertel waar die persoon inpas: "dis nou tannie sus en oom so se kleinste dogter, haar sussie is die een daar ander kant met die bolla". 

Baie cliche's doen die rondte, en algemene kommentaar is: "ons sien mekaar net op begrafnisse, ons moet tog bietjie kuier en braai". Ek dink ons probeer net om nice te wees, die braai gaan nooit plaasvind nie, sal maar reel by die volgende begrafnis.

Almal het in die familie hulle "favourite" oom of tannie of oogappel kindertjie. Die moeilikheidmakers as kind is nou die streng ouers want hulle sê hulle ken elke truuk in die boek. Orals sien jy soen en druk en vashou, en jy hoor oral gelag. So nou en dan kom 'n kind met 'n eina, maar hulle speel so lekker en kom vra nie vir die Wi-Fi password nie.

Ons kinders praat van KykNet as die "oumens-kanaal", so as jy met oumense praat moet jy so bietjie weet wat in Binnelanders aangaan, veral die tannies. Die ooms praat van Frik en Mannetjies Roux en wie van hulle saam met hulle gespeel het, op klubvlak. Dit klink toe vir my die storie is waar wat hulle sê: "Hoe ouer 'n mens word, hoe vinniger was jy". Die tannies sit natuurlik om die tafel en is bly die kuberkinders speel buite op die springkasteel, en vertel van die niggie wat uit die boom geval het en haar arm gebreek het. Die ooms ruil nommers uit van daardie slaghuis waar mens nog skaaptjoppies kan koop sonder finansiering.

Mense wat van ver af gekom het word ondervra oor wanneer hulle gekom het, gery of gevlieg het en wanneer hulle teruggaan. Hulle moet hulleself Fica en rapporteer waar hulle tuisgaan en hoekom, en hoeveel hulle betaal by die gastehuis, amper soos n doeane-beampte mens sal vra.  

Die jong manne maak seker almal is bevogtig, en spog oor die KWV special. Daar is altyd 4 groepe op so n fees, die bierdrinkers, wyndrinkers, whiskey drinkers en daai ander paar ooms wat net skoon Coke mag drink, veral voor die familie.

Dan gaan ons binnekant toe, want Afrikaners moet mos eet, en ja, ons bid selfs voor die kinders. Dan die ordereelings oor watter tafel eerste mag kry. Ek weet nooit hoekom ons dit sê nie, want niemand steur hulle ooit daaraan nie. Die ooms is honger, maar sedert die army-dae grom hulle vir 'n kosry. Hoe weet jy daarvan? Want hulle sê vir jou. Gelukkig rook sekeres en gaan rook die ry mis. Sjoe maar die skaap was lekker, en ek wonder hoekom ons nie slaai voorsit wat slegs Feta-kaas is nie. As jy nie by tafel 1 of 2 is nie, kry jy slegs groen slaai. Die ooms hou van 'n sousie, en vra vir Tobasco. Afrikaners hou van eet, en die tannies ruil so eet-eet resepte uit van ouma se aartappelgereg.

En toe kom die opskop-tyd met lewendige vermaak. Pieter speel vir almal, van die kleintjies en Haas Das, tot by die ooms wat sonder kieries opspring vir 'n Jim Reeves liedjie. Die tannies "oe" en "a" as 'n Steve liedjie gespeel word en slaan hulle handpalms om hulle neuse. Ritme is 'n Afrika-ding, maar nie normaal 'n Afrikaner ding nie. Maar ons is mos nie op "dancing with the stars nie" so almal dans. Die een oom sê hy en die tannie het by Arthur Murray lesse gehad, maar sedert die Tannie plastiek heupe het dans hulle maar min.

Een ding van dans is mens doen dit op n vloer en nie op n verhoog nie, so dis vir jou om te geniet en nie vir die crowd nie. Die een oom geniet hom gate uit en riel dat die stof staan selfs op Rave musiek. Die los-dansers maak n kring en elkeen kry n kans om hulle persoonlike 1 move te gooi. Daar is altyd 1 of 2 wat nie wil nie, maar word vorentoe gestoot. Die vas-dansers sien ook dat daar nie werklik plek is vir "twirl" nie en word maar los-dansers, en die kring maak vir hulle plek. 

So stadig begin mense moeg raak, want hulle moet nog vêr ry. Hulle groet almal en sê weer dat hulle 'n braai moet reël. Ons maak kinders en coolers bymekaar en maak seker ons groet almal. Die kinders grom, want hulle speel op hulle lekkerste net voor mens wil ry. Ons groet die Amerikaners, en ons nefie wil eerder hier by sy Afrikaanse nefies bly. Ja, so 'n fees laat mens besef dat om Afrikaners te wees beslis die wonderlikste ervaring is.

Ons kan gesels, kuier, eet, grappies maak, uit ons harte uit met liefde. Selfs ek as 'n "plus 1" het so tuis gevoel. Ek is 'n Afrikaner en trots daarop, want ons is omgee-mense met liefde waarvan ons oorloop vir mekaar.

Dankie dat ek kon deel wees, hopelik braai ons binnekort.

Thursday, June 15, 2017

Moet op prinse nie vertrou nie

Ons leef in Suid-Afrika, en deesdae lyk die leierskap van ons land maar redelik beroerd. Al meer en meer kom ons op 'n punt waar hierdie vers van toepassing is. Maar die hele mensdom is nog van alle tye af vasgevang in die idee van om aan te haak by ander wat suksesvol is en status het. Ons gebruik baie die spreekwoord: "Success breeds Success" en "Vergader om suksesvolle mense en dan word jy ook suksesvol". Dit is die realiteit waarin ons altyd leef.

Wanneer ons 'n bekende persoon in die openbaar sien, dan neem ons graag foto's saam met hulle of vra vir hulle handtekening. Ons kyk op na sukses, en ons voel dan ook besonders as ons in hulle teenwoordigheid is. Ons voel hulle vibrasie en dit vloei ook na ons are toe.

Ek dink dan onomwonde aan 'n vriend van my oom, 'n Hollander, wat op besoek aan Suid-Afrika was 'n klompie jare gelede. Toe ons daardie Desember in Holland is, nooi hy ons en 'n paar ander mense vir ete. Na die ete vertel hy dat hy 'n verrassing vir ons het, hy het 'n "dokumenter" gemaak van 'n "onderhoud" wat hy met 'n huiswerker gemaak het, terwyl sy wag vir die bus. My eerste reaksie was nie so positief nie, want van al die dinge in Suid-Afrika is hierdie die hoogtepunt van sy besoek? Hy praat met haar oor haar ervarings en haar lewe, en my hart gaan oop vir wie sy werklik is. Sy staan 3 uur in die oggend op, neem 'n taxi, dan 'n bus en dan nog 'n taxi. Sy werk van 8 tot 5, verdien R2000 per maand, net om weer dieselfde trippie terug te doen en eers 9 uur die aand by die huis te kom. Dan breek die glimlag op haar gesig wanneer sy begin praat oor haar kinders en hoe trots sy op hulle is. Sy sien hulle omtrent nooit nie, maar sy offer tog op om vir hulle geleenthede te skep.

Wanneer ons na onsself en ons drome en ideale kyk, maak ons soms die groot fout om ons met ander te vergelyk. My droom is om te skryf, en ek leef daarvoor, maar wanneer ek na die groot geeste van ons tyd kyk, my "kompetisie", dan voel ek soms minderwaardig. Dit voel asof ek nie goed genoeg skryf om in hulle liga te speel nie. En dan soms, word ons mismoedig en gee ons op, want ons voel nie goed genoeg nie.

Wanneer ek egter die Bybel oopslaan, word ek verstom aan die mense wat ek van lees. Ek lees van Moses wat skaam was om voor mense te praat, Job wat eintlik homself baie jammer gekry het, Dawid wat bang was vir Goliat, Gideon wat getwyfel het, Simson wat verknog was aan Delilah en so gaan die verhale aan. Dit is insiggewend hoe God nie altyd die kies wat reeds suksesvol was nie, maar die wat in nederigheid gewone mense was, maar die regte hart openbaar het. Vat dan ook Jesus en hoe Hy vissermanne kies, by tollenaars gaan eet en prostitute se voete was. Dwarsdeur die Bybel word ons vergewis dat God gewone "krom stokke" gebruik om reguit houe te slaan.

Miskien voel jy in hierdie dag magteloos, onbeholpe en minderwaardig aan die wat om jou is. Dalk voel jy asof jy nie krag het om te doen wat jy moet doen nie. Dit is normaal om so te voel partykeer, maar nie omdat jy minderwaardig voel aan die mense om jou nie, die sogenaamde suksesvolle mense nie. Sien jouself soos God jou sien, bruikbaar in wie jy is en wat jy die wereld om jou kan bied, en dat God te midde van al die dinge wat jy kan opnoem hoekom jy nie dinge kan aanpak nie, tog met jou 'n reguit hou kan slaan. Solank jou hart opreg en oop is, is jy bruikbaar en kan jy mense se lewens verander.

