Sunday, July 10, 2016

Om "te" erg te wees!

Toe ek klein was het my ouma gese: “My kind, alles wat 'n “te” by het is verkeerd, behalwe te perd, tevrede en te-maties”. Ek sien veral nou met kinders, hoe mense ingesuig kan word in dinge, sodat dit hulle hele lewe “consume”. My kinders se hele lewe bestaan uit elektroniese speletjies, op die X-Box, die Playstation, die rekenaar en hulle fone. Dit het hulle hele lewe oorgeneem, soveelso dat hulle nie eers meer na plekke toe wil gaan waar daar nie wi-fi konneksie is nie. En as ons daar kom, sal hulle heel eerder op hulle fone speel as om te gesels.

Ek dink ons as grootmense is ook baie skuldig daaraan, op een vlak of 'n ander. Oor die laaste paar weke het ek agtergekom hoe ek ook maar toelaat dat sekere dinge my insluk. Ek is so ingesuig by 'n situasie dat ek totaal en al hulpeloos voel in dit, ek kan aan niks anders dink nie, en my gedagtes is die hele tyd daarmee besig, dag in en dag uit, selfs in die nag. So, ek kan nie eintlik krities wees teenoor my kinders as ek dieselfde doen nie. Ek se daarmee gladnie dat jy maar net jou kop in 'n gat moet druk en belangrike dinge ignoreer nie. Dit gaan hier oor die “TE” in situasies, en nie die situasie of die elektroniese speletjies nie.

Gisteraand le ek weer wakker en ek is weer in my gedagtes besig. Ek besluit toe later, hier by 3-uur om maar op te staan en 'n koppie koffie te gaan maak. Ja, ek drink te veel koffie. Ek gaan sit op die stoep in die koue en sluk aan my koffie en steek 'n sigaret aan. In daardie oomblik besef ek dat 'n mens jouself oor die “te” dinge, baie dinge wysmaak. Soos ook om te rook en ingesluk te word daardeur, en so ook om as jy wakker word 'n koppie koffie of 3 MOET drink. Wie het gese dat dit so moet wees? Niemand, maar in my kop het ek dit so gemaak dat ek gladnie wil funksioneer sonder my koffie in die oggend nie. Ek is verslaaf daaraan, en so ook aan sigarette. Miljoene mense in die wereld drink nie koffie in die oggend nie, en miljoene rook nie, so dit is nie 'n noodsaaklike ding in die lewe nie, nie soos suurstof nie. En in die oomblik sit ek toe ook en stress oor 'n situasie, en weereens besef ek dat dit my so insuig, dat ek aan niks anders kan of wil dink nie.

En so dink ek weer aan Viktor Frankl se idee dat jy nie noodwendig omstandighede rondom jou kan verander nie, maar jy kan jou reaksie en jou denke beheer. Jy het die vrye wil om te besluit of koffie vir jou belangrik is of nie, en of jy wil rook of nie. Niemand druk jou in die oggend vas en boei jou aan 'n koppie koffie en laat jou dit drink nie, jy doen dit. En soms is dit jy wat uit vrye wil jouself boei aan dinge, insluitende stress, insluitende koffie, insluitende alle ander dinge wat jy glo jy nie kan beheer nie.

Die laaste twee aande in ons huis was heerlik met die kinders. Ons het nie DSTV nie en ook nie Wi-Fi nie, maar ons het “30 seconds”, “Fase 10” en “Who want to be a Millionaire”. Dit was so heerlik en lekker om bietjie iets anders te doen as dieselfde ou dinge. Ek is ook nogal verslaaf daaraan om die rugby te kyk, en gisteraand het dit my nie eers gepla om dit nie te sien nie. Ek is iemand wat in die oggend die TV aanskakel en eers laat in die aand afskakel, en nou dat dit nie daar is nie, besef ek dat dit my nie doodmaak om nie die rugby te kan sien nie. In werklikheid kom ek agter dat ons as gesin soveel meer tyd met mekaar spandeer en eintlik ook baie meer pret het as om net op die banke te sit en die verte in te staar.

So, die eerste les wat ek geleer het, jy kan sonder dinge klaarkom. Hoeveel dinge is jy by ingesluk wat jy dink dat jy die MOET doen? Ek het geleer dit is nie nodig nie, daar is ander dinge wat belangriker is. Maar dit begin by jouself, in jou denke en in jou kop. Aan die begin is dit vir ons vreemd, maar stelselmatig kan jy jouself programmeer om dinge anders te sien.

Die tweede les, is dat jy nie nou weer radikaal oor TV-kyk of Wi-Fi hoef te wees nie. Ons het 3G op ons rekenaars en hardeskywe met reekse op, so ja, ons kyk TV en gaan op die internet, maar dit is nie meer die primere idee in die lewe nie. Dit suig ons nie meer in nie, so ons het op 'n manier die “TE” uit ons optrede gehaal. Jy het nie nodig om radikaal te wees en op te hou om aan jou situasie te werk wat jou kan opstress nie. Dit is nog steeds lekker om die bokke te kyk op die TV, maar as jy dit nie kan sien nie, sal jou lewe nie eindig nie, glo my. Dit hang egter af hoe jy daaroor dink, en dit maak nie van jou 'n slegter ondersteuner van die Bulle as jy nou nie op Loftus is nie. Ek het ook steeds gisteraand Ge-Google om te sien wat gebeur het, en ek was net so gelukkig dat hulle gewen het, sonder dat ek dit lewendig gevolg het. Dit is 'n verandering in “ingesteldheid” wat jou lewe draaglik maak, en niks te doen met of dit vir jou belangrik is of nie.

Derdens het ek geleer om weer dinge te waardeer. Soms is jy so vasgevang in jou situasie en denke, dat as jy 'n film op televisie te siene kan kry, dit weer vir jou spesiaal is. Om die hele dag die rugby op TV in jou huis aan te he, laat jou nie altyd besef hoe bevoorregd jy is nie. Vir my is dit spesiaal om erens of oor “streaming” weer die rugby te kan kyk. Soms is ons so verknog aan dinge, sodat dit later nie meer vir ons spesiaal voel of is nie. Weereens se ek nie dat daar iets mee verkeerd is om te hou van wat jy wil of dat dinge vir jou belangrik of spesiaal is nie. Ek is 'n roker, maar omdat ek vasgevang is in die gewoonte, rook ek 20 sigarette per dag, en dalk is 2 van hulle vir my werklik lekker, die res is net gewoonte en daarom eintlik net 'n vermorsing van geld en tyd en moeite.

