Thursday, October 9, 2014

Werklike Sonde

Ek onthou nog toe ek in die kerk grootgeword het, jare gelede, hoe 'n ongelooflike klem daar op "sonde" en die Tien gebooie geval het.  So onthou ek ook dat 'n ou dominee, voor my eerste preek vir my die raad gegee het oor wat 'n suksesvolle diens of preek is.  Hy het gese:  "Uit die geskiedenis van die reformate (Luther en Calvyn), leer ons dat die kern van ons Christelike geloof, Sonde en skuld by mense is.  'n Suksesvolle preek is dus wanneer jy mense hulle foute laat raaksien, want dan alleen kan hulle die verlossing verstaan en aanvaar". 


Jy kan net dink hoe ongelooflike skok daar in my sisteem ontstaan het, want werklik, dit het vir my gevoel asof dit nie heeltemal in lyn is met my idee van godsdiens nie, en ek was ook effens ongemaklik, want dit is nie hoekom ek gaan Teologie studeer het nie.  Maar, hoe dit ookal sy, dit is so 'n goeie voorbeeld van die geloof waarmee baie van ons in die kerk grootgeword het.


Mense vra my baie keer uit oor my idees oor die Bybel, en alhoewel hierdie blog nie daarop gerig is om 'n Teologiese analise te wees nie, vind ek tog dat ek soms my idees hieroor moet weergee.  Ek sal vandag fokus op sonde en die idee van wat sonde is.


Ons idee van sonde is sommer daar heel aan die begin van die Bybel gesetel, in Genesis en die "sondeval".  Ons word eers vertel van God se skepping en van hoe wonderlik alles was.  Dan word die verhaal vertel van die boom van kennis van goed en kwaad en hoe die slang vir Eva en Adam verlei om daarvan te eet.  Daarna word hulle skaam teenoor God, hulleself en sommer totale menswees, om net daar en dan ook uit die wonder en die gemak van die paradys verban te word.


Dit is belangrik om 'n paar dinge uit die verhaal te haal.  Eerstens besef ons dat die prentjie van balans vir ons geskep word, in die vorm van goed en sleg en twee pole van bestaan word vir ons geteken.  Ons kry sommer vroeg te doen met die muntstuk, waarop elke idee van ons lewens gebasseer kan word, van goed en sleg, en natuurlik ook die idee dat daar 'n God is wat goed voorstaan en 'n karakter wat sleg voorstaan, die satan.  Elke keuse wat ons maak in die lewe, is asof ons voor die boom van goed en kwaad staan, wanneer ons die kwaad kies, is dit sonde en weg van God, en wanneer ons die goed kies, dan leef ons in die wil van God en sal ons lewens 'n paradys wees. 


Hieruit vloei natuurlik 'n universele gevoel van "vrees", en ek onthou dat ek as 'n klein seuntjie nie in die nag aan die slaap kon raak nie, maar aanhou bid het vir vergiffenis, want ek is skuldig.  Ek was so bang ek sterf in die nag, en dat ek dan hel toe sou gaan, want daar was dalk een of ander sonde wat ek nie voor vergiffenis gevra het nie.  Hieruit leer jy ongelooflik baie van wie ek is, en hoe my teologie se basis is, want op 'n stadium het ek totaal en al 'n aversie begin kry in hierdie idee van sonde wat ek in die kerk geleer het.  Om die situasie te vererger, leef ons toe ook in 'n skoolsisteem, en in 'n gemeenskap waar daar net wit en swart (letterlik en figuurlik) was.  Jy is nie toegelaat om jou eie idees te vorm, uit te leef, uit te spreek of te dink nie, daar was nie iets soos "grys" nie, net 'n keuse tussen swart of wit.  Eintlik was daar nie 'n keuse nie, jy is net voorgeskryf wat, waar en hoe jy moet dink.


Vir lank het ek met hierdie situasie geworstel, en vandag nog steeds.  Ek dink, vanuit my perspektief dat God totaal anders funksioneer as dit.  Ek verstaan dat die oermense nie werklik die vermoe besit het om so te funksioneer nie, en dalk is dit ook hoekom die moderne mense so sukkel met hulle idees oor God, en soms die baba met die badwater uitgooi.  Ek het ook op 'n stadium, toe dinge wat ek geleer het nie meer sin gemaak het nie, ophou soek na God.  Toe besef ek een belangrike ding oor God, en van daar my stille protes teenoor "georganiseerde" godsdiens soos gemeentes en kerkgroepe.  Ek het begin verstaan dat die Bybel 'n plek het, vir elke mens, in sy/haar individualiteit.  Die paniek wat ek ervaar het as kind is 'n gevoel wat deur 'n teologie op my afgedruk is deur vrees vir die duiwel, eerder as 'n liefde en 'n verhouding met God.


Die oomblik toe ek dit verstaan, ek is natuurlik nog besig daarmee, het my lewe en denke totaal verander.  Dit maak jou funksionering natuurlik nie makliker nie, inteendeel, jy leef in 'n gemeenskap waar mense jou daagliks kasty omdat jy "anders" is en "vreemd" is.  Mense sien my ook as 'n groot sondaar, en hulle wys my elke dag op my sondigheid.  Jy sien, die wereld is elke dag in hierdie "oordeel" vasgevang, tussen die reg en verkeerd.  Ek dink juis dat my lewe soveel beter is, vandat ek die individuele verhouding met God ontdek het en daagliks daaraan bou en groei.  Ek het begin besef dat ek nie meer onder die oordeel van mense of 'n kerk wil leef, waar ander mense vir my besluit nie. 


Een van die grootste probleme met die "ou denke" (verskoon tog, ek het nie 'n beter term nie), is dat geloof oorspoel na jou daaglikse lewe en funksionering.  Ek het begin insien dat die oordeel waarmee mense my oordeel, sprekend is van hulle eie oordeel oor hulleself en hulle beeld van God.  Ek het ingesien dat as ek my lewe wil verander, daar waar ek in die vrede van God by die waterstroom wil vrugte dra, en my beeld van God moet leef en uitdra.  So het ek stelselmatig begin groei saam met God, omdat ek God wou ontdek, en nie soos die ou dominee se raad, my slegtigheid en my sondigheid nie.  Ek het begin besef dat dit ook God is wat my geskep, en elke dag laat groei, met 'n doel.  Daardie doel is nie meer vir my die "oordeel" of "beterweterigheid" van blinde mense wat my in my blindheid wil lei nie.  Ek het besef dat as ek wil groei en wil stap in die donkerte of blindheid, dit eerder aan die arm van God is wat die lig is, as saam met blinde voetgangers oor 'n besige straat.


Maar, wat doen 'n mens nou rondom jou lewe, want ek dink ook nie dat ons net kan leef soos ons wil nie, want daar is tog 'n balans in alles.  Ek ondervind die laaste klompie jare die "hel" in my lewe, hier en nou, so ek verstaan konsekwensies van my dade, maar ek verstaan ook dat alles nie net feetjies en sprokies is nie.  Dit is natuurlik die grootste uitdaging vir mense, want daar is iets in ons wat altyd beter wil wees.  Nog 'n groter uitdaging is om in jou individualiteit te leef en te mag leef.  Ek het besef dat God my gemaak het soos ek is, met my drome, idees en doelwitte in die lewe.  Ek was altyd vreeslik bang om te dink wat ek dink en te doen wat ek wil doen, want ek het oordeel rondom my elke oomblik.  


Ons kan ons nie losmaak van ander mense nie, ons kan ook nie ons idees van die lewe ontsnap nie.  Ons is soos 'n leeu in die dieretuin wat in 'n hok is ons hele lewe, en wanneer God die deur kom oopsluit, het ons vergeet hoe om te jag en te lewe, en sit ons liewers elke dag vasgevang.  Ons weier om die stappies te neem, want die bekende is makliker vir ons as die onbekende.  Miskien is dit "sonde", wanneer ons onsself laat vang en laat vasketting aan ou idees, want dit is bekend. 


Ons leer op verskeie plekke in die Bybel, nie net deur die wet nie, maar deur praktiese verhale in die Bybel dat sonde nie noodwendig NET is wat jy DOEN nie, maar ook wat jy NIE doen nie.  Die verhale wat Jesus vertel oor die maagde wat hulle lampe onder die maatemmer wegsteek, of die talente, of die verhaal van die muntstuk waar die een slaaf gewoeker het, en die ander een die muntstuk net hou, wys vir ons hierdie punt.  Ek het vir lank die idee gekoester dat ek "alleen" of "vreemd" is.  Die dinge waarmee ek besig is en probeer het mense skepties aangekyk, en hulle doen dit steeds.  Ek besef elke dag hoeveel mense daar is wat nooit werklik "GLO" of vertrou nie.  God skep vir my en jou 'n paradys van 'n lewe, maar ons kies om eerder in ons hokkies te bly leef, en van daar af die ander diere met grondboontjies te gooi.  Die grootste sonde is om NIE te leef nie.