Jy kan dit nou doen, vandag, moenie wag vir wanneer jy 'n prins is of 'n posisie beklee nie. Vir daardie huiswerker op die bankie, doen sy wat sy kan doen en binne haar beheer om die wereld 'n beter plek te maak. Sukses word nie gemeet in toekennings nie, maar in die mens en wat jy vir ander kan beteken!

Monday, May 8, 2017

Opgee, Ingee en Oorgee!

Die Oosterse filosofieë en godsdienste het as n basis die idee om saam met die vloei van die lewe te gaan. Dit is ook in die Christelike geloof die Idee dat God in beheer is en dat ek en jy net moet glo en God moet vertrou. 

Mense stoei met hierdie idee, want ons verstaan tog dat ons besluite maak en aksies kan neem in ons lewens. Ons sê so graag dat ons die argitek van ons eie lewens is, en dat ons besluite die lewe vir ons skep of verwoes. As dinge nie reg loop nie, dan is dit n 'les'. Wanneer dinge uitwerk is dit genade. Mense strompel daagliks oor die gedagtes heen.

Vanoggend lees ek weer so 'n storie op Facebook, dat ons net moet los en vergeet en ons probleme voor God se voete moet los. Miskien is ons probleem dat ons dit nie doen nie, of dat ons geloof kleiner as n mosterdsaadjie is en dit die rede is hoekom ons nie berge versit nie.

Ek is in my wese gelowig, ek is nogal iemand wat so blindelings kan glo. Die mense om my ruk my baie kere terug na die realiteit en sê dat ek in 'n droomwêreld leef. Dit mag dalk waar wees as jy my lewe analiseer en oordeel ogv westerse materialistiese norme. Die teendeel is egter waar, ek voel nooit dat daar 'mislukking' oor my lewe geskryf staan nie.

Natuurlik staan ons soms in n doodloopstraat wat ons laat voel om op te gee en in te gee. Natuurlik is die lewe nie elke dag maanskyn en rose nie. Soms is dit so donker dat jy nie weet waar die volgende tree gaan land nie. Dit is die lewe, punt. Nie almal word genees van kanker nie en nie almal se dorings word verwyder nie.

Ek dink dat geloof in God nie daaroor gaan dat God dinge moet verander nie, dit is eerder dat God kan. Die onderskeid is belangrik, want wanneer ek God druk glo ek nie meer in n God wat almagtig is nie, maar in my beterweterigheid en selfsug. Ek glo eerder in 'n God wat n groter plan het met my lewe, en as n deur hier toegaan beteken dit dalk dat die tyd nie reg is nie, of dat dit n verkeerde deur is of dat God n ander deur vir my sal laat oopgaan.  Geloof beteken dat dit God se besluit is, nie myne nie. 

Beteken dit nou dat jy opgee en ingee, nee natuurlik nie. Dit het te doen met oorgee aan 'n God wat net die beste vir my soek. Maar wat is my plek in dit? Dit is die groot vraag. Ek lees so n ruk terug in die Joodse literatuur oor die 'Law of Attraction' en hoe mens dit uit die Joodse konsep moet sien. Die Rabbi redeneer dat alles vir God moontlik is, maar jy die voertuig is waarmee God dinge in die wêreld doen. Dit gaan dan meer oor die samewerking in die verhouding met God.

Soos in 'n aflos, soms gee jy die stokkie oor aan God en soms is dit jou been en kans. Dat God die hele resies vir jou kan hardloop is daar geen twyfel oor nie, God vertel ons mos dat as ons swak is Hy sterk sal wees vir ons part. So oorhandig jou probleme en drome aan Hom, met plesier. God vertel ons van sy genade vir ons, as n erkenning dat Hy weet ons eintlik gestremd is en nie alleen kan wen nie, so God sal jou kruk wees om aan vas te hou. 

So as jy vandag voel jy wil opgee, nee, die resies is nog nie klaar nie, dalk is dit goed om oor te gee aan God, en jou kragte op te bou. Dalk is dit juis n goeie tyd om God te vertrou om vir jou 'n volgende deur en been van jou lewe te wys. 