Vierdens, om nie so 'n “te” aan 'n ding te koppel nie, maak jou vry. So met die intrapslag in ons huis is dit die Rugby toetse teen Ierland. 2 weke na mekaar is ek die hele saterdag oggend gestress om te probeer om die toetse op te vang of erens te gaan kyk. My ma bring selfs die een saterdag haar dekodeerder om op die TV te laai, maar DSTV kan ons nie in tyd help om dit ingestel te kry nie. So sit ek maar die radio aan, en soos ouds luister ons die wedstryd. In die tyd wat ons sukkel om die dekodeerder gekoppel te kry, is daar spanning want die tyd loop uit. Ons baklei met mekaar, en elkeen het sy eie idee, en later loop die aand toe sommer skeef vir almal. Selfs die tjoppies is maar sleg en die atmosfeer is nie lekker nie. Die volgende oggend besef ek net weer dat die fanatieke “te” en die denke dat ek MOET kyk, het die genot van die aand ontneem. Gisteraand was my ingesteldheid anders, en ons probeer nie eers om die wedstryd te kyk nie, en alles is lekker, 'n huis vol genot, grappies en glimlagte.

Laastens maak hierdie nugtere besluit om dinge nie 'n “te” te maak nie, jou die krag om te fokus, en dalk ontdek jy dat jou lewe verander omdat jy die werklike belangrike dinge agterkom en op fokus. Mense wat kan rustig raak en nie fanaties is oor dinge nie, maak beter besluite en planne. 'n Vriend van my het opgehou rook, nadat hy 'n kursus bygewoon het, en al wat die kursus jou eintlik leer is dat jy nie nodig het om deur jou gewoonte ingesuig te word nie. Baie van die dinge wat ons oor radikaal is, steel ons krag en ons lag. Vandag kan ek niks doen aan sekere situasies nie, hoe ek ookal op en af spring, want dit is Sondag. Maar niks weerhou my daarvan om die dag saam met my mense te geniet nie, selfs net om op die stoep te sit en gesels, sonder luukse kos of duur wyn of Coke of Niknaks. Niks is so belangrik dat ek nie sonder dit kan klaarkom nie, verander jou denke, gooi die “te” van dinge van jou skouers af en leef vry en lekker.


Wees te-vrede en eet jou te-maties!

Thursday, June 9, 2016

Vir God is meer as Alles moontlik!

Oor die afgelope tyd skryf en dink en leef ek baie oor en in volle vertroue in God. Vir lank het ek op my eie krag staatgemaak, en vir lank op prinse en mense om my vertrou vir dinge.


Ek leef vandag in dankbaarheid vir alles wat God aan my gee en vir my doen, maar soms, menslik, twyfel 'n mens maar. Ons voel baie keer skuldig oor twyfel, en vanoggend word ek tot stilstand geroep en dink aan die verhaal van Gideon in Rigters 6. Die verhaal daar gaan oor Gideon se mense wat onder geweldige druk is, ekonomies, emosioneel, godsdienstig en ook wat hulle kultuur en voortbestaan as volk betref.


Gideon kry kontak met die boodskapper van God en elke keer twyfel hy oor die opdragte en die rigting wat hy in gestuur word. Elke keer vra hy 'n teken om hom te laat oortuig dat die boodskap werklik van God self kom en nie die bose is wat hom aanval nie. En, elke keer kry hy 'n positiewe bewys, maar steeds twyfel hy. Ek is net so menslik soos jy, en een van die dinge wat ek uit hierdie verhaal leer is dat God ook ons menslikheid ken en ongelooflik geduldig met ons is, selfs in ons twyfel in Hom en in dinge wat met ons gebeur.


Verder lees ons ook in die verhaal dat die volk en mense om hom baie praat oor dinge van die verlede en hoe goed God wel vir hulle WAS, maar hulle voel nie die hand van die Here in hierdie omstandighede waarin hulle hulle bevind nie. Ek en jy doen ook maar dieselfde deur telkemale wanneer dinge nie met ons goed gaan nie, of ons stress, tog maar terug te dink aan die plekke en tye waar God wel vir ons wonderwerke laat gebeur het. Ek dink veral ook terug aan my dae op Universiteit waar ek absoluut niks van die Grieks verstaan het nie, en tog deur gebed deurgekom het, al het ek dit dalk nie eers verdien nie. Ek besef wel dat daar ongelooflik baie geleenthede elke dag is waar God dieselfde doen vir my en mense om my. Maar, alhoewel dit so is, is ons mense maar altyd ingestel op die hede en gefokus op die realiteit van elke dag, en wanneer dinge vir ons mistroostig lyk, dan twyfel ons vinnig, word depressief en pessimisties. Weereens, God is geduldig met hierdie gevoelens en straf ons nie daarvoor nie, inteendeel is dit juis hoekom EK God soos hy in die Bybel vir ons geskets word aanbid.


Die boodskap wat dwarsdeur die Bybel voorkom is dat God 'n God van genade is, selfs 'n God wat sorg en wonderwerke laat gebeur vir almal wat geskape is, selfs as hulle in Hom twyfel of selfs wanneer hulle nie in Hom glo nie. Dit is tog die hoof boodskap van die Bybel en die hele kern van Jesus, wat vir mense wat hulleself nie aan hulle skoenveters kan optel nie, ophef en lewe gee. So is die Bybel vol verhale van gewone mense, mense soos Abraham, Isak, Jakob, Noag, Gideon en vele meer wat vol foute was, vol twyfel en ook nie altyd 100% gehoorsaam aan God soos wat ons dink nie. Hulle het hierdie God van hulle ook maar soms getoets, net soos Gideon in die verhaal in Rigters 6, om 'n velletjie wol in die parskuip te sit en die een aand vir God vra om dit droog te hou terwyl die grond rondom dit nat is. Die volgende aand toets hy weer en vra dat die velletjie die keer nat moet wees en die grond droog. So het dit gebeur, net om te bevestig vir Gideon dat die hele situasie nie toeval is nie.


