Monday, April 11, 2016

My nuwe geloof

Ek onthou dat toe ek Teologie begin studeer het, dat een Professor vir ons vertel het dat ons 'n onderskeid moet maak tussen jou persoonlike geloof en dit wat jy op Universiteit gaan leer, en dat jy versigtig moet wees waaraan jy jou ore uitleen.  Oor die afgelope klompie jare het ek sekere blootstellings gehad wat eintlik my Christelike geloof en Persoonlike geloof skade aangedoen het.  Deesdae is dit "mode" om "alternatief" te wees, en word jy soms uitgekryt as 'n dweper omdat jy bliindelings glo in die Christelike geloof soos in die Bybel en van die kansel gepreek word.


Dit is half "cool" om alternatief te dink, en alhoewel ek deel van die "alternatiewe" bewegings in die kerk geword het, beinvloed baie van die "nuwe" denke jou kinderslike persoonlike geloof.  Ek het vir lank gedink dat ek ok sal wees en dat dit my goed sal doen om die alternatiewe te bestudeer.  Ek verstaan dat daar baie krake in die kerk se manier van prediking is en was, en ook dat daar sekere dinge in die Bybel is wat vir die moderne mens nie aanvaarbaar of logies sin maak nie.  Ek was nie versigtig genoeg om ook maar met deernis met die Bybel om te gaan nie, alhoewel ek onderle was in die ondersoek na die Bybel en te verstaan dat die Bybel nie 'n wetenskap handboek is van hoe die wereld ontstaan het nie.  Ek was veronderstel om te verstaan dat die Bybel soms in beeldspraak praat, net soos die nuwe skrywers boeke skryf in die vorm van stories om hulle boodskap deur te bring.


Dit word baie maklik om die "buzz-words" van die moderne spiritualiste aan te haal en te dink dat dit gaan werk.  Natuurlik is daar 'n "spirituele ontwikkeling" wat in mense plaasvind, en dit was van die begin af so dat mense na iets groter en beter in hulle lewens soek om aan vas te hou.  Skielik het mense nie meer gepraat van "sonde" nie, of oor "vergiffenis" nie, want ons dink dat dit nie meer bestaan nie.  Ons het begiin glo in ons eie vermoens as mense, met die idee dat ons ons eie toekoms kan visualiseer en self 'n wereld kan skep wat ons pas.  Ons het begin om selfs te dink dat ons ons eie God dus is wat probeer om dinge in ons lewens uit te sorteer. 


In my soeke het ek 'n paar dinge begin besef.  Die eerste daarvan is dat daar niks in ander godsdienste is wat nie in die Bybel en sy geskrifte opgestel is nie.  Alle lewensvaardighede wat jy nodig het en waarvan gepreek word is ook in die Bybel opgesluit.  Dit is natuurlik wonderlik om die boodskap van die lewe op nuwe maniere te behandel en vir mense in nuwe taal en beelde oor te dra.  Die Bybel is en sal altyd die bron van die lewe wees, en al is dit die enigste boek wat jy ooit in jou lewe lees, sal daar niks nuuts in die wereld gepubliseer word wat daardie lewensvaardighede verander nie. 

Die tweede belangrike ding is dat die verskuiwing van die fokus weg van God en na die individu baie gevaarlik kan wees.  Daar is natuurlik niks fout met persoonlike ontwikkeling nie, maar meeste moderne spiritualiste verwys na die inkeer in jouself en na jou eie menswees en om dit die fokus te maak.  So het ek ook in myself gekeer, maar telkens maar net besef dat dit 'n baie eensame proses is wat die lewe soms ondraaglik maak. 


Wat ek telkemale besef het in die soeke na geluk in myself, is eerder 'n verstaan van die dorings in my vlees.  Elke keer as ek dink ek het arriveer, het die doelpale geskuif, net soos my oumagrootjie gese het: "my kind, as jy jouself gemaak het, sou jy nooit klaargekry het nie".  Ek was oor en oor weer bewus van die doring in my vlees, en dat ek dit nie op my eie kan oplos of uittrek nie, maak nie saak wat ek probeer het nie. 


Hieruit het ek 'n volgende saak van bewus geword, want in die gebed van Paulus om God te vra om die doring uit sy vlees te haal, het God vir hom gese dat God se genade vir hom genoegsaam behoort te wees.  In baie van die "nuwe spiritualiteit" handel dit oor hoe om jou lewe self te verander en te genees.  Die fokus het totaal en al weggeskuif van God en baie keer om self jou drama en krisis in jou lewe te hanteer en op te los.  In jou krag en in jou vibrasie is jou antwoord, en soms het dit vir my gevoel asof ek vir myself lieg.  Ek moes altyd sterk en vibrant voorkom om te manifesteer wat ek soek in die lewe.  Dit is soms soos om van iemand te verwag om hulleself aan hulle skoenveters op te tel.  In die woorde van God aan Paulus leer ons dat dit nie altyd nodig is om sterk te wees om verandering in jou lewe te sien nie.  God herinner vir Paulus dat dit juis is wanneer JY swak is waar God se Genade en hulp na jou toe kom.  Dit verskil hemelsbreed van die "self-help" filosofie van die moderne mens.  So het ek ook vir lank gedink dat ek my eie lewe kan beheer en stuur en in die leuen van om sterk probeer wees, ook maar telkens gefaal. 


