Tuesday, July 30, 2013

Wat sien jy?

Vandag word ek weer herinner aan 'n interresante fenomeen van menswees.  Ek het 'n nuwe laptop-tablet wat ek nodig het om my nuwe werk te doen, en ek het nog nooit in die lewe so 'n een gesien nie, want almal het mos i-pad's.  Hierdie is 'n HP, maar wat dit vreemd maak is dat hier waar ek nou sit en werk, ek skielik sien dat die ou by die tafel hier oorkant ook een het.

 

Om dus aan te sluit by my stuk van gister, hoe interresant werk hierdie konsep van spieels, nie net in refleksie nie, maar ook in ingesteldheid en blootstelling.  Die Engelse se mos:  "It takes one to know one", wat beteken dat ek slegs in ander mense kan raaksien waarmee ek bekend is.  Toets jouself bietjie daarmee, en kies 'n tipe motor wat jy sommer daar in die parkeerarea by die werk kan uitken.  Kies 'n tipe voertuig waaraan jy nog nie in die verlede aan gedink het of opgelet het nie, en ek wed jou, voor die einde van die dag gaan jy erens oppad nog so 'n tipe voertuig sien.  Dit is net 'n bewys dat jy dinge raaksien waaraan jy blootgestel is.

 

Uit 'n sielkundige oogpunt, beteken dit dat jy raaksien in ander mense wat bekend is aan jou.  As jy dus uit 'n verhouding kom van misbruik, dan sien jy misbruik orals rondom jou, en of jy dit nou so beplan of nie, jy trek dit ook aan na jou toe.  Dit beteken nou nie dat jy die sentrum van die universe is en noodwendig alles beheer wat om jou aangaan nie.  Dalk is dit maar net soos met die motors, dit was dalk nog altyd daar, maar omdat dit bekend is aan jou, is dit die rede hoekom jy dit so raaksien. 

 

Mense vra my baie keer hoekom ek artikels soos hierdie kan skryf en boodskappe kry uit alledaagse dinge.  Die antwoord is eenvoudig, om die punt van blootstelling beter te bewys, dit is omdat ek ingestel is daarop.  Ek beskou mense en situasies rondom my met die oog daarop om vrae daaroor te vra.  Vir die rede kry ek nie noodwendig devine inspirasie nie, maar eerder is my oe oop vir dinge waarop ek kan fokus en omdat ek die vrae vra, kom die boodskappe in my kop op.  Alles in die lewe werk so.

 

Een van my gunsteling karakters op televisie is Dr. Gregory House, spesifiek oor sy ingesteldheid oor dinge.  Hy is 'n siniese koue en kliniese wetenskaplike, wat dinge presies op hulle name noem sonder om doekies om te draai.  Gaan Google gerus sy aanhalings, want dit is ongelooflik lekker om te lees, soms komies, maar so waar.  Van sy beste aanhalings is:  "Everybody lies, the only question is what about", wat so deel van sy karakter wys.  Hy glo niks op sigwaarde nie, maar bevraagteken alles, van Godsdiens tot liefde en tot die dood.  Wat die karakter so ongelooflik maak is dat hierdie ingesteldheid hom 'n briljante dokter maak, maar in sy persoonlike lewe is dinge 'n gemors.  In een episode se hy: "I will only be happy when I am right, that means two things, that makes me a great doctor, and I will never be happy".

 

Die beginsel bly dieselfde vir elkeen van ons, ons is en bly en sien en kry wat ons dink.  Of die "law of attraction" dan nou aantrekking of blootstelling of bloot net 'n eye-opener is, die waarheid is dat jy kry wat jy dink, sien wat jy wil en kry wat jou vibrasie op daardie oomblik is.  Dit is ook waar dat jy soms 'n blikkie met wurms oopmaak en bewustelik of onbewustelik dinge deel van jou lewe maak.  Verlede week lewer ek kommentaar op iemand wat hier in die restaurant op speakerphone praat en so hard praat dat almal die hele gesprek kan hoor en hoe dit my geirriteer het.  Raai wat, nou gebeur dit die hele tyd met my, orals waar ek kom, soos nou sit iemand die tafel langs my en hulle doen dit.

 

Ek is nog besig om my denke te vorm rondom toeval en "destiny" en wat my rol is wat ek kan speel om my lewe te rig in 'n sekere rigting.  Op hierdie stadium dink ek dat dit 'n kombinasie van dinge is, en nie net my aksies, of net toeval of net "destiny" nie.  Alles speel 'n rol, maar ek verstaan en besef dat die enigste waaroor ek beheer het, is my denke en my ingesteldheid.  Dit lei tot aksie en kan alles in my lewe verander, al is dit net my ingesteldheid rondom wat toeval en "destiny" oor my pad bring.  Een ding daarvan is seker, ek het keuses in my lewe, en daarom kan ek kies om sekere dinge te doen, anders is ek tog nie mens nie. 