Ons voel soms skuldig om die Here so te toets, want ons is baie bang dat God ons gaan straf. Hierdie verhaal leer my om ook te mag vra oor die lewe en God se plan daarin. Dit motiveer my om weereens te besef dat God van die verlede wat wonderwerke gedoen het, dit vandag steeds doen, selfs al sien ek dit nie. Dit is baie maklik om in God te glo wanneer die wonderwerk plaasgevind het, maar moeilik as dit vir jou voel asof dit nie gaan gebeur nie. Die Bybel leer ons self dat as ons net die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons sou kon berge versit. Maar, selfs al het ons dit nie, God is en bly in beheer, en God sal nie die vertroue wat ons in Hom stel ooit laat ongesiens verbygaan of ons nie verhoor nie.


Wanneer ek twyfel, stress en slapelose nagte ondervind, bly dit belangrik om te verstaan dat God, alhoewel ons Hom met alles in ons vertrou, verstaan dat die realiteite van die lewe ons soms onderkry. God verstaan waardeur elkeen van ons gaan, God verwag nie van ons om perfek te wees of te glo of te vertrou voordat Hy ons Seen nie. Ek dink ook nie dat God so met opset ons geloof eers toets voordat Hy vir ons uitkoms gee nie. Die God wat ek aanbid is 'n genadige God, 'n liefdevolle Vader wat nie met opset ons lewens ondraaglik maak of wil maak nie. So, selfs in ons wankelagtige geloof, ons onsekerhede van elke dag, ons vrese vir more of omstandighede, doen en bly God steeds getrou. Iemand het een keer gese, en ek sal dit nooit vergeet nie, "God het my en jou en ons geloof nie nodig sodat Hy God kan wees nie". Dankie tog, stel jouself voor wat van elkeen van ons sou geword het as ons net eenvoudig uitgelewer was aan mekaar? Indien my en jou geloof nodig was om God se Almag te bewys, sou dit maar 'n baie tekortkomende scenario tot gevolg gehad het.


Daar is egter wel nog iets anders wat ons uit hierdie verhaal leer van Gideon, en dit is dat God ons anders sien as wat ons onsself sien. Gideon het self gese dat hy nie vir Israel kan red nie, want hy is nie 'n gesiene man uit 'n gesiene familie nie en minderwaardig is. Soms verstaan ons nie, en selfs vandag lei ons aan hierdie minderwaardigheid teenoor ander mense, en ons dink nie dat God ons kan gebruik nie. Weereens, vir God om in jou, deur jou en vir jou te werk, het jy nie nodig om "asemrowend" te wees nie. God gebruik dwarsdeur die Bybel mense wat platgeslaan, klein en in die oe van mense nikswerd is nie. So, al voel jy so oor jouself, al leef jy in depressie en armoede, God sien elke dag jou potensiaal raak, en God slaan van die begin van alle tye reguit houe met krom stokke. Wat 'n verligting is dit nie vir ellkeen van ons nie, selfs vir my op hierdie dag wat ek so stress.


Nog 'n boodskap vir ons almal is dat God konstant is, dieselfde God wat die volk uit Egipte bevry het, is dieselfde God wat die wol laat nat word het, en Hy is vandag steeds dieselfde. Hy is dieselfde God wat jou by die naam geroep het, en wat nie 'n haar van die kop sal laat val sonder dat dit Sy wil is nie. Ek dink dat hierdie feit alleen, ons elkeen van ons twyfel en ongeloof behoort te genees en op jou kniee moet laat val uit danbaarheid. Ek dink een van ons grootste probleme is die limiete wat ons denke oor God en wat God alles kan doen op ons plaas. Ons redeneer oor God, net soos wat ek hier doen, maar geen woorde of beelde of verhale sal ooit genoeg wees om God vas te vang nie, anders is Hy mos nie meer God nie. Hierdie God is so groot, dat selfs om te se dat alles vir Hom moontlik is, limiete plaas op Sy Goddelikheid.


Dalk is die laaste idee uit die stuk die belangrikste, en dit is dat JOU plan oor JOU gaan, en van die verhale wat ons lees, het mense 'n rol gespeel in die GROTER prentjie en wil van God. Soms is ons so gefokus op jou situasie NOU en JOU behoefte, eerder as om te vra wat jou plek en rol in die verhaal is. Gisteraand kon ek nie slaap nie, en vanoggend toe ek opstaan kom hierdie idees waaroor ek vandag skryf by my op. Vir hierdie paar minute wat ek hierdie skryf, is die fokus nie op my en my krisis nie, maar afgelei tot die rol wat ek hoop hierdie stuk vandag in jou lewe en in God se groter prentjie speel. Miskien moet ons ook begin om meer en meer mense in te lig en te vertel oor die wonderlike dinge wat God met ons laat gebeur.


Vir die afgelope klompie maande skryf en dink ek tog baie oor my vertroue in God, wat ek dalk verkeerd doen dat God nie vir my alles gee wat ek vra op die tyd nie. In hierdie tyd, veral omdat ek in my lewe pandora se boksie oopgemaak het rondom vertroue, word hierdie vertroue getoets, oor en oor. Dit word getoets deur mense wat nie dieselfde glo nie, omstandighede en soms ook 'n gevoel van minderwaardigheid my beetgepak. Mense het neergekyk op my, my omstandighede en ook my geloof, en soms vang dit jou, want jy is net 'n mens. Maar God is die Een wat my elke dag met hoop vul, en Sy hand hier onder my ken vat en my kop optel om die lewe in die oe te kyk. En daarvoor is ek ongelooflik dankbaar.


Ek sluit af met die feit dat ek ook vandag aan God hierdie velletjies met wol uitsit, nie net vir my nie, maar ook vir soveel mense om my. Ek sit en wag met volle geloof en met volle vertroue dat God dit wat ek vra sal volbring en in Sy hande gee ek my Siel, my Liggaam en ook my hele lewe, want Hy is in beheer van alles, en sonder hom is ek elkgeval niks. Onthou altyd: "Alles is vir God moontlik, en nog meer as alles"!


