Sunday, July 2, 2006

Cremora

Dalk onthou julle nog die Cremora advertensie wat op televisie was, waar die man vir sy
vrou vra waar die Cremora is, en dan eindig dit met die woorde: "It is not inside, it's on
top".

Wanneer ek so om my na my eie lewe kyk en die mense om my, kom ek agter dat die
lewe eintlik so geword het. Vir ons het die dinge wat "on top" is belangriker geword as
dit wat binne ons aangaan. Ons beoordeel mense op grond van hoe hulle lyk, wat hulle
ry en waar hulle bly.

Dit laat my dink aan die verhaal in die Bybel oor Ragel en Lea en Jakob wat by hulle pa,
oom Laban, gaan woon het. Hy was so oorval met die skoonheid van Ragel, dat hy
bereid was om 7 jaar lank vir haar te werk. Die aand met die troue is hy baie ontsteld,
want die vrou wat hy gekry het was nie Ragel nie, maar haar sussie Lea. Hy het
ingestorm by oom Laban, want dit was nie die ooreenkoms nie. Laban vertel toe vir hom
dat dit hulle gebruik is om die oudste dogter eerste te laat trou, maar as hy 'n week nog
vir hom werk, dan kan hy ook met Ragel trou.

Van Lea lees ons nie baie nie, net dat sy sagte oë gehad het, en dat sy kinders kon kry,
waar Ragel weer baie mooi was, maar gesukkel het om swanger te raak. Ek dink dat
geen mens graag in Lea se skoene wou wees in die verhaal nie, want sy was soos 'n derde
wiel aan die wa. Ek kan net dink hoe hartseer sy moes gevoel het om te dink dat sy,
omdat sy nie so mooi is soos Ragel nie, minder werd is vir Jakob.

Min mense weet egter hoe die verhaal eindig. Op sy sterfbed verander die storie
heeltemal, want Jakob gee instruksie aan sy seuns om hom in die familiegraf te gaan
begrawe, waar Abraham en Sarah begrawe is. En in die familiegraf is Lea begrawe en hy
wil langs haar begrawe word. Ragel het gesterf toe sy vir Benjamin gebaar het, en Jakob
het haar langs die pad oppad Bethlehem toe begrawe.

Jy sien, ons maak ons kinders groot met die idée dat hulle moet van binne af buite toe
leef. Ons vertel vir mekaar by skoonheidskompetisies dat dit handel oor innerlike
skoonheid en nie uiterlike skoonheid nie. Ons spandeer ure en miljoene rande om ons
skoonheid te behou en te skep. Ons spandeer miljoene rande aan rente om die huise en
motors te koop.

Lea het die sagte oë gehad wat ewigheidswaarde het. Sy was heel moontlik die persoon
wat vir Jakob 'n sielsgenoot was. Sy was heel moontlik die persoon wat Jakob diep in sy
hart die liefste voor was. Wanneer ons hoor wat sy laaste wens was, kan 'n mens hierdie
afleiding maak, want mens wil graag begrawe word by jou geliefde.

Moet asseblief nou nie vandag dit so ernstig opneem dat jy nie eers stort voor jy werk toe
gaan of nie jou hare kam nie. Die beginsel is egter dat ons meer obsessief moet wees oor
wat in ons harte en denke gebeur.
Ons moet mense om ons beoordeel vir wat in hulle
binneste gebeur, want dit is wat belangrik is. Ons moet ander aanspoor om te groei en te
ontwikkel wat werklik belangrik is. Ons gee maklik komplimente oor hoe mense lyk,
maar wanneer laas het jy iemand 'n kompliment gegee oor wie en wat mooi is in hulle
binneste?

Dalk sal die węreld 'n beter plek wees wanneer ons kan uitroep: "It's not on top, it's
inside"

Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment