Monday, November 14, 2011

Lesse met Rooiwyn

Ek hou baie van Rooiwyn, maar ek is nie 'n kenner nie. Ek kan nie geblinddoek vir jou sê watter tipe rooiwyn dit is, van watter plaas en watter jaar nie. As ek dus voor die wynrak staan by die Spar, laat ek myself maar lei deur sigwaarde. Die eerste wat ek oplet is die plakker of label. Daardie wat so mooi en goed ontwerp is met die goudinleg en krulletjieletters met al die toekennings wat dit al gewen het, vang nogal 'n mens se oog. Dan natuurlik ook skep nie net die plakker verwagting nie, maar ook die prys. 'n Mens dink mos dat hoe duurder 'n bottel wyn is, hoe beter behoort dit te wees.

So besluit ek nou die dag in die Spar dat ek myself gaan bederf met 'n heerlike Merlot. Ek loop toe daar na daardie duurste rak toe, met die ou wyne. Ek soek 'n heerlike bottel uit en ry opgewonde huistoe. Toe ek by die huis kom en die kurktrekker indruk, toe krummel die kurk. Toe ek hom uiteindelik oop het, toe gooi ek 'n glasie in, en was ek nou teleurgesteld. Suur soos asyn.

Maar toe is ek baie lus vir rooiwyn en gaan terug Spar toe. Nou is ek baie bekommerd om nie weer 'n bloutjie te loop nie. Daar op een rak staan 'n klomp wyn, en op so 'n groen karton is sommer met 'n Kokiepen geskryf R24.95 en die wyn is 'n Rifle Red. Ek vat toe 'n kans en koop dit. Dit is sommer 'n skroeftop, wat my nog meer bekommerd maak. By die huis gooi ek 'n glasie in, en was ek nou verbaas! Dit is die heerlikste wyn. Nodeloos om te se, ek het die volgende dag nog 2 bottels gaan koop, en oor die laaste klompie maande seker die gros van Spar se voorraad Rifle Red's gaan koop.

Dit laat my baie dink aan die vers in Jesaja 40 wat sê: "Die mens is soos gras, alles waarmee hy homself besig hou is soos veldblomme. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van die Here bly vir Ewig staan"

Wanneer dit by mense kom, is ons ook maar net sulke leke soos ek met my rooiwyn. Elke dag staan ons voor die rak van mense voor ons om te besluit met wie ons onsself wil assosieer. En ons gaan meeste van die kere op sigwaarde. Net soos wynplase, doen ons ook baie moeite met ons plakkers en labels. Ons spandeer baie tyd en moeite om die regte uiterlike beeld vir mense te skep. Hare klere naels complete make-overs, karre, huise – alles die plakkers van die lewe.

Ons doen die dinge omdat ons dink dat hierdie dinge ons meer bemarkbaar maak. En meer WERD maak. Maar die teksvers se vir ons dat hierdie dinge is wat verbygaan. So weet ons dat ons gaan plooie kry of ons hare verloor en siek word, en uiteindelik gaan ons liggame ingee en ons gaan sterf. Al ons plakkers kan in 'n oogwink van ons weggeneem word, so ook alles wat ons besit en bymekaarmaak.

Wyn het ook CV's. In boeke soos Platters se wyngids, word vir ons vertel waar die wyn van oorsprong is, watter tipe druif gebruik word, wie die wynmaker is en watter toekennings die spesifieke wyn al gewen het. So ook bou ons oor 'n leeftyd 'n CV op, van padpatrollie in die laerskool, tot grade en titels. Die vers vertel vir ons dat dit waarmee ons onsself besig hou soos die veldblomme is, dat dit ook van korte duur is.

Al die plakkers en pryse en CV's is dinge wat 'n verwagting by ons skep van wat binne in die bottel is. Soms kry ons versierde bottels wat pragtig is, maar leeg is binne. Duur bottels wyn wat verslaan is. En dan, wyn soos my Rifle Red wat totaal "underpromise", maar "over deliver". Die plakker en prys en CV van 'n wyn, is verlengstukke van die essensie van die wyn, nie andersom nie. 'n Mooi plakker en duur prys maak nie die wyn in die bottel beter nie.

Jy sien, die vers sê dat dit altyd in die lewe oor die essensie gaan. Met wyn gaan dit oor dit wat binne in die bottel is. Dit gaan oor die smaak daarvan en dat mense smag om van ons innerlike te drink. Die bottel en die plakker en die prys raak vergete op 'n ashoop en vergaan. Wat van belang is is die interaksie van mense. Dit gaan uiteindelik in ons lewens slegs oor een ding wat ons agterlaat, en dit is die nasmaak wat mense in hulle harte oorhet, nadat hulle met ons essensie ons siele gedeel het. Ons onthou die smaak van die wyn, nie die bottel, pryse en plakkers se ontwerpe nie.

Beteken dit dat ons in die lewe soos Job en die Prediker in sak en as moet sit en nie aan ons plakkers en CV's moet werk nie? Beslis nie, dit is nie wat hierdie vers bedoel nie. Die vers gaan juis oor dit, en dit is ons lessie wat ons moet leer vandag, alles is goed en wel wat ons doen en waarmee ons onsself besig hou, solank ons nooit uit die oog verloor wat werklik belangrik is nie. En dat ons so besig is en aandag en energie spandeer om dinge wat verbygaan, dat ons die belangrike dinge in die lewe vergeet.

Daar is dus net een ding in die lewe om op te roem en te vertrou, en dit is God en Sy Genade en belofte van 'n Ewige Lewe saam met Hom, en dat ons dit uitstraal na die mense om ons in ons uitleef van geloof, liefde en vertroue in die Essensie van alles!

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment