Wednesday, April 13, 2016

Mengelkraan

Die kamertemperatuur van water is gewoonlik gelyk aan die omstandighede waarin die water voorkom.  Maar oor die algemeen is water maar aan die koue kant, en nie altyd lekker om in te bad nie.  Dit herinner my so aan elke dag se realiteit van die lewe wat ons leef.  Die wereld het sy uitdagings, sy bekommernisse, sy seer en natuurlik sy teleurstellings.


Vanoggend sit ek in die bad en sien die mengelkraan voor my, en besef dat ek die vrye wil het om die warm kraan ook oop te draai, ek hoef nie in die yskoue water van die draaiende seisoen te sit nie.  Ek kan my lewe balans gee deur positiewe denke.  Nou wat is die warm water wat die lewe draaglik maak?

·         In die eerste plek, besef dat jy beheer oor die mengelkraan het.  Te veel kere gee ons onsself toe aan wat voor ons is, en voel ons magteloos. 

·         Tweedens, besef dat die water gemeng word, en hou op van die lewe verwag om NET positief te wees.  Die lewe het sy uitdagings, maar jy kan reageer deur die warm kraan oop te draai. 

·         Derdens, verstaan dat die water nie altyd warm gaan bly nie, om positiewe warmte in die bad te kry verg om konstant warm water by te tap, want die omstandighede gaan die temperatuur van die water beinvloed. 

·         Vierdens, en dit is dalk die belangrikste is my geloof en vertroue in God wat by my staan en sonder onderbreking 'n stroom warm water in my bad laat invloei. 

·         En laastens, leef in dankbaarheid vir wat jy het, en nie in depressie oor wat nie is nie.  Dink mooi daaraan, daar is miljoene mense daar buite sonder lopende water, selfs koue water

.  Wanneer jy selfs jou koue water as 'n seen sien, dan eers kan jy werklik gelukkig wees.

No comments:

Post a Comment