Tuesday, August 2, 2016

Wees stil en Weet

Een van die grootste vrae in die Bybel, en wat deur eeue gevra en bestudeer word, is die vraag na die sogenaamde "regverdigheid" van God.  Hoekom laat God goeie dinge met "slegte" mense gebeur en slegte dinge met "goeie" mense?  Die Bybel vertel ons baie verhale van mense wat sogenaamd "regverdig" was en fantastiese dinge vir God en in God se naam gedoen het, en beloon is, want dit is hoe ons dink die lewe MOET werk. 

Maar daar is baie verhale wat die teenoorgestelde vertel, vat nou maar die verhaal van Job, 'n regverdige en godvresende man en hoe hy alles verloor het, sy besittings, sy kinders en ook sy gesondheid.  'n Interresante stukkie informasie is dat die verhaal afspeel in 'n land redelik ver van Israel af, en bevat baie denkwyses van die mense in die nabye ooste oor God en van God en hoe die wereld rondom ons werk. 

Die verhaal is baie mooi uiteengesit en handel oor al die idees oor God en spesifiek oor "swaarkry" en "goedgaan".  Daar is vele dialoog tussen Job en sy vriende oor hierdie onderwerp, en dit herinner my so aan alles wat ons lees oor die onderwerp, vandag nog.  Ek gaan nie nou op al die redenasies ingaan nie, ek dink julle het 'n redelike idee van wat 'n mens alles oor die onderwerp kan redeneer. 

Wat egter belangrik is, is 2 dele vir my, die eerste is aan die begin waar die bose met God in redenasie is en se dat Job dalk net in God glo, omdat God hom seen en hy wonder of dit dieselfde gaan wees wanneer hy swaarkry en alles van hom ontneem word?  Ek dink hierin le die kern van soveel van die dinge wat ons glo. 

Vanoggend kyk ek op Facebook na al die godsdienstige prentjies en boodskappies, en sommige van hulle se vir my dat mense tog steeds dink dat om "Amen" te tik of die boodskap te deel God se guns gaan verdien.  'n Mens het so half die gevoel dat as jy dit nie doen nie, iets slegs met jou gaan gebeur, en dit kan nie verder van die waarheid wees nie.

Die tweede belangrike gedeelte uit die verhaal is waar God vir Job antwoord is baie insiggewend.  God verduidelik vir hom dat Hy sorg van die skepping af vir alles, van die son, maan en die sterre tot die diere.  God se eintlik daarmee vir Job dat dit wat Job oor God vra eintlik irrelevant is, om te vra of God goed of sleg is, straf of nie straf nie, regverdig is of nie, hou nie stand nie en het nie plek nie.  Dit is amper dieselfde antwoord as wat ek die laaste ruk heeltyd in my kop het oor Paulus se vraag om die doring uit sy vlees te neem.  Partykeer is ons so gefokus op jou klein probleempie, dat jy die God van die heelal nie raaksien nie.  Jy koppel God se goedheid en guns aan daardie klein dingetjie, veral as jy afkyk op jou probleem.  Miskien is die uitdaging om op te kyk en rondom jou te kyk na wat God werklik elke dag vir jou doen.

Natuurlik beteken dit nie dat jy nie mag droom, mag bid of enigsins mag vrae vra nie.  God het ons geskape met vrye wil, maar nie ten koste van die groter prentjie daarbuite van wie en wat God is nie.  En dan eindig die verhaal met Job wat meer kry as wat hy ooit gehad het, te midde van sy twyfel, te midde van wat hy ookal gedink het, omdat hy die groter prentjie kon verstaan wat God vir hom geskets het.  Die oomblik wanneer die twyfel verdwyn rondom of God regverdig is of nie, straf of nie, dan begin jou werklike lewe saam met God.  Wanneer jy in die lig leef, te midde van jou omstandighede, te midde van wat met jou gebeur of nie gebeur nie, dan het jy werklike geloof.

En die wonderlikste daarvan is, dat God eintlik daarmee die bose op 'n manier op sy plek sit.  Aan die begin het die bose gese dat Job net geloof het omdat hy dinge kry en dit met hom goedgaan, en hier gee God aan Job meer as wat hy gehad het, te midde van sy twyfel en redenasies oor God.  God wys aan die bose dat Hy gee, omdat Hy wil, nie oor ons verdienste daarvan nie.  Moet dus in hierdie dag nie ingesuig word by 'n wereld wat wil he jy moet God se guns verdien nie, en as dit lyk asof God se guns nie in jou rigting kom nie, kyk na al die dinge waar jy God se hand kan raaksien, in die heelal, op die aarde, in die sang van 'n voeltjie en in jou lewe.  Kyk na al die dinge wat jy het, en nie na jou tekorte nie.  Sien God as die Almagtige wat steeds vir jou alles gee wat jy nodig het.  Soms is die aanvaarding van WIE God is, die antwoord, en nie in wat Hy vir jou gee of nie gee nie, hoe moeilik dit ookal is om te aanvaar. 

Glo in God, PUNT. 

"Wees stil en weet, Ek is die Heer, Ek spreek en wind en golwe bedaar, Ek sal ook jou getrou bewaar".

No comments:

Post a Comment