Monday, August 18, 2014

Mosaik


Die hofsaak van Oscar Pistorius het die hele wereld aan die gons, en elkeen van ons het 'n standpunt oor wat ons dink wat gaan met hom gebeur.  Verlede week in hulle slotopmerkings, haal Adv. Gerrie Nel aan uit 'n vorige hofsaak.  Hy gebruik die term "Mosaik", en se dat alhoewel 'n mens nie direkte bewyse het nie, al die "circumstantial evidence", seker vertaalbaar met "onstandigheids bewyse", almal saam 'n volledige prentjie vorm, soos wat 'n mens Mosaik bymekaarbring. 

Ek vind hierdie standpunt baie interresant, want dit laat 'n mens met een groot vraag, nl. "Wat wil jy bewys?"  Hierdie stanpunt laat soveel plek oop vir interpretasie, dit hang net af aan watter kant van die hofsaak jy is.  So het Adv. Barry Roux natuurlik hierdie mosaik van die staat probeer uitrafel, om sodoende sy eie mosaik van bewyse vir onskuld te gee.  Dit beteken dat dieselfde bewyse dus op verskillende maniere gerangskik kan word om beide kante, inkriminerend en vrylatend te skep. 

Ons lewens is ook maar 'n mosaic van allerhande omstandigheids bewyse.  Daar is byvoorbeeld jou persoonlikheid, daar is jou denkwyse, daar is jou optrede en jou geskiedenis.  En net soos met die hofsaak, is daar nooit werklike "ooggetuies" wat jou ooit werklik ken of wat altyd saam met jou is nie.  Sodoende ontstaan daar 'n hele boel stukkies wat jy in jou ronddra, en wat die mens maak wat jy is.  Die mense om jou "maak" 'n prentjie van jou, en dit word hulle foto van jou.  Natuurlik het elkeen van hulle ook 'n "agenda" van wie hulle is en is daar mense wat aan verskillende kante van die weegskaal van jou lewe is.

Ek is in my lewe deur 'n hele paar mislukte verhoudings, en alhoewel ek nie vreeslik verander het nie, het ek gesien dat mense vir wie jy hulle alles was, dieselfde stukkies van jou anders kan rangskik om jou prentjie total anders te laat lyk.  Soos met die hofsaak van Oscar, is jy nie noodwendig anders nie, die bewyse is dieselfde, maar waar dit eens in jou guns getel het, kan die herrangskik daartoe lei dat dit totaal teen jou tel. Ek verwys so baie na John DeMartini, wat die standpunt huldig dat alles in die lewe uitballanseer.  In werklikheid wys hy daarop dat vir elke aksie in die lewe, daar 'n gelyke en teenoorgestelde reaksie is.  Hoe groter jou sprong na die een kant toe is, hoe groter teenkant word gevorm om jou uit te ballanseer.  Hy stel dit duidelik dat ons bewus moet wees van die feit, maar dat mense nooit in die uiterste van emosies en prentjies kan leef nie.

Prakties is dit baie waar, en dit het ek gister ervaar, dat mense outomaties altyd dinge in perspektief wil stel, selfs onwetend.  Gister het ek 'n gesprek met iemand oor my geliefde Blou Bulle wat swaarkry in die Curriebeker.  Skielik kom die ander persoon en vertel my van al die Springbokke wat weg is, en die ouderdomme van die span ens.  Die lewe sal nooit toelaat dat jou denke en idees buite verband alleen staan nie.  Dit is hoekom die hofsaak 'n regter het, wat opweeg.  Natuurlik gaan alles nie altyd maanskyn en rose na jou kant toe nie, maar die wereld het 'n manier, en dit is dalk waar God inkom, om jou uit te ballanseer.  Dit is dalk wat God se boodskap so ongelooflik maak, is dat God gladnie belangstel in watter kant, skuldig of onskuldig, jou bewyse oorhel nie, want in God se oe is ons in volkome balans in die liefde.

Maar intussen moet ons funksioneer met die mense om ons, maar hoe doen 'n mens dit?  Ek dink daar is 'n paar maniere om dit te doen.  Wat jy moet verstaan, om mee te begin, fokus eerstens aan watter kant jy van die skaal is, kom ons noem dit nou maar negatief en positief.  Wanneer jy dit gedoen het, moet jy besef dat altwee van hulle gevaarlik kan wees.  Kom ek noem vir jou 'n voorbeeld wat ek baie by my kinders sien.  Hulle raak werklik kinderlik opgewonde wanneer hulle iets lekker kan doen soos om Spur toe te gaan.  Hulle speel hulle harte uit, net om, wanneer hulle terug is by die huis, so 'n klein depro te slaan.  Nie dat ek se dat jy hulle nie Spur toe moet vat nie, net dat as iets "te" is aan die een kant, dan gaan daar iets gebeur om jou skaal weer terug te swaai na die ekwilibrium.  Die oumense het mos gese dat alles wat 'n "te" is verkeerd is, behalwe te-voet en te-maties. 

Ek dink dat ons soms te veel in die ekstreme leef, of dit nou negatief of positief is.  Dit lei daartoe dat daar altyd iets moet gebeur om die ekwilibrium te bring.  Mense kan eintlik net leef, wanneer ons daar erens in die middel leef, nie in die ekstreme sonder balans nie.  Daar waar ek besef dat ek net kan funksioneer saam met mense, as ek hulle goeie en slegte punte erken en daarmee kan saamleef.  In die wereld van die bekende mense soos akteurs sien ons dit baie.  Hulle word so opgebou en aanbid, en dan is die poniekoerante daar om hulle lewens vir ons oop te sper en die balans te kry, dalk maar vir die wereld om te besef dat hulle net sulke gewone mense soos ek en jy is. 

