Friday, July 26, 2013

God en Wiskunde

Ons God en Wiskunde:

Almal is seker  teen  hierdie tyd klaar met die eksamen, en ek hoop almal se eksamens het goed afgeloop. 

So in die eskamen, kom ek toe agter hoeveel  God en Wiskunde met mekaar in gemeen het:

1.  Orde:

Verlede week het iemand by my huis my remblokke van my motor kom vervang, en skielik besef ek dat wiskunde elke dag deel  van ons bestaan is, of dit nou net is om brood te koop by die kafee, of om 'n koekresep te meng en ook om op 'n klimraam te speel.  Die DSTV dekodeerder en televisie wat jy kyk is gekalibreer volgens wiskunde en ook jou Xbox is Wiskunde.  Wiskunde is dus die basis waarop alles in ons logiese wereld gebou is.

Net soos Wiskunde die basis is van logika, so is God die basis van ons bestaan.  Elke lewende organisme, met sy funksie, DNA en opbou is deur God so gekalibreer.  In die skeppingsverhaal lees ons dat God die chaos tot orde gebring het.  Stel jou die chaos voor as daar nie wiskunde was nie, jy kan nie van die orde daarvan ontsnap nie.  Soms kyk ek na mense om my, en dan sien ek die wanorde van hulle bestaan, want hulle wil funksioneer buite die orde van God.

2.  Beginsels:

Van kleins af leer onderwysers ons die basiese beginsels van wiskunde met allerhande eenvoudige sommetjies met lemoene en hasie-prentjies.  Soos ons groei, begin ons al meer komplekse beginsels aanleer.  As ek so na die wiskunde kyk wat kinders deesdae op skool doen, dan lyk dit baie meer kompleks as wat ek op skool kan onthou, maar die beginsels bly dieselfde.

My ma vertel altyd vir die kinders dat die som wat jy doen nie ten doel het om net die antwoord te vind nie, maar om te toets of jy die beginsels wat jy geleer het verstaan en kan toepas.  Dit is vir daardie rede dat somme in die eksamen nie net 1 punt elk tel nie, maar daar word ook punte gegee vir die verskillende stappe.  Jy kan dus die antwoord verkeerd bereken, maar nog steeds genoeg punte versamel om die eksamen deur te kom. 

Van kleins af leer ons in ons ouerhuis sekere beginsels wat op die Bybel gebasseer is.  Niemand hou van leer nie, maar die beginsels moet ek leer en toepas, nie om my te keer om te lewe nie, maar eerder my instaat te stel om wel te KAN somme doen soos ek groter word.  God het basiese beginsels vir ons daargestel, en op soveel plekke in die Bybel in stories vir ons gewys hoekom die beginsels belangrik is.  Sonder die stappe en beginsels gaan ek my hele lewe net "raai" wat die antwoorde is, maar nooit werklike sukses behaal nie.

Ons leef in 'n wereld waar mense wat die beginsels nastreef soms afgemaak word as "nerds" en dat hulle lewens nie "cool" is nie.  As jy so bietjie die pad gestap het, sal jy sien dat die mense wat by die beginsels gebly het, die ouens is wat goeie punte verdien.  Wat is nou lekkerder as om 'n goeie punt in die eksamen te kry?  Mense vra na antwoorde oor die sin vir hulle lewens, maar die antwoorde is opgesluit in die toepassing van die beginsels wat jou by die antwoorde kan uitbring.

Ek het as kind grootgeword in 'n huis waar my ma wiskunde gegee het vir matrieks.  Elke keer wat ek gesukkel het, en haar hulp gevra het, het ons baklei.  Die rede was eenvoudig, sy het elke keer die fout gesien en dan weer daar by Adam en Eva gaan draai sodat ek die beginsel onder die knie moet kry.  Ons het baie gelag daarvoor, maar is dit nie waar baie van ons foute inkom nie, want sonder die beginsel, gaan ek oor en oor dieselfde foute begaaan, en dit is die rede hoekom sy my na Adam en Eva teruggeneem het.  So, dalk is jou les vandag om nie te bly staar vir jou verkeerde antwoord nie, maar terug te gaan na die basiese beginsels soos in die Handboek opgeskryf is.  In die eksamen het die somme nie altyd dieselfde syfers as in jou boek nie, maar met die regte beginsel kan jy enige formule oplos.

