Tuesday, August 2, 2011

Sê wie?

Ek hoor weer die naweek die storie van die ou boer en sy seun wat op die stoep sit en kyk hoe lekker die reen uitsak oor die lande. “Sjoe, pa, lyk na genoeg reen vir die oes, nou is ons bekommernis verby.” “Nee wag,” sê sy pa terwyl hy na ‘n straaltjie son kyk wat deur die wolke breek. “Sien jy, seun, daar kom die droogte weer!”

Selfs in die eerste hoofstuk van die Bybel sien ons dat daar ooglopend 2 pole in enige redenasie is. God skep die goed uit die warboel. God skep goed, en daarmee die paradys waar alles fantasties is. Sommer onmiddelik daarna leer ons van die boom van kennis van goed en kwaad en dat daar skielik spanning ontstaan tussen goed en sleg. God se goeie kant en die Bose se slegte kant.

Deur die natuur sien ons dat selfs in die kleinste molekule, daar ‘n positiewe en negatiewe pool is. Droogte en reen, kos en hongersnood, vet en maer, lelik en mooi, winter en somer, lewe en dood.

Dit voel asof jy op ‘n skeidregterstoel sit en kyk na ‘n tenniswedstryd en hoe daar eintlik elke dag en oomblik ‘n besluit gefel word oor wie hierdie punt wen. Heen en weer, dan die goeie en dan die slegte.

My fokus hier is nie die redenasie oor die bestaan van die 2 pole nie, maar ons ingesteldheid dat ons of permanent in die negatiewe leef, of dat ons die hele tyd, te midde van watter omstandighede, die slegte verwag. Dit is asof die gesamentlike bewussyn van die wêreld ons nou so geprogrammeer het. Dit laat my dus wonder hoekom dit nie met mense goed gaan nie, want ek glo tog dat wat jy glo waar word. Of dit nou die universum is wat dit na jou toe laat kom, of sommer net in praktyk dat my denke eenvoudig my aksies rig.

Om dit te illustreer, sit ek nou die aand saam met ‘n klomp vriende. Die een vrou is sommer baie opgewonde oor haar verhouding en totaal verlief. Die ander mense aan die tafel begin onmiddelik om die gevaarligte vir haar aan te skakel. Die een dink dat die ou met wie sy die verhouding het getroud is, die ander dink weer dat sy gemanipuleer word. So hou die gesprek aan en aan. Wie het gesê dat alle mense sleg is? Wie het gesê dat alle mans sleg is? Wie het gesê liefde is gevaarlik? Wie het gesê dat verhoudings nie werk nie?

Jy sien, mense dra hulle ondervindings met hulle saam, elke liewe dag. As my ingesteldheid (natuurlik deur ondervinding en geskiedenis) is dat alle mans sleg is en dat jy gaan seerkry, sal enige mens ooit in ‘n verhouding met iemand anders tree? As hulle dit wel doen, sal daardie persoon ooit ‘n sukses van hulle verhouding maak? Wie het gesê dat verhoudings moeilik is of moet wees?

‘n Vriend van my is besig met sy studies in Homeopatie. Hy is baie ingestel daarop dat ons as vriende gesonder moet leef. Een dag by sy huis toets hy die suur in my sisteem, aangesien almal weet dat die slegte siektes soos die kankers hulle tentakels in jou inkry en jou dood kan veroorsaak as jou sisteem te suur is.

Om negatief belaai te wees en altyd die slegte te verwag, lei daartoe dat my hele sisteem so “besuur” is dat al die slegte dinge in die lewe wel my gaan aanval. As ek die hele tyd ingestel is op redes van hoekom ek nie mag lief wees nie, raai wat, dan sal ek nie liefde vind nie. As ek altyd die slegte verwag, gaan dit gebeur met my. As ek altyd die aaklige in mense raaksien, gaan hulle dit vir my openbaar.

As jy kinders het, verstaan jy die alternatief baie mooi. Ons weet almal dat kinders net kan funksioneer waar daar liefde en deernis is. My kinders is die wonderlikste geskenke wat ek van God gekry het, en my wens vir hulle was altyd dat niemand ooit hulle lag by hulle sal steel nie. En ek glo met my hele wese, dat dit nie die negatiewe omstandighede is wat hulle lag gaan steel nie, maar eerder gaan hulle lag gesteel word die oomblik wat hulle gaan inkoop in hierdie negatief belaaide wêreld en nie meer gaan glo in die mooi, die wonderlike en die drome nie. Die oomblik wat iemand begin om vir hulle die realiteit te skets dat daar nie ‘n kersvader of tandemuis is nie. Wie het gesê?

Die oomblik wat jy in hierdie sypaadjie psigologie inkoop en dit jou eie maak, kan jy net so wel die deure van jou huis toemaak, want dan het jou lewe tot ‘n einde gekom, en dan word jy net ‘n suurstofdief.

Jy kan my nou ook vanuit jou perspektief afmaak as ‘n onrealistiese dromer wat nie in die regte wêreld leef nie. Die skuldkrisis in Amerika die laaste paar dae het my net laat besef dat “realiste” in ‘n droomwêreld leef. Net omdat iets tasbaar is, beteken nie dat dit so is nie.

Ek is dalk ‘n dromer, maar as ek elke dag my lewe laat beheers en beheer teen die negatiewe wat dalk kan gebeur, sou ek lankal reeds my verstand verloor het. En as ek al hierdie “urban legends” geglo het, sou ek dalk ook soos almal gedink en gedoen het. Luister na die dinge wat ons uiter: “Mense kan nie verander nie, wat opgaan moet afkom, dit is net ‘n kwessie van tyd, goeie tye is nie permanent nie”. Sê wie?