Thursday, May 5, 2016

Van om alles te verloor en te wen

Ek het in 'n huis grootgeword, en ek kan nooit werklik vir mense se of ek gelukkig was of ongelukkig nie, want dit was maar hoe dit was.  Aan die een kant het ek 'n ma gehad wat alles aanmekaar gehou het.  Sy het my probeer weghou van al die slegte dinge wat daar gebeur het, so ek was beskermd, maar hoe sy ookal probeer het,  ek kon nie ontsnap van die realiteite wat in ons lewens gebeur het nie.  Dus, om eerlik te wees, was enige mate van geluk in die huishouding maar net 'n illusie.  My pa en ma het hulle eie stryd in hulle lewens gelei, my ma was hoogs gekwalifiseerd en sy het geveg teen 'n sisteem waar sy altyd hard gewerk het, maar omdat sy 'n vrou is, was daar 'n plafon waar sy nie kon deurbreek nie.  My pa het in 'n huis grootgeword waar sy pa 'n alkoholis was, en hy moes St 7 uit die skool gaan om op die spoorweg te gaan werk.  Ek dink dit het hom gebreek, want hy het altyd ook teen agterstand baklei, want nooit die lewe gehad wat hy vir homself gesien het nie.  Hy het begin om te drink om die agterstand korter te laat voel, maar in die proses al hoe verder agter geraak.


Ek het nooit die werklike impak van hierdie gebeure verstaan nie, want ek het gedink 'n mens cope maar net met die lewe.  Ek het ook nooit werklik gedink dat mens iets verdien nie, want in hulle probeer het ek besef dat die lewe elke dag net 'n opdraende stryd is en sal wees.  Die vibrasie in my lewe was baie laag, en al waar ek uit sulke dinge kon kom, was deur prestasie.  Ek het redelik goed op skool gedoen, al die dinge wat ek aan kon deelneem het ek, maar nooit werklik besef dat ek maar 'n groot vissie in 'n kleiner dammetjie was nie.  Vir my ontwikkeling as mens het dit baie goed gedoen, maar in essensie het dit maar net korte duur gehad, want telkemale word jy maar teruggeruk na jou omstandighede.  EK HET GEVOEL ASOF DIT NIE DIE LEWE IS WAT VIR MY BEDOEL IS NIE.


Toe kom die groot besluit oor wat ek met my lewe gaan doen.  Ek was altyd gelowig, want dit was die regte ding om te doen.  Ek het kerk toe gegaan, maar meerendeels omdat my ouers in die kerk was.  Ek het my hart vir die Here gegee op 'n konferensie van Rhema, al was ons in die NG Kerk, en ja, ek het belydenis van geloof afgele.  'n Groot inspirasie in my lewe was my oom wat dominee in Nederland was, en alhoewel ek getoets was om eerder Regte te gaan swot, en alhoewel ek van altyd af wou Argitektuur doen, besluit ek om dominee te word.  Ek het gedink en geglo dat dit my roeping is.  Ek onthou die eerste dag op Tukkies toe ons gevra word rondom ons roeping, was dit vir my 'n moeilike antwoord om te gee.  Al wat ek aan kon dink is dat ek al die talente het om dominee te wees, maar daar was altyd iets van 'n gemis en 'n hunkering in my.


Op Universiteit het ek weereens aan vele organisasies behoort, Perdeby, Radio Tuks, Joolkomitee en Studenteraad.  Dit was heerlik, want dit het my 'n klomp ervarings gegee.  Weereens het ek nie gevoel asof dit die lewe is van wie ek werklik is en verdien om te wees nie.  Maar dit was net asof dinge net met my gebeur, die een ding het die ander geroep en kort voor lank was 7 jaar van my lewe in 'n oogwink verby.  Ek het genadiglik deur die proses gegaan en toe wel my studies as dominee voltooi,  MAAR EK HET GEVOEL ASOF DIT NIE DIE LEWE IS WAT VIR MY BEDOEL IS NIE.


In daardie tyd was poste maar skaars in die kerk, en ek het vir alles wat bewe aansoek gedoen.  Toe kry ek 'n pos in Pierre van Ryneveld NG gemeente in Pretoria.  Ek was baie bevoorregd, want bitter min jong ouens kry 'n pos in Pretoria.  Ek kan onthou hoe 'n groot skok dit op my sisteem was om skielik hierdie groot verantwoordelikheid te dra.  Ek kom nou net uit die Universiteit, ek is 'n joler en nou moet ek skielik en baie vinnig groot word.  Ek het vreemd gevoel, want skielik moet ek tussen gesinne en ou mense funksioneer.  Skielik voel dit weer asof dinge net MET my gebeur.  En na 'n paar jaar het ek ook gevoel DIT IS NIE DIE LEWE WAT VIR MY BEDOEL IS NIE.


In daardie tyd kom Liberty Life oor my lewe, en ek word genader om polisse te gaan verkoop.  Ek was verbaas oor hoe aangenaam dit vir my gevoel het, en dit was baie belonend vir my.  In my eerste maand het ek meer geld verdien as 'n hele jaar as dominee.  Hierdie eksterne faktor het my onder die illusie geplaas dat dit dalk is wat my lewe bedoel het om te wees.  Vir 'n hele paar jaar het ek myself uitgeleef en dit het baie goed met my gegaan, so goed dat ek verder gaan studeer het in die finansies, omdat ek gedink het dat dit is wat my lewe bedoel is om te wees.  Maar ek het steeds gevoel dat daar iets is wat ek mis, een dingetjie wat my keer om werklik gelukkig te wees, want nie die huis, of die motors het my geluk gebring nie.


In hierdie tyd en in hierdie omstandighede gaan ek toe ook deur 'n egskeiding.  Dit was die grootste skok en pyn van my lewe ooit.  En hier begin die grootste stryd in my lewe wat ek vandag nog nie werklik mee klaar is nie.  Die mat is heeltemal onder my voete uitgeruk, en ek verloor totaal en al enige trots in my.  Ek het gedink dat my lewe op daardie stadium uitgesorteer was, ek het vrede gemaak met 'n klomp dinge, maar blykbaar nie.  Ek het, soos die sielkundiges dit sal noem, my interne motivering verloor.  Ek dink selfs daar het ek ook my geloof begin verloor en ek was soos 'n pelgrim sonder 'n land.  Selfs nou kan ek nie in woorde omskakel wat werklik in my hart gebeur het nie. 


