Monday, October 6, 2014

Spyt kom te laat

Wie van ons het dit nie al so in ons lewens ervaar nie, waar jy terugkyk op wat jy in jou lewe gedoen het, tyd wat jy verspul het en geleenthede wat 'n ou moes aangegryp het en nie het nie. Verlede week is ek by my seuntjie Robert se krieketwedstryd, en ek kon my lag eintlik nie hou toe hulle van die veld af kom nie, want tussen 'n klomp 10 jariges kan jy net dink watter gebabbel dit afgee. "Oom, as Peet nou net daai bal gevang het, en Robert dit en as Kyle nou net daai een bal gekeer het". Maar nou ja, hulle het natuurlik die wedstryd verloor, en baie verskonings gehad oor wat kon en moes gebeur het. Daar is ongelukkig in die lewe nie plek vir "as", "sou", "moes" en "kon" nie. Die oumense het ons mos geleer dat gedane sake nie keer het nie.


Vanoggend bel 'n vriend van my om my raad te vra oor 'n belangrike besluit in sy lewe. Ek het al die detail gehoor, die pro's en die con's, maar twee dinge baie goed besef. Die eerste is, niemand weet wat die antwoord en die oplossing is nie, want daar is geen waarborge dat die besluit wat jy neem sal uitloop op die uitslag wat jy in jou hart weet jy soek nie. Dit lei na die tweede punt, en dit is dat ons keuses nooit objektief kan wees nie, want daar is altyd emosies by betrokke, veral die emosie daarvan om graag iets te WIL he in ons lewens. Baie mense vra my raad oor hulle lewens, en natuurlik is ek nie altyd gekwalifiseerd uit my eie lewe om hulle die beste raad te gee nie. Jy is altyd net daar om hulle te lei met informasie, maar eintlik vind ek dit dat mense altyd op die ou einde elkgeval gaan doen wat hulle wil.


Natuurlik het die ou mense ons ook oor die geskiedenis geleer dat geskiedenis belangrik is, want dit gee ons ervarings en kennis, sodat ons die foute van die verlede nie behoort te herhaal nie. Ek gebruik die woord "herhaal", want hoe moeilik is dit vir ons om dit reg te kry. Oor en oor doen ons dieselfde aksie, en dan is ons soms so verbaas dat die uitkoms nie verskillend is nie. Spyt tree dan in, nie oor ons keuse nie, maar veral omdat die uitkoms nie was wat ons verwag het nie. Baie mense doen soms heeltemal niks aan hulle lewens en situasies nie, want hulle dink deur niks te doen en geen keuses te maak nie, kan hulle nooit teleurgesteld wees nie. Die interresantheid van ons lewens is dat geen keuse, ook 'n keuse is, en soms meer skadelik, deur wel aksie te neem.


Die Bybel leer ons dat jy alle dinge in die lewe moet beproef, en die goeie moet behou. Dit is 'n aanmoediging vir ons om nie bang te wees nie, keuses te maak, maar as iets nie werk nie, of nie vir jou goed is nie, hou op daarmee, sny dit af en probeer iets anders. 'n Vriend van my op universiteit het altyd gese: "Wees spyt in die lewe oor wat jy gedoen het, nie oor wat jy by jou laat verbygaan het nie". Natuurlik was ons studente, en die lekker van om jonk te wees is dat jy "voortvarend" is, wat beteken dat jy nog nie soveel vrese en ondervinding opgedoen het, dat jy nie kanse vat nie.


Soos ons ouer word, het ons al meer verantwoordelikhede, en soms vind jy jouself in 'n doodloopstraat waar jy nie meer dinge aanpak nie. So 'n paar weke gelede by een van Hugo se hokkiewedstryde, kom 'n pa na my toe wat 'n aansteker soek en begin met my praat. Toe ek hom vra wat hy vir 'n lewe doen, se hy dat hy nou op 50 sy werk gelos het, en nou besig is om voltyds argitektuur te studeer. Ek was so verbaas, want ons dink vandag dat sulke tipe optrede "onverantwoordelik" is, en nie pas by iemand van sy ouderdom nie. Wat ek wel opgetel het by hom, is 'n ongelooflike rustigheid en passie, want vir die eerste keer in sy lewe doen hy wat hy nog altyd wou, maar nie instaat was om te doen nie.


