Wednesday, August 6, 2014

Leestekens

Op skool is ons geleer om 'n goeie Afrikaans te besig.  Ons het so hard geleer om Afrikaans reg te praat, en is dit nie een van die mooiste tale in die wereld nie?  Een van die dinge wat ons geleer het was om ons leestekens reg te gebruik.  Die interresant ding van leestekens is dat dit universeel in alle tale omtrent dieselfde is, en die doel daarvan is dat ons die leser van ons skrywes help om ons woorde reg te lees.  Ons wys met ons leestekens waar nuwe gedagtes begin, waar dinge bygevoeg word, waar dit iemand anders se woorde is en wanneer ons vrae vra. 

Ek onthou nog daardie voorbeeld van die oom wat op die tannie se grafsteen geskryf het:  "Hier le my geliefde Griet, in die hemel is sy niet, in die hel, dit weet ek wel".  Jy sien, my juffrou het deur die voorbeeld ons probeer leer dat dit nie net belangrik is OM leestekens te gebruik nie, maar ook om dit in die regte posisie te plaas binne in die sin, want leestekens kan ook die hele betekenis van die boodskap omgooi.

Elkeen van ons skryf daagliks 'n storie oor ons lewens vir ander mense om te lees.  Ons "gebruik" ons dade as woorde vir mense om betekenis uit ons geskryf te kry, maar waar en hoe ek die leestekens in my eie storie gebruik, se ook soos in die voorbeeld hier bo so baie oor ons storie wat ons vertel. 

'n Punt beteken dat die gedagte verby is, en dat ons na 'n nuwe fase toe beweeg.  So baie keer skryf ons stories en gebruik punt wat nie net 'n nuwe idée of fase inlei nie, maar iets klaarmaak.  Ek ken so baie mense wat ander mense, idees en verhoudings sommer net met 'n punt afsluit.  Ons moet onthou dat wanneer ons 'n punt bereik het, dat jy nooit weer kan teruggaan om iets by te voeg nie.  Natuurlik is dit ook 'n leerskool van die nuwe sielkunde om mense te leer om in die oomblik te leef en nie elke keer terug te val en oor en oor dieselfde foute te maak nie.  Ons word geleer om fases en gedagtes af te sluit en aan te beweeg. 

Dit is natuurlik 'n goeie ding om sekere dinge in die lewe af te sluit.  Gister sit ek weer in 'n gesprek met mense wat ongelukkig is met hulle lewens en die mense in hulle lewens, en wat daagliks met hartseer en spanning sit omdat hulle nie 'n punt kan bereik nie.  Ek vind dit baie dat mense met sulke onafgehandelde sinne binne hulle stories sit en nooit kan afhandel of aanbeweeg nie.  Ons is daagliks self skuldig om nie dinge af te handel nie.  Ek het al soveel keer in hierdie blog geskryf oor die belangrikheid van afhandeling en aanbeweeg, want soveel van ons ongeluk vandag is 'n samevoeging van dinge wat lankal 'n punt moes bereik het.  Die engelse praat van "hang-ups", maar ek praat eerder van "hang-ons".  Soveel hartseer in jou dag van vandag kan opgelos word, solank jy punte kan bereik.  Daardie outjie wat in graad 2 jou gespot het oor jou groot ore is lankal nie meer deel van jou lewe nie, maar as jy nie 'n punt maak nie, en dit afhandel nie, gaan jy vir ewig 'n aanhanger van die idée wees dat jou ore te groot is. 

Maar in dieselfde asem kan punte ook gevaarlik wees, veral wanneer ons nog nie klaar is met die sin of met die persoon nie.  Ons leef in 'n wereld van funksionaliteit en waar ons dinge wat nie ons dien nie summier weggooi.  Veral doen ons dit wanneer mense nie ons standpunte of idees oor die lewe deel nie.  Mense stel ons teleur en elke mens se waardesisteem verskil van mekaar, maar jy kan eenvoudig nie deur die lewe gaan met die idée dat jy reg is en almal verkeerd, en daarom almal afsny wat nie met jou saamstem nie.  Dit beteken nooit dat jy nie punte mag maak of 'n punt kan bereik waar jy eenvoudig 'n stop aan iemand of 'n verhouding sit nie.  Wat wel belangrik is is dat jy nie net eenvoudig mense wat anders lyk en anders dink moet afsny nie.  Dr. John DeMartini skryf in sy boek:  "The Breakthrough Method", dat ons nooit mense of situasies uit ons lewens kan uitskryf nie.  Elke mens, elke situasie is daar om ons van iets te herinner, of dat ons lesse moet leer.  Niks en niemand is toevallig nie.  Veral die slegte dinge in mense wat ons irriteer, herinner ons baie keer daarvan dat ons sekere sinne in ons lewens nooit hanteer of nooit afgehandel het nie.  Mense leer ons baie keer dat verandering moontlik is, of dat ons iets moet verander en dalk nie in ons kokonnetjie moet leef nie, maar nuwe uitdagings moet aanvaar.  Self jou "vyand" of jou "vyandige" idée in ander mense, moet jy ook besef is daar met 'n doel, dit is JOU verhaal en elke oomblik en elke mens en elke idée is deel daarvan.  So in balans moet ons besef dat sekere stories en idees PUNTE moet kry en afgehandel moet word, en dat ons dalk ander stories, idée en mense eerder moet hanteer met die volgende leesteken, die KOMMA.

