Monday, August 1, 2016

Geloof sonder 'n "maar"!

Ek lees nou weer die storie van Walt Disney erens raak.  Vandat hy begin teken het op die stal se muur, besigheid begin het en bankrot gespeel het.  En een van die aangrypende dele uit sy lewe, is toe sy broer een dag vir hom vra waarmee hy besig is, toe se hy "practicing patience". 

In ons gejaagde lewe is dinge altyd onmiddelik, en mense wil nie dinge oor die internet bestel wat eers oor 3 of 5 werksdae afgelewer kan word nie.  Ons soek dinge onmiddelik, van kos tot al die ander dinge wat ons begeer.  Natuurlik wil jou bankbestuurder en skuldeisers nie hoor dat hulle geduldig moet wees nie, want D-Dag is D-Dag. 

Maar uit soveel suksesvolle mense se lewens leer ons dat hulle erens geduldig moes raak vir die groter doel.  Wanneer die skroewe styf om jou draai van stress, neem 'n mens soms impulsiewe en dalk verkeerde besluite, want dinge moet nou uitsorteer. 

Oor die afgelope paar weke het ek baie stress deurgegaan, en die wag maak my dood.  Gister lees ek pragtige dinge op die Internet om my kop net bietjie met iets anders besig te hou.  Ek kom toe weer af op die feit dat ons tog in gebed wel ons begeertes aan God kan opdra, maar dit is die maklike deel daarvan.  Die moeilike deel is om God daarmee te vertrou, in geduld.  Ek gaan sit op die stoep en bid weer, ek se ook vir God dat ek maar ongeduldig is, maar vra ook dat Hy nie my ongeduld en my lewe in die pad moet laat staan van dinge om uitgesorteer te word nie.  Ek onthou nog dat toe ek klein was, Ds. Martiens Swart een dag gepreek het dat ons gebed moet wees soos om saam met jou beste vriend, in die geval God, op 'n bankie te sit en alles van jou aan Hom te ontbloot.  Vandaar dan ook die bekentenis van my ongeduld, wat ek dink God van die mensdom en van my in besonder ook verstaan en weet.

Terwyl ek daar buite sit, ervaar ek God so naby my as wat kan kom, en die volgende oomblik is daar so ongeveer 10 voeltjies in die boom bo my, en almal is agter sulke rooi bessies aan.  Toe dink ek weer aan die gedeelte in die Bybel wat lees dat as God so sorg vir die voeltjies en die natuur, hoeveel te meer sal Hy nie vir ons ook sorg nie?  Skielik kom daar so effense skiet in die rek van die stress, want ek besef op 'n manier dat jy moet laat gaan as jy wil he dat God dinge moet doen.  Nou kom ons Gereformeerde tradisie weer deur, wat vir jou wil herinner dat jy nie maar net op 'n knop moet sit, bid en niks doen nie.  Maar ons moet leer dat God ook sekere dinge op Sy manier doen, en ons dalk soms in die pad daarvan kom.  Ek vra toe ook vir God:  "Maar hoe kan ek net los?"  en ek kry skielik die lied in my kop:   "Wees stil en weet Ek is die Heer". 

Gister is my kop steeds elke oomblik besig met die ding wat ek mee aan die gang is, en elke keer dryf ek die twyfel en die logika uit met die woorde:  "Wees stil en weet Ek is die Heer".  Steeds nog kom daar in ons lewens oor en oor hierdie denke van wat ons kan doen, Whatsapp moet stuur, moet E-Mail, moet bel of wat kan ek doen om dinge te bespoedig en uit te sorteer.

Een van daardie denke gaan ook natuurlik verder in vertroue, en ek vra myself af of ek werklik, met my hele hart, hele siel en hele verstand glo dat God dit werklik kan doen?  Glo ek nog in die Almag van God wat te midde van alles wat ek dink in my pad kan staan, vir my kan gee of doen wat ek vra?  Vra jouself bietjie af of jy so 'n geloof het, of jy werklik dink dat God vir jou dinge kan laat gebeur wat jy nie dink logies moontlik is nie.  Soms vra en vertrou ons met 'n Lou-warm hart en gedagte.

Verlede week staan ek langs die hokkieveld en vertel vir die een pa hoe 'n heerlike warm wintersdag dit is, en hy antwoord onmiddelik:  "ja, maar hulle voorspel  ysige koue volgende week".  Ek voel toe sommer onmiddelik die temperatuur wat daal, nog voor die koue front enigsins naby is.  Ek wonder toe wie die woordjie "maar" uitgedink het, en hoeveel invloed die woordjie "maar" en die teenstrydige gedagtes wat dit meebring, my geloof beinvloed. 

Petrus klim ook uit die water en die oomblik wat hy sy logika bybring sink hy.  Wanneer jy in geloof lewe, dan lewe jy in 'n lewe wat jy nie kan verduidelik of logies voor 'n formule kan struktureer nie.  Dit is omdat ons in ons, maar eintlik in God se "beperkiinge" wat ons op Hom plaas inkoop, dat geloof nie meer geloof is nie.  Dan begin jy jou eie bygelowe skep, en 'n beeld van 'n Demi-God, soos byvoorbeeld 'n God wat nie meer wonderwerke kan vermag nie.  God werk nie met 'n "maar" nie, en Sy liefde vir ons ook nie.  Dit is dalk omdat ons die "maar" in die geloof inbring, wat ons nie terme soos "genade" verstaan nie.  Dit is die "maar" wat ons laat dink aan die "verdienste", en dat God sekere dinge nie vir jou gee nie omdat jy dit nie verdien nie en 'n sondige wese is wat straf verdien.

Ek dink dat wanneer jy die "maar" uit jou geloof haal, en uit jou lewe, en voluit glo sonder enige redenasies, voluit lewe asof daar geen beperkings is nie, dan lewe jy eers.  Wanneer jy God toelaat in jou lewe en God die geleentheid gun om God te wees, in hoe Hy jou lewe rig, in wat Hy jou wil leer en wat Hy vir jou wil doen, sonder jou inmenging, dan is dit Godsdiens en dan is dit Geloof, opreg en eerlik, soos 'n kind.

"Wees stil en weet, EK (God) is die Heer"!

2 comments:

  1. Ai sukkel ook hiermee. Met die vraag oor wanneer moet ek iets aan gang sit en wanneer moet ek net wag. Voel soms lank, en hoe lank moet mens wag

    ReplyDelete
  2. Ai sukkel ook hiermee. Met die vraag oor wanneer moet ek iets aan gang sit en wanneer moet ek net wag. Voel soms lank, en hoe lank moet mens wag

    ReplyDelete