Die woord "spyt" is 'n ongelooflike belaaide woord, wat gladnie deel van ons woordeskat behoort te wees nie, want dit steel ons energie. Dit steel ons energie in die feit dat dit nie realisties is nie. Om spyt te wees oor iets verander absoluut niks aan jou situasie nie, inteendeel dit trek jou net meer en meer in 'n rigting van negatiwiteit. As jy die woord spyt gebruik, maak jy ook daarmee 'n hele ander klomp blikkies met wurms oop. Aan die een kant, dink mense dat spyt jou om een of ander manier verskoon van die feit dat dit jy en jou besluit was. Beslis is jou lewe vol keuses, maar dit was JOU keuse en niemand het jou gedwing om dit te doen nie. Hierdie bewussyn van verantwoordelikheid is belangrik, want dit plaas jou in 'n posisie om aan te beweeg met jou lewe, en nie te kripeer en elke dag jou jammer te kry nie. Alhoewel dit natuurlik JOU besluit was, is dit net eenvoudig hoe die lewe werk, jy het nie 'n kristalbal om presies te weet wat die regte ding is om te doen nie, so aan daardie kant moet jy jouself ook vrystel van die blaam van jou besluit.


In Jakobus se boek in die Bybel lees ons oor sonde en hy se: "As jy WEET wat die regte ding is om te doen en jy doen dit nie, dan is dit sonde". Dit is waar, maar soms weet ons nie regtig nie, en daarom hoef jy nie jouself verder te belas met skuldgevoelens en blaam nie. Maar, soms weet jy wat jy NIE moet doen nie, en as jy dit aanhou doen, beteken sonde mos dat jy dit teen JOUSELF doen. Soms kan hierdie blaam ons so opvreet van binne dat ons geen kanse of geleentheid tot lewe meer wil aangryp nie. Maar, as jy nou al jou les in die lewe geleer het, hoekom sal jy aanhou om dieselfde foute oor en oor te bly maak.


Maar die belangrikste wat ons kan leer uit die vers is dat as jy wel weet wat om te doen, en jy doen dit nie, dan ontneem jy jouself die lewe. Dit is daardie oulike storie van die talente wat jy onder jou maatemmer wegsteek, en dat dit ook op die ou einde, deur ongebruik, van jou weggeneem word. Die lewe is gemaak om geleef te word, en dit is 'n geskenk uit God se hande. Jy sal nooit heeltemal en altyd weet wat die regte ding vir jou is nie. Afrikaans het 'n pragtige uitdrukking daarvoor, "Ten Spyte", wat eintlik beteken dat jy dinge doen, al weet jy nog nie heeltemal of dit spyt by jou gaan bring nie. Soms, op die oomblik wat jy die besluit moet neem, met die informasie tot jou beskikking, spring jy maar en hoop vir die beste.


Soms sit ons so hard en top oor ons lewens om te besluit en te analiseer wat die beste ding is om te doen, dat ons nooit leef of kanse vat nie. Op een of ander oomblik moet jy die sprong neem. Dit is soos 'n ou wat by die Goudriviermond se brug staan en analiseer of bungi-jumping 'n goeie ding is. Hy vat statistieke, hy meet die afstand en analiseer die tou se sterkte, maar hy spring nooit nie. Dit doen ons lewens, en dit is dat ons wonderlike analiste van die lewe is, maar ons neem nooit deel nie.


