Saturday, September 22, 2012

Te midde van

  

Daar is baie suksesstories daarbuite van mense wat geluk vind en suksesvol is waarvan ek 'n hele klomp kan aanhaal. Daar is baie dinge wat mense se aksies bestuur, en ek wil graag 3 uitlig:


  1. As gevolg van:


Hierdie is die tipe aksies wat “afgedwing” word deur ander mense en omstandighede. Hier is waar ons verskonings leef en waar ons soek daarna dat mense ons moet “jammer” kry, omdat ons klaarblyklik nie 'n keuse het in die lewe nie. Dit is ook in hierdie “negatiewe” energie waar ons alles en almal om ons blammeer vir wat met ons gebeur. Dit is waar ons onsself jammer kry en in 'n gat wil klim oor wat ons situasie en lewens inhou.


Kom ons wees totaal eerlik met mekaar, slegte dinge en ervarings is deel van die lewe, en niemand hou daarvan om 'n stel kaarte gedeel te word wat sleg is nie. Almal van ons drooom tog van 'n beter lewe en wil graag ook sien dat ons lewens in 'n positiewe rigting gaan en waar daar eerder positiewe dinge met ons gebeur.


Die realiteit is egter dat as ek in hierdie “as gevolg van” toffie begin kou, ek dit nooit in my lewe gaan klaar kou nie, want hierin is geen sukses of toekoms nie. Ja, jy kan kla oor alles in jou lewe soos die land waarin jy leef of jou aaklige baas of die industrie waarin jy werk wat sekere dinge met jou laat gebeur. Maar sommige mense kry dit tog reg om hierdie aaklige “omstandighede” te ontsnap, of te verwerk.


  1. Ter wille van:


Baie mense leef hier, want ons het soveel verantwoordelikhede in ons lewe. Ons is bereid om in onaangename situasies te funksioneer, want daar is iets wat groter is as die omstandighede. Dit kan letterlik enige ding wees wat jou soos 'n magneet trek om te funksioneer, dit kan kinders wees of selfs drome en ideale. Dit is wanneer ek iets het wat op 'n skaal vir my swaarder weeg, en ek voel dat ek meer terugkry as wat ek inboet, dan funksioneer mense.


Wat sleg is van hierdie situasie, is dat dit ook nie 'n ekstatiese gelukkige en positiewe lewe is nie, want die mense of situasie ter wille van wie ek dit doen, voel soms skuldig, aangesien hulle altyd gaan voel asof hulle my iets skuld, maar ook kan ons baie kere ook dink dat ons opoffering op 'n stadium deur iets of iemand moet terugbetaal word.


Moeder Theresa was seker een van die wonderlikste mense, want sy het hier geleef en opofferings gemaak vir mense wat sy nie eers geken het nie, sonder om enige-iets van hulle terug te verwag. Min mense kry dit egter reg, en vandaar die spreekwoord wat lei dat daar niks verniet is nie, en alles jou iets gaan kos.


Jesus het ook hier geleef en het soveel op Sy skouers geneem vir ander mense, maar nooit iets van ons terugverwag nie.


As jy dus so leef met 'n passie vir dinge, en bereid is om weg te beweeg van die terugslae of dat jou opoffering nie terugbeantwoord word nie, mag jy hier leef, indien jy nie die ander mense “gevange” hou hier nie. Onthou altyd dat dit JOU opoffering is, en as dit nie terugbeantwoord word nie, dan is dit ook niemand se skuld nie, jy word gedryf deur jou eie idees oor die lewe.


Moeder Theresa het ook genoem dat jy sal vir ander mense goed wees en opofferings maak, maar dit word nie terugbeantwoord ooit nie, wat nooit moet beteken dat jy moet ophou om vir ander te leef en opofferings te maak nie.


  1. Te midde van:


In die pas-afgelope paralimpiese spele het ons so aan hierdie situasie gedink waar mense te midde van hulle tekortkominge en wat met hulle gebeur het, opgestaan het en sukses behaal het. Dit is waar sukses en suksesvolle mense funksioneer, waar hulle hulleself nooit laat onderkry deur ander mense, mense se woorde en omstandighede nie. Dit is in hierdie optrede waar ons die positiwiteit sien, waar mense nie wag vir iets of iemand om hulle bene te laat teruggroei sodat hulle kan hardloop nie, maar te midde van hulle gestermdheid en te midde van hulle hartseer die lewe kan geniet en suksesvol kan wees.


Dit is waar werklike godsdiens ook inkom, waar God ons leer dat ons die lewe kan geniet en nie die hele tyd met ons hoed in die hand of in opoffering aan Hom moet leef nie. God se genade is dit wat God van mense laat verskil, waar Hy ook mense sien as Sy kinders, te midde van wat jy ookal doen, God het jou lief. Ons het gladnie nodig om enige bewyse te gee nie, Genade in daar vir elke mens. Dit word nie uitgedeel oor prestasie nie, dit word nie gegee vir mense met perfekte lewens nie, maar inteendeel, hoe groter die genade, hoe meer besef jy jou nietigheid.


Ek weet nie waar jy vandag leef of wat jou omstandighede is nie, maar jy het keuses, en jy is in beheer van jou lewe. Blammeer almal om jou as jy so wil en gaan sit in jou hoekie en wag vir iemand om jou jammer te kry, dit sal nie gebeur nie. Hoe meer jy ook daaroor praat en dit deel van jou lewe maak, hoe erger gaan jou ellende raak en hoe meer slegte dinge gaan met jou gebeur. Of ons nou daarvan hou of nie, dinge gaan gebeur, en soms gaan dinge herhaaldelik met jou gebeur, dit hang net af hoe jy daarop gaan reageer.


Ek het in die verlede baie besoekers gekry van oorsee wat die arme “agtergeblewenes” in Suid- Afrika vreeslik jammer kry, soos ons almal doen. Een ding wat hulle absoluut nooit kon verstaan nie, is die glimlagte op die klein kindertjies se gesigte, of die opgeruimdheid waarmee die bediende die skottelgoed was en sing.


Jy kan ook lag en glimlag en die lewe geniet, “te midde van” jou gestremdheid, jou siekte, jou omstandighede, jou ongeluk, jou eensaamheid en jou armoede. Niks in die lewe is finaal nie, maar vandag het jy 'n keuse om te midde van alles, geluk te KIES. As jy dit nie kies nie, kies jy outomaties om in jou hartseer en ongeluk te leef.

 
 
JOU KEUSE!

 

No comments:

Post a Comment