 

In my eie lewe het ek nog altyd, te midde van alle omstandighede om my, gekry wat ek wou gehad het, en dit is omdat ek geglo het, in my denke dat alles altyd vir my sal uitwerk.  Ek het geglo dat niks in my pad kan staan om te bereik wat ek wil nie.  Uitdagings het my opgewonde gemaak, en ek het al my energie ingesit om dit waar te maak.  Toe gebeur daar iets 7 jaar terug in my lewe wat my lewe geruk het, en wat my skielik van my "mortaliteit" bewus gemaak het.  Skielik was daar iets in my lewe waaroor ek geen beheer gehad het nie, en wat my skielik in alles laat twyfel het.  In een oomblik het alles wat ek gedink en geglo het oor lewe verander.  Onmiddelik het ek geloof verloor in die lewe en in mense.  Ek het begin glo dat ek 'n mislukking is, en kon nie verstaan hoe alles so skielik kon uitmekaarval nie. 

 

Vir die laaste klompie jare, het hierdie ingesteldheid en denke in my daartoe gelei dat ek amper alles verloor het.  My besigheid het misluk.  My verhoudings het uitmekaargeval.  Mense om my het probeer, maar dit was soos om 'n dooie donkie te skop, daar was geen lewe in my nie.  So het ek ook, omdat ek so oor myself gevoel het, mense om my vergader en situasies aangetrek wat my al meer en meer soos 'n mislukking laat voel het.  Ek het dinge aangepak, maar in my agterkop die hele tyd getwyfel oor myself.  Ek het nooit werklik daarin geglo nie, of enigsins in enige-iets meer geglo nie.  Mense wat eens deel van my lewe was, is nie meer daar nie, want niemand kan tog die "stank" van 'n dooie siel hanteer nie.  Ek verstaan dit, en het soos Job op die ashoop saam met die aasvoels geleef.  Sjoe, dit kliink baie erg, maar dit is die waarheid.  Ek het na elke halmpie van lewe gegryp en het 'n woede in my oor mense en omstandighede.  Ek het ook my geloof in God verloor, want ek het altyd die regte pad probeer loop, ek het niemand te na gekom nie, en gewonder hoe Hy dit kon toelaat dat al hierdie dinge met my gebeur. 

 

Ek het my "oorgegee" aan die toeval.  Ek het my geloof in myself en mense verloor.  Ek het altyd almal vertrou en geglo dat daar geen boosheid in mense is nie.  Ek het die noodlot die God oor my lewe gemaak en net eenvoudig oorgegee.  Ek het dinge MET my laat gebeur, en as dit negatief was gedink dat ek dit verdien vir "iets" wat ek in die verlede erens onbewustelik gedoen het.  As iets positiefs gebeur, het ek nie baie daarop gefokus nie, en gedink dat dit elkgeval nie vir my bedoel is nie, en elkgeval weer negatief sal uitdraai.  Ek het my oorgegee en God geblammeer daaroor en ook die mense wat dit aan my gedoen het.  Ek vra elke dag vergiffenis, maar ek besef soos Dawid dat, alhoewel ek twyfel en bevraagteken, ek egter nie sonder God kan leef nie.  God verwege my, ek weet dit, maar ek sukkel nog elke dag om te vergewe die wat my pyn aangedoen het.  Een van my dominee kollegas, wat sy seun aan selfmoord verloor het, het my een keer baie goeie raad hieroor gegee.  Hy het gese:  "Wees rustig, en weet dat jy sekere dinge nooit sal verwerk nie, jy leer maar deur tyd om met dinge saam te leef".  Baie goeie raad, wat my weer by die punt van ingesteldheid terugbring.

 

Ek vertel hierdie storie van my lewe aan julle, want ek besef dat ek nie kan beheer wat mense aan my doen of wat in my lewe altyd met my gebeur nie, soms moet ek net leer om daarmee saam te leef.  Soms moet ons weer ons ingesteldheid verander oor die lewe, en net begin glo.  Glo dat dinge sal beter wees, glo dat dinge sal verander, en wetend opgewonde ons denke rig soos dit moet wees. 

 

Wanneer ek ook terugkyk op hierdie dinge, besef ek drie dinge, wat jou dalk kan help in waar jy nou is.  Die eerste is, God het my nooit gelos nie, alhoewel ek in oomblikke gevoel het asof ek van God verlate is,. Die tweede is dat daar tog 'n doel is met my lewe en dat ek moet leer uit wat met my gebeur het, en voordeel moet sien en trek uit dit als, anders was dit werklik 'n nuttelose tyd in my lewe.  Die derde is dat jy op prinse en mense nie kan vertrou vir jou geluk nie, jy kan net in jouself glo en in jou denke en aksies rig in die rigting van wat jy in glo. 

 

Gaan verander vandag jou denke, dit is die enigste plek waar jy vandag beheer oor jou lewe kan kry.  Dit is nie altyd maklik nie, want jy gaan dalk nie vandag al 'n groen Volla op jou pad sien nie, maar hou aan soek, dit sal deel van jou lewe wees.  As dit nodig is, hou op om mense te blammeer en gaan maak jou lewe die lewe wat jy weet en dink jy verdien, want die beste wat jy gaan kry uit die lewe, is dit waarvoor jy settle. 

 

Geen huis sal gebou word sonder 'n idee of gedagte nie, al vat dit soms verandering in die plan om die perfekte huis te bou!

No comments:

Post a Comment