Monday, May 8, 2017

Opgee, Ingee en Oorgee!

Die Oosterse filosofieë en godsdienste het as n basis die idee om saam met die vloei van die lewe te gaan. Dit is ook in die Christelike geloof die Idee dat God in beheer is en dat ek en jy net moet glo en God moet vertrou. 

Mense stoei met hierdie idee, want ons verstaan tog dat ons besluite maak en aksies kan neem in ons lewens. Ons sê so graag dat ons die argitek van ons eie lewens is, en dat ons besluite die lewe vir ons skep of verwoes. As dinge nie reg loop nie, dan is dit n 'les'. Wanneer dinge uitwerk is dit genade. Mense strompel daagliks oor die gedagtes heen.

Vanoggend lees ek weer so 'n storie op Facebook, dat ons net moet los en vergeet en ons probleme voor God se voete moet los. Miskien is ons probleem dat ons dit nie doen nie, of dat ons geloof kleiner as n mosterdsaadjie is en dit die rede is hoekom ons nie berge versit nie.

Ek is in my wese gelowig, ek is nogal iemand wat so blindelings kan glo. Die mense om my ruk my baie kere terug na die realiteit en sê dat ek in 'n droomwêreld leef. Dit mag dalk waar wees as jy my lewe analiseer en oordeel ogv westerse materialistiese norme. Die teendeel is egter waar, ek voel nooit dat daar 'mislukking' oor my lewe geskryf staan nie.

Natuurlik staan ons soms in n doodloopstraat wat ons laat voel om op te gee en in te gee. Natuurlik is die lewe nie elke dag maanskyn en rose nie. Soms is dit so donker dat jy nie weet waar die volgende tree gaan land nie. Dit is die lewe, punt. Nie almal word genees van kanker nie en nie almal se dorings word verwyder nie.

Ek dink dat geloof in God nie daaroor gaan dat God dinge moet verander nie, dit is eerder dat God kan. Die onderskeid is belangrik, want wanneer ek God druk glo ek nie meer in n God wat almagtig is nie, maar in my beterweterigheid en selfsug. Ek glo eerder in 'n God wat n groter plan het met my lewe, en as n deur hier toegaan beteken dit dalk dat die tyd nie reg is nie, of dat dit n verkeerde deur is of dat God n ander deur vir my sal laat oopgaan.  Geloof beteken dat dit God se besluit is, nie myne nie. 

Beteken dit nou dat jy opgee en ingee, nee natuurlik nie. Dit het te doen met oorgee aan 'n God wat net die beste vir my soek. Maar wat is my plek in dit? Dit is die groot vraag. Ek lees so n ruk terug in die Joodse literatuur oor die 'Law of Attraction' en hoe mens dit uit die Joodse konsep moet sien. Die Rabbi redeneer dat alles vir God moontlik is, maar jy die voertuig is waarmee God dinge in die wêreld doen. Dit gaan dan meer oor die samewerking in die verhouding met God.

Soos in 'n aflos, soms gee jy die stokkie oor aan God en soms is dit jou been en kans. Dat God die hele resies vir jou kan hardloop is daar geen twyfel oor nie, God vertel ons mos dat as ons swak is Hy sterk sal wees vir ons part. So oorhandig jou probleme en drome aan Hom, met plesier. God vertel ons van sy genade vir ons, as n erkenning dat Hy weet ons eintlik gestremd is en nie alleen kan wen nie, so God sal jou kruk wees om aan vas te hou. 

So as jy vandag voel jy wil opgee, nee, die resies is nog nie klaar nie, dalk is dit goed om oor te gee aan God, en jou kragte op te bou. Dalk is dit juis n goeie tyd om God te vertrou om vir jou 'n volgende deur en been van jou lewe te wys. 

God kan alles, maar wees jy ook reg en wees jy ook die 'vessel' wat reg is om te ontvang en saam met God jou lewe te bou!


Sent from my iPhone

No comments:

Post a Comment