Tuesday, October 7, 2014

Dit is nooit te laat nie!

Voel jy ook soms dood van binne? Is jy soms depressief wanneer jy oor en oor probeer, maar dinge net nie uitwerk nie? Is daar soms soveel druk op jou, dat jy eenvoudig voel dat jy nie meer kan nie? Voel jy soms alleen en dat niemand jou verstaan nie en daar geen sin in die lewe is nie?

Hierdie gevoelens is normale menslike optrede en almal van ons voel so van tyd tot tyd. My lewe werk baie keer nie vir my uit nie. Ek bid onophoudelik, ek glo met alles in my, maar vertroue dat dinge gaan verander is maar skraal.

Ons kasty onsself oor die keuses wat ons gemaak het. Ons blammeer graag omstandighede of mense. Ons leef met skuld, want ons het grootgeword in n godsdienstige omgewing waar, wanneer dinge nie uitwerk nie, dit n tekort is in jou geloof. Natuurlik het almal n storie om te vertel oor wie waar en hoekom dinge met ons gebeur.

In die Sahara woestyn kry ons n plant met die naam: "the resurrection plant". Dit is een van die ongelooflikste plante, wat lyk soos n ronde, dooie tolbos. Hy het geen wortels nie, en word maklik deur die wind rondgesleep.

Wat die plant ongelooflik maak is dat, alhoewel dit "dood" is en lyk, gebeur daar n wonderlike ding wanneer dit naby water kom. Dit kan selfs vir jare net rondrol en lyk asof dit niks werd is nie. Dan kom dit in aanraking met grondwater, en skielik gaan die dooie takke oop. Wanneer dit dan reen, sien jy die saadjies wat die druppels raakslaan wat afval van die droee takkies. Dan, binne dae ontkiem die saadjies, en pragtige groen blaartjies en blommetjies is sigbaar. Binne n paar weke verdor die plantjie weer en word dit ook weer n tolbos, en wag vir die volgende reen.

Wetenskaplikes het bepaal dat hierdie plante vir jare dormant en dood rondgewaai word sonder enige reen.

Daar het baie dinge in my lewe gebeur wat my soos daardie plant laat voel. Ek voel rondgewaai deur omstandighede en voel asof ek nerens iets werd is nie. Ek voel asof ek nerens my stabiliteit kan kry en my wortels kan insak nie. Ek dink daaroor en dit pla my, nagte en nagte le ek wakker, en selfs van binne voel ek asof ek n mislukking is. Mense om my herinner my elke dag oor my tekortkominge en mislukkings. Die gemeenskap spoeg my uit omdat ek nie n immergroen plant is wat daagliks vrugte dra en n bydra lewer nie. Ek voel beslis nie soos daardie boom van Psalm 1 wat by waterstrome geplant is en ooit my rus vind nie.

Ek voel daagliks soos die "resurrection plant". Ek kasty ook soos almal myself en die wind om my. Maar, wat gaan aan in daardie plant se selle? Is die plant elke dag besig met woede, skuld en depressie. Nee, verseker nie, die plant het aangepas. Hy het begin "vertrou" op die winde, want sonder dit sou hy dalk nooit by die poeletjie uitgekom het nie. Hy besef dat daar n tyd vir alles is, en hy wag vir sy kans en geleentheid. Wanneer sy kans kom, blom hy en doen hy sy bes om sy deel by te dra.

Hy kan dormant wees vir jare, en met geduld wag hy. Soms wil ons onmiddelike oplossings kry vir ons probleme, en dalk is dit hoekom ons vertroue verloor, want ons kan nie wag nie.

Die plant leer ons ook dat daar altyd hoop is. Niks is ooit afgehandel voor dit nie afgehandel is nie. Dit wys ook vir ons dat daar nie iets soos onmoontlik bestaan nie, selfs wanneer jy dood voel binnekant.

Dalk voel jy vandag soos ek, en dit is normaal. My vertroue vir jou en my is dat jy jou poeletjie water sal kry, nie moed sal verloor nie, en in daardie oomblik sal skyn en die ster van n dor woestyn sal wees!

1 comment:

  1. Sjoe, voel of die stuk vir my geskryf is. Tanx

    ReplyDelete