Die rol van 'n komma is nie net om 'n lang sin beter leesbaar te maak nie, maar om vir die leser van jou storie te wys dat daar 'n ruspunt in die lees is, en dat dieselfde idée verder gaan in 'n nuwe rigting.  Ons gebruik ook sekere woorde na 'n komma soos omdat en maar, en ook om 'n klomp opsies en woorde te lys.  Ek het ook al baie keer genome dat die lewe nie net gaan oor OF-OF en om konklusies te maak nie, maar eerder in EN-EN, waar jy opsies lys en ander dinge oorweeg binne in jou storie.  Dit vat gladnie weg dat jy nie punte moet of mag gebruik nie, maar eerder dat jy dalk, voordat jy 'n PUNT maak, dalk ander opsies ook moet oorweeg.  Die lewe gaan oor liefde, en in liefde, alhoewel ons soms seerkry en mense om ons verskillend is en dink, gaan dit nooit oor wie reg en verkeerd is of was nie. 

Liefde gaan oor aanvaarding, en veral waar JY self gee, voordat jy kies om te ontvang.  Dit is maklik om vir mense te vertel dat hulle verkeerd is en af te skryf, maar veel moeiliker om liefde toe te pas, veral as iemand 'n ander idée oor die lewe het.  Ek verwys graag terug na die voorbeeld van Jesus wat ons in die Bybel lees.  Jesus het met mense tyd spandeer wat deur ander afgeskryf is, mense se lewens wat in ander se boeke reeds punte agterna gehad het.  Prostituut.  Tollenaar.  Ongeletterde. Skrifgeleerde.  Jesus het ons gewys dat die storie wat ons van Hom in die Bybel lees, die samelewing se PUNTE in KOMMAS verander het en hulle die geleentheid gegee om wonderlike nuwe opsies in hulle lewens te ervaar.

'n Ander belangrike leesteken is die UITROEPTEKEN!  Die doel daarvan is om uitbundigheid en uitskree aan te dui.  Ek kyk so na die wereld rondom my en sukkel nogal om mense te sien wat met absolute uitbundige uitroeptekens leef.  Ons is meeste van die tyd so besig om te kla en te kerm, te oordeel en veroordeel, dat ons vergeet om te leef.  Hoeveel mense om jou ken jy wat werklik die lewe kan geniet?  Ons is so vasgevang in die tekort aan geld, of aan die tekort aan liefde, of die tekort aan vriende of verstaan, dat ons nooit leef nie.  Die lewe is gemaak om geleef te word, nie ter wille daarvan om iets te bereik of om iets te vermag nie, maar om uitbundig geleef te word.  Uitroepteken is dit uitbundige uitbassuin van jou geluk en jou emosie, en omdat ons emosionele mense is, is dit die kraan van geluk.  Gaan kyk bietjie op youtube of na idols en sien watter videos of kunstenaars die mense die heel meeste van hou, is dit die sonder glimlagte, sonder jubeling en sonder charisma?  Dalk moet ons in die lewe meer uitbundige uitroepe inbou en leef, eerder as om net in punte en kommas te leef.  Die lekker ding van 'n uitroepteken is ook dat dit die einde van 'n sin aandui, en daar is nie plek vir kommentaar en verduidelikking nie.  Soms voel ons asof ons soeke na lag en jubeling moet wegsteek, miskien is dit maar 'n Calvinistiese dinge, want ons het mos eintlik die idée uit die godsdiens gekry dat ons eintlik hier is om te ly, en nie te leef nie.  Hoeveel uitroeptekens is daar in jou storie van vandag?

Dit is natuurlik ook waar dat ons lewens ook eise stel en vrae van ons vra, en daarvoor gebruik ons die VRAAGTEKEN.  Met 'n vraagteken is die leser geleer om aan die einde van die sin sy of haar stem te verhef om aan te dui dat dit 'n vraag is.  Natuurlik vra die lewe van ander mense se stories daagliks aan ons vrae.  Natuurlik is daar uitdagings in ons lewens wat ons lei tot vraagtekens.  Ons vra hoekom ons hier op aarde is, ons vra wat die sin van die lewe is, ons vra hoekom ons swaarkry.  Vraagtekens is nie net om ons te wys op wat ons nie het nie, vraagtekens is ook aanduidings daarvan dat ons na dinge SOEK. 

