Monday, August 7, 2017

Hondelewe

Ek het al vele kere die storie vertel van my ouma en haar nuwe kar. Sy het in 'n woonstel gebly waar haar venster op die afdak uitgekyk het waar haar motor gestaan het. Sy was so bevrees dat die motor gesteel gaan word dat sy elke uur opgestaan het om te kyk of hy nog daar is. En, so 5.00, toe sy weer gaan kyk was hy weg. Die dag het my lewe totaal verander in my uitkyk oor die lewe. 

Ek is nie bly dat haar kar gesteel is nie, maar ek is dankbaar vir die les oor vrees. Ek lees baie oor die law of attraction en oor positiewe vibrasies wat positiewe dinge na jou toe aantrek. Ek is nie heeltemal seker hoe dit presies in die praktyk werk nie, want mens het tog verstand ook. 

My verstand redeneer dat my ouma dalk nie alleen verantwoordelik was vir die diefstal nie, dalk sou dit steeds gebeur het sonder haar vrees en afkyk op die kar. Maar een ding is seker, daar is iets daar buite wat met krag belaai is en wat tog dinge na ons aantrek of afstoot.

Die Bybel leer ons dat wat jy vrees oor jou kom en ook dat die stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die geestelike in die lug. Wat dit ons leer, sonder om teologies te raak, is dat daar kragte en dinge aan die werk is wat ons nie kan sien of definieer nie. Ons weet egter wel dat dit daar is, alhoewel nie tasbaar nie. Dit is vergelykbaar met Wi-Fi, jy sien dit nie, maar weet dit is of daar of nie.

Ek kom uit 'n familie waar ek elke dag gekonfronteer word met vrese en negatiwiteit, of soos hulle dit noem "realiteit". Ek vind my soms in stryd met hulle, want hulle verwys na my realiteit as bewyse dat positiwiteit nie werk nie. Om positief te wees en dinge aan te pak en in sukses te glo kan tog nie verkeerd wees nie. Dit is ook nie n kop-in-gat drukkery en vermyding van die realiteit nie. Dit is eerder 'n ingesteldheid waarmee jy "te midde van" omstandighede dryf het teenoor 'n "as gevolg van" optrede. Die laasgenoemde maak van jou 'n slaaf wat soos 'n dier net op stimuli reageer in oorgawe aan jou lot. Die eersgenoemde help jou om kragtevol te leef en jou pad oop te veg. Jy kies om te reageer op 'n manier en op stimuli, maar jy is nie die slaaf daarvan nie. Jou are pop vol positiewe middele en jy gaan vorentoe. 

Natuurlik is dit werk en natuurlik is dit swaar, maar die uitbalanseer van enige negatiwiteit is beter as om in sak en as te bly leef. En ja, soms is drome en positiwiteit amper soos 'n leuen wat jy jouself vertel. Dalk is dit meer van 'n onrealisme as 'n leuen. Maar vrees is ook 'n leuen, 'n giftige idee van iets wat ook nog nie en dalk nooit gaan plaasvind nie. Maar die twee honde van negatiwiteit en positiwiteit baklei in almal, dit hang net af welke een jy die meeste kos gee wat die sterkste gaan uitkom.

Die positiewe en negatiewe mens het beide dieselfde droom, dat die beker van realiteit by hulle moet verbygaan. Die pad wat hulle kies na die reenboog verskil net. Die pad van die bevreesde negatiewe is donker, grou en vol lewensgevaarlike predatore. Die positiewe pad is gevul met blomme en vrugte en vlinders. Die reuk is van Jasmyn terwyl die negatiewe pad na verbrande roet ruik en die roet kleef aan jou voete en klere vas. 

Die feit dat jy weet dat jy 'n keuse het is die sleutel. Vanoggend toe ek opstaan toe kyk ek die berg wat geklim moet word in die oog. Hy lyk styl met gletsers en spelonke wat wag, maar hy moet geklim word. Eers sien ek op, maar toe besef ek klim mort hy geklim word, so ek kan dit netsowel met 'n oop gemoed en positiwiteit doen. En dit is die eerste treetjie, en van daar begin ek net een voet voor die ander sit. Ek maak myself se goeters bymekaar in 'n stort, hare kam, aantrek en laptop inpak. Ek praat met almal whatsapp en vat die uitdaging vierkantig in die oog. Ek kyk af maar tel my kop op. Ek vat my foon en skryf hierdie om vir die magte daar buite te sê ek is reg om te klim. En ja, ek is bang, maar in geloof kies ek om anders te klim met my vrees. Ek bind die negatiewe vrees hond wat soos 'n weerwolf met rooi kole oë my beblaf onder aan n ketting vas en ek kyk nie terug nie. Met elke tree vervaag die vrees hond se blaf en voel ek die warmte van God se son wat op my skyn. Ek klim deur die skaduwee en breek in die sonlig in. Ek trek stelselmatig die klere van twyfel uit, een vir een. Skielik sien ek die pieke wat ek voorheen geklim het, party hoër as hierdie een. Ek voel die warmte van die wat my liefhet in my en ek sien hulle wat glimlaggend my aanmoedig. Ek voel hoe my kakebeen die kners van vrees vergeet en my kiewe amper die glimlag wil laat deurkom. Ek voel nie eers die moegheid nie, my longe verloor die druk van die vrees. Ek trek hulle nou vol soos 'n resiesperd. Ek voel die krag in my lyf, al loop ek op plekke hande-viervoet. My brein word soos 'n masjien, al die silinders klop optimaal. Ek is ontslae van die vaak verblinding van negatiwiteit.