Ek verstaan dat daar sekere dinge in die kerk en in die Bybel is wat ons seergemaak het.  Maar, soms gooi ons die badwater saam met die baba uit.  Ek skryf met opset die woord kerk met 'n klein lettertjie, want natuurlik is dit nie volmaak nie.  Natuurlik is dit feilbaar, maar ek dink dat die kerk ook soms ons "genade" verdien.  Dit is maklik om krities te wees, maar ek dink die kerk bedoel ook maar net Sy/Haar bes.  Mense verwys graag deesdae na die kerk en kerkmense as konserwatief of fundamentalisties.  Maar soms is vrydenkende mense dalk meer fundamentalisties as wat hulle dink.  Daar is baie mense in die kerk wat se geloof nie wankel omdat Jona nie werklik in die vis was nie, en wat die diepere boodskap van die verhaal verstaan.  Daar is mense vir wie die feit dat Jesus moontlik nie 'n maagdelike geboorte gehad het nie, juis hulle geloof versterk in die feit om te weet dat ons in ons menslikheid God se werk kan doen.  Daar is mense wat in die kerk en deur die Bybel daagliks groei omdat hulle juis NIE fundamentalisties is nie, en dalk nie omgee of 'n Gay persoon saam met hulle in die kerk aanbid nie.  Daar is mense wat steeds in God en die boodskap van die Bybel glo en dit "modern" in hulle lewens kan toepas.  Daar is mense wat in hulle eie feilbaarheid glo en besef dat net omdat hulle nie perfek is nie, hulle ook nie van ander verwag om perfek te wees nie, maar dit beteken nie dat hulle nie gaan probeer om goed te doen in die wereld nie.  Indien Priesters klein seuntjies molesteer, beteken dit nie dat almal wat in die amp van Priesters in die kerk dit is nie. 


God het nog altyd, deur al die verhale in die Bybel met en deur mense Sy doel in die wereld bereik.  Kyk na al die groot figure, Moses, Dawid, Paulus en selfs Jesus.  Selfs Jesus het in die tuin vir God gevra om die beker by Hom te laat verbygaan.  Almal het sekere oomblikke in hulle lewens twyfel en mense sien dalk nie altyd kans vir wat voor hulle is en wat hulle moet deurgaan nie.  Dit is menslikheid en hoe die wereld werk, en wanneer jy dink dat om gelowig te wees "perfeksie" is, dan gaan jy lank soek en baie teleurstellings deurgaan.  God se dan vir Paulus in die gesprek dat God se genade en liefde en werking nie afhang van ons perfeksie en dat ons sonder dorings in ons lewens gaan wees nie.  Dit is wat die Christendom as geloof vir my die enigste opsie is om in te glo, want daar is een woordjie en dit is "genade" wat jy bitter min in ander gelowe vind. 


Daar is natuurlik 'n beweging in die rigting van om nie te oordeel nie en in harmonie met ander te leef, maar jy kan net met mense in harmonie leef wanneer jy "genade" verstaan, wanneer jy weet dat jy selfs in jou "swakheid" kan en mag bestaan.  Of die kerk nou besluit het om net 66 boeke in die Bybel te plaas, vat niks weg van die boodskap wat deur daardie 66 boeke oorgedra word nie, al dink jy dat dit nie die regte besluit was nie.


Die wonder van die genade is dat dit ook nie werklik saakmaak wat jy dink of doen nie, God gebruik jou steeds en bly steeds net so lief vir jou.  God se genade word nie uitgedeel op verdienste nie, en dit maak die boodskap aantreklik.  Maar Paulus leer ook dat dit nie moet beteken dat jy meer sonde moet doen om die genade te laat toeneem nie, en dit beteken dat alhoewel die genade nie deur die verdienste kom nie, dit nie beteken dat ons nie beter hoef nie.  Wat genade ook beteken is dat dit ook nie saakmaak wat en hoe jy oor God dink nie, God bly steeds lief vir jou.  Of jy nou in die kerk opstaan en in die geloofsbelydenis die gedeelte uitlos van "gebore is uit die maagd Maria", dit nie wegvat dat jy steeds Jesus kan aanbid met jou hele hart as die verlosser nie. 


Persoonlik het ek my eie manier om oor die hele Chrsitelike geloof en God te dink, want elkeen het sy eie persoonlike geloof wat gevorm word op sy/haar eie manier.  Hierdie afgelope paar weke het ek hierdie God wat ek aanbid op 'n ongelooflike praktiese manier aan die werk gesien.  Elke dag dit wat ek gevra het my mee geseen, alhoewel ek gevoel het asof ek dit nie verdien nie.  So het God my herinner dat daardie Seen nie kom of ek dit verdien of nie, oor wat ek dink of nie dink nie, maar eerder in die belydenis van my hart om te verstaan dat ek NET in afhanklikheid en nabyheid aan God kan leef.  God dra my steeds elke dag, te midde van my tekortkominge en te midde van my denke, maar in my erkenning dat ek nie sonder God en sonder God se genade kan leef nie, maak vir my die verskil  in my daaglikse lewe.


Daar is niks verkeerd daarmee om te dink en te doen soos jy goed dink nie, want natuurlik het God ook 'n doel daarmee, maar soms moet ons versigtig wees aan wie ons ons ore uitleen, want nie alles in die lewe is goed vir jou nie.  Vir my was en is dit fantasties om allerhande "alternatiewe" denke en idees te deel met almal om my te deel. 


Ek het een ding besef en dit is dat ek die Bybel gelees het, maar nooit eintlik gelees het nie, want nou kan ek groei in my geloof deur dat ek alles met nuwe insigte kan glo, in die wete dat God met my 'n pad gestap het, en dat ek dit nodig gehad het.  Vandag is ek op 'n plek waar ek wel alles kan lees, maar waar ek my persoonlike en kinderlike geloof herontdek het, en daaroor is ek ongelooflik dankbaar.

No comments:

Post a Comment