Ons soek antwoorde ook nie net vir die moeilike dinge in die lewe nie, want sommige vrae wee tons sal ons nooit beantwoord kry nie.  Ons vra ook vrae omdat ons omgee.  Ek sien baie mense elke dag wat opgehou het om vrae aan die lewe te stel, en erger nog, vrae aan mekaar te stel.  Ek praat nie hier van eise nie, maar werklike vrae wat wys dat ons belangstel.  Nou die dag het ek 'n kardinale fout gemaak om te vergeet dat iemand siek is, en nooit gevra hoe sy voel nie.  Na 'n ruk het sy my natuurlik daaraan herinner, want die feit dat ek nie uit omgee gevra het nie, het haar presies laat voel asof ek nie omgee nie.  In die boek "How to win friends and influence people", leer die skrywer ons dat die beste manier om mense om jou te vergader, nie is om jou idees met uitroeptekens en punte oor te dra nie, maar eerder te kommunikeer met vrae.  As jy 'n vraag vra, lei dit daartoe dat die persoon nie net dink dat jy omgee nie, dit vra aksie van die ander persoon om jou te antwoord.  Dat jy mense vra wat hulle dink en voel laat mense altyd goed voel, want dit beteken nie net dat jy omgee nie, maar ook dat jy belangstel en dat hulle antwoorde en insette vir jou belangrik is.  Dit is wanneer mense voel dat jy lief is vir hulle, wanneer hulle insette belangrik is, maar meer as dit nog, dat jy nie bang is vir hulle idees en standpunte nie, maar hulle toelaat om dit te huldig, omdat jy omgee en lief is vir alles en almal om jou.  Onthou die woorde van DeMartini dat almal om jou is met 'n doel, en daarom is almal 'n leeraar wat jou, deur wie en wat hulle is, meer oor jouself leer.

Een ander leesteken, wat ons baie gebruik, is AANHALINGSTEKENS.  Ons gebruik dit wanneer ons dit wat ander mense erens anders gese of geskryf het, deel van ons storie maak, ook soms om ons punt te bewys.  Op Universiteit is ons geleer om baie aanhalings uit ander se werke te maak, as bewys dat ons die tema goed ondersoek het en dit baie goed kan saamvat.  In 'n selfsugtige wereld is daar mense wat altyd net hulle eie storie skryf, sonder om ooit die konteks en ander se standpunte aan te haal.  'n Storie sonder aanhalings, is 'n vervelige en eensame werkstuk, en soms is dit 'n bewys daarvan dat ek nooit na ander luister nie, en nooit vrae vra van mense om my nie.  Dit is ook 'n teken dat jy, soos 'n vriend van my se:  "Skeef groei, jou eie rigting in".  Alles in die lewe het mos meer as een kant, en meeste vrae om ons het nie klinkklare antwoorde nie.  So vir my om my storie te skryf sonder ander se insette, laat my storie nie net skeef groei nie, maar maak dit ook heel irrelevant vir ander om my wat vir ander luister.  Jou storie moet gegrond wees in klinkklare voorbeelde uit ander se lewens en ander se standpunte. 

Maar net soos dit gevaarlik is om buite konteks en ander mense se standpunte te funksioneer, is dit ewe gevaarlik om NET in aanhalings van ander te leef.  Ek sien soveel mense wat in hulle eie lewens, in hulle werksomstandighede en in hulle verhoudings NET in en deur ander mense se stories leef.  Hulle leef nooit in uitbundige ekstase nie, maar altyd in en deur ander.  Soveel keer het ek al geskryf dat dit belangrik is om jou EIE storie te skryf, saam met die balans van wat rondom jou gebeur.  Ek kan onthou dat toe ek dominee was en huisbesoek gedoen het by ou mense, hulle altyd die foto albums uitgekrap het en jou die familie en kinders se hele CV opgenoem en met jou gedeel het.  Dit is asof hulle eie lewens nou net in die aanhaling van ander geskied, en dat hulle storie reeds gestop het.  Miskien moet jy vandag bietjie kyk na jou eie bestaan, en hoeveel jy in en deur ander leef, eerder as om saam met hulle te leef en jou storie te skryf.

Mag hierdie dag jou vul met 'n mooi storie, en met geballanseerde leestekens, pas hulle sorgvuldig toe!

No comments:

Post a Comment