Natuurlik is daar konsekwensies en vrese vir die onbekende, maar dit is werklik nie onbekend nie.  Die wereld rondom jou is geskep deur jou Vader God, wat vir jou die geskenk van die lewe gegee het.  Kyk bietjie na mense om jou wat kanker het, of reeds op hulle sterfbed le.  Op daardie oomblik wens almal dat hulle hulle drome nageleef het, eerder as om in hulle hokke vasgevang te wees.  Dit is 'n groter klap in die Gesig van God wanneer jy nie leef nie, nie gaan soek na die moontlikhede nie. 


Mense sterf waneer hulle niks meer het om voor te leef nie.  As jy nie die oggend 'n doel het waarvoor jy opstaan nie, wat sal jou motiveer om dit te doen?  Wat word dan van geloof wat ons leer dat ons berge kan versit as ons geloof en kennis van God net so groot soos 'n mosterdsaadjie is?  Is ons nie ons eie grootste vyand nie?  Is die "bose" of die "satan" of die "sonde" nie dalk eerder vrees nie?  Ek het 'n verhaal van my ouma se blou Datsun geskryf waar sy elke uur opgestaan het om te gaan seker maak dat die motor nie gesteel is nie, totdat sy op 'n uur opstaan en sien dat dit weg is.  


As God bestaan, is God groter as enige iets wat jy jouself kan indink, en dit is daardie God wat vir jou die heelal geskep het om te geniet en te leef.  Ek dink dit is hoekom ons, wanneer ons bid tot God, opkyk boontoe, want God leer ons om ons kop uit die afvoerpype te haal en te gaan leef.


As ek dus na sonde kyk, dink ek so daaroor.  Wanneer ek God en God se krag en mag en vermoens in my lewe miskyk, dit is sonde.  Wanneer ek God se krag en mag "beperk" in my denke, dit is sonde.  Wanneer ek nie die "onmoontlike" (in mense se oe) aanpak en probeer nie, dan glo ek mos nie dat God so groot is nie.  


Vir my is die verhaal van die sondeval in die paradys juis dit, wanneer ons God se goddelikheid probeer ontneem, en ons self besluit wat God se beperkings is.  Dit is toe Adam en Eva begin probeer het om self God te speel, en nie God toegelaat het om God te wees nie, gaan jy natuurlik nooit die mooi om jou kan sien nie, en gaan jou lewe natuurlik 'n woestynbestaan wees.


Sonde, volgens my, is dus om nie God te "gun" of toe te laat om so groot te wees soos ek glo Hy/Sy is nie.  En die natuurlike uitvloeisel daarvan is dat as jy nie meer glo dat alles, wat jy aan kan dink of nie aan kan dink nie, vir JOU moontlik is nie.  Tel vandag jou kop op, laat God toe om God te wees, want alles is vir God moontlik, en gaan leef jou geskenk van die lewe!

Tuesday, October 7, 2014

Dit is nooit te laat nie!

Voel jy ook soms dood van binne? Is jy soms depressief wanneer jy oor en oor probeer, maar dinge net nie uitwerk nie? Is daar soms soveel druk op jou, dat jy eenvoudig voel dat jy nie meer kan nie? Voel jy soms alleen en dat niemand jou verstaan nie en daar geen sin in die lewe is nie?

Hierdie gevoelens is normale menslike optrede en almal van ons voel so van tyd tot tyd. My lewe werk baie keer nie vir my uit nie. Ek bid onophoudelik, ek glo met alles in my, maar vertroue dat dinge gaan verander is maar skraal.

Ons kasty onsself oor die keuses wat ons gemaak het. Ons blammeer graag omstandighede of mense. Ons leef met skuld, want ons het grootgeword in n godsdienstige omgewing waar, wanneer dinge nie uitwerk nie, dit n tekort is in jou geloof. Natuurlik het almal n storie om te vertel oor wie waar en hoekom dinge met ons gebeur.

In die Sahara woestyn kry ons n plant met die naam: "the resurrection plant". Dit is een van die ongelooflikste plante, wat lyk soos n ronde, dooie tolbos. Hy het geen wortels nie, en word maklik deur die wind rondgesleep.

Wat die plant ongelooflik maak is dat, alhoewel dit "dood" is en lyk, gebeur daar n wonderlike ding wanneer dit naby water kom. Dit kan selfs vir jare net rondrol en lyk asof dit niks werd is nie. Dan kom dit in aanraking met grondwater, en skielik gaan die dooie takke oop. Wanneer dit dan reen, sien jy die saadjies wat die druppels raakslaan wat afval van die droee takkies. Dan, binne dae ontkiem die saadjies, en pragtige groen blaartjies en blommetjies is sigbaar. Binne n paar weke verdor die plantjie weer en word dit ook weer n tolbos, en wag vir die volgende reen.

Wetenskaplikes het bepaal dat hierdie plante vir jare dormant en dood rondgewaai word sonder enige reen.

Daar het baie dinge in my lewe gebeur wat my soos daardie plant laat voel. Ek voel rondgewaai deur omstandighede en voel asof ek nerens iets werd is nie. Ek voel asof ek nerens my stabiliteit kan kry en my wortels kan insak nie. Ek dink daaroor en dit pla my, nagte en nagte le ek wakker, en selfs van binne voel ek asof ek n mislukking is. Mense om my herinner my elke dag oor my tekortkominge en mislukkings. Die gemeenskap spoeg my uit omdat ek nie n immergroen plant is wat daagliks vrugte dra en n bydra lewer nie. Ek voel beslis nie soos daardie boom van Psalm 1 wat by waterstrome geplant is en ooit my rus vind nie.

Ek voel daagliks soos die "resurrection plant". Ek kasty ook soos almal myself en die wind om my. Maar, wat gaan aan in daardie plant se selle? Is die plant elke dag besig met woede, skuld en depressie. Nee, verseker nie, die plant het aangepas. Hy het begin "vertrou" op die winde, want sonder dit sou hy dalk nooit by die poeletjie uitgekom het nie. Hy besef dat daar n tyd vir alles is, en hy wag vir sy kans en geleentheid. Wanneer sy kans kom, blom hy en doen hy sy bes om sy deel by te dra.

Hy kan dormant wees vir jare, en met geduld wag hy. Soms wil ons onmiddelike oplossings kry vir ons probleme, en dalk is dit hoekom ons vertroue verloor, want ons kan nie wag nie.

Die plant leer ons ook dat daar altyd hoop is. Niks is ooit afgehandel voor dit nie afgehandel is nie. Dit wys ook vir ons dat daar nie iets soos onmoontlik bestaan nie, selfs wanneer jy dood voel binnekant.

Dalk voel jy vandag soos ek, en dit is normaal. My vertroue vir jou en my is dat jy jou poeletjie water sal kry, nie moed sal verloor nie, en in daardie oomblik sal skyn en die ster van n dor woestyn sal wees!

Monday, October 6, 2014

Spyt kom te laat

Wie van ons het dit nie al so in ons lewens ervaar nie, waar jy terugkyk op wat jy in jou lewe gedoen het, tyd wat jy verspul het en geleenthede wat 'n ou moes aangegryp het en nie het nie. Verlede week is ek by my seuntjie Robert se krieketwedstryd, en ek kon my lag eintlik nie hou toe hulle van die veld af kom nie, want tussen 'n klomp 10 jariges kan jy net dink watter gebabbel dit afgee. "Oom, as Peet nou net daai bal gevang het, en Robert dit en as Kyle nou net daai een bal gekeer het". Maar nou ja, hulle het natuurlik die wedstryd verloor, en baie verskonings gehad oor wat kon en moes gebeur het. Daar is ongelukkig in die lewe nie plek vir "as", "sou", "moes" en "kon" nie. Die oumense het ons mos geleer dat gedane sake nie keer het nie.


