Monday, June 23, 2014

Is jy geprogrammeer vir God?

Op Universiteit het een van ons professore in Praktiese Teologie 'n boek met ons behandel, "The Skilled Helper".  In die eerste hoofstuk van hierdie boek se die skrywer, G Egan, dat die basis van enige problem wat mense in hulle lewens ondervind, 'n spirituele basis het.  Op daardie tyd in my lewe het ek nogal gesukkel met 'n klomp idees oor Godsdiens.  As jong teoloog was dit mos ons taak om te wonder en effens rebels om te gaan en nie sommer alles as soetkoek op te vreet nie.  Ek onthou dat ek met die Professor geredeneer het daaroor, want ek het gedink dat daar soveel ander dinge is wat die oorsaak van ons problem in die lewe is en kan wees, anders as net spiritueel.

Soos 'n mens ouer word en die lewe leef, kom ek agter dat ons stryd in ons eie ontwikkeling nie handel oor die bestaan van God, maar eerder oor die manier HOE ons ons godsdiens uitleef.  Dit gaan meer oor 'n wonder na HOE ons nader aan God kan beweeg en leef.  In Suid-Afrika voel baie mense dat die kerk, as gevolg van 'n sekere dogma, ons mislei het, veral in die tyd van apartheid.  Ek moet erken dat die kerk baie verander het, van 'n verdoemende eksklusiewe model, eerder na 'n liefdevolle en inkorporerende manier van dink. Soveel onafhanklike kerke het ontstaan wat wonderlik is, want dit wys ons dat elkeen van ons op soek is na 'n plek waar ons kan voel dat ons nader en beter aan hierdie God kan leef.

Daar is geen twyfel by my dat daar 'n God is nie.  Net omdat ek "HOM" nie kan verstaan nie, weet ek dat God daar is.  Ek sit net soos jy saam met soveel skrywers in die Bybel en wonder soms oor God se plan, pad en manier in ons lewens, waarvoor niemand werklik 'n antwoord het nie. 

Gister lees ek weer die studies van die Neuroteologie, waar navorsers soos Andrew Newman en Eugene d'Aquili, sekere breinskanderings doen en die verandering in die breinaktiwiteite van mense optel, die oomblik wat hulle besig is met gebed of meditasie.  Wat dit vir my beteken is dat daar wel in ons elkeen 'n skakelaar in ons brein is wat 'n stroombaan verbind met die goddelikheid in ons, en saam met ons.  Ons verander outomaties en daar is ook tekens en bewyse dat ons gemoedstoestand en ons denke en selfs ons depressie kan verminder wanneer ons die skakelaar aanskakel.

Ek sal nie se dat ek die antwoord het nie, nooit ooit nie.  Dit laat my dink aan die ongelooflike vers in die Bybel wat se dat ons eers die Koningkryk van God moet soek, en alles ons bygevoeg sal word.  Miskien was Egan dus tog reg in sy eerste hoofstuk van sy boek.  Dalk is ons probleem juis dit dat ons die oplossings vir ons probleme en lewens soek op die prioriteitslys verkeerd is.  Ons soek geluk, vrede, harmonie en genade juis op die plekke waar dit nie is nie. 

Van die gelukkigste mense wat ek ken, is gelowiges, maak nie saak of hulle dogma ooreenstem met myne nie.  Die probleem lyk my wanneer ons die baba met die badwater uitgooi en wanneer ons ophou soek na die koppeling met God.  Wanneer ons nie die skakelaar in ons brein aanskakel en soek na God nie.  Dit is 'n bekering, ja, maar nie 'n bekering in die alledaagse erkenning van bekering nie.  Dit is eerder 'n bewussyn dat ek nie sonder God kan leef nie.  Dit is 'n bewussyn dat ek net die lewe kan leef wanneer ek NA God toe leef, eerder as verder van Hom af.

Daar is dus altyd net een skakelaar in jou brein wat aangeskakel moet wees, en dit is die soeke na God en om meer en meer in God, deur God en na God toe te leef.  Dit is makliker gedaan as gese, want God maak dit maklik.  Studies toon dat dit vir jou moontlik is.  Dalk soek jy op 'n ander manier na God, wat geen fout is nie, solank jy net soek daarna en daarmee besig is.  As dit kernfisika was, sou net die slim mense God kon vind, maar deur die eeue het mense besef dat hulle God kan vind in 'n blommetjie, in 'n boom, in die sing van 'n duif, in die reuk van reen wat op grond val.  Jy het nie nodig om God te soek net in die supernatuurlike nie, maar God is te vinde orals in jou en om jou.

Wat wel saakmaak is dat jy dit raaksien en jou ingesteldheid moet wees teenoor God, of Universe of die energie.  Wat dit eintlik beteken uit die woorde van Egan, is dat daar in elke probleem in jou lewe, die kortsluiting veroorsaak word wanneer jou ingesteldheid nie op God is nie.  Natuurlik is daar baie filosofie oor norme en waardes en verwagtinge en wat ons geleer het reg en verkeerd is.  Natuurlik sal die waardes en wat ons glo verskil van een persoon tot 'n ander, wat natuurlik lei tot ons oordeel oor ander en hulle gedrag.  Daarop sal ons nie nou ingaan nie, maar miskien sal ons oordeel, oorlog, woede en baklei weggaan, wanneer ons die genade van God ervaar en ingeskakel is in die energie daarvan.

Dwarsdeur die Bybel hoor ons stories van mense wat sukkel met hulle beeld van wat met hulle gebeur, maar eintlik is die verhale in die Bybel vir ons elkeen 'n bewys van hoe die lewe wonderlik kan wees wanneer jy hierdie Goddelikheid ontdek en uitleef, op jou eie manier, maar in die wete dat jy dit nodig het.  Daarsonder sal niks in jou lewe ooit die moeite werd wees nie, sal alles vir jou 'n uitdaging wees wanneer jy buite die matriks wil leef.

Ons maak baie foute in ons lewens en ons neem verkeerde besluite.  Soms voel dit asof ons onsself aan ons skoenveters moet optel, of ons voel dat dit God se straf op ons lewens is.  Eintlik al wat ons moet soek, eenvoudig, is die skakel met die energie van God.  Leef in God, Leef deur God en Leef nader aan God - dit is ons enigste doel op aarde.  Wat ookal dan gebeur, is in die hande van die groter mag, maar jy sal dit ook kan hanteer, want jy is deel van Sy stroombaan.


No comments:

Post a Comment