So ‘n paar weke gelede het ons ‘n waterkrisis gehad in die
plek waar ek woon. Dit was nogal
uitdagend, aangesien ons so afhanklik en gewoond geraak het om net eenvoudig ‘n
kraan oop te draai en dan is daar water.
Soos gewoonlik het die insident my aan die dink gesit, want wat is die
les uit daardie paar dae waar ek skielik nodig gehad het om te dink oor water.
Eerstens, die feit dat ek gewoond is dat daar altyd water in
die pype is en ek slegs die kraan moet oopdraai bederf ons. Skielik verstaan ek hoe ander mense op vele
plekke in ons land daagliks kilometers moet stap om water in die hande te
kry. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd
leer my beperkte toegang my deernis en empatie, maar ook dankbaarheid. Ek onthou daardie gevoel toe ek die een
oggend toe die water weer aan is, net die kraan oopdraai en die water stroom
uit. Ek was amper soos ‘n kind wat op
kersoggend daardie geskenk oopmaak wat ek vir Kersvader voor gevra het.
Verder, dit is nou so ‘n paar weke na die insident, en
daardie dankbaarheid en opwinding vervaag ook na tyd. Dit vat nogal inspanning om so dankbaar en
opgewonde te bly. Nou is ek weer in die
gewoonte om nie noodwendig van opwinding te spring wanneer ek die stortkraan
oopdraai nie, want dit is asof ek verwag dat daar maar net altyd water sal
wees. Ons vergeet soms om dankbaar te
wees vir die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. In my eie denkwyse en geloof besef ek hoe ons
so gewoond geraak het dat God of die “Universe” daagliks soveel dinge wel vir
ons doen en gee wat ons nie voor dankbaar bly nie. Die opwinding om elke oggend dankie te se vir
die son wat opkom, dat ek nie siek is nie, dat my kinders gesond en gelukkig
is, vervaag baie keer by ons. Maar dink
vir ‘n oomblik wat sal gebeur indien hierdie “vanselfsprekendheid” van jou
weggeneem word? Hoe gaan jy dan voel en
dink?
Ek onthou daardie oggend toe die water weer stroom deur die
krane het ek sommer onmiddelik ‘n glas gaan gryp en onder die kraan gehou. Skielik ook het ek nie omgegee hoe skoon of
hoeveel kalk of hoe koud of hoe warm die water was nie, ek was net te gelukkig
dat daar water is. Ek het nie gedink dat
ek ooit soveel geluk sou vind om ‘n toilet te kan trek nie. Soveel keer in ons lewens maak ons soveel van
die sideshows en studies oor die lewe, dat ons vergeet om die water te
geniet. Dit moet uit hierdie fontein of
uit daardie plastiekbottel kom voordat ons gelukkig gaan wees. Ons word soms soos ‘n kind wat ‘n geskenk kry
wat nou nie heeltemal aan die vereistes voldoen nie, en dan dit teruggooi in
die gesig van die persoon wat dit vir ons gee.
Ek onthou selfs dat ek die wasbak vol water gemaak het om te skeer, en
omdat die pype nou vir ‘n paar dae nie lekker gewerk het nie, het die water so
bruinerig en met stukkies grond gespoeg in die wasbak. Ek was so dankbaar dat ek net kan skeer dat
dit my nie so gepla het soos altyd nie.
Daardie paar dae het ek nodig gehad om ook innoverend te
wees en planne te beraam. Ek het skielik
nodig gehad om mense te vra of ek by hulle kan kom stort en konneksies gemaak. Ek het geleer om daardie “nuttelose” OROS
bottels nie weg te gooi nie, maar vol te maak waar ek kom en terug te vat
huistoe om koffie te maak en my tande te kan borsel. Skielik het ek dinge raakgesien wat ek
meestal weggooi en besef ek net hoe die nuttelose houer skielik ‘n seen is en
tot hulp is. Ons is soms wanneer dit by
mense kom vinnig om te oordeel, vinnig om af te skryf en weg te gooi. Miskien en dalk net miskien moet ons die
waarde insien van ‘n persoon wat dalk en net dalk vir my lewensnoodsaaklik kan
wees. Geen houer was vir my te simpel of
stupid of nie fancy genoeg as ek uit hom water kan kry waarmee ek koffie kan
maak nie. Wanneer jy dors word, word jy dankbaar vir daardie skewe en onvolmaakte houer wat tot jou beskikking is.