Vanoggend bel 'n vriend van my om my raad te vra oor 'n belangrike besluit in sy lewe. Ek het al die detail gehoor, die pro's en die con's, maar twee dinge baie goed besef. Die eerste is, niemand weet wat die antwoord en die oplossing is nie, want daar is geen waarborge dat die besluit wat jy neem sal uitloop op die uitslag wat jy in jou hart weet jy soek nie. Dit lei na die tweede punt, en dit is dat ons keuses nooit objektief kan wees nie, want daar is altyd emosies by betrokke, veral die emosie daarvan om graag iets te WIL he in ons lewens. Baie mense vra my raad oor hulle lewens, en natuurlik is ek nie altyd gekwalifiseerd uit my eie lewe om hulle die beste raad te gee nie. Jy is altyd net daar om hulle te lei met informasie, maar eintlik vind ek dit dat mense altyd op die ou einde elkgeval gaan doen wat hulle wil.


Natuurlik het die ou mense ons ook oor die geskiedenis geleer dat geskiedenis belangrik is, want dit gee ons ervarings en kennis, sodat ons die foute van die verlede nie behoort te herhaal nie. Ek gebruik die woord "herhaal", want hoe moeilik is dit vir ons om dit reg te kry. Oor en oor doen ons dieselfde aksie, en dan is ons soms so verbaas dat die uitkoms nie verskillend is nie. Spyt tree dan in, nie oor ons keuse nie, maar veral omdat die uitkoms nie was wat ons verwag het nie. Baie mense doen soms heeltemal niks aan hulle lewens en situasies nie, want hulle dink deur niks te doen en geen keuses te maak nie, kan hulle nooit teleurgesteld wees nie. Die interresantheid van ons lewens is dat geen keuse, ook 'n keuse is, en soms meer skadelik, deur wel aksie te neem.


Die Bybel leer ons dat jy alle dinge in die lewe moet beproef, en die goeie moet behou. Dit is 'n aanmoediging vir ons om nie bang te wees nie, keuses te maak, maar as iets nie werk nie, of nie vir jou goed is nie, hou op daarmee, sny dit af en probeer iets anders. 'n Vriend van my op universiteit het altyd gese: "Wees spyt in die lewe oor wat jy gedoen het, nie oor wat jy by jou laat verbygaan het nie". Natuurlik was ons studente, en die lekker van om jonk te wees is dat jy "voortvarend" is, wat beteken dat jy nog nie soveel vrese en ondervinding opgedoen het, dat jy nie kanse vat nie.


Soos ons ouer word, het ons al meer verantwoordelikhede, en soms vind jy jouself in 'n doodloopstraat waar jy nie meer dinge aanpak nie. So 'n paar weke gelede by een van Hugo se hokkiewedstryde, kom 'n pa na my toe wat 'n aansteker soek en begin met my praat. Toe ek hom vra wat hy vir 'n lewe doen, se hy dat hy nou op 50 sy werk gelos het, en nou besig is om voltyds argitektuur te studeer. Ek was so verbaas, want ons dink vandag dat sulke tipe optrede "onverantwoordelik" is, en nie pas by iemand van sy ouderdom nie. Wat ek wel opgetel het by hom, is 'n ongelooflike rustigheid en passie, want vir die eerste keer in sy lewe doen hy wat hy nog altyd wou, maar nie instaat was om te doen nie.


Die woord "spyt" is 'n ongelooflike belaaide woord, wat gladnie deel van ons woordeskat behoort te wees nie, want dit steel ons energie. Dit steel ons energie in die feit dat dit nie realisties is nie. Om spyt te wees oor iets verander absoluut niks aan jou situasie nie, inteendeel dit trek jou net meer en meer in 'n rigting van negatiwiteit. As jy die woord spyt gebruik, maak jy ook daarmee 'n hele ander klomp blikkies met wurms oop. Aan die een kant, dink mense dat spyt jou om een of ander manier verskoon van die feit dat dit jy en jou besluit was. Beslis is jou lewe vol keuses, maar dit was JOU keuse en niemand het jou gedwing om dit te doen nie. Hierdie bewussyn van verantwoordelikheid is belangrik, want dit plaas jou in 'n posisie om aan te beweeg met jou lewe, en nie te kripeer en elke dag jou jammer te kry nie. Alhoewel dit natuurlik JOU besluit was, is dit net eenvoudig hoe die lewe werk, jy het nie 'n kristalbal om presies te weet wat die regte ding is om te doen nie, so aan daardie kant moet jy jouself ook vrystel van die blaam van jou besluit.


In Jakobus se boek in die Bybel lees ons oor sonde en hy se: "As jy WEET wat die regte ding is om te doen en jy doen dit nie, dan is dit sonde". Dit is waar, maar soms weet ons nie regtig nie, en daarom hoef jy nie jouself verder te belas met skuldgevoelens en blaam nie. Maar, soms weet jy wat jy NIE moet doen nie, en as jy dit aanhou doen, beteken sonde mos dat jy dit teen JOUSELF doen. Soms kan hierdie blaam ons so opvreet van binne dat ons geen kanse of geleentheid tot lewe meer wil aangryp nie. Maar, as jy nou al jou les in die lewe geleer het, hoekom sal jy aanhou om dieselfde foute oor en oor te bly maak.


Maar die belangrikste wat ons kan leer uit die vers is dat as jy wel weet wat om te doen, en jy doen dit nie, dan ontneem jy jouself die lewe. Dit is daardie oulike storie van die talente wat jy onder jou maatemmer wegsteek, en dat dit ook op die ou einde, deur ongebruik, van jou weggeneem word. Die lewe is gemaak om geleef te word, en dit is 'n geskenk uit God se hande. Jy sal nooit heeltemal en altyd weet wat die regte ding vir jou is nie. Afrikaans het 'n pragtige uitdrukking daarvoor, "Ten Spyte", wat eintlik beteken dat jy dinge doen, al weet jy nog nie heeltemal of dit spyt by jou gaan bring nie. Soms, op die oomblik wat jy die besluit moet neem, met die informasie tot jou beskikking, spring jy maar en hoop vir die beste.


Soms sit ons so hard en top oor ons lewens om te besluit en te analiseer wat die beste ding is om te doen, dat ons nooit leef of kanse vat nie. Op een of ander oomblik moet jy die sprong neem. Dit is soos 'n ou wat by die Goudriviermond se brug staan en analiseer of bungi-jumping 'n goeie ding is. Hy vat statistieke, hy meet die afstand en analiseer die tou se sterkte, maar hy spring nooit nie. Dit doen ons lewens, en dit is dat ons wonderlike analiste van die lewe is, maar ons neem nooit deel nie.


Miskien word ons ook gedryf deur konsekwensies, ons wil weet, voordat ons besluite neem wat die uiteinde van 'n aksie gaan wees. Mense spandeer soveel tyd en geld om hulle sterre te laat lees, of om na iemand toe te gaan wat die toekoms kan voorspel. Dit sou fantasties gewees het as dit so gewerk het, en jy presies kon weet wat die uitkoms van jou besluite gaan wees. Maar waar is die opwinding van die lewe dan? Waar sal die lesse vandaan kom as alles vir jou soos soetkoek ingegee is aan die begin van jou lewe en jy presies geweet het? In sekere kulture word daar nog steeds vir jou 'n bruid en bruidegom gekies, en hoe hard veg mense nie om weg te kom daarvan nie? Die menslike natuur kan en wil nie werk sonder vrye wil nie. Vrye wil is daardie "keuse" wat ek en jy het om self te kan kies wat en wie en hoe ons dinge wil he en doen.


Die naweek kyk ek die Ryder Cup gholf op televisie, en ek sien hoe die ouens soveel van hulle set-houe mis. En net nadat hulle dit gemis het, dan vat hulle die balletjie terug na die oorspronklike plek, en dan set hulle weer, gewoonlik met meer sukses. Dit is maklik as jy WEET hoe die set gaan draai en waar jy dit gaan slaan, maar in meeste gevalle weet jy nooit voor die tyd nie. Jy kan beplan soos jy wil en al die analises doen, maar in die oomblik is dit net jy en die balletjie. Maar, wanneer jy weet, soos met die lyn wat jy die sethou moet slaan, beteken dit absoluut niks om jou tweede hou in te slaan nie, want jy het nie 'n tweede kans nie. Dit is vreemd dat die ou wat sy set die eerste keer ingeslaan het nooit weer die balletjie uithaal en weer die set probeer nie. Dit wys ons nog 'n interresante konsep, en dit is dat wanneer ons sukses in iets behaal het, ons onsself nooit betwyfel nie. Aan die ander kant, die ou wat die tweede keer die set probeer en oefen, gaan nooit weer dieselfde set op dieselfde lyn kry nie. Inteendeel, die feit dat die ou wat sy eerste set ingeslaan het dit reggekry het, is nooit 'n waarborg dat hy op die volgende putjie dieselfde gaan doen of dieselfde set op dieselfde lyn met dieselfde lengte gaan kry nie. Die Engelse se mos dat: "Hindsight is an exact science".