Miskien word ons ook gedryf deur konsekwensies, ons wil weet, voordat ons besluite neem wat die uiteinde van 'n aksie gaan wees. Mense spandeer soveel tyd en geld om hulle sterre te laat lees, of om na iemand toe te gaan wat die toekoms kan voorspel. Dit sou fantasties gewees het as dit so gewerk het, en jy presies kon weet wat die uitkoms van jou besluite gaan wees. Maar waar is die opwinding van die lewe dan? Waar sal die lesse vandaan kom as alles vir jou soos soetkoek ingegee is aan die begin van jou lewe en jy presies geweet het? In sekere kulture word daar nog steeds vir jou 'n bruid en bruidegom gekies, en hoe hard veg mense nie om weg te kom daarvan nie? Die menslike natuur kan en wil nie werk sonder vrye wil nie. Vrye wil is daardie "keuse" wat ek en jy het om self te kan kies wat en wie en hoe ons dinge wil he en doen.


Die naweek kyk ek die Ryder Cup gholf op televisie, en ek sien hoe die ouens soveel van hulle set-houe mis. En net nadat hulle dit gemis het, dan vat hulle die balletjie terug na die oorspronklike plek, en dan set hulle weer, gewoonlik met meer sukses. Dit is maklik as jy WEET hoe die set gaan draai en waar jy dit gaan slaan, maar in meeste gevalle weet jy nooit voor die tyd nie. Jy kan beplan soos jy wil en al die analises doen, maar in die oomblik is dit net jy en die balletjie. Maar, wanneer jy weet, soos met die lyn wat jy die sethou moet slaan, beteken dit absoluut niks om jou tweede hou in te slaan nie, want jy het nie 'n tweede kans nie. Dit is vreemd dat die ou wat sy set die eerste keer ingeslaan het nooit weer die balletjie uithaal en weer die set probeer nie. Dit wys ons nog 'n interresante konsep, en dit is dat wanneer ons sukses in iets behaal het, ons onsself nooit betwyfel nie. Aan die ander kant, die ou wat die tweede keer die set probeer en oefen, gaan nooit weer dieselfde set op dieselfde lyn kry nie. Inteendeel, die feit dat die ou wat sy eerste set ingeslaan het dit reggekry het, is nooit 'n waarborg dat hy op die volgende putjie dieselfde gaan doen of dieselfde set op dieselfde lyn met dieselfde lengte gaan kry nie. Die Engelse se mos dat: "Hindsight is an exact science".


Ons kasty onsself elke dag met die verlede, spesifiek oor die keuses wat ons gemaak het wat nie vir ons uitgewerk het soos ons gedink het dit moes nie. Sommige van ons is so besig met hierdie "mislukkings" in ons lewens, dat ons nooit die modder wat dit aan my skoene veroorsaak, van onslae kan raak nie. So leef ons net in die verlede, en in plaas daarvan dat ons dit verwerk, hou dit ons elke dag terug en veroorsaak dit net meer en meer probleme in die toekoms. Dit weerhou ons van die mooi van die lewe, en weerhou ons om enige noemenswaardige keuses te maak vir die toekoms, veral deur die vrees om weer foute te maak. Die lewe is vorentoe, nie agtertoe nie, en of jou nou bang of spyt is oor wat in die lewe gebeur het met jou, more kom, en net omdat jy bang is, vat dit nie more weg uit jou lewe nie. Omdat jy dit nie hanteer wat in die verlede met jou gebeur het nie, sneeubal jou probleme net elke dag in die toekoms in, en versamel jy meer en meer dinge waaroor jy spyt gaan wees.


Die laaste punt wat ek wil maak is dat jy het in die verlede erens voor 'n keuse gestaan, dalk was dit oor jou studies, jou werk of jou huweliksmaat. Jy dink nou, nou dat jy terugkyk dat jy dalk 'n fout gemaak het, maar waar is die waarborg dat jou uitkoms suksesvol sou gewees het as jy 'n ander keuse eerder gemaak het. Onthou, waar jy nou is laat jou so dink, maar wie se dat dit beter sou uitwerk? Waar jy is vandag is die enigste "realiteit", en niks of niemand en geen spyt, moes, wou of kon, kan dit verander nie.




No comments:

Post a Comment