Friday, February 24, 2012

Hoe gemaak met irritasies!

Een van my vriende het Desember saam met sy ma van 86 gaan vakansie hou. Soos dit nou maar is saam met oumense, bou die frustrasie by hom die hele tyd op. Stadig loop, herhalings praat en fanaties omgee. Praatjies oor pyne en skete en die verlede.

Sy seun van 12 is saam met hulle op vakansie, en op die vraag of sy ouma hom ook irriteer reageer hy as volg: "Ja pa, baie. Maar ek doen maar met haar dieselfde as met mamma, ek dink eerder aan alles wat sy nog altyd vir my gedoen het, dan vergeet ek van wat my nou pla". Sjoe, gepraat van uit die mond van die suigeling, sal nou nie vir hom meer sê dat hy ‘n suigeling is nie.

Ons was almal al in sulke situasies, waar die prikkels iets binne jou wakker maak. Waar iets in my net eenvoudig breek en ek op my tande moet kners. Soms is dit ook nie net een ding nie, maar ‘n toeloop van omstandighede en geskiedenis wat jou so laat optree, dat selfs die kleinste onbenulligheid lei tot ‘n krapperige tandekners.

Daar is baie te leer uit die storie hier bo. Geen van die omstandighede het verander oor sy ma nie, maar sy ingesteldheid het verander. Jy sien, dit beteken dat die irritasie soms niks uit te waai het met prikkels nie, maar hoe ek die prikkels kan filter en hanteer. Daar is geen uitkoms van die idee dat alles eintlik in jouself plaasvind nie. Dieselfde aksie kan met 2 verskillende mense gebeur, maar hulle reageer verskillend daarop.

Soos ek hierdie skryf, het ek ‘n boodskap aangestuur na 2 kollegas oor informasie van iets waarmee ons besig is. Die een kollega is opgewonde en antwoord met 'n opgeruimde gedagte en die ander dat dit ‘n nonsens storie is en hy nie meer met die ouens wil besigheid doen nie. So, 1 boodskap, 2 mense en 2 reaksies.

Natuurlik speel afkoms en ondervinding ‘n rol, maar in die voorbeeld hierbo het ons almal dieselfde ervaring gehad van die transaksie. Net as voorbeeld dat elk van ons ‘n stel liasseer metodes het wat ons toepas. As X gebeur, gaan dit outomaties na vakkie X. As Y gebeur, outomaties na vakkie Y. Dit is asof daar geen ander opsies is nie, so gemaak en so laat staan.

So leer ons baie gewoontes aan. En so maak dit ook eenvoudig sin om met sulke voorspelbare mense te deel, want jy weet presies watter tipe prikkels om te gee om die uitslag te kry wat jy na soek. Soms selfs al is dit nie jou fout of toedoen nie, kry jy steeds die skuld. Dit het ook te doen met veralgemenings soos: “Vrouens spandeer net geld” of “mans is almal rokjagters”. Die tipe uitsprake maak my weer woedend, omdat my agtergrond nie een van swart en wit is nie. Ek hou nie daarvan as iemand my tipeer nie, want wie is EK dan? Ek glo in individualiteit en alhoewel ek ‘n man is, is ek verseker nie dieselfde as almal om my nie, maar ons vind dit tog in ons wêreld dat mense hou van X by X plaas en Y by Y. Dit maak hulle lewens, volgens hulle, makliker.

Dit is amper soos die wet stelsel waar mense skuldig is (eers) totdat hulle hul onskuld kan bewys. Soms is dit so met ons irritasies ook, ek projekteer al my frustrasies van die dag en my ervaring van die lewe op ander, voordat hulle kans gehad het om hulleself anders te bewys. Wanneer ek dus net klein dingetjies in mense sien, gooi ek die baba met die badwater uit en gebruik dit as bevestiging van my liasseer metode.

Dalk is dit hoekom mense so ongelukkig is en hoekom ons mekaar nooit “hoor” of “ken” nie, want ons het reeds met vooropgestelde idees die verhouding ingestap. Net met 2 leërs onder die arm, reg of verkeerd. Daardie situasie wat mense vir mekaar sê: “Ja, sien jou nou, nes ek gedink het jy gaan wees of optree”. My vriend in die bogenoemde storie het reeds voor die vakansie twyfel gehad of dit ‘'n goeie ding is om sy ma saam te neem en eintlik daardeur homself oopgestel vir frustrasie en mislukking. Dit is nie asof hy nie geweet het wat op hom wag nie, hy het presies geweet en toe het dit gebeur volgens sy vooropgestelde idee. Dit is asof hy dit bestel het.