Ek het ook besef dat omdat die water skaars is, ek moet
seker maak dat die houer waarin ek dit gooi nie lek nie. Ek het toe die water volop was seker jare
laas die houer waarin die water moet loop ondersoek, maar toe dit skaars raak,
toe fokus ek. In dieselfde opsig,
wanneer dinge goed gaan, vergeet ons om aandag te gee aan ons gebrokenheid,
want die water is volop. En soms, net
soms is die tekort aan vloei van dinge in ons lewens ‘n uitdaging aan elkeen
van ons om ons eie gebrokenheid te ondersoek, sodat die min wat ons wel kry nie
ook verlore gaan nie. En soms is ons
gebrokenheid die oorsaak dat ons bekers nie oorloop nie, nie dat die water nie
sterk genoeg inloop nie, maar omdat dit vinniger deur ons eie toedoen en
gebrekenheid verlore gaan. Plug jou lekplekke,
maak jou wonde geson, is dalk ‘n
uitdaging as jy wil he dat jou beker moet oorloop, en le die fout nie
noodwendig by die bron van water wat te min of onvoldoende is nie.
Mense praat die hele tyd ook van die Law of Attraction in en
hoe ‘n mens moet manifesteer. Omdat ek
deur hierdie proses geleer het om elke druppel op te pas, het ek wanneer ek die
water in my glas gooi, nie my vingers of iets in die pad te sit en met die
genadewater mee in te meng nie. Hoeveel
keer vra ons dinge, sit die glas onder die kraan, draai die kraan oop en dan
wil ons met ons arrogansie tussenin kom en vir die water wil voorskryf hoe om
in die glas te beland? Jy het nie nodig om, wanneer jy dors is en jy as lee
glas (in welke vorm ookal) onder die kraan staan, elke druppeltjie met jou hand
te vang en in die glas te rangskik nie.
Jy vertrou dat die water self sal weet, natuurlik sal organiseer om jou
glas vol te maak op Sy manier en op Sy tyd.
Ons bid, en ons vra dat ons glas volgemaak moet word, ons post en vertel
hoe ons op God vertrou, maar in welke mate vertrou ons God soos ons die water
vertrou om die glas vol te maak op Sy manier?
Die Bybel leer ons om te bid, glo en te vertrou, maar soms is al die
water rondom die glas en gemors omdat ons telkemale inmeng.
Nou is daar ook van alle tye af die vraag na hoe my
betrokkenheid en insette nou moet wees.
Moet ek net terugsit en niks doen nie, of moet ek alles self doen? Die antwoord is in die balans tussen die
twee, bid en doen. Ek weet vanoggend dat
daar water in die kraan is, en dat daar meer water is as wat ek vandag kan
opgebruik, dit is geloof. As ek nou dors
is, hier waar ek nou sit, net die wete dat daar water in die kraan is, is al
genoeg, maar dit les nie my dors of was my lyf nie. Dit vul my met ‘n gerustheid dat daar is en
ek enige tyd water kan kry. Maar, ek
moet my glas uit die kas haal, ek moet dit onder die kraan gaan sit, maar meer
nog, ek moet die kraan oopdraai. Dan
eers kan ek die water drink wanneer dit deurgevloei het na my toe. God weerhou nie die water na ons toe nie, Hy herinner
ons elke oomblik dat Hy daar is, maar ek moet dit erken en myself oorlewer
daaraan.
As jy vir God vra om jou te help met ‘n transaksie, kan jy
nie net op die bank sit met jou lee glas en verwag dat dit vol water moet raak
nie. Jy moet die foon optel, jy moet die
mense gaan sien. Jy moet jou glas gaan
haal en onder die kraan sit en die water oopdraai. Ek is nou al ‘n geruime tyd enkellopend, en
ek vra vir die Here om iemand in my lewe te stuur saam met wie ek gelukkig kan
wees. Dit help egter nie as ek my glas
nie optel en onder die kraan van God se goedheid gaan sit nie. Ek moet myself blootstel sodat God sy genade
oor my kan laat vloei.
Ek sluit af met twyfel, want twyfel is menslik. Na my ervaring van om sonder water te sit,
glo my, toets ek nog steeds na ‘n paar weke OF daar water in die kraan is. Ek is steeds bevrees dat die water dalk nie
gaan vloei nie en het ‘n paar houers met water in die yskas gehou. God weet hoe ons as mense is, Hy verwag nie
van ons die onmenslike nie, en al gaan toets ek net of daar water in die kraan
is, beteken nie dat God nou skielik oor my houding en twyfel die water gaan
weerhou nie. God werk nie so nie. Vir God is dit nie soos vir mense ‘n
speletjie waar as ek nie kry wat ek soek nie, ek jou afsny van my liefde
nie. In God se wereld noem ons dit
Genade, waar ek water kry nie op grond van wat ek doen nie, maar te midde van
wat ek doen.
Ek wens jou ‘n wonderlike week toe, gaan leef voluit! Stel jouself bloot en plaas jou glas onder
die kraan van God se Genade en geniet elke oomblik van die wonderlike water en
mag jou dors na wat jy ookal na smag, geles word!
No comments:
Post a Comment