Ons is so besig elke dag met “parental guidance” op ons DSTV omdat ons nie wil he dat ons kinders beinvloed moet word nie, maar in ons lewens, ons woorde en ons denke beinvloed ons hulle 10 keer meer as die seks en geweld op televisie. Ek gaan nie eers vir jou vra om te gaan kyk wat jy dink nie, gaan kyk net wat jy glo. Glo jy dat alles moontlik is? Glo jy in die mooi? Glo jy in die lekker?

Natuurlik is daar omstandighede wat prakties in jou lewe ‘n invloed het, maar wat doen jy daarmee? Natuurlik het ons almal seergekry in verhoudings, maar hoekom laat jy toe dat die seerkry van daardie geval jou keer om nou in ‘n verhouding te wees? Natuurlik het iemand ons teleurgestel, maar beteken dit dat ek van daardie oomblik af niemand meer vertrou nie?

Ons maak so maklik mense wat “dromers” is en in positief is en glo af as onrealisties. “Jy sal nog afkom aarde toe” sê ons maklik. Wie het dit gesê, en hoekom is dit nou skielik die waarheid? “Alle goeie dinge kom tot ‘n einde!” Wie het gesê dat dit so moet werk? “Die lewe is hard en moeilik” Wie het dit gesê?

Jy weet wat, in jou lewe sal alle goeie dinge tot ‘n einde kom, want met hierdie tipe ingesteldheid sien jy die mooi en die positiewe net as tydelik. Ek het ‘n vriend wat altyd glimlag. Een van die dinge wat hy glo is dat hy permanent op vakansie is, maar 11 maande van die jaar net gou vinnig gaan werk om vir sy 12 maande vakansie te betaal.

Gisteraand sit ek saam met iemand wat ‘n filmmaker is. Weet jy hoe lekker dit is om met mense om jou te praat wat nog droom? Mense om jou te sien wat glo dat alles moontlik is? Mense wat gedryf word deur hulle drome en ideale en geloof en wat nie die praktiese situasie miskyk nie, maar dit oorbrug omdat hulle drome groter is as die realiteit.

Daar is honderde stories van suksesvolle besighede waar mense deur hulle geloof en droom gestuur is van bakboord na stuurboord, mense vir hulle vertel het hoe onrealisties dit is en dat dit nooit sal werk nie. En as dit werk, gebruik ons die woord “ongelooflik”. Wat het van jou droom geword? Het jy ingekoop in die nonsens? Het jy toegelaat dat jou vlerke geknip word?

Mense sê so maklik dat ons moet swaarkry, want anders sal ons nie die lesse leer wat ons moet leer nie. Natuurlik sal jy met hierdie mentaliteit swaarkry moet skep, want jy het mos nou gesê dat jy nie kan lesse leer uit goeie en gelukkige omstandighede nie. Wie het gesê dat dit so is? Ek het dan nou net vertel van die filmmaker wat my gister, oor ‘n glasie wyn en ontspanning, ‘n les geleer het vir my lewe. Ek het geleer uit lekker!

Hierdie negatief belaaide denke van ons sny so diep dat ons dit soms nie meer agterkom nie. Kyk net na die manier hoe ons kinders grootmaak. Ons leer vir hulle hoe om nie te leef nie. In plaas daarvan om vir hulle te wys hoe om die bordjie te dra met die muffin in en mooi met twee handjies vas te hou, stadig te loop, te kyk vir die bordjie, sê ons eerder, pasop vir dit, nee jy is nog te klein, moet nou nie dit nie, laat ek dit eerder doen want jy gaan mors.

Ons programeer negatief!

As hulle nou die bordjie laat val, sien jy nou, ek het geweet jy gaan dit laat val! Skep ons spanning en drama, omdat ons glo dat ons eerder met dit vir hulle rigting gaan gee. “Buig die boompie terwyl hy jonk is”. Sjoe, en dan gee ons die televisie en die skoolsisteem die skuld vir dinge.

Jy sien, wat jy koop, word gestoor in jou gedagtes. Dit is meer van ‘n realiteit as die ekonomie en kredietwet. En net omdat iemand nie dieselfde koop as jy en die wêreld om jou nie, beteken nie dat daar met hulle fout is nie. Die realiteit het net soveel krake in as die drome.

Die voorbeeld van geloof in Christus is hier baie relevant. Vanuit ‘n “realistiese” oogpunt is die opstanding van die dood onmoontlik. Dit is slegs moontlik vanuit geloof en om in geloof te leef. Maak dit daarvan minder waar as die sleutels onder my vingers? Miskien is hierdie presies die rede hoekom jy die mense om jou nie kan inspireer om te glo nie! Op dieselfde wyse val mense se geloof ineen omdat hulle dink dat as Jona nie fisies in die vis was nie, die Bybel nie waar is nie en daar geen boodskap gehaal kan word uit die verhaal nie.

Die verskil tussen kinders en grootmense is dat ons kinders in die plassie water in die pad gaan spring en die grootmense gaan keer dat die kinders in die plassie water spring. Vandag wil ek in die plassies speel en dankbaar wees vir die potholes wat my kans gee om in die water te speel!

Wat gaan jy vandag koop?

Gaan jy toelaat dat jou vlerke vandag geknip word?

Gaan jy na alles om jou kyk en bietjie leer om te sê: “Sê wie?”

No comments:

Post a Comment