Met hierdie mistroostigheid in my hart, maak ek toe een van die slegste besluite in my lewe.  Ek maak groot besluite, om daardeur te probeer om die minderwaardigheid teen te werk.  Ek besluit om groot te gaan.  Moenie 'n fout maak nie, ek het steeds elke oomblik geglo dat ek dit kan doen.  In hierdie tyd ontmoet ek iemand en kort voor lank het ek nog 2 pragtige dogtertjies in my lewe by gekry, saam met my 2 fantastiese seuns.  Hoe pragtig hulle ook was, ek kon net nie die skakelaar van my lewe weer aanskakel nie.  Ek het gejaag en gejaag, maar toe loop sake skeef en ek verloor alles finansieel in my lewe.  Ek verloor ook die verhouding en staan weer op my eie.


So gebeur die dinge, en my selfvertroue is weer geknou.  Weereens sit ek op moedverloor se vlakte, en word verder verneder om weereens by my ma te gaan intrek.  Dankie aan my ma wat daar was vir my in daardie tyd.  Daar sit ek, terug waar alles begin het 20 jaar gelede, en ironies genoeg ry ek ook weer met my studentemotor wat ook tot die skaamte bygedra het.  Ek dink in daardie tyd baie oor my lewe, verhoudings en my toekoms.  Ek skryf steeds versekering, maar die mistroostigheid in myself vryf af op kliente, en selfs nog voor ek by iemand instap, dink ek al dat hulle nie met my gaan wil besigheid doen nie.  En elke NEE oor die foon en elke polis wat nie geskryf word nie, dra daagliks by tot 'n gevoel van waardeloosheid.


Die enigste opkikkering in my lewe is dat my kiinders elke oomblik lag wanneer hulle my sien en my regop hou.  Ek onthou hoe ek nie kon glo dat een van hulle my vra om 'n speech vir hulle te skryf, waar hy moes praat oor 'n Superhero, en gese dat ek sy superhero is.  Ek het in trane uitgebars en in 'n bondeltjie op die bed gaan le, want ek het nie so gevoel of gedink nie.  Vir my was ek en my hele bestaan nog altyd een groot gemors, met opkikkerings tussenin.  Ek het my frustrasies en my soeke in 'n blog gaan neerskryf in die hoop dat erens die lig finaal vir my sal opgaan en die skakelaar aangeskakel sal word.


Ek het orals gaan soek, in die Bybel wat ek nie op daardie stadium vertrou het nie, want ek het erens tog gedink en gevoel dat God die oorsaak van die ongeluk was.  Ek het gevoel dat ek nog altyd probeer het om vir mense die beste te gee, maar niks in ruil ontvang nie.  Ek het in die New Age en Oosterse godsdienste gaan soek na antwoorde.  Ek het gemanifesteer en alles gedoen om my vibrasies te verhoog, maar sonder sukses.  Mense om my kon egter nie glo dat ek regop gebly het nie, en ek self ook nie eintlik nie.  Mense kon nie glo as ek vir hulle vertel waardeur ek gegaan het, dat ek steeds altyd na die druppeltjie soek in die lee glas nie, en altyd positief bly glo het en geleef het nie. 


Vandag nog, en elke dag word daar op my neergekyk deur mense wat nooit sal verstaan nie.  Elke dag word ek verneder en sekere dinge toegesnou wat ek nie dink ek verdien nie.  Mense dink ek is sleg, en ek kan nie van hulle verwag om dit anders te sien nie, alhoewel ek ook nie dink dit is die lewe wat ek verdien nie.  Dit mag vir jou klink asof ek myself baie jammer kry, maar dit is nie waaroor hierdie stuk gaan, en nog minder as 'n uitroep tot vergiffenis en dat ander my moet jammer kry nie. 


Die stuk gaan oor die volgende, en dit is wat soos 'n goue draad deur my lewe loop en wat ek elke dag mis gekyk het.  So 'n paar maande gelede het daar weer 'n terugslag en 'n opbreek my getref, en ek het op die einde van die dag, deur God se genade, slegs een uitweg gehad.  Ek het een aand op my bed gele, en so gedink aan al die ervarings in my lewe.  Ek maak my Bybel oop en ek lees die gedeelte waar Paulus vir God vra om die doring uit sy vlees te haal, net soos wat ek hunker na die lewe wat ek dink ek verdien.  En God se antwoord was dat daar net een ding in die lewe is wat ons op aanspraak kan maak, en dit is God se genade.  Ek het besef dat ek, soos ek hier bo beskryf, op vele kere en plekke was waar ek gevoel het dat God dit moet wegneem en dat die bloed moet ophou vloei, maar God het nie.  God het wel vir my die laaste 6 weke iets wonderbaarliks laat gebeur, God het mense teruggebring in my lewe, en God het vir my ander mense gestuur waaroor ek ongelooflik dankbaar is.


Ek het begin om weer in volle vertroue in God te leef, in die wete dat my lewe in Sy hande is.  Van dat ek dit begin doen het, het 'n klomp dinge in my lewe in plek geval, maar die bose hou mos nie daarvan nie.  Die bose sal alles doen om jou te kry op 'n plek waar jy in 'n bondeltjie gaan le en jou hande in die lug gooi en oorgee.  Wat al hierdie ervarings my by uitgebring het is daarom 2 dinge, die eerste is dat dit nooit saak maak wat ander van jou dink nie, sien jouself hoe God jou sien, as Sy kind vir wie Hy die beste soek.  Tweedens, in daardie wete, vertrou op God vir alles elke dag, en leef in dankbaarheid vir die kleiinste dingetjie.  Ek moes leer om dankbaar te wees vir die R5 in my sak waarmee ek lugtyd kon koop om iemand te bel.  So, hierdie stuk is nie vandag gerig om 'n klaaglied te wees nie, dit is gerig as 'n geloofsbelydenis waarin ek vir God dankbaar is vir al die dinge wat wel met my gebeur het.


Waar ek in my lewe die hele tyd gevoel het dat DIT NIE DIE LEWE IS WAT EK DINK EK VERDIEN NIE, het my lewe oorgeskakel na 'n wete dat, te midde van wat gebeur, God 'n plan daarmee het.  Ek dank God vir alles wat ek het, en alhoewel ek baie kere op moedverloor se vlakte gesit het en nie geweet het of daar 'n uitkoms is nie, was dit nie die einde van die reis en hoofstuk nie.  Ek skryf hierdie in die middel van die nag, en alhoewel ek gekwel voel oor more, gee ek alles in God se hand, en wanneer ek opstaan uit die bed, sal ek my kop optel, opkyk, want dit is alles net genade!

