Sunday, July 16, 2017

Die Familiefees

So wen ek vir myself 'n familiefees, ongedefinieerd daag ek op.  Kyk, ek ken mos nie die mense nie, net die name en stories.  Die plek waar dit is is nie ver buite Pretoria nie, maar dit is n dooie GPS kol, dalk het die Guptas daarmee iets uit te waai. Niemand se GPS'e kry die plek nie, en die fone se batterye is laag. Die een met die werkende foon het nie lugtyd nie, so ons tas in die donker. Op die website lyk dit na n fancy plek, met silwer onderborde en als. Ek dag toe dat hulle dalk eerder die geld moes spandeer op n bord langs die pad wat mens in die nag kan sien, maar nou ja, ons strompel toe toevallig op die bord af en vat die paadjie in. Ons word begroet met hartelike boereworsrol-liefde. Ek is op my beste, want ek is nie, nog nie familie nie, so ek gedra myself. Ek voel asof dit n 'screening' is, amper soos n werksonderhoud. 

Gelukkig is jy bietjie voorberei sodat jy weet wie by wie pas en hoe dinge inmekaar steek. Jy weet van die suksesvolles, die wat nice en oulik is, die swartskape en die kuiergatte. Dis nou as jy kan onthou wie wie is, maar ten minste is jy so effens beter af, want dis dan mos makliker om name te onthou. Maar jy is ook voorbereid om jou CV te kan deel, waar jy op skool was en waar jy vandaan kom. Jy moet ook, as jy n man is n kennis wys van sekere onderwerpe, Rugby veral, alhoewel niemand my uitgewerkte standpunt oor Rudi Paige gevra het nie. Gelukkig het ek geweet dat as die Crusaders verloor en Lions wen is die Lions bo aan die punteleer. Om dit te geweet het het baie punte getel. Jy moet ook van karre iets weet, torque en kilowats, help ook nogal, en natuurlik petrolverbruik. 

Vrouens praat oor kindrrs en leerprobleme en hoe lank en mooi hulle dogtertjies se hare is, en natuurlik huiswerk en bediendes. Lekker weet ons ook waar ons parte vir die skottelgoedwasser kan kry. Ek weet ook nou dat n Laundromat R28 per kilo vra vir was en stryk van wasgoed. Heel insiggewend dink ek.

Wanneer familie mekaar so n eerste keer in n lang ruk sien, is die eerste wat hulle probeer uitsorteer by wie se begrafnis of troue hulle mekaar laas gesien het. En die kinders word begroet met: "kyk hoe groot het jy geword". Die ongetiteldes by die begroeting word voorgestel, en vertel waar die persoon inpas: "dis nou tannie sus en oom so se kleinste dogter, haar sussie is die een daar ander kant met die bolla". 

Baie cliche's doen die rondte, en algemene kommentaar is: "ons sien mekaar net op begrafnisse, ons moet tog bietjie kuier en braai". Ek dink ons probeer net om nice te wees, die braai gaan nooit plaasvind nie, sal maar reel by die volgende begrafnis.

Almal het in die familie hulle "favourite" oom of tannie of oogappel kindertjie. Die moeilikheidmakers as kind is nou die streng ouers want hulle sê hulle ken elke truuk in die boek. Orals sien jy soen en druk en vashou, en jy hoor oral gelag. So nou en dan kom 'n kind met 'n eina, maar hulle speel so lekker en kom vra nie vir die Wi-Fi password nie.

Ons kinders praat van KykNet as die "oumens-kanaal", so as jy met oumense praat moet jy so bietjie weet wat in Binnelanders aangaan, veral die tannies. Die ooms praat van Frik en Mannetjies Roux en wie van hulle saam met hulle gespeel het, op klubvlak. Dit klink toe vir my die storie is waar wat hulle sê: "Hoe ouer 'n mens word, hoe vinniger was jy". Die tannies sit natuurlik om die tafel en is bly die kuberkinders speel buite op die springkasteel, en vertel van die niggie wat uit die boom geval het en haar arm gebreek het. Die ooms ruil nommers uit van daardie slaghuis waar mens nog skaaptjoppies kan koop sonder finansiering.

