Monday, April 3, 2017

Kindertjies en hulle "sideshows"

Kindertjies is wonderlike skepseltjies, en ons kan baie by hulle ook leer. Die klein mensies in ons huis het verlede week selfone gekry, en hulle is ooglopend met elektronika-breine gebore. Hulle weet amper instinktief wat om waar te doen en te stel, agtergrond prentjies en klanke en natuurlik wagwoorde word onmiddelik gedoen. Net daarna MOET mens hulle na 'n Wi-Fi plek toe vat om speletjies te gaan aflaai op hulle fone. Dan begin die bakleiery oor die data en om vir hulle te verduidelik dat "as dit op is, is dit op". Makliker gese as gedaan, al gebruik jy die voorbeeld van 'n glas water as metafoor van die data en elke slukkie wat dit minder maak, dink ek die gesprek is 'n verlore stryd.

Ek sukkel self om te bepaal hoe om werklik data te kan bepaal, want dit lyk my daar is net 2 pole, uncapped of niks, want myne is altyd klaar. Ek dink dat as Salomo vandag geleef het, Spreuke 30:18-19 so sou gelyk het (my veranderinge in hakies): "Daar is drie (vier) dinge, nee, vier (vyf) wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe 'n aasvoƫl in die lug bly, hoe 'n slang teen 'n rots op seil, hoe 'n skip op die diepsee vaar, hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk (en hoe diensverskaffers bepaal hoeveel data ek gebruik)". So, om dit selfs vir kinders te probeer verduidelik, as jy self nie weet nie, is amper onmoontlik.

Die Bybel vertel ons dat ons soos kinders moet glo, en vir lank het mense gedink dat dit beteken "blindelings", want hierdie generasie kinders van ons glo werklik ook mos nie eintlik wat ons vir hulle vertel nie. Jy kan hulle niks vertel nie, en hoe hard jy ookal probeer om te benadruk dat die toestel eintlik gemaak is om mee te bel, vir hulle is dit en sal dit eenvoudig 'n speletjies-konsole wees met die toevallige applikasie wat kan bel.

Dit kom vir my voor dat vir kindertjies, die "sideshows" van die foon belangriker is as die foon self en die werklike belangriker dinge wat die rede tot die foon is. Agtergrond-prentjies, muurpapiere en wagwoorde en die hoeveelheid speletjies afgelaai (of hulle dit nou werklik speel of nie) is belangriker as enige iets anders. Maar dalk moet ons leer by die kindertjies, en leer uit ons optrede rondom hierdie sideshows.

As grootmense dink ons altyd dat ons die antwoorde het, en die antwoord rondom die foon is gewoonlik om soos 'n ou tannie met 'n nat baaikostuum te kerm. Ons is so besig om almal te probeer opvoed en die kindertjies daarvan bewus te maak dat hulle op die kern en belangriker dinge van die foon moet fokus, soos dat dit eintlik 'n instrument is waarmee 'n mens moet bel. Werklik? En wanneer hulle so besig is om te speel, die hele tyd hulle te kritiseer oor die manier waarop hulle hulle fone gebruik, dat ons dalk die lekker van hulle ontneem.

Ons generasie is vinnig om te verwys na ons tyd en van boomklim en buite speel, dat ons vergeet dat die vorige geslag ook ons na ons boeke vir studie, lees en klavier oefen moes terugroep huistoe. Gewoonlik was dit ook op daardie moment wat jy en jou maats die lekkerste speel. Ek verstaan dat daar verantwoordelikhede in die lewe is, maar kindertjies leer ons dat daar ander dinge ook is, behalwe net verantwoordelikheid. Net soos ons graag vir hulle balans wil leer, is hulle dalk die groot leermeesters vir ons, wat vir ons wys hoe jy ook na die ander kant toe balans kan leer, om bietjie meer te speel, meer te lag, meer te geniet van die lewe.

As volwassenes leef ons in 'n wereld van spanning, stress, verantwoordelikhede, Zuma en Gupta's. Ons neem deel aan groot gesprekke en die erns van elke dag, soveel so dat ons ons gebruik en beleef van die wereld eensydig net rig op die ernstige dinge. Jy hou jou minute en lugtyd en data vir die ernstige dinge van die dag, en nie vir 'n lekker gesels met 'n ou vriend of vriendin nie. Jy spaar jou data vir ingeval jy iets belangriks op e-pos moet doen, en nie om 'n lagwekkende video op YouTube te gaan loer nie.

Die genot wat ek op kindertjies se gesiggies sien wanneer hulle speels met hulle fone besig is, maak my soms jaloers, want ek wil ook lag, ontspan en geniet. So dalk is die les vir ons kerm-mense, gaan speel meer, lag meer, ontspan meer en dalk, net dalk is die speletjies wat jy speel wat jou gelukkig gaan maak. Gaan soek in jou dag na 'n mooi agtergrond-prentjie wat jou visie van vandag kan verander, of gaan laai jou dag met 'n opgekikkerde liedjie wat jou voete laat jeuk om te dans met die lewe.

No comments:

Post a Comment