Ons kasty onsself elke dag met die verlede, spesifiek oor die keuses wat ons gemaak het wat nie vir ons uitgewerk het soos ons gedink het dit moes nie. Sommige van ons is so besig met hierdie "mislukkings" in ons lewens, dat ons nooit die modder wat dit aan my skoene veroorsaak, van onslae kan raak nie. So leef ons net in die verlede, en in plaas daarvan dat ons dit verwerk, hou dit ons elke dag terug en veroorsaak dit net meer en meer probleme in die toekoms. Dit weerhou ons van die mooi van die lewe, en weerhou ons om enige noemenswaardige keuses te maak vir die toekoms, veral deur die vrees om weer foute te maak. Die lewe is vorentoe, nie agtertoe nie, en of jou nou bang of spyt is oor wat in die lewe gebeur het met jou, more kom, en net omdat jy bang is, vat dit nie more weg uit jou lewe nie. Omdat jy dit nie hanteer wat in die verlede met jou gebeur het nie, sneeubal jou probleme net elke dag in die toekoms in, en versamel jy meer en meer dinge waaroor jy spyt gaan wees.


Die laaste punt wat ek wil maak is dat jy het in die verlede erens voor 'n keuse gestaan, dalk was dit oor jou studies, jou werk of jou huweliksmaat. Jy dink nou, nou dat jy terugkyk dat jy dalk 'n fout gemaak het, maar waar is die waarborg dat jou uitkoms suksesvol sou gewees het as jy 'n ander keuse eerder gemaak het. Onthou, waar jy nou is laat jou so dink, maar wie se dat dit beter sou uitwerk? Waar jy is vandag is die enigste "realiteit", en niks of niemand en geen spyt, moes, wou of kon, kan dit verander nie.




Tuesday, August 19, 2014

Die Hysbak

Ek staan nou die dag voor die hysbak by my ma se huis, besig op my foon met whatsapp, en skielik wonder ek hoekom die hysbak nie opdaag nie.  Hy is baie keer stukkend, en dit was my eerste idee dat daar fout is.  Tot my verbasing besef ek met 'n lag in my kies, dat ek nooit die knoppie gedruk het om, soos die Hollanders se, hom bestel het nie.


Mense vra my baie keer die vraag na aanleiding van my denke, watter deel van die lewe is werk wat jy moet doen en wanneer speel toeval en die hand van God of die "universe" 'n rol in mens se lewe.  Mense dink om een of ander rede dat ek baie keer se dat 'n mens moet aanvaar en die lewe moet leef, asof ek daarmee bedoel dat jy maar net moet los en alles gaan outomaties vir jou gebeur.


Die voorbeeld van die hysbak is presies hoe ek dink hoe die lewe werk.  Ek is nie 'n ingenieur nie, maar ek weet dat die hysbak werk met elektriese motors wat teengewigte of hidrolies werk en die hysbak op en af laat beweeg.  Dit is vreeslik gerieflik, veral as 'n mens siek of oud is, en baie beter as jy baggasie of 'n waentjie vol kruideniersware het.  Dit is baie beter as om trappe te klim, en baie minder uitputtend. 


My kinders hardloop gewoonlik vir die hysbak om die knoppie te kan druk, en dan het ons ook 'n rangorde van wie watter knoppie druk.  Ek dink dit is wonderlik vir hulle om so "in beheer" te voel van hierdie groot masjien.  Jy is totaal en al in beheer van waar JY wil afklim, maar ongelukkig kan jy nie beheer op hoeveel vloere en waar die hysbak gaan stop nie.  Jy het ook nie altyd beheer oor wie saam met jou in die hysbak op die ander vloere inklim of uitklim nie.  Een ding is egter seker, soos wat ek nou die oggend uitgevind het, niks gaan gebeur as jy nie die hysbak bestel of wanneer jy binne is, die vloernommer druk waar jy wil heengaan nie.


Hierdie voorbeeld van die hysbak is vir my so sketsend van wat ek oor en van die lewe dink, soos 'n hysbak.  Niemand van ons weet heeltemal seker wie die hysbak beplan, of ingesit het in die gebou wat jy gebruik nie.  Wanneer laas het jy gekyk na die maak van jou hysbak?  Soms is ons so besig om te probeer uitrafel hoe en wie die hysbak gemaak het, dat ons nooit besef dat ons dit mag gebruik, irrespective wie die hysbak gemaak het nie. 


Die hysbak is daar vir jou gerief, soos die lewe gemaak is vir my en jou om te geniet.  Daar is talle geleenthede en opsies en keuses wat ons het in ons hysbak-lewe.  Soms sien ek mense wat totaal na die ander kant van die lewe oorhang, wat of buite staan en wonder hoekom die hysbak nooit by hulle stop nie, of inklim en nooit 'n bydra maak en besluit waarheen hulle wil gaan nie.  Hulle lewens voel doelloos, want al wat hulle doen is om doelloos hulle reis op grond van ander mense se keuses te maak.  Hulle ry doelloos, dag in en dag uit op en af saam met ander, en vir vlietende oomblikke, wanneer die hysbak oopgaan, loer hulle uit om te sien hoe ander mense se vloere en lewens lyk. 


Ek ervaar baie mense wat nooit in hulle lewens iets bereik nie, en hulle kritiseer die "hysbak" omdat die nie instinktief weet om te stop en hulle op te laai of oop te maak by die vloer van hulle keuse nie.  Soms voel ek asof ons met God omgaan asof alles net outomaties moet gebeur, asof ons soos poppe aan 'n tou moet leef.  God is daar om ons te ondersteun, net soos die hysbak se hidroliese kabels en die hysbak.  God gee ons ongelooflike geleenthede en vloere om op uit te klim, maar jy het vrye wil.  Jy kan besluit of jy enigsins in die hysbak wil klim en wil deelneem aan die lewe, of nie.  Jy kan besluit of welke vloer jy wil uitklim, wetend dat die hysbak altyd weer beskikbaar gaan wees om jou na 'n ander uitdagende vloer te neem.


Die hysbak is ook nie net vir jou uitsluitlike gebruik nie.  Daar is en sal altyd mense wees wat dit met jou deel.  Soms moet jy wag vir die hysbak, of toelaat dat die mense om jou hulle eie besluite neem oor op welke vloer hulle wil afklim.  Soms wil ons God dwing, saam met ander mense om selfsugtig die lewe vir ons NET te laat werk soos ONS wil.  Ons is soos klein kindertjies wat in die hoek gaan sit en kerm omdat dinge nie vir ONS uitwerk nie.  Die mense saam met jou in die hysbak van jou lewe het ook die reg, en soos met die hysbak moet jy geduldig wees, jy SAL op die vloer van jou keuse eindig, dalk nie onmiddelik nie, maar in tyd.  Almal kom uiteindelik uit by die keuse wat hulle uitgeoefen het.  Dalk word jy verras deur op 'n vloer te eindig wat iemand anders gekies het, wat vir jou opsies en geleenthede bied wat jy self nooit aan gedink het nie. 


'n Komediant vertel nou die aand die storie van die hysbak en verwys komies na die optrede van ander mense.  Hy se hy vind dit vreemd dat sekere mense nooit jou "knoppiedruk-vernuf" vertrou nie.  Hulle kom of by die bestel, of binne by die knoppie, en alhoewel jy reeds die knoppie gedruk het, druk hulle dit oor en oor, asof hulle dink dat die hysbak daardeur besef dat hy nou vinniger moet kom, want daar is 'n belangrike persoon wat NOU wil ry.  Ons ken almal daardie gevoel van has binne ons wat nie kan wag nie, maar die lewe, net soos die hysbak vat sy tyd.  Niemand van ons is SO belangrik dat die hysbak NET vir ons is nie.  Geduld en saamwerk is die antwoord, wetend dat ander mense net soveel reg op die lewe het as ons. 


Geduld is natuurlik een ding wat ons almal, met onsself, met ons medemens en ook met God se lewe moet aanleer.  Soos almal met die hysbak tog hulle bestemming bereik, moet ons ook geloof he dat ons lewens ook wel sy bestemming sal bereik.  Jou rol is om te droom, deel te wees en die knoppies te druk. 

