Monday, August 7, 2017

Koffie-kop

Ons het altyd Frisco koffie gedrink, sulke floues. My ma-hulle het nie baie van koffie gehou nie. Eers in die kommune het ek by my maats geleer dat jy nie 'n dag aanpak sonder koffie nie, en daar was Ricoffy. Ek besef toe dat Frisco sigorei is en eintlik generiese koffie is. Dis amper soos die regte medisyne maar is nie. 

Toe hou ek skielik van koffie, maar het nog melk en suiker gevat, een melk met een en 'n halwe suiker. Dit was nie die koffie wat my oorgewig gemaak het nie, maar ek hoor toe van die Mayo kliniek se 2 weke diĆ«et. Op die ding moet jy swart en bitter koffie na elke ete drink. Dit was vir my moeiliker as die opoffering van min kos. So laat ek toe die koffie eers effens afkoel en dan sluk ek die bitter spul met een slag af. 

Na die twee weke het ek 12 kg verloor asook my lus vir melk en suiker. Ek het nie net my nommer 30 jeans alleen ontdek nie, maar ook 'n nuutgevonde liefde vir koffie. Dit is 'n nuwe ervaring vir 'n ou wat nie met lekker koffie grootgeword het nie. Ek was aan die koffie hak, vir die res van my lewe.

Daar was in oom PW en FW se tyd nie baie oorsese koffie nie. Die beste wat jy kon kry was Nescafe, maar dit was peperduur. Ek was genoodsaak om myself te rantsoeneer tot 2 koppies per dag. Maar die smaak was die moeite werd.

Vandag is daar soveel tipes dat jy amper nooit almal in jou leeftyd geproe gaan kry nie. 

Verlede week is die Jacobs klaar en ek moet tussen tee en Ricoffy besluit.  Ek is nie 'n tee ou nie, want dit voel asof ek koffie verneuk. Ek besluit toe maar op 2 lepels opgehoopte Ricoffy. My kiewe trek op 'n kramp, nie oor die sterkte nie, maar die smaak.

Soms raak ons so gewoond aan 'n ding soos koffie, dat ons sukkel wanneer 'n alternatief genoodsaak word. Dis amper soos die teorie in Taoism waar die priesters nie in warm water mag bad nie. Die idee daaragter is die realiteit van die menslike natuur om ontevrede te voel wanneer hulle iets minder moet ervaar as waaraan hulle gewoond is. 

Dink maar aan die trauma wat ouer mense deurgaan wanneer hulle moet afskaal van die groot huis na 'n aftree plekkie. Dit laat 'n aaklige nasmaak, amper soos om weer Ricoffy te drink. 

Maar, ek wat melk en suiker gedrink het om koffie in te kry, was genoodsaak om die melk en suiker te laat gaan om daardeur die werklike smaak van koffie te ontdek. So, om dinge te verloor en uit jou lewe te kry het sy positiewe momente. Dalk lei dit jou soms daartoe om groter lekkerte en genot te ontdek.

Voorheen het ek maar net koffie gedrink omdat die ander alternatief tee was wat ek nie van hou nie. Nou is koffie vir my 'n ervaring, maar ek moes eers laat gaan. Ek was ook genoodsaak om 'n vreemde smaak en lou koffie vir 2 weke af te wurg vir my sisteem om gewoond te raak. 

Soms sien ons nie kans om dit waaraan ons gewoond is prys te gee nie. Soms weet ons die melk en suiker is sleg vir ons, maar ons hou vas. Vandag is ek dankbaar dat ek laat gaan het, want ek wil nie suiker inneem nie en ek is allergies vir suiwel. 

Hoeveel dinge gooi ons by ons koffie-lewens wat die werklike smaak van die lewe, wat ons verdien, verdoesel?

Sent from my iPhone

No comments:

Post a Comment