Thursday, August 31, 2017

Tas diewe

Wanneer jy op 'n reis gaan, is dit so tekenend van die lewe, want jy deel die reis met ander. Nie almal van ons kan privaat stralers bekostig nie. En almal wat op hierdie reis is het baggasie by hulle. Alhoewel almal se baggasie op daardie rolband rond gaan, word daar gefrons as jy iemand anders se tas optel en vir jou vat.


Ons is omring deur mense met hulle eie storie, drama, seer en hartseer. Ons is kommunikeerders van hart en siel, en daarom deel ons graag ons stories met hulle, en hulle weer om die beurt hulle s'n met ons. Dit is soos daardie rolband, party s'n is nuut, ander s'n oud, ander s'n gehawend en ander weer het so 'n blink nuwe tas. Ek vind dit in my eie lewe dat ek soms geneig is om ander mense se tasse met my saam te dra. Die probleem daarvan is dat dit dit wat ek moet dra nog meer ongemaklik maak. My waentjie se wiele huil al en ek moet met my ander hand probeer om die baggasie alles bo te hou, ek lyk soms soos een van daardie Afrika treklorries wat tot teen die wolke gepak is. 'n Paar dinge is hier van belang.


Dit is hulle tasse, en nie joune nie. Jy mag dalk vir 'n oomblik die ou tannie help om haar tas van die band af te kry en op die trollie te plaas, maar dit is waar dit moet ophou. Ons raak soms so betrokke by ander se tasse dat ons geheel en al vergeet dat dit steel is om ander se tasse op ons wagentjie te laai. Wat sal gebeur as ons dit op 'n lughawe doen? Maar in die lewe doen ons dit graag, en dit maak ons moeg, afgemat en totaal oorlaai. Dit is wat skinder ook doen, ons vat goed en is betrokke by dinge wat geheel en al niks met ons uit te waai het nie. Ons druk spreekwoordelik ons neuse in ander se sake. Ek verstaan dat dit deel van mense se nuuskierigheid is, maar dit word baie gevaarlik.


Ek het hierdie les al op baie maniere in my lewe geleer, maar vang myself soms dat ek so besig is met ander se stories, dat ek nie my eie raaksien of vertel nie. Toe ek dominee was, het mense in my studeerkamer baie dinge vir my vertel, en ek het natuurlik dit nie oorvertel nie. Maar ek het dit met my saamgedra. Wat dit vir my draaglik gemaak het, is dat ek kon aanleer om nie betrokke te raak nie, maar net vir die enkele oomblik die tas van die band af te haal, met hulle hulp natuurlik.


Later in my lewe het ek ook besef dat ek nogal 'n ding vir af-vlerk mense het. Wat ek egter met duur lesse geleer het, is dat as ek toelaat dat hulle fight myne word, ek egter agtergelaat word, want mense kan en wil slegs op hulle eie verander. Hulle het nodig om hulle eie baggasie te dra om by hulle bestemming uit te kom. Elke mens is verantwoordelik vir homself. As jy dus jouself bereid verklaar om langer betrokke te wees as 'n portier, moet jy weet die kontak is net van korte duur. Die portier kan ook nie net die tasse in sy motor gaan laai nie, of vir homself vat nie. Saamwees en saam leef is dieselfde, jy vat nie ander mense se tasse na jou huis toe nie. Jy kan daar wees in hulp, maar net tot op 'n punt.


Verder, wanneer al hierdie ander tasse bo-op jou tasse op die trollie is, weerhou dit jou om by jou eie tasse uit te kom. En soms is hulle baie swaar belaai dat hulle selfs jou baggasie beskadig. Hulle het soms 'n groot impak op jou tasse, en vorm jou baggasie dalk ook soos hulle s'n, sodat jy joune nie eers meer erken nie. Die spreekwoord lei in Engels dat “charity begins at home”, en so is jou verantwoordelikheid by jouself en die naaste aan jou se baggasie eerste.


In die analogie van toe ek 'n dominee was, was ek naderhand so oorval deur mense met huweliksprobleme, dat ek selfs begin dink het dat die huwelik nooit kan werk nie. Dit het my vreeslik moeg gemaak, en so het ek ook hulle probleme en klagtes en nood in my eie tas begin raaksien, en gaan soek daarna. Dit is broodnodig om 'n sagte oor vir ander se lewens te wees, want elke liewe mens wat jy teekom het hulle eie probleme. Moenie vir een oomblik dink dat niemand baggasie het nie, selfs net klein dingetjies soos die dogtertjie in Graad 2 wat vir jou genoem het dat jy groot ore het. Ons het elkeen 'n groot-oor storie, en duisende van hulle, en elke dag kom daar nog by. En ons kan net-net met ons eie storie deal, wat nog gepraat van ander s'n.


Een van die films wat op die oomblik in Teaters draai, is Annabel, of so iets. Ek is nie 'n Horror ou nie, so ek sal nie heeltemal weet nie, maar blykbaar is dit 'n bangmaak storie. Die kinders in ons huis praat baie daaroor, want hulle maatjies het dit gesien en slegs die vertel maak hulle bang. Gisteraand weer is hulle bang om alleen te gaan slaap, en al wat ons hulle aan herinner is dat dit net 'n storie is. Dit is nie regte lewe nie, en Annabel kan jou net op die skerm van die teater en in daardie konteks bang maak, maar sy kom nie saam huistoe, kamer toe of skooltoe nie.


In dieselfde asem kan jy iemand se storie hoor, saam lag of saam huil, met empatie of oordeel handel, maar as die vertoning verby is, is dit verby. Net soos steel verkeerd is, is dit ook verkeerd om stories van die internet op jou rekenaar af te laai. Vra jouself af hoeveel stories van mense het jy al afgelaai op jou hardeskyf?


Ek dink dat jy jouself 'n onreg aandoen om te steel of dinge af te laai. 'n Vriend van my, wat intussen oorlede is, het in die tyd toe die i-pods uitgekom het oulike kommentaar gehad. Skielik het dit nou vir ons moontlik geword om alle musiek wat ons van hou met ons saam te dra. As jy by hom gekuier het, het hy sy lang lyf voor die CD Speler sit gemaak, en noukeurig vir elkeen in die vertrek 'n liedjie van die CD af gespeel. Daar was later so 'n hele boel kissies opgestapel op die vloer. Sy standpunt was dat die aflaai ding vir hom die spesiale gevoel van musiek uitkies en vir sy mense speel ontneem het. En natuurlik, ons het nooit die CD kissies met ons saamgevat huistoe of gesny op ons i-pods nie, hy het geweier. Hy het gese: “As jy daai liedjie wat jy van hou wil hoor, koop self die CD of kom sit hier dat ek dit vir jou speel”.


Soms oorweldig die lewe ons, en vandag is die dag wat jy moet onderskei en die “gesteelde” tasse terug moet gee vir “lost and found”. Vandag is die dag wat jy onderskei tussen wat net 'n storie is en wat jy met jou in jou lewe gaan saamvat. Maak jou eie las ligter, en maak plek op jou hardeskyf moet skoonmaak om jou eie nuwe vars liedjies te speel en te geniet!

No comments:

Post a Comment