Een ding wat sielkundig met mense in die hysbak gebeur, is dat ons skaam is.  Dit is 'n beperkte ruimte, en mense staan gewoonlik en kyk vir die uitslag op die nommertjies van waar die hysbak NOU is.  Ons is soms so uitgelewer daaraan om ons DOEL te bereik, dat ons vergeet van die reis.  Ons vergeet om met die mense om ons te gesels en saam deel te neem.  Daar in my ma se ouetehuis se huisbak sien ek dat mense soms SO lekker gesels en betrokke is by mekaar, dat hulle herinner moet word dat hulle hulle vloer bereik het.  Soms is ons so besig met ons eie dinge, dat ons vergeet om beleefd en beskaafd met mekaar om te gaan, en soms moet ons besef dat dit juis daardie omgaan met mekaar is wat die reis, korter, vinniger en genotvol kan maak.  


Partykeer moet ons ook ons oog afhaal van die "beheer" en "bestuur" en die "doelwit", en soms net leef.  Dit beteken nie dat jy doelloos hoef rond te ry die hele dag of voor die hysbak staan en wag vir wonderwerke nie, dit beteken net dat jy dit OOK moet doen.  Druk jou knoppie, maar terwyl jy nog nie daar is nie, geniet die geselskap en die reis. 


Soms, eiintlik meeste van die kere, is ons onseker van waarheen ons moet gaan, en wat ons doel-vloer is, en gelukkig het ons dan ook mense wat ons kan vra.  Soms is ons te trots om hulp te vra, want ons wil mos nooit lyk asof ons "incompetent" is nie.  Fier stap ons in die hysbak in en met 'n houding DRUK ons die knoppie.  So 'n paar weke terug kyk ek op youtube 'n aanbieding van TED, wat handel oor die KUNS om te vra.  Die aanbieder, Amanda Palmer, vertel van haar eerste werk op straat as 'n beeld wat geld van mense gevra het vir haar moeite om haarself so mooi te vermom, tot haar en haar "band" se manier om te gaan optree by musiekfeeste.  Sy het die kuns van vra aangeleer, en daarom het hulle altyd 'n plek gehad om te slaap, kos om te eet en vervoer.  Hulle vra mense om hulle te help, en sy noem dit 'n kuns, want ons het verleer om hulp te vra, en meer nog, ons is soms te trots om vir hulp te vra.  Daar is altyd mense om jou in die hysbak wat ondervinding het wat jy nog nie oor beskik nie.  Moenie te trots wees om te vra nie, want trots word baie keer uitgeballanseer met vernedering en irritasie.  Vra om hulp en vra op aanwysings, en moet nooit dink dat iemand nie "gekwalifiseerd" genoeg is om jou van hulp te wees nie.  Die Budha het ook om hulp gevra, en dit van 'n olifant.  Al die groot denkers lees steeds ander mense se werke, analiseer ander se studies en soms het hulle adviseurs wat hulle help.  Onthou altyd, almal het 'n deel van die waarheid beet, die probleem kom in wanneer jy dink JY het al die antwoorde.  Eric Hoffer het gese: "In times of change, learners inherit the earth, while the learned find themselves beautifully equipped to deal with a world that no longer exists."


'n Hysbak is ook so ontwerp dat jy nooit werklik "alleen" is nie.  Daar is 'n "alarm" knoppie en ook 'n tweerigting kommunikasie as jy vassit of as daar 'n noodgeval is.  Dalk word die hysbak se tweerigting radio nie altyd beman nie, maar in die lewe het ons altyd die moontlikheid om in ons goeie en slegte oomblikke met God te kan praat, en daar is nooit 'n kortsluiting nie.  Sodoende kan ons almal veilig voel om die reis te onderneem.


Gaan bestel jou hysbak vandag, moenie staan en wag terwyl die lewe by jou verbygaan nie.

Monday, August 18, 2014

Mosaik


Die hofsaak van Oscar Pistorius het die hele wereld aan die gons, en elkeen van ons het 'n standpunt oor wat ons dink wat gaan met hom gebeur.  Verlede week in hulle slotopmerkings, haal Adv. Gerrie Nel aan uit 'n vorige hofsaak.  Hy gebruik die term "Mosaik", en se dat alhoewel 'n mens nie direkte bewyse het nie, al die "circumstantial evidence", seker vertaalbaar met "onstandigheids bewyse", almal saam 'n volledige prentjie vorm, soos wat 'n mens Mosaik bymekaarbring. 

Ek vind hierdie standpunt baie interresant, want dit laat 'n mens met een groot vraag, nl. "Wat wil jy bewys?"  Hierdie stanpunt laat soveel plek oop vir interpretasie, dit hang net af aan watter kant van die hofsaak jy is.  So het Adv. Barry Roux natuurlik hierdie mosaik van die staat probeer uitrafel, om sodoende sy eie mosaik van bewyse vir onskuld te gee.  Dit beteken dat dieselfde bewyse dus op verskillende maniere gerangskik kan word om beide kante, inkriminerend en vrylatend te skep. 

Ons lewens is ook maar 'n mosaic van allerhande omstandigheids bewyse.  Daar is byvoorbeeld jou persoonlikheid, daar is jou denkwyse, daar is jou optrede en jou geskiedenis.  En net soos met die hofsaak, is daar nooit werklike "ooggetuies" wat jou ooit werklik ken of wat altyd saam met jou is nie.  Sodoende ontstaan daar 'n hele boel stukkies wat jy in jou ronddra, en wat die mens maak wat jy is.  Die mense om jou "maak" 'n prentjie van jou, en dit word hulle foto van jou.  Natuurlik het elkeen van hulle ook 'n "agenda" van wie hulle is en is daar mense wat aan verskillende kante van die weegskaal van jou lewe is.

Ek is in my lewe deur 'n hele paar mislukte verhoudings, en alhoewel ek nie vreeslik verander het nie, het ek gesien dat mense vir wie jy hulle alles was, dieselfde stukkies van jou anders kan rangskik om jou prentjie total anders te laat lyk.  Soos met die hofsaak van Oscar, is jy nie noodwendig anders nie, die bewyse is dieselfde, maar waar dit eens in jou guns getel het, kan die herrangskik daartoe lei dat dit totaal teen jou tel. Ek verwys so baie na John DeMartini, wat die standpunt huldig dat alles in die lewe uitballanseer.  In werklikheid wys hy daarop dat vir elke aksie in die lewe, daar 'n gelyke en teenoorgestelde reaksie is.  Hoe groter jou sprong na die een kant toe is, hoe groter teenkant word gevorm om jou uit te ballanseer.  Hy stel dit duidelik dat ons bewus moet wees van die feit, maar dat mense nooit in die uiterste van emosies en prentjies kan leef nie.

Prakties is dit baie waar, en dit het ek gister ervaar, dat mense outomaties altyd dinge in perspektief wil stel, selfs onwetend.  Gister het ek 'n gesprek met iemand oor my geliefde Blou Bulle wat swaarkry in die Curriebeker.  Skielik kom die ander persoon en vertel my van al die Springbokke wat weg is, en die ouderdomme van die span ens.  Die lewe sal nooit toelaat dat jou denke en idees buite verband alleen staan nie.  Dit is hoekom die hofsaak 'n regter het, wat opweeg.  Natuurlik gaan alles nie altyd maanskyn en rose na jou kant toe nie, maar die wereld het 'n manier, en dit is dalk waar God inkom, om jou uit te ballanseer.  Dit is dalk wat God se boodskap so ongelooflik maak, is dat God gladnie belangstel in watter kant, skuldig of onskuldig, jou bewyse oorhel nie, want in God se oe is ons in volkome balans in die liefde.

Maar intussen moet ons funksioneer met die mense om ons, maar hoe doen 'n mens dit?  Ek dink daar is 'n paar maniere om dit te doen.  Wat jy moet verstaan, om mee te begin, fokus eerstens aan watter kant jy van die skaal is, kom ons noem dit nou maar negatief en positief.  Wanneer jy dit gedoen het, moet jy besef dat altwee van hulle gevaarlik kan wees.  Kom ek noem vir jou 'n voorbeeld wat ek baie by my kinders sien.  Hulle raak werklik kinderlik opgewonde wanneer hulle iets lekker kan doen soos om Spur toe te gaan.  Hulle speel hulle harte uit, net om, wanneer hulle terug is by die huis, so 'n klein depro te slaan.  Nie dat ek se dat jy hulle nie Spur toe moet vat nie, net dat as iets "te" is aan die een kant, dan gaan daar iets gebeur om jou skaal weer terug te swaai na die ekwilibrium.  Die oumense het mos gese dat alles wat 'n "te" is verkeerd is, behalwe te-voet en te-maties. 