Ek klim met my hele hart en my hele siel en my hele verstand en al my kragte. Ek kyk af na die vreeshond, hy word 'n spikkel. Ek sien die klein pers blommetjie wat in die rotsskeur blom, ek ruik aan hom, hy ruik soet. Hy wonder nie oor die lewe nie, hy bestaan dalk net vir my en hierdie oomblik. Hy waai vir my soos ek verder klim en skielik is daar 'n plaat veldblomme wat vir my sing. Hulle moedig my aan en trek my die berg op, terwyl skoenlappers op my skouers kom sit en my moeë nek kom masseer.

Ek kyk terug en sien dat ek geklim het, ek meet nie want ek voel vry en in beheer, want die meet-hond wil my aftrek na die vreeshond en sy maatjie opgeehond. Ek hoor hoe opgeehond se maag skree vir kos, en met elke tree raak hy maarder en maarder, totdat hy self opgee.

Om die volgende draai is opgeehond se prooi, mense wat terug af oppad is na vreeshond om hom te gaan voer. Hulle vertel hoe styl die opdraende is en hoe dun die lug word. Hulle dink ek is mal om na dese nog te wil klim. Hulle lywe is seer want afdraande eis ook sy tol, dalk meer want opgee hond trek jou teen n spoed, want hy is in beheer. 

Ek dink nie aan wen nie, want ek loop nie vir 'n prys nie. Pryshond vat baie moeite. Jy kan nêrens sonder hom gaan as jy hom eers gekoop het nie. Hy is opreg geteel met titels en eksotiese name. Hy vat konstante aandag van blinkvryf en is lief vir kompeteerhond. Kompeteerhond is nie op hierdie pad nie want hierdie is my berg en ek kan my tyd vat. Tydhond kom heeltyd ook by, hy is irriterend met sy aanjaag en byt my hakskene. Ek skop hom dat hy tjankend daar trek en afrol tot by sy maatjie vreeshond wat hom tydhond gestuur het om my te laat terugkom om hom los te maak.

O genade, om die draai kom twyfelhond aangestap. Ag shame, jy kry hom sommer jammer, want hy lyk soos 'n steekbrak pavement special. Hy is gemaak in die vallei van doodskaduwee sy ma is vreeshond. Niemand is seker wie die pa is nie, dalk opgeehond of mislukkinghond. Ek het deur die grapevine die storie gehoor dat oordeelhond ook by vreeshond in daardie tyd gekuier het. Oordeelhond is egter so besig dat hy nie tyd het vir niemand nie. Hy is in konstante oorlog vir eeue al met deernishond. Deernishond sien mens maar min, want mense laat hom nie uit nie, want hulle dink hy is te swak en tingerig. Die laaste paar keer wat ek deernishond gesien het was wonderlik. Dis nou vir jou 'n oulike hondjie! Jy wil hom eintlik opvreet van liefde en vir ewig in jou arms hou. Deernishond het magiese kragte, jy moet hom met ander deel, dis net realiteit.

Toekomshond kom fluister in my oor, genade dit klink vreeslik. Ek dink hy is telepaties met vreeshond verbind. Hy wys my die donker wolk in die pad en die grotte en gletsers, hy is spesifiek, amper asof hy reeds daar was. Hy is so spesifiek dat ek amper voel hoe ek gly. Ek dink hy lieg vir my. 

Ek kyk na my voete, en ek sien ek is nie besig om te gly nie, inteendeel ek het goeie greep. Dan eensklaps, rerwyl ek afkyk sien ek spore. Iemand wys my die pad, wie kan dit wees? Ek skud my kop want twyfelhond sê ek verbeel my, dit is nie regte spore nie. Ek kyk op, en sowaar daar sien ek Hom. Hy waai vir my en wys ek moet kom, Hy wag vir my. Hy wuif my in die rigting wat ek moet loop, nou en dan kyk ek af en hoor die geblaf. Dan kyk ek weer op en die keffer-klanke vervaag. Ek klim en klim, geen hond gaan my onder kry nie. Dis maklik om te klim as die spore voor jou is. 

Soos ek klim voel ek iets druk my van agter en ek voel nie alleen nie. En dis my ou liewe geloofhond. Hy is al jare saam met my, van kleins af. Hy is ongelooflik, want jy hoef nie na hom te kyk nie, hy voer homself en hy kyk na jou. Jy voel soms skuldig dat jy nie meer vir hom doen en met hom doen nie. Jy wonder wie vir hom kos gee, want hy het altyd krag en sy pels blink.

Om sy nek is 'n identifikasie plaatjie. Daar staan: "Eiendom van die Sporemaker, indien verlore raak kontak Johannes 3:16". Ek kyk op na die Sporemaker, Ek en geloofhond het vinnig gevorder, ons is al amper by die Sporemaker se hand. 

Ek voel veilig en dis nou eers 9.00

Sent from my iPhone

No comments:

Post a Comment