3.  Genade:

Dwarsdeur die Bybel lees ons van genade, en genade beteken 2 dinge.  Die eerste is dat die "Eksaminator" wat ons toets moet merk ons liefhet.  Hy is 'n God wat eerder punte soek om ons te laat deurkom as om rede te soek om ons te laat druip.  Ons leef in 'n wereld waar mense net belangstel in die antwoord en ons druip die mense in ons lewens maklik.  Ons kyk na die suksesse van mense in hulle besittings en posisies wat hulle beklee, maar stel nie belang in wie die persoon werklik is en hoe beginselvas hulle lewens is nie.  In God se oë is ons almal wenners, selfs te midde van 'n skewe antwoord.

Tweedens gee God se genade aan ons die geleentheid om die toets oor en oor te skryf.  God skeer die druiptoetse op en gee ons 'n heel skoon nuwe blaadjie.  In wiskunde maak 2 negatiewe's 'n plus, en in God se genade kry ons die geleentheid waar God ons "foute" oorsien en kan omdraai in positiewe uislae.  Gaan kyk dwarsdeur die Bybel hoe God mense gebruik wat nie perfek is nie en gaan kyk na die manier hoe God hulle lewens omdraai na 'n sukses toe.  Soms voel ons dat ons mislukkings is, ons voel dat ons nie meer verder kan nie omdat ons antwoorde nie reg uitwerk nie.  God is anders as mense, want elke dag, elke oomblik en elke besluit gee ons die geleentheid om alles wat ons "verkeerd" gedoen het, en selfs ook veelvulde daarvan, te kan omdraai in die positiewe.

4.  Gebed in die eksamen:

Die spreekwoord lei:  "Nood leer bid", en as dit by eksamens kom het ek die meeste seker al daarvoor gebid.  In my belydenisklas het die jongmense een keer vir my gevra om te bid vir die Wiskunde eksamen daardie week.  Ek vra hulle toe wat ek moet bid.  Jy sien, ek kan bid dat die eksamen nie plaasvind nie, of 'n wonderwerk dat hulle almal 100% sal kry of dat die eksamen binne hulle kennisvlak sal wees.  Jesus het ook gevra dat die beker by Hom moet verbygaan, Paulus vra dat die doring uit sy vlees geneem moet word, maar dit het nie gebeur nie.  Jy sien, die eksamen moet geskryf word, jy kan nie daarvan wegkom nie.  Al wat ons voor kan bid is dat God ons genadig sal wees en sal help dat die eksamen binne die raamwerk van ons kennis en vermoëns is.

5.  Outomatiese gewoonte:

Ons is diere van gewoonte, en alles wat ek oor en oor doen gebeur naderhand outomaties in my sisteem, sodat ek nie meer nodig het om bewustelik daaroor te dink nie.  So skep ons elke dag gewoontes deur dinge oor en oor te doen, maar soms pas ons die verkeerde beginsels toe.  Sommige van ons doen dieselfde som oor en oor en ons kry dit nie reg nie, vir jare nou al nie meer nie.  Ons raak depressief en ongelukkig en blammeer almal om ons oor hoe moeilik ons vraestel is, terwyl elke som 'n oplossing het, solank ek die regte beginsels toepas.

Indien jou lewe dan nou vir jou so voel, besef en verstaan dat jy dalk op jou pad beginsels opgetel en aangeleer het wat nie van toepassing is op jou som nie, en wat jou som nie gaan oplos nie.  Hierdie reseppie van jou kan negatiwiteit wees, hardkoppigheid, selfbejammering, altyd reg wees, selfsug hoogmoedigheid ens.  Sommige mense leef ook in blaam en is die hele tyd kwaad vir die onderwyser oor die moeilike vraestel.  Die ergste verslawing is die dwelms of alkohol nie, maar eerder die denkpatrone waarin ek vasgevang is.  As ek byvoorbeeld dink dat 1 en 1 gelyk is aan 3, kan ek maak wat ek wil, my somme kan nie uitwerk nie. 

In wiskunde is die som die som, en al my filosofie daaroor maak geen verskil nie

 

No comments:

Post a Comment