Thursday, July 27, 2017

3 Dinge

In my observasie van mense, kom ek agter dat veral 3 dinge mense ongelukkig maak.

1. Elite-tisme. 

Dit is die idee dat jy verhewe is bo ander mense, en die Engelse praat ook van "entitlement".

Die laaste keer wat ons getrek het bespreek ons vanaf die Internet 'n vragmotor. Die aand voor die tyd skakel ek en die eienaar lig my in dat alles in plek is, hulle ry al 3 uur die oggend uit Carletonville uit. Dit was vir my vreemd want ons bly in Pretoria. Die eienaar lig my in dat hulle gaan waar die werk is. So kom die vragmotor 7.05 by ons huis aan met net 2 mans. 'n Migrasiewerker en 'n wit jong man klim uit en ek val vas met 2 vrae, die eerste is of die arbeid genoeg is en die teeede is hoekom 'n tru-rat BEE man die tipe werk doen. Ons is mos nie gewoond daaraan nie. Maar die dag het n permanente impak op my gehad.

Eerstens is ek gekonfronteer met my eie elite-tisme van kleur en ras. Verder het die outjie my verras. Eerstens gaan wys ek die hengse groot yskas en vertel hoe swaar hy is. Sy antwoord: "Meneer, daai is geen probleem nie!" Gewoonlik sou mens 'n mechanic se fluit verwag, maar nee, nie die keer nie.

Hy dra so waar as wraggies die huis op sy eie leeg, terwyl die ander man die trok pak, behalwe vir die yskas. Toe ons klaar gepak het en wou ry, sien ons die trok se wiel is pap. "Geen probleem nie meneer, ons maak hom in 5 minute reg" daar seil hy onder die trok in, en na 5 minute kan ons ry. Net toe vra hy my waar die bediende badkamer is. Ek sê toe, gaan daar binne. "Geen probleem meneer, ek gaan sommer by die buitekantste een".

By die nuwe huis is trappe en ek se vir hulle sterkte. "Daai is niks meneer", sê die outjie. In 'n japtrap dra hulle alles in die huis in.

Na so 'n ruk staan hy buite en trek aan 'n nippie Voyager sigaret, en ek vra hom uit. Hy vertel dat hy sy werk verloor het nadat hy sy rug gebreek het. Hy en sy vrou bly in 'n kamer waar hy weer moes leer loop. Daar is nie werk in Carletonville nie. Sy vrou werk vir die oom van die vragmotor. Hulle het 'n krisis gehad met arbeid, toe volunteer hy om te help. "Vanaand gaan ons lekker eet meneer", eindig hy die gesprek.

Op daardie oomblik wil my oë vol trane skiet. Hier staan ek en bekommer my blou oor soveel "elite" dinge, en ek loop met vrees, spanning en 'n lang lip rond. Die man dra alles met 'n glimlag, niks is 'n probleem nie. En ek kyk in respek en nederigheid op na 'n reus van 'n mens.

Ons is nie "entitled" tot enige iets in die lewe nie. Die mannetjie het vrede gemaak met wie en wat sy lot is en hy maak die beste daarvan. Hy is heel moontlik ook die tipe mens wat daardie aand by die Supermark ook nog vir die ou tannie agter hom in die ry plek voor hom sal gee. 

Hy het die heel dag met 'n glimlag op sy gesig geloop. Hy het nie opgetree asof dit 'n vernedering is nie. Hy het nie gekla of een oomblik sy gesig getrek nie. Hy het my geleer dat dankbaarheid vir wat jy het die belangrikste ding is, teenoor ons wat soms verval in depressie oor wat ons nie het nie.

So ry ons soms verby die mansions en die blink karre met jaloesie en weerwil. Ons leef sonder dankbaarheid vir "squeeky" wat soms 'n geluid maak op sy kragstuur, en ons vergeet sy bring ons ook uit waar ons moet wees. Ek is genoodsaak in my lewe om dit te leer.

Saam met die tevredenheid, kom ook dit dat ons ander se geluk en mooi dinge gun. Die jong man het na ons huis gekyk en die hele tyd gesê hoe gelukkig ons kan wees en hoe mooi dit is. Maar dit was opvallend dat hy nooit gesê het dat as sy skip inkom hy ook so 'n huis wil hê nie.

Wanneer ek in die nag wakker lê en stress, dink ek baie aan die outjie. Hy leef werklik in die oomblik en maak die beste van wie en waar hy is. Wat 'n inspirasie!