Jy sien, jou vooropgestelde idee is eintlik die probleem. Ons verwagtinge, goed of sleg, word die maatstaf waarmee ons dinge meet. Ek het standpunt dat as jy gemeet en te kort bevind word, moenie altyd die fout net by jouself soek nie, maar ook met die maatstok. Ons is nie een volmaak nie en daarom is ons maatstokke nie volmaak gekalibreer nie. Wees dus versigtig om te meet en mense summier in vakkies te plaas, want dit is baie moeilik om hulle te skuif as hulle reeds in 'n vakkie is.

Die probleem begin by onsself, loop deur na ons kinders, verhoudings, werksomstandighede ens. Elke liewe vlak van my lewe berei sommige mense hulleself altyd voor op oordeel en liassering. Ons het soms reeds voor die tyd besluit dat ‘n situasie gaan sleg verloop en as dit doen, bevestig dit weer ons vooropgestelde idee. Wanneer ons nou sien dat alles “altyd” so loop, begin ons ‘'n sneeubal-effek waardeur ons nooit meer van kan omdraai nie. Maak nie saak hoe wonderlik iemand is nie, daar sal nooit ‘n manier wees wat ons kan terugdraai rondom my idee nie.

Daar is een laaste idee uit die storie waarmee ek wil afsluit. Omdat dit my vriend se ma is, was dit vir hom makliker om sy ingesteldheid teenoor haar te verander. Dit beteken dat as iemand vir my belangrik genoeg is, ek my aksies kan en wil verander. ‘n Vreemde ou in die verkeer wat voor my injaag is moeiliker, want dit is nie ‘n belangrike verhouding nie. Aan die ander kant, as iemand jou nie wil toelaat om jouself te wees nie, maar oor dieselfde kam as almal skeer, is jy nie vir hulle belangriker as die deursnee mens nie.

Almal in die lewe wil belangrik voel. Niemand van ons wil die mense om ons skade of irritasie aandoen nie. Ek kan net dink hoe die tannie van 86 gevoel het, want sy kon sien hoeveel irritasie sy veroorsaak. Kon sy iets daaraan doen? Sekerlik dalk, maar gee haar die voordeel van die twyfel, sy is oud en dit is nie asof my vriend verras is om skielik ‘n ou tannie in sy geledere te hê nie.

As iemand dus vir jou belangrik is, laat hulle toe om te voel asof hulle belangrik is. Fokus eerder op die dinge wat mense reg doen, teenoor wat hulle verkeerd doen. Gee mense krediet daarvoor, dan sal mense al meer en meer mooi dinge aan jou terugdoen. Gee aan almal om jou vandag die toestemming om te vlieg en verheug jouself in wie hulle is en nie in kritiek oor wie hulle nog nie is nie. Wees bewus van jou vooropgestelde idees, ken jouself, maar wees oop daarvoor dat mense individue is, dat mense selfs kan groei en kan verander. Gee mense die voordeel van die twyfel, in die besef dat jou maatstok dalk foutief kan wees en dat jy in ‘n glashuis bly.

Gun almal om jou om te wees en te word wat God hulle bestem het om te wees, en nie soos jy hulle dwing om te leef nie.

Gaan lewe in liefde, gaan wees God se liefde in mense se lewens!

Is ons nie soms so krities en geïrriteerd met mense in die oomblik nie, dat ons vergeet van gister en verlede week se mooi? So gefokus op mense se negatiewe dat ons verkeerd optree. So voel my vriend toe na 'n week van lelik wees met sy ma, so skuldig oor sy optrede. Die lewe is kort en ‘n mens moet maar versigtig wees oor die mors van oomblikke met irritasies en baklei. Ons weet nie een of ons weer tyd met ‘'n geliefde sal
, want 'n oomblik met 'n geliefde wat ons spandeer aan irritasie, baklei altyd weg en het geen bydrae tot die verhouding nie.
Miskien moet ons besef dat niemand perfek is nie, en irritasie oor MY gaan. Soos my vriend met sy ingesteldheid van dankbaarheid oor wie en wat die persoon al gedoen het, is die irritasie weg. Dit beteken dus dat irritasie nooit van buite kom nie, maar my reaksie. Deur my manier van kyk te verander, verander alles om my.
Dalk moet ons weer gaan kyk na ons ingesteldheid en wat mense om ons vir

Dit wil dus voorkom asof mense wat vir ons belangriker is ons minder behoort te irriteer. Daarom, wanneer jou irritasie hoog loop, dink altyd eers aan wat die persoon vir jou beteken. Wat hulle gister en verlede week vir jou beteken het. Verder het irritasie ook uit te waai met die negatiewe wat ons in mense sien. Soms moet ek ook in my uitkyk, soos die

No comments:

Post a Comment