God kan alles, maar wees jy ook reg en wees jy ook die 'vessel' wat reg is om te ontvang en saam met God jou lewe te bou!


Sent from my iPhone

Tuesday, May 2, 2017

Bou 'n Boot

Niemand wil van die vloer af eet nie, nie net die bloubulle nie.

Ek staan weer vandag by een van daardie dae wat soos n doodloopstraat voel. Ek was al daar vele kere. Ek het al soveel keer gesien hoe mense se oë dood lyk, myne lyk vir my so as ek vandag in die spieel kyk. En so kyk ek in die spieel en dit is geensins soos n venster nie. Dit weerkaats net wat agter is. 

Wanneer jou ogies so dood lyk kyk jy outomaties terug op jou keuses en aksies of tekort daaraan wat jou hier gebring het. Jy kasty jouself en hoeveel grimering jy opsit, dis net sideshows. Jy dink aan waar jy is en hoe en wie saam verantwoordelik was vir die dood. Jy analiseer en kritiseer, dan probeer jy iets nuuts maar dit lei ook tot niks.

Dan erens in jou soeke sien jy jou Bybel op die bedkassie. Maar in jou arrogansie maak jy hom nie oop nie, want jy weet tog beter. Jy het mos deel geword of geraak van hulle wat arrogant teenoor die Bybel dink. Jy slaan hom met ongeloof oop, want jy wil nie fundamentalisties wees nie. Jy vergeet dat die God wat daarin van vertel word nie in letters en woorde vasgevang kan word nie. Wat vertel word is dalk effens wasig geskryf deur mense net so hinkepink soos ek en jy. Hulle wat ook met breek en seer te doen gehad het, wat ook maar net sulke dae soos vandag beleef het.

Hulle was ook bang en bevrees, hulle het ook gevra na die sin van hulle lewens. Hulle het ook gesoek na die goddelikheid in hulle en buite hulle. Hulle het ook van God verlate gevoel en hulle eie hel ervaar. Hulle is gekritiseer en uitgelag oor die bou van n boot op droee grond. 

Hulle het ook uitgeroep na God en Sy genade, en soms gevra hoekom hulle dit nie kry nie. Hulle is ook gestroop van als en gedink dat God hulle straf en dat God se hand vol toorn is. Hulle het altare gebou en offers gebring en soms geseën en soms nie. 

Hulle het ook soms gewonder of God daar is en of God nie dalk in ander denke te vinde is nie. Hulle het ook gesien hoe die arbeid van ander met prag en praal beloon word, selfs sonder geloof. Hulle het die glimlag gesien op gesigte van hulle wat buite die lyne hulle lewens verf. 

Hulle is ook deur ander uitgelag en gekritiseer oor hulle blindelingse geloof in God. Hulle het hulle geloof ook uitgedaag en God gesmeek. Soms het God uitkoms gegee en soms nie. Hulle was ook daar waar alles nie klopdisselboom geloop het nie, waar God siekte nie genees het nie. Hulle was soos ons, dalk net met minder tegnologie en arrogansie.

Hulle was ook desperaat, alleen en stukkend. Maar om een of andere rede het hulle nie gevalle gebly nie. Desperaatheid het nie die oorhand gekry nie, want erens het hulle besef dat jy eerder wil vashou aan n God wat nie alles vir die gee wat nie op die 'naughty list' is nie. Erens besef hulle dat genade genoeg is en dat die son weer môre gaan skyn.

In hulle soeke in die spiëel kyk hulle terug na die tye wat God sonder verdienste daar was en hulle uit slawerny bevry het. Hulle herinner hulleself aan 'n God wat kan, maar nie hoef nie. Hulle dink terug aan die God waaroor die woorde en verhale van die Bybel handel, fundamenteel of in beginsel. Hulle kyk verby die name wat in die verhale is en glo in die Een wat daar is, was en altyd sal wees. 

Hulle besef dan dat God nie net daar is wanneeer die lig aan is nie, maar ook in donker. Hulle wonder ook in hulleself in hulle swakhede en dink hulle kan nie n stem wees nie. Soos ons dink hulle dat sonder status en sukses hulle nie kan praat nie. Hulle het ook getwyfel in hulle roeping, want voor n Goliat is jy nie 100% dapper nie. Jy staan met krygers om jou gevul met twyfel in angs en bewing, en jy stry alleen. 

Hulle is ook uitgelag deur die vyand en afgemaak as vergeetlik, klein en onkapabel. In die spiëel sien hulle hulle tekortkominge, maar erens sien hulle iets raak. God is nie net die God van helde soos superheroes nie, Hy is daar vir almal. Die verhale in die Bybel boor deur woorde en letters om n prentjie te skets van krom stokke wat deur geloof reguit houe slaan. 

Erens kyk hulle terug in die spiëel en sien wat hulle wel het en ontvang het. In dankbaarheid val hulle ook skaam voor n God neer wat soveel reeds vir ons gee en doen. Dan besef hulle dat alhoewel jy geen niks anderkant die spiëel sien nie, jy in God bly glo wat wel anderkant kan sien. 

Wanneer jy vandag voel jy wil opgee, hou aan God vas, nie oor wat jy gaan ontvang nie, maar in die bou van die boot sonder die sien van die wolke. 


Sent from my iPhone

Monday, April 3, 2017

Kindertjies en hulle "sideshows"

Kindertjies is wonderlike skepseltjies, en ons kan baie by hulle ook leer. Die klein mensies in ons huis het verlede week selfone gekry, en hulle is ooglopend met elektronika-breine gebore. Hulle weet amper instinktief wat om waar te doen en te stel, agtergrond prentjies en klanke en natuurlik wagwoorde word onmiddelik gedoen. Net daarna MOET mens hulle na 'n Wi-Fi plek toe vat om speletjies te gaan aflaai op hulle fone. Dan begin die bakleiery oor die data en om vir hulle te verduidelik dat "as dit op is, is dit op". Makliker gese as gedaan, al gebruik jy die voorbeeld van 'n glas water as metafoor van die data en elke slukkie wat dit minder maak, dink ek die gesprek is 'n verlore stryd.

Ek sukkel self om te bepaal hoe om werklik data te kan bepaal, want dit lyk my daar is net 2 pole, uncapped of niks, want myne is altyd klaar. Ek dink dat as Salomo vandag geleef het, Spreuke 30:18-19 so sou gelyk het (my veranderinge in hakies): "Daar is drie (vier) dinge, nee, vier (vyf) wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe 'n aasvoël in die lug bly, hoe 'n slang teen 'n rots op seil, hoe 'n skip op die diepsee vaar, hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk (en hoe diensverskaffers bepaal hoeveel data ek gebruik)". So, om dit selfs vir kinders te probeer verduidelik, as jy self nie weet nie, is amper onmoontlik.

Die Bybel vertel ons dat ons soos kinders moet glo, en vir lank het mense gedink dat dit beteken "blindelings", want hierdie generasie kinders van ons glo werklik ook mos nie eintlik wat ons vir hulle vertel nie. Jy kan hulle niks vertel nie, en hoe hard jy ookal probeer om te benadruk dat die toestel eintlik gemaak is om mee te bel, vir hulle is dit en sal dit eenvoudig 'n speletjies-konsole wees met die toevallige applikasie wat kan bel.

Dit kom vir my voor dat vir kindertjies, die "sideshows" van die foon belangriker is as die foon self en die werklike belangriker dinge wat die rede tot die foon is. Agtergrond-prentjies, muurpapiere en wagwoorde en die hoeveelheid speletjies afgelaai (of hulle dit nou werklik speel of nie) is belangriker as enige iets anders. Maar dalk moet ons leer by die kindertjies, en leer uit ons optrede rondom hierdie sideshows.

As grootmense dink ons altyd dat ons die antwoorde het, en die antwoord rondom die foon is gewoonlik om soos 'n ou tannie met 'n nat baaikostuum te kerm. Ons is so besig om almal te probeer opvoed en die kindertjies daarvan bewus te maak dat hulle op die kern en belangriker dinge van die foon moet fokus, soos dat dit eintlik 'n instrument is waarmee 'n mens moet bel. Werklik? En wanneer hulle so besig is om te speel, die hele tyd hulle te kritiseer oor die manier waarop hulle hulle fone gebruik, dat ons dalk die lekker van hulle ontneem.