Saturday, April 30, 2016

Reguit

Ek het al baie mense gehoor wat se dat hulle reguit is, want dan weet ander mense altyd waar hulle met jou staan.  As ons oor menseverhoudinge praat is dit dalk die rede hoekom soveel verhoudinge op die rotse eindig.  Kom ons wees eerlik, die hele wereld het geen twyfel gehad oor wat Adolf Hitler oor die wereld gedink het nie.  Hy was blatant eerlik en reguit oor sy sienswyse van die wereld, maar maak dit wat hy gedoen het enige sin?  Maak sy eerlikheid en opregtheid REG wat hy gedoen het?


In my 47 jaar op aarde het ek baie dinge geleer, en baie dinge verkeerd gedoen.  Ek observeer ander se optredes, en ek kan sien hoekom sekere dinge in mense se lewens werk en nie werk nie.  Een ding wat ek wel weet, is dat as iemand van jou af wegstap in 'n slegter toestand as wat jy hulle gekry het, jy geen bydrae tot hulle lewe gemaak het nie.  Gaan kyk bietjie na Jesus se voorbeeld toe Hy op die aarde was, want Hy het ons gewys hoe om te leef met mense om jou. 


Die Bybel gee ons 'n paar voorbeelde van hoe om te leef en te wees, waarvan eerlikheid natuurlik 'n belangrike faktor is.  Maar ek dink dat om totaal eerlik te wees met mense, soms JOU eie frustrasies is wat jy op ander uithaal, en dit het bitter min te doen met wat in hulle lewens gebeur.  Die spreekwoord lei mos ook dat mense wat in glas huise bly nie met klippe moet gooi nie.  Soms dink ek dat 'n mens eerder moet stil bly wanneer dit by ander kom, want die Bybel leer ons dat ons nie mag oordeel nie, want die oordeel wat jy ander mee oordeel word die oordeel wat ander en God jou mee gaan oordeel. 


In Jakobus word ons geleer om 'n wag voor ons mond te sit.  Elke mens moet sy aksies en woorde beheer en bestuur.   'n Vriend van my se altyd dat 'n mens ander mense die voordeel van die twyfel moet gee.  Jy leef nie in ander se skoene nie, so om jouself aan te stel om vir ander te vertel wat om te doen, het geen plek in die wereld nie.  As iemand jou vra vir jou opinie, natuurlik dan kan jy dit gee. 


In Mattheus 5 lees ons dat Jesus mense leer om vredemakers te wees, want dit is wat Hy van ons verwag.  Jou woorde en dade moet altyd gerig wees om mense in 'n beter plek te plaas as wat jy hulle gevind het.  Die lewe is hard, en verhoudings se doel moet wees om mense te red van 'n wereld waar alles en almal soms teen hulle is, en dit geld vir jou kinders, huweliksmaat en vriende.


In Spreuke leer die wysheid ons dat "'n Sagte woord keer die grimmigheid af", en mense vergeet dit baie vinnig.  Jy het nie altyd nodig om die harde woord te spreek of om reguit te wees nie.  Meeste van ons is grootmense wat kan kies wat ons se en doen.  So, as jy 'n volmaakte verhouding soek, kies jou woorde goed, stel mense eerste. 


Ons leef in 'n wereld waar mense gebreek is, stukkend is deur woorde.  Die wereld kan en sal net verander deur die sagte woord, deur compassion vir ander.  Elkeen is op sy eie reis, so verstaan en weet dat ander ook op hulle eie reis is.  En om terug te kom na die voorbeeld van Hitler, om te dink jy is reg is een ding, maar om te dink dat jy die enigste een is wat reg is, dit is waar die probleem inkom.

Monday, April 25, 2016

Volle vertroue

Ek het oor die laaste tyd openlik geskryf en gepraat oor my volkome vertroue op God. Dit is veral in hierdie tyd wat ek ongelooflike weetstand van mense ervaar, dalk hulle eie reis, of dalk die 'skadukant' van ons bestaan wat my probeer afbreek en my wil lawt twyfel. Maar my absolute vertroue staan vas oor n paar redes:

1. Ek soek dinge en situasies rondom my waarvoor ek dankbaar kan wees, en waarin ek God se hand sien. Elke oggend begin ek soek, en teen die aand het ek nog nie alles opgenoem waarin God my Seen nie. Hierdie houding help my om te bly verstaan dat God vir my goed is, of ek daarvoor gevra het of nie. Ek spreek dit ook openlik uit teenoor God en mense.

2. Mense kritiseer soms and wat so vertrou, en noem hulle dromers wat nie in die regte wereld leef nie. Dit kan nie verder van die waarheid wees nie, vertroue is n konstante inspanning en keuse. Ek dink aan die verhaal van Noag wat in vertroue die ark gebou en bly bou het, te midde van die gespot van die menigtes. Doen wat JY glo in verhouding met God, soos JY wil, dis jou vrye keuse. Ek kies volle vertroue en soeke na God.

3. Die grootste uitdaging vir vertroue is wat jy moet DOEN nadat jy iets gevra het. Dit is natuurlik n moeilike een, want aan die een kant hoef jy in vertroue niks te doen nie. Maar daar staan nerens dat jy nie mag nie. Spreuke 3:5 se egter dat as jy iets wil doen, God se leiding daarin moet vra, eerder as eie krag.

4. Die kringloop eindig en begin weer by die eerste punt, deur elke dag weer in dankbaarheid vir wat God reeds doen, en in volle vertroue dat alles wat jy begeer reeds volbring is in God se plan met jou lewe

Wednesday, April 13, 2016

Mengelkraan

Die kamertemperatuur van water is gewoonlik gelyk aan die omstandighede waarin die water voorkom.  Maar oor die algemeen is water maar aan die koue kant, en nie altyd lekker om in te bad nie.  Dit herinner my so aan elke dag se realiteit van die lewe wat ons leef.  Die wereld het sy uitdagings, sy bekommernisse, sy seer en natuurlik sy teleurstellings.