Ek dink dat ons soms te veel in die ekstreme leef, of dit nou negatief of positief is.  Dit lei daartoe dat daar altyd iets moet gebeur om die ekwilibrium te bring.  Mense kan eintlik net leef, wanneer ons daar erens in die middel leef, nie in die ekstreme sonder balans nie.  Daar waar ek besef dat ek net kan funksioneer saam met mense, as ek hulle goeie en slegte punte erken en daarmee kan saamleef.  In die wereld van die bekende mense soos akteurs sien ons dit baie.  Hulle word so opgebou en aanbid, en dan is die poniekoerante daar om hulle lewens vir ons oop te sper en die balans te kry, dalk maar vir die wereld om te besef dat hulle net sulke gewone mense soos ek en jy is. 

Een so 'n goeie voorbeeld is Joost wat op die kruin van die rugby- en sosiale- werelde hom bevind het.  Ons het opgekyk na hom, en toe sy optredes in die pers oopgekrap is, toe het almal weer vingers na hom gewys.  Nou met sy siekte sien ek in mense dat niemand meer regtig dink aan die status of die val nie, maar daar in die middel kry ons hom almal jammer en bid ons vir hom soos wat ons doen met enige gewone persoon.  Jy sien, twee ekstreme bring ons tog altyd uit tot die punt om te verstaan dat almal maar daar erens in die middel, "gewone" mense is. 

Ek ondervind dit in die laaste tyd baie in my eie lewe.  Ek kry swaar en ek swoeg aan die een kant, en ek ondervind hoe my vriende die laaste ruk begin het om my te vertel van al my positiewe punte.  Dit  is iets wat hulle nooit voorheen op so 'n manier gedoen het nie, maar hulle is natuurlik daar om die balans VIR my te bring.  Niemand in die lewe is NET sleg of NET goed nie.  Selfs in die Bybel sien ons hoe die Romeine en die ortodokse Jode die balans gebring het in Jesus se lewe, deur Hom te kritiseer en Hom te kruisig uiteindelik.  Die balans sal altyd daar wees, maar daarmee saam se ek nie, net soos met die Spur voorbeeld, dat jy nooit iets mooi van iemand moet se nie, of iets lekker met hulle moet doen nie, maar eerder moet verstaan dat mense twee kante van 'n muntstuk het, dinge wat JOU beindruk, maar ook dinge wat JOU gaan afsit van hulle.  Eintlik is mense muntstukke wat nie OF kopkant, OF stertkant is nie, maar eerder regop staan sodat ek beide kante van hulle menswees in balans kan sien.  Weereens, is niemand ooit net sleg of ooit net goed nie.

So, as jy dit weet of verstaan, dan alleen kan jy aanbeweeg na die volgende punt toe, en dit is dat jy self nooit regter mag speel en oordeel nie.  Een van my vriende is vir my 'n ongelooflike voorbeeld daarin.  Hy se altyd:  "It is all about the people", en sy lewe spreek daarvan.  Wat ookal gebeur, hy stel homself elke dag bloot aan almal, en sonder oordeel.  Dit beteken nie dat hy nie standpunte het en alles kondoneer nie, inteendeel, maar sy standpunt is dat alles oor mense gaan, en dat hy nie kan, mag en die heel belangrikste WIL oordeel nie.  Jesus het sterk standpunte gehad oor hoe die lewe is en moet werk, maar meer belangrik nog, aan die kruis spreek hy die heel belangrikste woorde:  "Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie"!

Ons besef nie aldag wat die krag van vergiffenis is nie, miskien omdat ons onsself oordeel.  Vergiffenis beteken nie dat alles in die lewe toelaatbaar is nie.  Die gemeente vra mos vir Paulus of genade dus beteken dat hulle meer sonde kan doen, sodat die genade moet toeneem in hulle lewens.  Paulus sukkel om vir hulle te vertel dat dit juis NIE die geval is nie.  Genade het nie te doen met kwantiteit nie, maar met kwaliteit lewe.  Genade is juis die verskil tussen ons godsdiens en ander, waar daar by hulle altyd 'n swaai is tussen 2 pole.  Ek doen iets verkeerd, en dan doen ek iets om dit reg te maak.  My God werk nie so nie, my God werk daar waar my muntstuk regop staan en waar God my sien vir my hele wese, en niks oordeel oor my "slegte" kant nie, maar my ook leer dat my "goeie" kant ook geen relevansie het nie, want ek kan nie liefde verdien nie.

Ons wereld, met sy moondhede, grondsug, haat, moord, liefdeloosheid, gebroke verhoudings en gebroke mense, sal altyd dieselfde bly, totdat ons, ek en jy, ons ingesteldheid teenoor onsself en mekaar verander.  Mense is daagliks so besig om hulle skadukant te beveg om die regte dinge te doen, dat die lewe by ons verbygaan.  Dit beteken gladnie dat jy nou maar net kan maak wat jy wil en dink dat die lewe gaan verander nie, en dat daar dan in balans dieselfde goeie dinge gaan gebeur nie, dit gaan nie werk nie.  Wat dit wel beteken is dat jy jouself moet aanvaar en verstaan wie en wat jy is, in genade.  Soms is ons "skadukant" ook maar 'n toeloop van omstandighede, net soos jou groot ore of krom neus.  Miskien word vandag die dag wat jy jouself 'n breuk gee, en jou muntstuk regopdraai en met daardie mens leef, eerder as om te fokus op die reg en verkeerd in jou bestaan.

Onthou dat jou "mosaik" van jou lewe, gebou word op jou eie interpretasie, jou eie plan en ontwerp van wat jy dink die lewe moet wees.  Jy kan jou stuk werk vir jouself rangskik NET soos jy wil, dit is God se geskenk aan jou.  Gaan rangskik in liefde jouself, jou medemens en jou wereld soos wat God dit doen.  Kyk deur God se bril, en wanneer God jou as 'n regop muntstuk sien en nie fokus op jou verdienstekant of jou skadukant nie, wie is ek of jy om dit anders te wil doen.  Dit is waar harmonie en die ware lig van God deur jou skyn in die wereld en waar jy werklik 'n verskil gaan maak.

Kyk dalk hierdie week verby die spelfout op jou sms, solank die boodskap deurkom is dit al wat saakmaak! Hoop jou week is geballanseerd en gevul met genade! 


Wednesday, August 6, 2014

Leestekens

Op skool is ons geleer om 'n goeie Afrikaans te besig.  Ons het so hard geleer om Afrikaans reg te praat, en is dit nie een van die mooiste tale in die wereld nie?  Een van die dinge wat ons geleer het was om ons leestekens reg te gebruik.  Die interresant ding van leestekens is dat dit universeel in alle tale omtrent dieselfde is, en die doel daarvan is dat ons die leser van ons skrywes help om ons woorde reg te lees.  Ons wys met ons leestekens waar nuwe gedagtes begin, waar dinge bygevoeg word, waar dit iemand anders se woorde is en wanneer ons vrae vra. 

Ek onthou nog daardie voorbeeld van die oom wat op die tannie se grafsteen geskryf het:  "Hier le my geliefde Griet, in die hemel is sy niet, in die hel, dit weet ek wel".  Jy sien, my juffrou het deur die voorbeeld ons probeer leer dat dit nie net belangrik is OM leestekens te gebruik nie, maar ook om dit in die regte posisie te plaas binne in die sin, want leestekens kan ook die hele betekenis van die boodskap omgooi.

Elkeen van ons skryf daagliks 'n storie oor ons lewens vir ander mense om te lees.  Ons "gebruik" ons dade as woorde vir mense om betekenis uit ons geskryf te kry, maar waar en hoe ek die leestekens in my eie storie gebruik, se ook soos in die voorbeeld hier bo so baie oor ons storie wat ons vertel. 

'n Punt beteken dat die gedagte verby is, en dat ons na 'n nuwe fase toe beweeg.  So baie keer skryf ons stories en gebruik punt wat nie net 'n nuwe idée of fase inlei nie, maar iets klaarmaak.  Ek ken so baie mense wat ander mense, idees en verhoudings sommer net met 'n punt afsluit.  Ons moet onthou dat wanneer ons 'n punt bereik het, dat jy nooit weer kan teruggaan om iets by te voeg nie.  Natuurlik is dit ook 'n leerskool van die nuwe sielkunde om mense te leer om in die oomblik te leef en nie elke keer terug te val en oor en oor dieselfde foute te maak nie.  Ons word geleer om fases en gedagtes af te sluit en aan te beweeg. 