Ons generasie is vinnig om te verwys na ons tyd en van boomklim en buite speel, dat ons vergeet dat die vorige geslag ook ons na ons boeke vir studie, lees en klavier oefen moes terugroep huistoe. Gewoonlik was dit ook op daardie moment wat jy en jou maats die lekkerste speel. Ek verstaan dat daar verantwoordelikhede in die lewe is, maar kindertjies leer ons dat daar ander dinge ook is, behalwe net verantwoordelikheid. Net soos ons graag vir hulle balans wil leer, is hulle dalk die groot leermeesters vir ons, wat vir ons wys hoe jy ook na die ander kant toe balans kan leer, om bietjie meer te speel, meer te lag, meer te geniet van die lewe.

As volwassenes leef ons in 'n wereld van spanning, stress, verantwoordelikhede, Zuma en Gupta's. Ons neem deel aan groot gesprekke en die erns van elke dag, soveel so dat ons ons gebruik en beleef van die wereld eensydig net rig op die ernstige dinge. Jy hou jou minute en lugtyd en data vir die ernstige dinge van die dag, en nie vir 'n lekker gesels met 'n ou vriend of vriendin nie. Jy spaar jou data vir ingeval jy iets belangriks op e-pos moet doen, en nie om 'n lagwekkende video op YouTube te gaan loer nie.

Die genot wat ek op kindertjies se gesiggies sien wanneer hulle speels met hulle fone besig is, maak my soms jaloers, want ek wil ook lag, ontspan en geniet. So dalk is die les vir ons kerm-mense, gaan speel meer, lag meer, ontspan meer en dalk, net dalk is die speletjies wat jy speel wat jou gelukkig gaan maak. Gaan soek in jou dag na 'n mooi agtergrond-prentjie wat jou visie van vandag kan verander, of gaan laai jou dag met 'n opgekikkerde liedjie wat jou voete laat jeuk om te dans met die lewe.

Tuesday, March 14, 2017

Mag jy vir God kwaad word?

'n Klompie jare gelede sit ek een middag langs die swembad by die Wildekus, en langs my op een van die stoele kom sit 'n oom en ons begin gesels. Hy vra my uit oor wat ek doen, en ek se toe dat ek 'n dominee is. Hy vra my toe 'n baie interresante vraag, hy vra my toe om 'n mens vir God kan of mag kwaad word? Dit vang my effens onverwags, en ek vra toe vir hom om my so 'n bietjie insig te gee oor die agtergrond van sy vraag. Hy vertel my dat sy vrou so 'n paar weke voor ons ontmoeting oorlede is aan kanker. Hy vertel ook van sy diepgewortelde geloof in God en dat hy en almal om hom so hard vir sy vrou se herstel gebid het, en God het nie sy gebede verhoor nie. Dit is hoekom hy wil weet of ons vir God mag kwaad wees, want eintlik is hy, want hoekom het God sy sielsgenoot van hom weggeneem?


Van die begin van tyd vra mense hoekom God toelaat dat slegte dinge met Sy kinders gebeur, en goeie dinge met mense wat nie in Hom glo nie. Ek dink, dat met enige ding in godsdiens, is die antwoorde nie altyd so eenvoudig nie. Die antwoord wat ek op die oom se vraag toe gee is, ek dink mens mag vir God kwaad wees, maar mens moet die konteks ook sien, want jou begrip en denke oor wie en wat God is is van kardinale belang.


Hierdie naweek het ek weer 'n ervaring gehad van iemand wat volgens my baie fundamentalisties in hulle geloof is. Die persoon bid en glo voorwaar dat iets met hulle gaan gebeur, want hulle het daarvoor gevra en God se mos in die Bybel dat ons net moet vra dan kry ons dit. Maar wat gebeur as God dit nie vir ons gee nie, nie ons gebede verhoor nie? Binne hierdie raamwerk, en soos met die oom ook, lei dit tot allerhande gevoelens en emosies oor God, en baie kere ook tot die verval van 'n geloof. Ek is jammer dat ek nou hier fundamentaliste tipeer, maar ek dink julle sal verstaan wat ek bedoel.


As dominee het ek elke keer aan die einde van die Belydenisklas-sessie, vir die kinders gevra waarvoor ek moet bid. Dan was dit altyd een of ander toets wat die week voorle. Dan het ek altyd gevra of, as ek daarvoor bid, wat ek moet vra? Moet ek bid dat die toets maklik moet wees, of dat dit soos die spreekwoordelike beker by hulle moet verbygaan, of moet ek bid dat hulle energie en lus sal ontwikkel om lekker hard vir die toets te leer? Julle kan dink wat gewoonlik die opdrag was, en dit was dat die toets eenvoudig nie moet plaasvind nie. Ek het altyd gelag, en dan maar gebid dat hulle krag en lus sal kry om hard te leer, wat natuurlik nie dit is wat die kinders voor wou bid nie.


