Sunday, June 15, 2014

Aanvaar in liefde

Om regop te bly elke dag is nooit maklik nie. Elke dag het sy uitdagings, vrese, skuldgevoelens, drama, en allerhande dinge wat nie uitwerk nie.

Ons is elke dag malend in ons koppe besig met die dinge. Ons is daagliks besig om te beoordeel, veroordeel en onsself te verbeter. Ons word daagliks gemeet en te lig bevind. Ons spieel onsself in die idee van wie ons dink ons moet wees, en dit is die ergste oordeel oor jouself.

Ek luister vanoggend n wonderlike praatjie van Dr John DeMartini. Dit handel oor die manier hoe ons na die lewe moet kyk, en het my so geinspireer, weereens saam met my studie oor prediker. DeMartini stel dit dat ons in die eerste plek deel van n groter plan is. Elke stukkie van ons en buite ons is deel van daardie plan. Deur aanvaarding daarvan besef ons dat oordeel weggaan, wanneer ons besef dat elke mens en situasie plek het, kom daar vrede. Ons hou op om die vraag te vra, hoekom? Ons leef in geloof, maar eers as ek dit aanvaar, dan eers kan ek die les leer. Ek waardeer die persoonlikhede om my as lesse, nie gevare nie. Ek leer en besef om saam met mense te leef, eerder as teen hulle. In daardie les, omarm ek ander, leer by hulle, sonder om hulle te verander. Jy kan slegs die wereld verander deur jouself te verander, en wat n beter les as deur mense wat "verskil" van ons alledaagse.

Hierdie aanvaarding bring vrede. Soms veg ons so teen die stroom van God dat ons uitgeput niks mooi kan ervaar meer nie. Ons kry in die lewe wat ons soek. As jy fout soek, sal jy vind, en naderhand is daar niemand meer oor nie. En die vreemde daarvan, jy sit later net in jouself, dan begin die skuld en dramas in jouself. Wat ook gebeur is dat jy niks groei nie, en jouself begin uitmekaar skeur.

So moet jy ook jouself aanvaar, want sonder dit, sal jy nooit kan leef nie. En die beste van alles, die foute wat ons in ander sien, pla jou, dit is jou issues. Maar om dit in hulle te wil verander, doen niks vir die oplos van die situasie in jou nie. Dit is altyd jou uitdaging, jou drama en jou reis. Jy kan mense net help in liefde en aanvaarding, en deur hulle toe te laat om hulleself te wees, dan maak hulle oop en word jou leermeester.

Vandag, op hierdie dag van familie is dalk n goeie dag om te aanvaar, lief te he en mense toe te laat om te kan leef. Dalk is dit n dag om op te hou om verwurgend met oordeel mense se asem te steel, en hulle die vryheid wat God hulle gegee het uit te leef.

Laat God vandag toe om God te wees, deur Sy kinders toe te laat om self God se pad te vind wat Hy vir hulle geskep het.

Vergeet vandag die roosterbrood wat iemand gebrand het en omarm die liefde waarmee dit gemaak is!

Sent from my iPhone

No comments:

Post a Comment