2. Fundamentalisme:

Ek het op 'n stadium 'n preek geskryf oor Paulus en Barnabas. Die tema was: "Rigied-buigbaar". Paulus en Barnabas was goeie vriende en saam op 'n sendingsreis. Toe kry Barnabas die nuus dat sy ma ernstig siek is, en hy deel Paulus mee dat hy na sy ma toe wil gaan. Paulus was hewig ontsteld en het Barnabas se geloof en roeping in twyfel getrek. Hulle is uitmekaar en so ook hulle vriendskap.

By punt by die preek was dat jy beide rigied kan wees in jou denke en doelwitte, maar op dieselfde tyd plek kan maak vir ander, hulle emosies en denke. Jy het nie nodig om dit te aanvaar as jou eie of jou van spoed af te bring agv verskille nie. Ek onthou dat ek hewige kritiek gekry het, want wie is ek om die Heilige Paulus aan te vat. 

Ek onthou die baklei-sessies toe ek grootgeword het oor die faksies van Groot doop en Kinderdoop, SAP en Nat en BMW en Merc. Vurige argumente wat soms families geskeur het, vir wat? Wat maak dit saak? Is dit die moeite werd, en wie bepaal wie op die ou einde reg of verkeerd is?

Ek het my idee oor Jona en die vis, dis al wat tel, of iemand anders nou dink dit is simbolies of dat hy werklik in die vis was, is volgens my irrelevant. 

Dit is iets wat fundamentaliste nie kan doen nie, hulle kan nie ander se standpunt hoor of sien nie, nie eers gepraat van glo nie. Verhoudings gaan nie oor praat en jou eie idees nie, maar luister en ander ruimte gee. Wat ek soms optel is dat fundamentaliste dink dat as hulle na ander luister hulle met die ander saamstem. 

Dit is nie waar nie, want jy kan steeds besluit om jou punt te handhaaf, niemand dwing jou nie. Wat dit wel doen, soos in die geval van Paulus en Barnabas, dit bou verhoudinge, en dit het n positiewe uitwerking opbeide partye.

Daar is niks fout daarmee om te dink jy is reg nie, die fout kom wanneer jy dink jy is die enigste een wat is.

3. Om Fanaties te wees:

Om die konsep te verduidelik is soms moeilik. Om "Fan" of ondersteuner te wees van jou gunsteling rugbyspan is nie fout nie. Dit gaan hier oor die konsep van "te". Die oumense het mos gesê: "alles wat 'n "te" is is verkeerd, behalwe "te-perd", "te-voet" en "te-maties" (nou nie daai ouens van Stellenbosch nie).

Hier gaan dit oor die "All consuming", soos 'n verslawing aan iets. My kinders is verslaaf aan hulle rekenaars en fone. Ons het nie Wi-Fi in die huis nie, en dit tel teen ons as ouers. As ons na 'n plek toe wil gaan of by mense gaan braai, is die vraag nie of daar maats is of wat ons gaan eet nie, maar of daar Wi-Fi is.

Ek is nie van die garde wat glo kinders moet net boom klim nie. Maar ek glo in balans.

So 'n jaar terug speel die Bokke teen Ierland en ons het nie DSTV nie. So nooi ek my ma en haar dekodeerder vir 'n braai. Ons koppel en bel en stel dat die rook uitkom. Naderhand is ons almal in mekaar se hare, want die volksliedere is al verby. So op 'n stadium roep ek 'n halt en ons gaan haal die radio. So ontstaan een van die lekkerste kuiers, ons gesels naderhand so lekker dat ons net so nou en dan die telling hoor.

So kom 'n mens agter dat jy mos net 'n paar goed in die lewe "moet" doen, slaap, eet, badkamer gebruik en liefde uitdeel. 

Soms moet jy jou ondersteuning van 'n ding op die agterplaat laat. Een van die dinge wat ek uit my pa se alkoholisme geleer het, was dat sy verslawing nie net sy persoonlik issue was nie. Dit het my en my ma 'n klomp dinge ontneem. Dis amper soos 'n selfmoord bomaanval waar onskuldige mense beseer word. 

Gaan kyk bietjie na die dinge waaroor jy fanaties is en vra jouself af of jou aanbidding en uitleef daarvan nie dalk die oorsaak is van jou probleme en hartseer nie.


Sent from my iPhone

No comments:

Post a Comment