Tuesday, February 21, 2012

Skewe bome bly bome

Verlede week het ek so ‘n wonderlike tyd in die Kaap gehad. Dit is so ‘n voorreg vir mense wat permanent daar kan woon. Ek sou graag wou, maar ek wonder of ek al daardie wind sal kan hanteer. Die een dag moes ek met die Weskus op en tussen Vredenburg en Paternoster is daar aan die een kant so ‘n lappie bome wat totaal deur die wind verwaai is. Hulle le sommer so met 30 grade na die een kant, aan die een kant kaal van al die wind, en aand die ander kant is die blare.

Laat my toe ook dink aan die spreekwoord dat ‘n mens ‘n boompie moet buig wanneer hy jonk is. Jy kan sommer sien dat dit die geval was met hierdie lappie bome. Ek begin toe oplet so deur die hele kaap, hoe hierdie situasie homself herhaal. Selfs die plek waar ons in Stellenbosch omgewing die troue gehou het, is die boom waaronder die seremonie gehou word ook half skeef.

Toe wonder ek of dit beteken dat hulle minder boom is as die boom wat in Pretoria regop staan. Dra die skewe bome nou minder by tot die oplossing van aardverwarming, of dra hulle minder vrugte? Het hulle dus hulle invloed op die wêreld verloor net omdat hulle aan erger windomstandighede blootgestel is?

Elkeen van ons is deur die lewe, van kleins af, blootgestel aan dinge soos die wind. Ons sê graag dat ons soms die wind van voor kry wanneer dinge nie loop soos ons dit graag soek nie. Miskien kom jy uit ‘n huis waar daar nie altyd liefde was nie, of ‘n huis waar daar aggressie en verslawing was. Dalk het jy arm grootgeword en nie die geleenthede van ander gehad nie. Dalk was julle huisie ‘n ou gehuggie, terwyl jou maats om jou daardie wonderlike groot herehuise gehad het met die tennisbane en die swembaddens.

Ek was gelukkig in die feit dat ek in ‘n “gemiddelde” skool (vir die tekort aan ‘n beter term) was. Daar was van kleins af mense in my skool wat baie geld gehad het en alles gehad het wat hulle harte begeer en dan ook mense wat kripeer het en vir wie die skool kos gegee het elke dag. Ek noem dit ‘n voorreg, aangesien ek geleer het dat alle mense dieselfde is, of hulle nou welgesteld is of nie. Ek het geleer dat dit gaan oor die menswees van mense, en nie oor hulle aardse besittings wat tel nie.

Eintlik, nou dat ek terugdink, het ons nooit ooit ‘n ding gemaak van die wat min het of die wat baie het nie. Ons het geleef en die lewe geniet, ongeag.

Hierdie beginsel is ongelooflik belangrik in ons eie lewens, veral wanneer ons kinders grootmaak. Daar is niks verkeerd om vir jou kind die beste te gee wat jy kan nie, maar beter nog om jou kind te leer dat al kry hy die wind van voor, dit hom nie minder van ‘n boom maak nie. Dit gaan nie net oor geldelike rykdom nie, maar in alles. Dalk is jou kind nie die beste rugbyspeler of hokkiespeler nie. Dalk is jou kind ook nie akademies sterk nie. Dit maak nie van hulle minder van ‘n boom nie.

Dit het ook te doen met al die dinge wat ons deur ons leeftyd tref. Hartseer en bly omstandighede wat jy ervaar het. Dalk die gevoel om ‘n geliefde aan die dood of egskeiding af te staan. Dalk is dit ‘n likwidasie en finansiële probleme. Legio dinge wat deur ‘n leeftyd jou druk om nie heeltemal te “voel” asof jou lewe in die regte rigting groei nie.

Terwyl ek so op daardie pad ry Paternoster toe, ervaar ek eintlik ‘n vreemde ervaring. Deur die hele week in die Kaap het ek nooit die behoefte gehad om te stop en bome af te neem nie, maar hierdie “onvolmaakte” stelletjie boompies wou ek afneem. Want dit het ‘n skoonheid deur die andersheid.

Dalk voel jy vandag omgewaai en onperfek. Dalk voel jy vandag nie lus om aan te gaan nie en dat jou hele lewe net een stuk druk is van wind. Dalk voel jy gespanne dat jy nie alles kan betaal wat jy moet nie, of dat jy eensaam is en dat jy nooit iemand sal kry wat jou liefhet met jou krom neus of effens groter onderstewe nie. Dalk voel jy vuisvoos in die stryd teen die lewe. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, wat die lappie bome my laat besef het is dat al is jy skeef gedruk, dit nou nie minder van ‘n boom maak nie. Jy het altyd iets om by te dra, al is dit soms net dat iemand jou bewonder oor jou imperfeksie. Mense kyk soms imperfeksie mis, maar skilder eerder vir JOU omdat jy besonder is.

Moenie dat jou lewe, jou omstandighede of wat mense vir jou en van jou sê, jou minderwaardig laat voel, dat jy naderhand dink dat jy nie meer boom is nie en niks vir die wêreld kan bied nie.

No comments:

Post a Comment