Vanoggend sit ek in die bad en sien die mengelkraan voor my, en besef dat ek die vrye wil het om die warm kraan ook oop te draai, ek hoef nie in die yskoue water van die draaiende seisoen te sit nie.  Ek kan my lewe balans gee deur positiewe denke.  Nou wat is die warm water wat die lewe draaglik maak?

·         In die eerste plek, besef dat jy beheer oor die mengelkraan het.  Te veel kere gee ons onsself toe aan wat voor ons is, en voel ons magteloos. 

·         Tweedens, besef dat die water gemeng word, en hou op van die lewe verwag om NET positief te wees.  Die lewe het sy uitdagings, maar jy kan reageer deur die warm kraan oop te draai. 

·         Derdens, verstaan dat die water nie altyd warm gaan bly nie, om positiewe warmte in die bad te kry verg om konstant warm water by te tap, want die omstandighede gaan die temperatuur van die water beinvloed. 

·         Vierdens, en dit is dalk die belangrikste is my geloof en vertroue in God wat by my staan en sonder onderbreking 'n stroom warm water in my bad laat invloei. 

·         En laastens, leef in dankbaarheid vir wat jy het, en nie in depressie oor wat nie is nie.  Dink mooi daaraan, daar is miljoene mense daar buite sonder lopende water, selfs koue water

.  Wanneer jy selfs jou koue water as 'n seen sien, dan eers kan jy werklik gelukkig wees.

Monday, April 11, 2016

My nuwe geloof

Ek onthou dat toe ek Teologie begin studeer het, dat een Professor vir ons vertel het dat ons 'n onderskeid moet maak tussen jou persoonlike geloof en dit wat jy op Universiteit gaan leer, en dat jy versigtig moet wees waaraan jy jou ore uitleen.  Oor die afgelope klompie jare het ek sekere blootstellings gehad wat eintlik my Christelike geloof en Persoonlike geloof skade aangedoen het.  Deesdae is dit "mode" om "alternatief" te wees, en word jy soms uitgekryt as 'n dweper omdat jy bliindelings glo in die Christelike geloof soos in die Bybel en van die kansel gepreek word.


Dit is half "cool" om alternatief te dink, en alhoewel ek deel van die "alternatiewe" bewegings in die kerk geword het, beinvloed baie van die "nuwe" denke jou kinderslike persoonlike geloof.  Ek het vir lank gedink dat ek ok sal wees en dat dit my goed sal doen om die alternatiewe te bestudeer.  Ek verstaan dat daar baie krake in die kerk se manier van prediking is en was, en ook dat daar sekere dinge in die Bybel is wat vir die moderne mens nie aanvaarbaar of logies sin maak nie.  Ek was nie versigtig genoeg om ook maar met deernis met die Bybel om te gaan nie, alhoewel ek onderle was in die ondersoek na die Bybel en te verstaan dat die Bybel nie 'n wetenskap handboek is van hoe die wereld ontstaan het nie.  Ek was veronderstel om te verstaan dat die Bybel soms in beeldspraak praat, net soos die nuwe skrywers boeke skryf in die vorm van stories om hulle boodskap deur te bring.


Dit word baie maklik om die "buzz-words" van die moderne spiritualiste aan te haal en te dink dat dit gaan werk.  Natuurlik is daar 'n "spirituele ontwikkeling" wat in mense plaasvind, en dit was van die begin af so dat mense na iets groter en beter in hulle lewens soek om aan vas te hou.  Skielik het mense nie meer gepraat van "sonde" nie, of oor "vergiffenis" nie, want ons dink dat dit nie meer bestaan nie.  Ons het begiin glo in ons eie vermoens as mense, met die idee dat ons ons eie toekoms kan visualiseer en self 'n wereld kan skep wat ons pas.  Ons het begin om selfs te dink dat ons ons eie God dus is wat probeer om dinge in ons lewens uit te sorteer. 


In my soeke het ek 'n paar dinge begin besef.  Die eerste daarvan is dat daar niks in ander godsdienste is wat nie in die Bybel en sy geskrifte opgestel is nie.  Alle lewensvaardighede wat jy nodig het en waarvan gepreek word is ook in die Bybel opgesluit.  Dit is natuurlik wonderlik om die boodskap van die lewe op nuwe maniere te behandel en vir mense in nuwe taal en beelde oor te dra.  Die Bybel is en sal altyd die bron van die lewe wees, en al is dit die enigste boek wat jy ooit in jou lewe lees, sal daar niks nuuts in die wereld gepubliseer word wat daardie lewensvaardighede verander nie. 

Die tweede belangrike ding is dat die verskuiwing van die fokus weg van God en na die individu baie gevaarlik kan wees.  Daar is natuurlik niks fout met persoonlike ontwikkeling nie, maar meeste moderne spiritualiste verwys na die inkeer in jouself en na jou eie menswees en om dit die fokus te maak.  So het ek ook in myself gekeer, maar telkens maar net besef dat dit 'n baie eensame proses is wat die lewe soms ondraaglik maak. 


Wat ek telkemale besef het in die soeke na geluk in myself, is eerder 'n verstaan van die dorings in my vlees.  Elke keer as ek dink ek het arriveer, het die doelpale geskuif, net soos my oumagrootjie gese het: "my kind, as jy jouself gemaak het, sou jy nooit klaargekry het nie".  Ek was oor en oor weer bewus van die doring in my vlees, en dat ek dit nie op my eie kan oplos of uittrek nie, maak nie saak wat ek probeer het nie. 


Hieruit het ek 'n volgende saak van bewus geword, want in die gebed van Paulus om God te vra om die doring uit sy vlees te haal, het God vir hom gese dat God se genade vir hom genoegsaam behoort te wees.  In baie van die "nuwe spiritualiteit" handel dit oor hoe om jou lewe self te verander en te genees.  Die fokus het totaal en al weggeskuif van God en baie keer om self jou drama en krisis in jou lewe te hanteer en op te los.  In jou krag en in jou vibrasie is jou antwoord, en soms het dit vir my gevoel asof ek vir myself lieg.  Ek moes altyd sterk en vibrant voorkom om te manifesteer wat ek soek in die lewe.  Dit is soms soos om van iemand te verwag om hulleself aan hulle skoenveters op te tel.  In die woorde van God aan Paulus leer ons dat dit nie altyd nodig is om sterk te wees om verandering in jou lewe te sien nie.  God herinner vir Paulus dat dit juis is wanneer JY swak is waar God se Genade en hulp na jou toe kom.  Dit verskil hemelsbreed van die "self-help" filosofie van die moderne mens.  So het ek ook vir lank gedink dat ek my eie lewe kan beheer en stuur en in die leuen van om sterk probeer wees, ook maar telkens gefaal. 