Dit is natuurlik 'n goeie ding om sekere dinge in die lewe af te sluit.  Gister sit ek weer in 'n gesprek met mense wat ongelukkig is met hulle lewens en die mense in hulle lewens, en wat daagliks met hartseer en spanning sit omdat hulle nie 'n punt kan bereik nie.  Ek vind dit baie dat mense met sulke onafgehandelde sinne binne hulle stories sit en nooit kan afhandel of aanbeweeg nie.  Ons is daagliks self skuldig om nie dinge af te handel nie.  Ek het al soveel keer in hierdie blog geskryf oor die belangrikheid van afhandeling en aanbeweeg, want soveel van ons ongeluk vandag is 'n samevoeging van dinge wat lankal 'n punt moes bereik het.  Die engelse praat van "hang-ups", maar ek praat eerder van "hang-ons".  Soveel hartseer in jou dag van vandag kan opgelos word, solank jy punte kan bereik.  Daardie outjie wat in graad 2 jou gespot het oor jou groot ore is lankal nie meer deel van jou lewe nie, maar as jy nie 'n punt maak nie, en dit afhandel nie, gaan jy vir ewig 'n aanhanger van die idée wees dat jou ore te groot is. 

Maar in dieselfde asem kan punte ook gevaarlik wees, veral wanneer ons nog nie klaar is met die sin of met die persoon nie.  Ons leef in 'n wereld van funksionaliteit en waar ons dinge wat nie ons dien nie summier weggooi.  Veral doen ons dit wanneer mense nie ons standpunte of idees oor die lewe deel nie.  Mense stel ons teleur en elke mens se waardesisteem verskil van mekaar, maar jy kan eenvoudig nie deur die lewe gaan met die idée dat jy reg is en almal verkeerd, en daarom almal afsny wat nie met jou saamstem nie.  Dit beteken nooit dat jy nie punte mag maak of 'n punt kan bereik waar jy eenvoudig 'n stop aan iemand of 'n verhouding sit nie.  Wat wel belangrik is is dat jy nie net eenvoudig mense wat anders lyk en anders dink moet afsny nie.  Dr. John DeMartini skryf in sy boek:  "The Breakthrough Method", dat ons nooit mense of situasies uit ons lewens kan uitskryf nie.  Elke mens, elke situasie is daar om ons van iets te herinner, of dat ons lesse moet leer.  Niks en niemand is toevallig nie.  Veral die slegte dinge in mense wat ons irriteer, herinner ons baie keer daarvan dat ons sekere sinne in ons lewens nooit hanteer of nooit afgehandel het nie.  Mense leer ons baie keer dat verandering moontlik is, of dat ons iets moet verander en dalk nie in ons kokonnetjie moet leef nie, maar nuwe uitdagings moet aanvaar.  Self jou "vyand" of jou "vyandige" idée in ander mense, moet jy ook besef is daar met 'n doel, dit is JOU verhaal en elke oomblik en elke mens en elke idée is deel daarvan.  So in balans moet ons besef dat sekere stories en idees PUNTE moet kry en afgehandel moet word, en dat ons dalk ander stories, idée en mense eerder moet hanteer met die volgende leesteken, die KOMMA.

Die rol van 'n komma is nie net om 'n lang sin beter leesbaar te maak nie, maar om vir die leser van jou storie te wys dat daar 'n ruspunt in die lees is, en dat dieselfde idée verder gaan in 'n nuwe rigting.  Ons gebruik ook sekere woorde na 'n komma soos omdat en maar, en ook om 'n klomp opsies en woorde te lys.  Ek het ook al baie keer genome dat die lewe nie net gaan oor OF-OF en om konklusies te maak nie, maar eerder in EN-EN, waar jy opsies lys en ander dinge oorweeg binne in jou storie.  Dit vat gladnie weg dat jy nie punte moet of mag gebruik nie, maar eerder dat jy dalk, voordat jy 'n PUNT maak, dalk ander opsies ook moet oorweeg.  Die lewe gaan oor liefde, en in liefde, alhoewel ons soms seerkry en mense om ons verskillend is en dink, gaan dit nooit oor wie reg en verkeerd is of was nie. 

Liefde gaan oor aanvaarding, en veral waar JY self gee, voordat jy kies om te ontvang.  Dit is maklik om vir mense te vertel dat hulle verkeerd is en af te skryf, maar veel moeiliker om liefde toe te pas, veral as iemand 'n ander idée oor die lewe het.  Ek verwys graag terug na die voorbeeld van Jesus wat ons in die Bybel lees.  Jesus het met mense tyd spandeer wat deur ander afgeskryf is, mense se lewens wat in ander se boeke reeds punte agterna gehad het.  Prostituut.  Tollenaar.  Ongeletterde. Skrifgeleerde.  Jesus het ons gewys dat die storie wat ons van Hom in die Bybel lees, die samelewing se PUNTE in KOMMAS verander het en hulle die geleentheid gegee om wonderlike nuwe opsies in hulle lewens te ervaar.

'n Ander belangrike leesteken is die UITROEPTEKEN!  Die doel daarvan is om uitbundigheid en uitskree aan te dui.  Ek kyk so na die wereld rondom my en sukkel nogal om mense te sien wat met absolute uitbundige uitroeptekens leef.  Ons is meeste van die tyd so besig om te kla en te kerm, te oordeel en veroordeel, dat ons vergeet om te leef.  Hoeveel mense om jou ken jy wat werklik die lewe kan geniet?  Ons is so vasgevang in die tekort aan geld, of aan die tekort aan liefde, of die tekort aan vriende of verstaan, dat ons nooit leef nie.  Die lewe is gemaak om geleef te word, nie ter wille daarvan om iets te bereik of om iets te vermag nie, maar om uitbundig geleef te word.  Uitroepteken is dit uitbundige uitbassuin van jou geluk en jou emosie, en omdat ons emosionele mense is, is dit die kraan van geluk.  Gaan kyk bietjie op youtube of na idols en sien watter videos of kunstenaars die mense die heel meeste van hou, is dit die sonder glimlagte, sonder jubeling en sonder charisma?  Dalk moet ons in die lewe meer uitbundige uitroepe inbou en leef, eerder as om net in punte en kommas te leef.  Die lekker ding van 'n uitroepteken is ook dat dit die einde van 'n sin aandui, en daar is nie plek vir kommentaar en verduidelikking nie.  Soms voel ons asof ons soeke na lag en jubeling moet wegsteek, miskien is dit maar 'n Calvinistiese dinge, want ons het mos eintlik die idée uit die godsdiens gekry dat ons eintlik hier is om te ly, en nie te leef nie.  Hoeveel uitroeptekens is daar in jou storie van vandag?

Dit is natuurlik ook waar dat ons lewens ook eise stel en vrae van ons vra, en daarvoor gebruik ons die VRAAGTEKEN.  Met 'n vraagteken is die leser geleer om aan die einde van die sin sy of haar stem te verhef om aan te dui dat dit 'n vraag is.  Natuurlik vra die lewe van ander mense se stories daagliks aan ons vrae.  Natuurlik is daar uitdagings in ons lewens wat ons lei tot vraagtekens.  Ons vra hoekom ons hier op aarde is, ons vra wat die sin van die lewe is, ons vra hoekom ons swaarkry.  Vraagtekens is nie net om ons te wys op wat ons nie het nie, vraagtekens is ook aanduidings daarvan dat ons na dinge SOEK. 