Hierdie voorbeeld leer ons baie van gebed en ons verhouding met God. Ek glo met alles in my dat God die skepper en onderhouer van alles is, en dat alles vir Hom moontlik is. My lewe alleen is vol wonderwerke, so ek het nie eers nodig om te verwys na voorbeelde uit die Bybel nie. Maar soms kry ek die idee dat mense net vir die wonderwerke bid, die uitkoms wat op 'n wonderbaarlike wyse opgelos moet word, iemand moet gesond word en nie sterf nie. Natuurlik is dit moontlik vir God, en daar is voorbeelde waar Jesus mense uit die dood opgewek het, of laat loop het. Niemand kan met God se almag stry nie, wel nie met my nie. Dit is dan, wanneer die wonderwerk nie plaasvind nie, dat ons soos die oom wat sy vrou verloor het, soms ons geloof in twyfel trek, of soos die oom gevra het, vir God kwaad te kan wees.


Ons vergeet soms dat die Onse Vader ons met 'n wonderlike einde toerus rondom wat gebed is, en in welke gesindheid jy moet bid, en dit is "laat U wil geskied". Ek dink dit is die oplossing van die raaisel, want vir my is my hele lewe in God se hande, en ek is in 'n afhanklike verhouding met God. Ek bid elkgeval op 'n manier wat vir my werk, en dit is na 'n preek een oggend van Ds. Sors Geldenhuys. Hy het gese dat gebed eintlik is soos om op 'n bankie in die park met God te praat, oor alles, jou drome, jou ideale, jou hartseer, jou krisis of sommer net oor enige ding wat in jou lewe is. Dit is nie nodig vir hoogdrawende woorde of uitsprake nie.


Ek is so dankbaar vir daardie beeld van God in my, want dit het baie vrae en dinge in my lewe vir my uitgeklaar. Dit het die beeld in my kop geskep, waar, omdat God my Vriend is, ek my lewe met Hom deel, elke deel daarvan. Ek kan vir Hom vertel hoe ek bang is, dat ek graag wil he dat die situasie weg moet gaan, dat ek graag krag en geloof verlang om deur dit te kom, en dat ek leiding nodig het rondom 'n oplossing ens. Nou nie dat ek dink ek so spesiaal is nie, maar dit help my om die konteks in ag te neem in my gebed, en eintlik op die ou einde dit alles in God se hand te los, wat Hy ookal besluit. Ek dink as dit jou ingesteldheid is, dan maak dit gebed iets meer as net 'n angsroep van desperaatheid. Dit ontneem gladnie die geloofskomponent in God nie, inteendeel, dit is vir my 'n beter opsie vir my, want dit is juis onderdanigheid aan die Almagtige God, teenoor 'n voorskriftelike en hoogmoedige voorskrywende houding van my af van wat ek wil he moet gebeur.


God is almagtig en kan alles doen, daaroor is daar nie twyfel nie, maar vir my is geloof in God nie om alles te kry wat ek soek of verlang nie, maar om alles te kry en te verlang wat God vir my wil gee. Omstandighede gebeur nie met jou as 'n toets van jou geloof nie, en in dieselfde opsig mag jy nie situasie gebruik of misbruik om God se Almag en Liefde te toets nie. Natuurlik vra ek ook vir die wonderwerke, en ek het baie in my lewe gekry, maar baie kere het die beker van seer en verlies nie by my verbygegaan nie. Die toets van my geloof is om my hele lewe met God te deel, elke gedagte, elke idee en elke situasie, selfs die wat niemand ooit van sal weet nie, maar God doen wel.


Die antwoord op die vraag van of jy vir God kan kwaad wees, hang af van jou beeld van God. As jy iets van God vra, en Hy dit nie vir jou gee nie, is jy nie besig met Godsdiens nie, maar met 'n sirkus-opvoering waar God Homself aan jou moet bewys om deur hoepels te spring. En ook, om werklik eerlik te wees, is daar niks wat jy kan doen, geen hoepels wat jy deur kan spring sodat God vir jou alles gee wat jy vra nie. God is 'n God van genade, deernis en liefde. Dit is wat geloof is, die erkenning van jou afhanklikheid van God en jou nederige onderdanigheid aan Sy Goddelikheid en Almag!