Ek verstaan dat daar sekere dinge in die kerk en in die Bybel is wat ons seergemaak het.  Maar, soms gooi ons die badwater saam met die baba uit.  Ek skryf met opset die woord kerk met 'n klein lettertjie, want natuurlik is dit nie volmaak nie.  Natuurlik is dit feilbaar, maar ek dink dat die kerk ook soms ons "genade" verdien.  Dit is maklik om krities te wees, maar ek dink die kerk bedoel ook maar net Sy/Haar bes.  Mense verwys graag deesdae na die kerk en kerkmense as konserwatief of fundamentalisties.  Maar soms is vrydenkende mense dalk meer fundamentalisties as wat hulle dink.  Daar is baie mense in die kerk wat se geloof nie wankel omdat Jona nie werklik in die vis was nie, en wat die diepere boodskap van die verhaal verstaan.  Daar is mense vir wie die feit dat Jesus moontlik nie 'n maagdelike geboorte gehad het nie, juis hulle geloof versterk in die feit om te weet dat ons in ons menslikheid God se werk kan doen.  Daar is mense wat in die kerk en deur die Bybel daagliks groei omdat hulle juis NIE fundamentalisties is nie, en dalk nie omgee of 'n Gay persoon saam met hulle in die kerk aanbid nie.  Daar is mense wat steeds in God en die boodskap van die Bybel glo en dit "modern" in hulle lewens kan toepas.  Daar is mense wat in hulle eie feilbaarheid glo en besef dat net omdat hulle nie perfek is nie, hulle ook nie van ander verwag om perfek te wees nie, maar dit beteken nie dat hulle nie gaan probeer om goed te doen in die wereld nie.  Indien Priesters klein seuntjies molesteer, beteken dit nie dat almal wat in die amp van Priesters in die kerk dit is nie. 


God het nog altyd, deur al die verhale in die Bybel met en deur mense Sy doel in die wereld bereik.  Kyk na al die groot figure, Moses, Dawid, Paulus en selfs Jesus.  Selfs Jesus het in die tuin vir God gevra om die beker by Hom te laat verbygaan.  Almal het sekere oomblikke in hulle lewens twyfel en mense sien dalk nie altyd kans vir wat voor hulle is en wat hulle moet deurgaan nie.  Dit is menslikheid en hoe die wereld werk, en wanneer jy dink dat om gelowig te wees "perfeksie" is, dan gaan jy lank soek en baie teleurstellings deurgaan.  God se dan vir Paulus in die gesprek dat God se genade en liefde en werking nie afhang van ons perfeksie en dat ons sonder dorings in ons lewens gaan wees nie.  Dit is wat die Christendom as geloof vir my die enigste opsie is om in te glo, want daar is een woordjie en dit is "genade" wat jy bitter min in ander gelowe vind. 


Daar is natuurlik 'n beweging in die rigting van om nie te oordeel nie en in harmonie met ander te leef, maar jy kan net met mense in harmonie leef wanneer jy "genade" verstaan, wanneer jy weet dat jy selfs in jou "swakheid" kan en mag bestaan.  Of die kerk nou besluit het om net 66 boeke in die Bybel te plaas, vat niks weg van die boodskap wat deur daardie 66 boeke oorgedra word nie, al dink jy dat dit nie die regte besluit was nie.


Die wonder van die genade is dat dit ook nie werklik saakmaak wat jy dink of doen nie, God gebruik jou steeds en bly steeds net so lief vir jou.  God se genade word nie uitgedeel op verdienste nie, en dit maak die boodskap aantreklik.  Maar Paulus leer ook dat dit nie moet beteken dat jy meer sonde moet doen om die genade te laat toeneem nie, en dit beteken dat alhoewel die genade nie deur die verdienste kom nie, dit nie beteken dat ons nie beter hoef nie.  Wat genade ook beteken is dat dit ook nie saakmaak wat en hoe jy oor God dink nie, God bly steeds lief vir jou.  Of jy nou in die kerk opstaan en in die geloofsbelydenis die gedeelte uitlos van "gebore is uit die maagd Maria", dit nie wegvat dat jy steeds Jesus kan aanbid met jou hele hart as die verlosser nie. 


Persoonlik het ek my eie manier om oor die hele Chrsitelike geloof en God te dink, want elkeen het sy eie persoonlike geloof wat gevorm word op sy/haar eie manier.  Hierdie afgelope paar weke het ek hierdie God wat ek aanbid op 'n ongelooflike praktiese manier aan die werk gesien.  Elke dag dit wat ek gevra het my mee geseen, alhoewel ek gevoel het asof ek dit nie verdien nie.  So het God my herinner dat daardie Seen nie kom of ek dit verdien of nie, oor wat ek dink of nie dink nie, maar eerder in die belydenis van my hart om te verstaan dat ek NET in afhanklikheid en nabyheid aan God kan leef.  God dra my steeds elke dag, te midde van my tekortkominge en te midde van my denke, maar in my erkenning dat ek nie sonder God en sonder God se genade kan leef nie, maak vir my die verskil  in my daaglikse lewe.


Daar is niks verkeerd daarmee om te dink en te doen soos jy goed dink nie, want natuurlik het God ook 'n doel daarmee, maar soms moet ons versigtig wees aan wie ons ons ore uitleen, want nie alles in die lewe is goed vir jou nie.  Vir my was en is dit fantasties om allerhande "alternatiewe" denke en idees te deel met almal om my te deel. 


Ek het een ding besef en dit is dat ek die Bybel gelees het, maar nooit eintlik gelees het nie, want nou kan ek groei in my geloof deur dat ek alles met nuwe insigte kan glo, in die wete dat God met my 'n pad gestap het, en dat ek dit nodig gehad het.  Vandag is ek op 'n plek waar ek wel alles kan lees, maar waar ek my persoonlike en kinderlike geloof herontdek het, en daaroor is ek ongelooflik dankbaar.