Een so 'n goeie voorbeeld is Joost wat op die kruin van die rugby- en sosiale- werelde hom bevind het.  Ons het opgekyk na hom, en toe sy optredes in die pers oopgekrap is, toe het almal weer vingers na hom gewys.  Nou met sy siekte sien ek in mense dat niemand meer regtig dink aan die status of die val nie, maar daar in die middel kry ons hom almal jammer en bid ons vir hom soos wat ons doen met enige gewone persoon.  Jy sien, twee ekstreme bring ons tog altyd uit tot die punt om te verstaan dat almal maar daar erens in die middel, "gewone" mense is. 

Ek ondervind dit in die laaste tyd baie in my eie lewe.  Ek kry swaar en ek swoeg aan die een kant, en ek ondervind hoe my vriende die laaste ruk begin het om my te vertel van al my positiewe punte.  Dit  is iets wat hulle nooit voorheen op so 'n manier gedoen het nie, maar hulle is natuurlik daar om die balans VIR my te bring.  Niemand in die lewe is NET sleg of NET goed nie.  Selfs in die Bybel sien ons hoe die Romeine en die ortodokse Jode die balans gebring het in Jesus se lewe, deur Hom te kritiseer en Hom te kruisig uiteindelik.  Die balans sal altyd daar wees, maar daarmee saam se ek nie, net soos met die Spur voorbeeld, dat jy nooit iets mooi van iemand moet se nie, of iets lekker met hulle moet doen nie, maar eerder moet verstaan dat mense twee kante van 'n muntstuk het, dinge wat JOU beindruk, maar ook dinge wat JOU gaan afsit van hulle.  Eintlik is mense muntstukke wat nie OF kopkant, OF stertkant is nie, maar eerder regop staan sodat ek beide kante van hulle menswees in balans kan sien.  Weereens, is niemand ooit net sleg of ooit net goed nie.

So, as jy dit weet of verstaan, dan alleen kan jy aanbeweeg na die volgende punt toe, en dit is dat jy self nooit regter mag speel en oordeel nie.  Een van my vriende is vir my 'n ongelooflike voorbeeld daarin.  Hy se altyd:  "It is all about the people", en sy lewe spreek daarvan.  Wat ookal gebeur, hy stel homself elke dag bloot aan almal, en sonder oordeel.  Dit beteken nie dat hy nie standpunte het en alles kondoneer nie, inteendeel, maar sy standpunt is dat alles oor mense gaan, en dat hy nie kan, mag en die heel belangrikste WIL oordeel nie.  Jesus het sterk standpunte gehad oor hoe die lewe is en moet werk, maar meer belangrik nog, aan die kruis spreek hy die heel belangrikste woorde:  "Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie"!

Ons besef nie aldag wat die krag van vergiffenis is nie, miskien omdat ons onsself oordeel.  Vergiffenis beteken nie dat alles in die lewe toelaatbaar is nie.  Die gemeente vra mos vir Paulus of genade dus beteken dat hulle meer sonde kan doen, sodat die genade moet toeneem in hulle lewens.  Paulus sukkel om vir hulle te vertel dat dit juis NIE die geval is nie.  Genade het nie te doen met kwantiteit nie, maar met kwaliteit lewe.  Genade is juis die verskil tussen ons godsdiens en ander, waar daar by hulle altyd 'n swaai is tussen 2 pole.  Ek doen iets verkeerd, en dan doen ek iets om dit reg te maak.  My God werk nie so nie, my God werk daar waar my muntstuk regop staan en waar God my sien vir my hele wese, en niks oordeel oor my "slegte" kant nie, maar my ook leer dat my "goeie" kant ook geen relevansie het nie, want ek kan nie liefde verdien nie.

Ons wereld, met sy moondhede, grondsug, haat, moord, liefdeloosheid, gebroke verhoudings en gebroke mense, sal altyd dieselfde bly, totdat ons, ek en jy, ons ingesteldheid teenoor onsself en mekaar verander.  Mense is daagliks so besig om hulle skadukant te beveg om die regte dinge te doen, dat die lewe by ons verbygaan.  Dit beteken gladnie dat jy nou maar net kan maak wat jy wil en dink dat die lewe gaan verander nie, en dat daar dan in balans dieselfde goeie dinge gaan gebeur nie, dit gaan nie werk nie.  Wat dit wel beteken is dat jy jouself moet aanvaar en verstaan wie en wat jy is, in genade.  Soms is ons "skadukant" ook maar 'n toeloop van omstandighede, net soos jou groot ore of krom neus.  Miskien word vandag die dag wat jy jouself 'n breuk gee, en jou muntstuk regopdraai en met daardie mens leef, eerder as om te fokus op die reg en verkeerd in jou bestaan.

Onthou dat jou "mosaik" van jou lewe, gebou word op jou eie interpretasie, jou eie plan en ontwerp van wat jy dink die lewe moet wees.  Jy kan jou stuk werk vir jouself rangskik NET soos jy wil, dit is God se geskenk aan jou.  Gaan rangskik in liefde jouself, jou medemens en jou wereld soos wat God dit doen.  Kyk deur God se bril, en wanneer God jou as 'n regop muntstuk sien en nie fokus op jou verdienstekant of jou skadukant nie, wie is ek of jy om dit anders te wil doen.  Dit is waar harmonie en die ware lig van God deur jou skyn in die wereld en waar jy werklik 'n verskil gaan maak.

Kyk dalk hierdie week verby die spelfout op jou sms, solank die boodskap deurkom is dit al wat saakmaak! Hoop jou week is geballanseerd en gevul met genade! 


No comments:

Post a Comment