Mense wat van ver af gekom het word ondervra oor wanneer hulle gekom het, gery of gevlieg het en wanneer hulle teruggaan. Hulle moet hulleself Fica en rapporteer waar hulle tuisgaan en hoekom, en hoeveel hulle betaal by die gastehuis, amper soos n doeane-beampte mens sal vra.  

Die jong manne maak seker almal is bevogtig, en spog oor die KWV special. Daar is altyd 4 groepe op so n fees, die bierdrinkers, wyndrinkers, whiskey drinkers en daai ander paar ooms wat net skoon Coke mag drink, veral voor die familie.

Dan gaan ons binnekant toe, want Afrikaners moet mos eet, en ja, ons bid selfs voor die kinders. Dan die ordereelings oor watter tafel eerste mag kry. Ek weet nooit hoekom ons dit sê nie, want niemand steur hulle ooit daaraan nie. Die ooms is honger, maar sedert die army-dae grom hulle vir 'n kosry. Hoe weet jy daarvan? Want hulle sê vir jou. Gelukkig rook sekeres en gaan rook die ry mis. Sjoe maar die skaap was lekker, en ek wonder hoekom ons nie slaai voorsit wat slegs Feta-kaas is nie. As jy nie by tafel 1 of 2 is nie, kry jy slegs groen slaai. Die ooms hou van 'n sousie, en vra vir Tobasco. Afrikaners hou van eet, en die tannies ruil so eet-eet resepte uit van ouma se aartappelgereg.

En toe kom die opskop-tyd met lewendige vermaak. Pieter speel vir almal, van die kleintjies en Haas Das, tot by die ooms wat sonder kieries opspring vir 'n Jim Reeves liedjie. Die tannies "oe" en "a" as 'n Steve liedjie gespeel word en slaan hulle handpalms om hulle neuse. Ritme is 'n Afrika-ding, maar nie normaal 'n Afrikaner ding nie. Maar ons is mos nie op "dancing with the stars nie" so almal dans. Die een oom sê hy en die tannie het by Arthur Murray lesse gehad, maar sedert die Tannie plastiek heupe het dans hulle maar min.

Een ding van dans is mens doen dit op n vloer en nie op n verhoog nie, so dis vir jou om te geniet en nie vir die crowd nie. Die een oom geniet hom gate uit en riel dat die stof staan selfs op Rave musiek. Die los-dansers maak n kring en elkeen kry n kans om hulle persoonlike 1 move te gooi. Daar is altyd 1 of 2 wat nie wil nie, maar word vorentoe gestoot. Die vas-dansers sien ook dat daar nie werklik plek is vir "twirl" nie en word maar los-dansers, en die kring maak vir hulle plek. 

So stadig begin mense moeg raak, want hulle moet nog vêr ry. Hulle groet almal en sê weer dat hulle 'n braai moet reël. Ons maak kinders en coolers bymekaar en maak seker ons groet almal. Die kinders grom, want hulle speel op hulle lekkerste net voor mens wil ry. Ons groet die Amerikaners, en ons nefie wil eerder hier by sy Afrikaanse nefies bly. Ja, so 'n fees laat mens besef dat om Afrikaners te wees beslis die wonderlikste ervaring is.

Ons kan gesels, kuier, eet, grappies maak, uit ons harte uit met liefde. Selfs ek as 'n "plus 1" het so tuis gevoel. Ek is 'n Afrikaner en trots daarop, want ons is omgee-mense met liefde waarvan ons oorloop vir mekaar.

Dankie dat ek kon deel wees, hopelik braai ons binnekort.

No comments:

Post a Comment