Ons soek antwoorde ook nie net vir die moeilike dinge in die lewe nie, want sommige vrae wee tons sal ons nooit beantwoord kry nie.  Ons vra ook vrae omdat ons omgee.  Ek sien baie mense elke dag wat opgehou het om vrae aan die lewe te stel, en erger nog, vrae aan mekaar te stel.  Ek praat nie hier van eise nie, maar werklike vrae wat wys dat ons belangstel.  Nou die dag het ek 'n kardinale fout gemaak om te vergeet dat iemand siek is, en nooit gevra hoe sy voel nie.  Na 'n ruk het sy my natuurlik daaraan herinner, want die feit dat ek nie uit omgee gevra het nie, het haar presies laat voel asof ek nie omgee nie.  In die boek "How to win friends and influence people", leer die skrywer ons dat die beste manier om mense om jou te vergader, nie is om jou idees met uitroeptekens en punte oor te dra nie, maar eerder te kommunikeer met vrae.  As jy 'n vraag vra, lei dit daartoe dat die persoon nie net dink dat jy omgee nie, dit vra aksie van die ander persoon om jou te antwoord.  Dat jy mense vra wat hulle dink en voel laat mense altyd goed voel, want dit beteken nie net dat jy omgee nie, maar ook dat jy belangstel en dat hulle antwoorde en insette vir jou belangrik is.  Dit is wanneer mense voel dat jy lief is vir hulle, wanneer hulle insette belangrik is, maar meer as dit nog, dat jy nie bang is vir hulle idees en standpunte nie, maar hulle toelaat om dit te huldig, omdat jy omgee en lief is vir alles en almal om jou.  Onthou die woorde van DeMartini dat almal om jou is met 'n doel, en daarom is almal 'n leeraar wat jou, deur wie en wat hulle is, meer oor jouself leer.

Een ander leesteken, wat ons baie gebruik, is AANHALINGSTEKENS.  Ons gebruik dit wanneer ons dit wat ander mense erens anders gese of geskryf het, deel van ons storie maak, ook soms om ons punt te bewys.  Op Universiteit is ons geleer om baie aanhalings uit ander se werke te maak, as bewys dat ons die tema goed ondersoek het en dit baie goed kan saamvat.  In 'n selfsugtige wereld is daar mense wat altyd net hulle eie storie skryf, sonder om ooit die konteks en ander se standpunte aan te haal.  'n Storie sonder aanhalings, is 'n vervelige en eensame werkstuk, en soms is dit 'n bewys daarvan dat ek nooit na ander luister nie, en nooit vrae vra van mense om my nie.  Dit is ook 'n teken dat jy, soos 'n vriend van my se:  "Skeef groei, jou eie rigting in".  Alles in die lewe het mos meer as een kant, en meeste vrae om ons het nie klinkklare antwoorde nie.  So vir my om my storie te skryf sonder ander se insette, laat my storie nie net skeef groei nie, maar maak dit ook heel irrelevant vir ander om my wat vir ander luister.  Jou storie moet gegrond wees in klinkklare voorbeelde uit ander se lewens en ander se standpunte. 

Maar net soos dit gevaarlik is om buite konteks en ander mense se standpunte te funksioneer, is dit ewe gevaarlik om NET in aanhalings van ander te leef.  Ek sien soveel mense wat in hulle eie lewens, in hulle werksomstandighede en in hulle verhoudings NET in en deur ander mense se stories leef.  Hulle leef nooit in uitbundige ekstase nie, maar altyd in en deur ander.  Soveel keer het ek al geskryf dat dit belangrik is om jou EIE storie te skryf, saam met die balans van wat rondom jou gebeur.  Ek kan onthou dat toe ek dominee was en huisbesoek gedoen het by ou mense, hulle altyd die foto albums uitgekrap het en jou die familie en kinders se hele CV opgenoem en met jou gedeel het.  Dit is asof hulle eie lewens nou net in die aanhaling van ander geskied, en dat hulle storie reeds gestop het.  Miskien moet jy vandag bietjie kyk na jou eie bestaan, en hoeveel jy in en deur ander leef, eerder as om saam met hulle te leef en jou storie te skryf.

Mag hierdie dag jou vul met 'n mooi storie, en met geballanseerde leestekens, pas hulle sorgvuldig toe!

Sunday, July 6, 2014

Gat in jou kous

Nou die dag gryp ek n paar kouse uit my kas, en sonder om te kyk trek ek n paar aan met n gaatjie in.

Almal het seker al dit ervaar, want maak nie saak hoe ek probeer nie, my groottoon vind die hele tyd die gaatjie. Dit laat my dink aan die "uitdagings" wat ek en jy daagliks mee gekonfronteer word.

Soms het ons persoonlikheid ook sulke "irriterende" kousgate in. En die ergste daarvan is dat jy daagliks mense en situasies vind wat soos my groottoon daardie gaatjie vind.

Daagliks word ons herinner aan daardie dinge in ons persoonlikheid, tot vervelens toe.

My ouma het altyd kouse gestop, maar selfs daai garingknoets word weer n verdere irritasie. Kort voor lank is die gaatjie weer terug. Vandag het ons mos baie geld en ons gooi maklik weg en koop nuwe kouse. As dit maar so maklik was met ons persoonlikhede, sou dit eenvoudig gewees het. Dit sou maklik wees om voor te begin, maar dit is nie. Jou kousgate bly by jou, en dit word groter en groter soos tyd loop.

Die vraag is egter wat jy daarmee doen?

Ons weet dat mense nie volmaak is nie, wat wel vreemd is is hoe ons daagliks gekonfronteer word met mense en situasies wat juis daardie knoppies in ons druk wat die gat in die kous vind. En ons ingesteldheid is gerig daarop om deur die loop van ons lewe, die kousgat in ons te oorwin of ons wys ander die hele tyd op hulle foute. Daardie groottoon-karring is moontlik die rede vir ons ongelukkigheid.

In die Bybel sien ons hoe arme Job sy bes probeer om gelukkig te wees, maar heelaas, sy situasie verander nie. Paulus vra vir die doring in sy vlees om weggeneem te word, maar God antwoord dat Sy genade genoeg vir hom behoort te wees.

So, die kort en lank van die lewe is dat jy maar moet vrede maak met die gat in jou kous, hoe moeilik ookal. Jy sal moet leer dat mense almal kousgate het en niemand perfek is nie. Jy sal ook leer in deernis dat jou lot dalk nie so groot is soos ander s'n nie. Maar nooit met oordeel nie, want dis nie n kompetisie nie. So dis waar dit begin, jou irritasie met jouself en ander is 'n feit, maar dit gaan nooit verander nie. Die feit dat jy jou mede reisigers inlig oor hulle foute en joune, gaan die reis nie beter maak nie. Aanvaar mense en jouself soos jy is, met gate en foute en uitdagings.

Jesus se lewe is n goeie voorbeeld daarvan. Hoeveel van ons verstaan die kruis wat Hy moes dra? Ons vergeet soms dat Jesus ook mens was. Ons vergeet die druk en spanning wat Hy moes deurgaan. Dink jy dit was altyd maanskyn en rose? Ek dink nie so nie. Maar wie het Jesus in Sy binnekring ingetrek? Dit was die uitgeworpenes, vissermanne, tollenaars en straatvrouens wat hy mee geassosieer het.

Dalk is dit die oorsaak van ons hartseer en onvermoee om verhoudings te handhaaf. Iemand naby aan my het my die grootste waarheid geleer, wat sy nie eers besef nie. Sy het my geleer dat die eise wat ons aan mense stel twee dinge doen. Dit is n fatale alternatief, want dit gee hulle kans om te faal en geleentheid om hulle te veroordeel en te kruisig. Tweedens, die foute wat ons in mense raaksien, saam met die eise, is n ekstensie van ons eie probleme. Ons verwag van mense om die gate in ons te vul.

In die Oosterse godsdienste gebruik hulle die term "karma". Dit omvat n hele klomp teoriee, maar in kort beteken dit die skep van jou situasie deur keuses en emosies. Jy kry in die lewe wat jy in die lewe soek uit jouself.

Eintlik is die hele antwoord vir die lewe opgesluit in God se antwoord aan Paulus, die woord "genade". As ek myself deur God se genade sien, verstaan ek my menswees ten volle, verwyder van oordeel, karma en drama. Met dieselfde oe moet ons na mense kyk, soos Jesus. Geen verskil in klas, intelligense, orientasie, keuses of ingesteldheid nie. Net liefde wat alles deur genade uitleef.

Hierdie week is my dogtertjies by my saam met Rachel, hulle bediende. Van al die "slim" mense en kursusse in my lewe, leer ek die heel meeste van menswees by haar. Sy is nie werklik geletterd of geskool nie, maar van liefde, deernis en genade sal jy ver gaan om iemand soos sy te ken. Sy LEEF net in liefde, sy offer op sonder om te beveaagteken. Sy is volledig mens deur genade en liefde vir ander.

Haar kous het seker meer gate as enige van ons, maar sy wyk nie af van haar lewe nie. Miskien is oom Willem Nicol reg as hy se dat daar rykdom in eenvoud is.

Die lewe gaan net oor liefde en genade, teenoor oordeel en veroordeling!



Sent from my iPhone